Skrifberyming 18
1. Ek loof U, Vader, groot van mag,
dat U die dinge, diep en swaar,
vir wêreldwyse onbekend,
aan kindertjies wou openbaar.
2. Ja, Vader, dis u guns alleen,
die guns van al wat dwang is, vry,
waardeur ook alle dinge saam
al oorgelewer is aan My.
3. Wie kan die Seun ooit ken, as net
die Vader, met Hom wesens-een?
of wie die eewge Vader ken,
as net die Seun, net Hy alleen?
4. Wie kan die eewge Wese ken,
so diep en ontoeganklik klaar?...
Alleen die mens aan wie die Seun,
die heilgeheim wil openbaar.
5. Kom dan tot My, o almal wat
vermoeid is en so swaar belas,
Ek gee 'n rusplek vir die voet
waarvoor daar nêrens rusplek was;
6. verligting vir die skouer wat,
deur druk gemartel en gepla,
en onder lewensorge krom,
'n altyd swaarder las moet dra.
7. Maar leer: dat Ek sagmoedig is,
en dat Ek needrig is van hart.
Dan sal jul rus vind vir jul siel
en vrede by die wreedste smart.
8. En dra my juk: die juk is sag,
wat nooit gedruk het of geknel;
en dra my las: die las is lig,
wat nooit gekneus het of gekwel.