Psalm 10
1. Waarom, o HEER, bly U so ver weg staan?
Waarom is U verborge in die nood -
terwyl die trotsaard, in sy oormoed groot,
dring met geweld op die verdrukte aan?
2. Laat hom gevang word wat 'n lis beraam;
wat juig wanneer sy plan hom sal geluk,
wat prys wanneer die woekeraar verdruk,
maar God verag en grootspreek teen sy Naam.
3. Die goddelose wandel in sy waan:
hoogwys het hy sy neus omhooggesteek,
vermetel het sy mond dit uitgespreek:
"Daar is geen God!" En rustig stap hy aan.
4. Hy is voorspoedig waar sy voetstap gaan:
"Hoog in die hoogte, eind'loos ver, " dink hy,
"is Gods gerig: geen loon of straf vir my."
En hy verag al wie hom teëstaan.
5. Hy roem dat hy sal standhou vir altyd,
en dat hy nooit, nooit in die kwaad sal kom.
Hy vloek, bedrieg, gaan met verdrukking om;
sy tong spreek moeite-en ongeregtigheid.
6. Net soos 'n leeu wat loer, lê hy gereed.
Hy vang sy prooi deur aan sy net te trek
en sleep hom weg, diep in sy wegkruipplek;
die arme slag hy daar - wie sal dit weet?
7. Hy smaad die HEER en dink: "God het vergeet.
Hy sluit sy oog en sien dit nimmermeer."
Tree toe, en wil die arme red, o HEER;
dis ons genoeg as U maar sien en weet.
8. Ons gee dit oor in al ons kommernis
aan U, o HEER, die helper van die wees.
Verbreek die arm van hom wat U nie vrees,
vergeld die kwaad totdat daar niks meer is.
9. Die HEER is Koning, ewig en altyd;
geen heidendom of 't moet voor Hom vergaan.
maar die geroep hoor Hy goedgunstig aan
van wie ootmoedig op sy bondstrou pleit
10. God sal hul hoor en sal die hart verkwik
van arme-en wees aan wie Hy reg verskaf,
maar op verdrukkers daal sy strenge straf,
hul brose arm sal niemand meer verskrik.