Psalm 2
1. Wat dring en dryf die wilde heidendom,
dat volke raas in opgewondenheid?
Gedugte konings staan gereed alom,
en wêreldgrotes raadslaag vir die stryd,
om God almagtig na die kroon te steek
en saam teen sy Gesalfde op te staan.
Hul sê: "Kom nou, laat ons hul bande breek
en van hul juk vir altyd ons ontslaan!"
2. Maar God die Heer wat sy gedugte stoel
bo sterre stig, sien van sy hoogtes neer;
Hy lag en spot dat hul so vrugt'loos woel
en, magteloos, verniet hul krag verteer.
God sal sy wraak laat neerstraal voor hul oog;
dan gloei die lug van vlammmende-onweerslig.
Dis God wat spreek! Hy donder van omhoog
en jaag sy skrik hul in die aangesig.
3. "Durf jy dit waag om met my krag te twis?
Sal niet'ge stof My my gesag ontwring?
Of weerstand bied aan wie almagtig is?
Ontsien my toorn, verdwaasde sterweling!
Vergeefs wil jul my ryksbestel weerstreef.
Ek het my Vors gesalf - wee, wie Hom hoon! -
op Sionsberg van heiligheid omgeef,
waar Hy sal heers en ewig sit ten troon."
4. En Ek, die Vors, so hoog in mag en eer,
sal Gods besluit die wêreld oor laat klink:
"Ek self (sê God) het U gegenereer:
U is my Seun, uit wie my beelt'nis blink.
Spreek dan u eis, Ek skenk dit U gewis.
En dat u troon vir ewig vas mag bly,
gee Ek die volke tot u erfenis
en wêreldwydtes tot u heerskappy.
5. "Die trotsaards sal U met u ysterstaf
soos erdepotte slaan tot gruis en skerf;
U sal, as eers u hand ontwaak tot straf,
hul opstandslus tot in die grond verderf."
O konings, graag gehuldig en geëer -
laat nooit u hoogheid Gods Gesalfde hoon!
O regters, wat oortreders regstug leer,
aanvaar die tug wat u sy liefde toon.
6. Kom, dien die HEER en wees in Hom verblyd
met blydskap wat Hom huldig as die HEER,
en kus die Seun in onderworpenheid,
buig jul voor Hom met vrees en bewing neer.
Want ligt'lik kan Gods gramskap jul verteer
net soos 'n vuur, eers alte klein geag.
Welsalig wie Hom huldig as hul HEER,
wie by Hom skuil en op sy bystand wag.