Psalm 103
1. Loof, o my siel, en alles wat in my is,
loof, loof die HEER in wie 'k van harte bly is!
Verhef sy heil'ge Naam met lof en prys!
Laat hoor, my siel, die stem van dankgebede,
vergeet nooit een van sy weldadighede,
vergeet Hom nie wat jou sy guns bewys.
2. Loof Hom wat jou, van skuldelas onthewe,
genadiglik die sondes wil vergewe,
jou krankheid ken en liefderyk genees;
wat van die dood jou lewe weer verskoon het,
met goedheid en ontferming jou gekroon het,
en in die nood is Hy jou hulp gewees.
3. Loof Hom wat met die goeie jou versadig,
jou lewenskrag van nuuts af begenadig,
sodat jou jeug is soos die arendsjeug.
Die HEER doen reg - Hy is die hoogste rigter -,
vergeld die kwaad en straf die onregstigter,
maar aan verdruktes skenk Hy ruimte en vreug.
4. Waar dorheid woon, in velde vergeleë,
het Moses klaar aanskou Gods wonderweë,
en Israel sy diepe bondsbeleid -
hoedat die HEER barmhartig en genadig,
lankmoedig is en altyd weer weldadig.
Die HEER is groot van goedertierenheid.
5. Hy sal nie altoos twis teen ons ontrou nie
of ewiglik die toorn teen ons behou nie,
want wie kan dra Gods eewge gramskap - wie?
Hy sal met ons nie na ons sondes handel,
ons nie vergeld die boosheid van ons wandel;
Hy straf ons, maar na al ons sondes nie.
6. Soos hoog bo ons verrys die hemelboë,
so sal sy guns, uit eewge mededoë
geweldig hoog bo al sy kinders staan.
En soos die oosterkim se helder glanse
ver weg is van die kwynende awendtranse,
so ver het Hy ons sondes weggedaan.
7. Geen vader wat, deur smartgevoel bewoë,
sy kind aanskou met teerder mededoë
as Isr'els HEER die wat Hom eer en vrees.
Hy wat wat van sy maaksel is te wagte,
hoe swak van moed, hoe klein ons is van kragte,
en dat ons stof van jongs af is gewees.
8. Die mens - soos gras is al sy lewensdae,
'n blom wat ons aanskou met welbehae,
maar wat kortstondig is en baie teer.
Sodra die rukwind oor die veld gekom het,
dan knak die steel wat lustig daar geblom het:
dis weg - sy staanplek ken hom selfs nie meer.
9. Maar Gods genade en goedheid is onendig
oor almal wat Hom vrees, sy trou bestendig;
dit reik tot aan die verste nageslag
wat sy verbond nie troueloos wil skend nie,
of van sy wet hul hart afkerig wend nie,
maar sy bevel gehoorsaam wil betrag.
10. God het sy stoel gebou bo lug en wolke,
van waar Hy heers as Koning van die volke,
as HEER van alles op die wêreldrond.
Loof, loof die HEER, o la sy leërmagte,
o eng'le, wat met will'ge heldekragte
die woord volbring wat uitgaan uit sy mond!
11. Verhef die HEER, o al sy leërmagte,
sy dienaars wat Hom dien as troue wagte!
Laat hemel, aarde en see en berg en dal,
waar ook sy septer swaai - laat alle dinge
sy lof verhef in altyd wyer kringe!
En jy, my siel, loof jy Hom bowenal.