Skrifberyming 9
1. Toe staar ek deur die wêreldnagte
- lighoogtes het my oog geboei -,
en 'k sien uit alle mensgeslagte
'n skaar, ontelbaar, saamgevloei.
Hul staan, uit alle volke en lande,
nou voor die Lam en voor Gods troon,
die vredespalmtak in die hande,
hul wit gewaad in eenvoud skoon.
2. Ek hoor hul stem die lug deurbewe:
"Die reddingseer", so hef hul aan,
"bring ons aan God, so hoog verhewe,
en aan die Lam wat by Hom staan!"
En om die troon en ouderlinge,
en viertal wesens wonderbaar,
sien ek in altyd wyer kringe,
oneindig ver, die eng'leskaar.
3. Hul 't neergesink in sagte deining,
al verderweg in ordekring,
en almal, by hul knielverkleining,
die lof van God die Heer gesing
met "Amen! Lof aan God die Here,
en wysheid, dank en majesteit,
en mag en krag en sterkte en ere,
van nou af tot in ewigheid!"
4. Ek sien toe weer in hemelsfere
die skaar wat ligtend voor God staan.
Hul was bekleed met lang wit klere:
maar wie is hul, en waarvandaan?
Toe kom by my gesigsverrukking
'n stem my ruisend tegemoet:
"Die skaar kom uit die groot verdrukking,
gereinig in die Lam se bloed.
5. "Hul 't in die bloed, deur Gods genade,
hul kleed gewas, en vlekloos rein
mag hul nou in hul straalgewade
as priesters voor Gods troon verskyn;
hul mag aan Hom hul dienswerk heilig,
en altyd in sy tempel bly.
God self sal hulle daar beveilig
as Hy sy tentseil oor hul sprei.
6. "Hul sal nie langer honger kry nie,
geen son sal oor hul hoofde brand;
hul sal nie langer dors meer ly nie
by sonstraal in die somerland.
Langs altyd helder waterbane
lei nou die Lam hul voetstap heen:
en God veeg van hul oog die trane
deur hul in droefenis geween."