1. Merk op, my volk wat nou my roepstem hoor,
met ope hart en toegeneë oor!
Met wyse spreuke wil ek u vermaan,
wat waarheid is van vroegste tye af aan;
verborge goud wat net op koest'ring wag,
met stof bestrooi, haal ek weer voor die dag.
2. 'n Wysheidswoord wat vloei uit diepe wel
ons vaders het dit ons voorheen vertel -
sal ons laat hoor, en aan die stamverband
sal ons verhaal die wonders van Gods hand;
sodat ons kinders trou dit na kan speur,
sy dade kan verkondig altyddeur.
3. Die HERE het aan Jakob sy bevel,
sy woord en wet gegee aan Israel;
'n vaandelteken om, met erns en trou,
gedurigdeur in oog en hart te hou;
'n teken om die nakroos toe te wink,
'n taal om diep hul in die hart te sink;
4. sodat hul dit hul kinders kan vertel,
om hul vertroue alleen op God te stel -
nie wederstrewig in hul wandel weer
en koppig, soos hul vaders was weleer:
'n volk onvas van hart, ontrou van gees,
was hul nie trou teenoor hul God gewees.
5. Ja, Efraim, die heldestam weleer,
het weggevlug - hul was geen helde meer!
Die Godsverbond het hulle nie betrag,
maar, weieragtig, dit gering geag,
Gods dade, met geen maatstaf afgemeet,
sy wonders het hul troueloos vergeet.
6. In Soans veld, in gans Egipteland,
het hul gesien die wonders van sy hand;
en in die see, waardeur hul pad sou gaan,
het Hy die vloed soos walle hoog laat staan.
Hy was oordag met digte wonderwolk,
en snags met vuur die leidsman van sy volk.
7. Uit barre rots, gehoorsaam as Hy spreek,
het Hy vir hul die waters uit laat breek,
wat soos 'n vloed gespoel het oor die sand.
Nogtans was hul weerspannig teen sy hand,
'n spys het hulle na hul hart begeer,
hul 't God versoek, opnuut gemurmureer:
8. "Kan God vir ons hier ooit 'n tafel sprei?
Hy het geslaan, die rots in twee laat skei -
maar in 'n land van dors so dubbeldood,
hoe skaf Hy vir sy volk hier vleis en brood?"
Toe 't God gehoor, 'n vuur is aangesteek,
en gramskap het teen Jakob uitgebreek.
9. Hy het beveel, en wolke 't aangewaai,
die hemeldeure 't ylings oopgeswaai:
geheimnisvol het manna neergestort,
en hemelkoring het hul brood geword.
Die wonderbrood, hul volop toegemeet,
die eng'lespys het hul op pad geëet.
10. Daarna 'n windstorm deur die hemel heen!
En Hy het vleis soos stof op hul laat reen.
'n Kwartelswerm, oneindig in getal,
het binne-in die laers neergeval.
God het gegee, in oorvloed ongemeet;
die volk het tot versadiging geëet.
11. Hul het geëet - die spys nog in hul mond -
toe het Gods toorn teen hul ontvlam terstond.
'n Slagting! Uit hul laer het die blom
van Isr'els manskap smaadlik omgekom.
Tog het hul in hul sondes nog volhard,
in ongeloof aan God se mag verward.
12. So het die HEER hul dae weg laat slyt
in skrik en smart, in moeite en nietigheid.
En as die dood hul tent oorval, dan vlug
hul soekend, sugtend na hul God terug,
gedagtig dat hul rotssteen, trou en vas,
die Allerhoogste, hulle redder was.
13. 't Was vleiery. In sy verbond en leer
was hulle nie opreg voor God, hul HEER.
Nogtans was Hy oneindig van geduld,
barmhartig en 'n delger van die skuld.
Hoe dikwels wend Hy weer sy gramskap af
en wek nie al sy toorn tot strenge straf!
14. Hy het gedenk waarvan hul was gemaak;
hoe lig hul stof weer tot die aarde raak;
hoe gou dat hul net soos 'n wind verdwyn,
en, eenmaal weg, nie wederom verskyn.
Hoe wederstrewig was hul teen die HEER!
Hoe griewend was hul ondank keer op keer!
15. Hoe menigmaal moes in die woeste land
die heil'ge God in heil'ge toorn ontbrand!
't Was altyd weer: Gods ongemete mag
het hul gemeet na swakke mensekrag;
hul 't nie gedenk hoe in hul slawetyd
die blyk gesien is van sy Godd'likheid.
16. 't Was wondertyd in Isr'els groot weleer!
Egiptes stroom het Hy in bloed verkeer.
Hy het die kwelgedierte in donker uur
kikvors en steekvlieg - in die land gestuur;
hul veldgewas, die spys van mens en ver,
het Hy aan ruspe en sprinkaan oorgegee.
17. Hul wingerdstok het Hy deur hael laat sterf,
hul vyeboom deur koue laat verderf,
en oor hul vee het Hy die bliksemskig,
met haelbui, verwoestend aan laat lig.
'n Gloed van toorn en woede 't Hy gestuur
en onheilsbodes in benoudheids-uur
18. Hy 't vir sy grimmigheid 'n pad gebaan;
hul nie gered, deur pes hul laat vergaan;
en al die eerstelinge van hul krag
het Hy laat sterf in donker onheilsnag.
Maar Hy 't sy volk soos skape uit laat trek,
die see het gou hul vyand gans oordek.
19. Hy 't hul laat uittrek na 'n bergland skoon,
om in die tent van nasies in te woon;
die volke 't Hy verdryf deur hoë hand
en hul laat erf die wonderskone land.
Maar dit - en meer - voorheen so klaar geweet,
het nou sy volk, as ongeskied, vergeet.
20. Gelyk voorheen, was hul afvallig weer:
't was Godverlating en gemurmureer.
Die Godsverbond het hulle nie gehou,
en soos hul vaders was hul ook ontrou -
net soos 'n boog, wat tot verweer gehef,
bedrieglik swik en dan geen doel kan tref.
21. Hul het gebou die hoogtes van die land,
en ywervuur van God het toe ontbrand.
Die heil'ge plek waar Hy by hul wou woon,
het Hy verlaat; die ark van ouds sy troon,
sy sterkte, het in ballingskap gegaan,
sy heerlikheid weg uit hul land vandaan.
22. Hul het 'n prooi van vyandswaard geword,
die HEER se toorn is oor hul uitgestort.
Hul jongmanne 't die oorlogsvuur verteer,
hul maagde is deur bruidslied nie geëer.
Selfs priesterbloed verf deur die mantel heen,
en by hul graf - geen weduwees wat ween.
23. Soos een wat uit sy sluimer wakker raak,
en soos 'n held wat uit sy wyn ontwaak -
so het die HEER, tot kragdaad aangegord,
in tyd van nood sy volk 'n held geword.
Die vyand, ylings op die vlug geslaan,
het Hy 'n eewge smaadheid aangedaan.
24. Maar Josefs stam was nie sy woning meer;
dis Juda's stam wat opklim tot die eer,
en Sions berg waar Hy teen hemelblou,
sy heiligdom teen hemelhoogtes bou,
waar Hy omlaag, in rotsblok ingepas,
die grondslag lê, vir ewig diep en vas.
25. O goedheid Gods wat altyd dieper daal:
uit herderstent word Dawid weggehaal,
uit agterveld waar skape rustig wei,
om nou Gods volk as herder-vors te lei.
Hy 't hul gehoed in sy opregtigheid
en hul beskerm deur dapper krygsbeleid.