Psalm 139
1. Daar 's niks voor U bedek, o HEER!
U skou uit eewge dieptes neer
en sien my hart en wandel aan:
al wat ek doen, my sit en staan,
of wat in my diep weggesink het -
U weet al wat my hart bedink het.
2. My gaan en lê, waar ek my wend -
my weë is aan U bekend;
geen woord het nog my tong ontval
of kyk, o HEER, u weet dit al.
U sluit my in: ek is gevange,
u hand 's op my in al my gange.
3. Die kennis is te hoog vir my,
te wonderbaar - wie haal daarby?
Waar sou ek heengaan voor u Gees,
of vlug, om van U weg te wees?
'k Kan nêrens my aan U onttrek nie,
want niks kan my voor U bedek nie.
4. As ek op vleu'ls die hemel naak,
of diep omlaag my slaapplek maak;
vlieg ek met daagraadsvlerke mee,
of woon ek aan die verste see -
daar is geen verte wat my skei nie,
dat my u hand nie daar sou lei nie.
5. Wanneer ek sê: "Die donkerheid
bedek my voor u majesteit,
dan is die nag 'n helder lig
wat my ontdek aan u gesig.
Vir U, HEER, is die nag se duister
net soos die dag in glans en luister.
6. U 't my geheel en al deurgrond,
selfs voor my eerste lewenstond.
Gans wonderbaarlik voortgebring,
sal ek verbaas u grootheid sing
as ek aanskou u grootheidsmerke.
Hoe wonderlik is al u werke!
7. U oog sien in die dieptes neer,
U 't my gebeente aanskou, o HEER,
toe ek, van mense ongemerk,
soos kunsborduursel fyn bewerk,
gemaak is in die aarde onder -
'n toonbeeld van u skeppingswonder.
8. U het, daar niks u blik weerhou,
my ongevormde klomp aanskou.
U wysheid, HEER, wat nimmer faal,
het my geboortestond bepaal;
voor iets van my 't begin te lewe,
was alles in u boek geskrewe.
9. Hoe kost'lik u gedagtes, HEER!
Ek tel - en hul word altyd meer.
Geweldig groot is hulle som,
waar nooit my reekning by kan kom:
meer as die sand van see en mere.
Ontwaak ek - ek is by U, HERE!
10. Mag U die goddelose tref
wat hulle trots teen U verhef!
Wyk almal weg wat my omgeef,
aan wie se hand die bloedvlek kleef,
die wat geveinsd God wel geag het,
maar vir Gods hoogheid geen gesag het!
11. Sou ek nie haat van ganser hart
wie in hul hoogheid U wil tart?
Sou ek my nie met afsku keer
van die wat teen U opstaan, HEER?
Ek smaad - omdat hul U gesmaad het;
ek haat - omdat hul U gehaat het.
12. Deurgrond, o HEER, en ken die swart,
verborge dieptes van my hart;
of diep in my, waar U kan lees,
'n skadelike weg mog wees.
En lei voortaan my wank'le skrede
tog op die weg van eewge vrede.