Inleiding
In ‘n tyd van groot groot droogte, het die Skotse prediker Dr. Guthrie tydens die oggenddiens gebid vir reën. Toe hy gereed maak vir die middagdiens, sê sy dogter: Hier is die sambreel wat ons moet saamneem. Maar hoekom het ons dit nodig? het hy gevra. Sy antwoord: Pa het dan vanoggend gebid vir reën. Verwag U dan nie dat God reën sal gee nie?"
Hulle is toe met die sambreel kerk toe. En na die diens breek ‘n groot stortbui los. Hulle was maar te bly dat hulle onder die sambreel kon skuil.
Nog ‘n storie. ‘n Onderwyser vra vir ‘n jong seun: "Johnny, vertel my eerlik, bid jy voordat jy begin eet?" Johnny antwoord: "Ek hoef nie te bid nie want my ma is 'n uitstekende kok!"
Hierdie is beide voorbeelde van verkeerde sienings oor die gebed.
Iemand vra eendag aan Charles Spurgeon, die bekende Engelse prediker: "Wat is belangriker: Om te Bid of om die Bybel te lees?" Spurgeon antwoord: "Wat is belangriker: inasem of uitasem? Spurgeon sê toe: "Die een kan nie sonder die ander nie."
Broers en susters, my tema vir die preek is:
Die gebed moet 'n totale afhanklikheid van God uitstraal
Ek is seker dat U bekend is met die agtergrond van ons teks. Dit is die bekende verhaal van Elia se stryd teen die valse profete van Baäl en Asjera. Hierdie valse profete is beskerm deur koning Agab en koningin Isebel (18:19).
In hierdie stryd, word ons herinner aan die bekende woorde van Elia in vers 21: "Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!" En dit tipeer die afvalligheid van Israel in daardie periode.
Die stryd eindig toe God die gebed van Elia verhoor met vuur uit die hemel. Die gevolg was dat al 850 valse profete gedood is. (1Kon 18v36-40).
- Daarna volg ons teks (1Kon 18v36-38): “Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek!” Dit is hierdie gebed wat ek graag saam met julle wil oordink.
Laat ek begin met die stelling: Elia was ‘n leerling in die leerskool van die gebed.
- Elia het ernstig gebid dat dit nie sal reën as gevolg van die afvalligheid van die kinders van Israel nie (Jak 5v17-18). Ons lees dat dit drie en 'n half jaar nie gereën het nie.
- Hy het gebid vir die seun van die weduwee in Sarfat (17v20-21). En die jong man is opgewek uit die dood.
- Een van Elia se bekende geloofsuitings vind ons in 1 Kon 18, net voorafgaande aan ons teks. Dit is die ontmoeting of eerder Elia se stryd met die 850 valse profete van Baäl en Asjera. In daardie gebeure het die man van God getoon dat hy afhanklik is van die Here, die God van Israel. Ons lees as volg (1 Kon 18v36-39):
"En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het.
Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer
Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.
En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!“
Ek het rede om te glo dat daar ook ander gevalle was waar hy gebid het en wat nie opgeteken is nie. Broers en susters, Elia was 'n leerling in die skool van die gebed. Sy lewe was 'n lewe van gebed. Net soos baie ander dienaars van die Here, wat God op 'n indrukwekkende manier gebruik het.
Elia was selfs die vernaamste profeet onder die groot manne van God waarvan ons lees in die Skrif: Moses, en die apostels soos Paulus. Dit is bemoedigend en dit gee troos om te weet dat ons Here Jesus Christus se lewe op aarde ook 'n lewe van gebed was.
Ons lees die volgende in Markus 1v32-34: "En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was. En die hele stad het by die deur saamgekom. En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.”
Wat kan ons verwag van iemand wat die hele nag deur mense van die dorp genees en duiwels uitgedryf het? Ons hoef slegs die plaaslike openbare gesondheidsorg instansies te besoek om die vele mense te sien wat daagliks daar opdaag. Dan sal ons die aantrekkingskrag van Jesus verstaan.
Maar ons lees ook die volgende oor die Here Jesus se lewe van gebed (Mark 1v35): "En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid."
In hierdie teks word ons daaraan herinner dat die grootste behoefte van die kerk nie 'n kragtige prediking is nie maar ‘n kragtige gebed. Die prediking is afhanklik van die gebed. Inderdaad, in alles wat ons doen vir Christus, is dit belangrik om ons op Christus te rig in die gebed. Een kommentator het opgemerk, "Ons is op ons hoogste en grootste as ons neerkniel voor God."
Die gebed self (42-44)
Die presiese woorde van Elia se gebed is nie opgeteken in die boek Konings nie. Maar in Jak 5v17-18 is dit as volg saamgevat: "Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. En hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.
Noudat ons die inhou van die gebed ken, wil ek beklemtoon dat God die onderwerp van hierdie gebed is. God het belowe om reën aan Sy kinders te gee as hulle hul afkeer van die afgode. Ons lees in Deut 11v13-16: "Onderhou dan al die gebooie wat ek jou vandag beveel, dat julle sterk kan wees en inkom en die land in besit neem waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, en dat julle die dae kan verleng in die land wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle en hul nageslag te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Want die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waar julle uitgetrek het, wat jy met jou saad besaai en met jou voet, soos ‘n groentetuin, natgelei het nie. Maar die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land van berge en laagtes wat van die reën van die hemel water drink; ‘n land waar die HERE jou God voor sorg; die oë van die HERE jou God is altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar. As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel. En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word. Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig, en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die goeie land omkom wat die HERE julle gee.”
Broers en susters, die onmiddellike reaksie van die oorwinning op Karmel, is dat God reën stuur. Hy is altyd getrou en genadig teenoor ons, selfs in ons swakhede en mislukkings. Dit was God se onmiddellike reaksie op hul uitroep: "En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!” (1Kon39v18:39) Hulle het tekens van bekering getoon en daarom het God reëns gegee!
Hierdie gebeure toon ons ‘n tipiese tendens in die Ou Testament. Die kinders van Israel sondig en God straf hulle. Maar wanneer hulle tot bekering kom, al was dit slegs vir 'n kort rukkie, vergewe God hulle hul sondes. Dit is ook nog die geval vandag. Ons sien dit ook in hoe God vir ons die Here Jesus Christus gestuur het om ons te verlos van ons sonde.
Joh 1v8-10: "As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Daar is drie kenmerke in Elia se gebed (in ons teks gedeelte), waaroor ons moet besin. Ons kan dikwels van ander mense se gebede leer sonder om dit noodwendig te herhaal. ‘n goeie voorbeeld is die Onse Vader. Al bid die meeste mense moontlik nie hierdie gebed self nie, tog mag ons daarvan leer. Maar watter gebed ons ook al bid, kan ons dit toets aan die Onse Vader omdat hierdie gebed al die kenmerke van ‘n goeie gebed bevat.
1. Die gebed toon 'n nederige opstelling
Na die gebeure op die Karmel het koning Agab gaan eet en drink, maar die profeet Elia het gaan bid (1 Kon 1v42). Die mense sou eintlik met ‘n gees van berou na die Here moes gekom het as gevolg van hulle jare lange aanbidding van Baäl. Maar almal het huis toe gegaan en Elia op die berg agter gelaat. Die koning – hy was immers die leier - moes eintlik by Elia gebly het om in te tree vir die volk, maar hy het weggegaan om te eet en te drink. Al kan mens ook sê dat Elia die koning beveel het: Trek op, eet en drink (v41).
Ons weet uit die volgende hoofstuk wat die gevolg was van die stryd op die berg Karmel. Koning Agab se berig aan koningin Isebel is vyandig ontvang. Ons lees in 1Kon19v1: “En Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles—hoe hy al die profete met die swaard gedood het. Daarop stuur Isébel ‘n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen—sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle."
Elia moes uit vrees vir sy lewe wegvlug. Elia se moedeloosheid is een aspek waarop ons moontlik later kan fokus. Maar vandag fokus ons op Elia se gebed. Ons ontdek dan in die eerste plek Elia se nederigheid. Dit is verrassend omdat Elia kort gelede op die Karmel soos ‘n koning opgetree deurdat hy God se oordeel aan die 850 valse profete voltrek het. Maar nou stoei hy in die gebed op ‘n nederige manier.
Ons lees in 1Kon 18v42: "maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek." Elia het besef hoe gering sy werk was maar dat God gebruik maak van swak en sondige mense. Alle eer en glorie moet slegs aan God toekom en nie aan mense nie.
Martin Luther skryf: "God wil dat ons bid, en Hy wil ons gebede hoor - nie omdat ons gebede dit waardig is nie, maar omdat Hy genadig is."
So moet ons ook die troon van genade met bewing en nederigheid nader. Ja, ook met vreugde en vertroue as gevolg van ons Here Jesus Christus.
Elia het nie toegelaat dat God se belofte van reën hom as persoon sou verhef in die gebed nie. O, hoe baie van ons struikel nie op hierdie punt nie. Ons kan baie leer uit hierdie man van God. Hy buig hom nederig neer op die grond en plaas selfs sy gesig tussen sy knieë (1Kon 18v42). Dit was ‘n opregte gebed en nie slegs ‘n emosionele belewing nie.
2. Elia het met sekerheid gebid (43-44)
Elia het geweet dat God reën gaan stuur, maar hy het volgehou om te bid. Ons lees aan die begin van hoofstuk 18: "En geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde."
Broers en susters, Elia bid met ‘n sekerheid van verhoring. In v43 stuur hy sy dienaar om te kyk of die reën is kom: "Kyk in die rigting van die see," het hy sy dienaar beveel. En sy dienaar het dit gedoen. "Daar is niks nie" hy het gesê. Sewe keer het Elia gesê: "Gaan terug en kyk weer.”
Ons moet gedagtig aan die woorde van Christus bid (Mat 7v7-8): "Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word."
Dit is ongelooflik om daarop let, liewe gemeente, dat selfs nadat God reeds reën belowe het, Elia voortgegaan het om te bid in sy neerbuigende posisie. Maar waarom is dit nodig om steeds aan te hou bid vir dit wat reeds belowe is? Dien dit enige doel? Dit mag nutteloos lyk, maar dit is die manier waarop God omgaan met Sy mense.
Jongmense, dit is belangrik om te bid en om vir ons etes en vir alles wat ons ontvang, God te dank. Selfs as jou ouers hard werkende mense is wat die beste etes en alles wat nodig is, ruim kan bekostig. Die woorde van Psalm 127 is hier toepaslik:
"As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!"
‘n Kommentator het opgemerk: "Gebed is die manier waarop God skenk wat Hy beloof het. Daarom, as ons wil ontvang wat God belowe het, moet ons die middel gebruik wat Hy daarvoor ingestel het, naamlik die gebed."
Broers en susters: Gebed is nie bedoel as middel om God se onwilligheid te oorkom nie; dit is slegs middel om te ontvang wat God bereid is om te gee. Ons moet bid: Here, doen asseblief nog meer van wat volgens U wil is.
Voordat my ma in Nov 1998 gesterf het, was sy vir byna twee weke in 'n koma. Gedurende daardie periode het ons elke dag gebid vir haar herstel. Maar 'n paar dae later is sy oorlede.
Broers en susters, ons het gebid met ‘n vaste verwagting van herstel, maar dit was nie God se wil nie. In sulke gevalle moet ons let op Rom 8v28: "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is." God se beloftes is waar en ons mag met volharding aanhou bid. Selfs wanneer dit is moeilik om te verstaan, bly ons worstel met God in gebed.
"Here, doen asseblief veel meer van dit wat U verlang!"
Die beloftes van God is waar en seker vanweë ons Here Jesus Christus wat in die hemel sit aan die regterhand van God. Hy tree vir ons in (Rom 8v34). Ons het sekerheid in ons gebede, want God hoor ons gebed deur Christus. Daarom worstel ons in die gebed met God, maar ons worstel in vrede. Dit is nie in ons hande nie, maar in die hande van ons heerlike Meester in die hemel.
Ons mag daarom saam met die profeet Habakuk bely (Habakuk 3v17-18)::
"Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil."
En in hierdie moeilike jaar mag ons ons troos met die woorde van die apostel Paulus (Filip 4v6-7):
"Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus."
3. Elia het met volharding gebid
Broers en susters, Elia het met volharding gebid. Elia het sy dienaar vele kere gevra om te kyk of die Here al reën gee en die dienaar het elke keer geantwoord: "Daar is niks nie. Tot Sewe keer het Elia gesê: Gaan terug en kyk weer." En steeds het Elia aanhou bid.
Liewe Gemeente, soms gee die Here nie onmiddellik uitkoms wanneer ons die Here smeek om uitkoms nie. Want die Here wil ons leer om nederig en dankbaar te wees en om nie te dink dat gebedsverhoring ‘n magiese vermoë is wat ons besit nie. Of as iets wat ons aansien en sjarme verhoog nie. Of om te dink dat ons dinge van God kan eis nie. Dat die gebed ‘n tipe “name it and claim it” noem dit en eis dit) karakter het nie.
Maar deur die gebed pleit ons by God. Ons moet erken en berus in: Laat U wil geskied want slegs dit is goed vir ons.
Psalm 85v8-10 lui: Laat ons u goedertieren-heid sien, o HERE, en gee ons u heil! Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy guns-genote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie! Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon."
Ek moet na die Here luister wat beteken dat ek op die Here sal wag. Soos ek aanhou bid sal ek wag op sy antwoord. Dit is hoe om met volharding te bid.
Dit beteken dat ons aan die hemel se deur bly klop sonder om alternatiewe te soek . Ons bid en wag vir die antwoord; ons bid weer en wag op die antwoord. Ons moet – by wyse van spreke - steeds die dienaar bly stuur om te kyk of die Here geantwoord het. Ons moet bid soos Elia. Met volharding!
Ten laaste, God het Elia se gebed beantwoord deur reën te gee. 1Kon18v44-46: "En die sewende maal roep hy: Daar gaan ‘n wolkie soos ‘n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie. En in ‘n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en ‘n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël maar die hand van die HERE was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël."
Elia het God se antwoord ontvang. God se belofte was soos 'n koord wat hemel en aarde verbind deur die gebed. Elia het deur die gebed as’t ware aan die koord getrek en die belofte ontvang. Die oorvloedige reën het veroorsaak dat Agab onmiddellik na Jísreël moes vertrek voordat die reën hom verhinder.
Slot
Toe aan Charles Spurgeon gevra is: "Wat is belangriker: Bid of Bybellees?" het Spurgeon geantwoord: "Wat is belangriker: In-asem of uit-asem?" Ek het dit reeds in die inleiding genoem. Maar dit beteken dat slegs diegene wat die Gees van God ontvang, kan bid.
So ook moet die lewe van elke Christen gewortel wees in die gebed. Ook ons kerklike lewe moet gewortel wees in die gebed. Gebed is nie slegs bedoel vir die opening en sluiting van ‘n samekoms nie. Dit moet die sentrale deel van beide ons aanbidding en van ons samekomste wees.
Broers en susters God gee vir ons die Gees waardeur ons sê: Abba Vader. Laat ons volhoudend wees in ons gebede. Laat ons aanhoudend bid en met sekerheid dat die beloftes van God waar en seker is. Omdat ons Hóm nader wat die Alfa en die Omega is. Laat ons Hom nader met nederigheid. Ons kom ook in vrede, sonder vrees, omdat ons Here Jesus vir ons intree in die hemel. God verhoor ons gebede! Efese 3v20-21:
"En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid!"
Amen
Groet;
Sing: Ps 33: 10,11;
Gebed
Lees:
1 Konings 18: 20-46
Jakobus 5: 13-18
Sing: Ps 65: 3,6;
Teks:
Kon 18v36-38
Preek;
Sing: Ps 123: 1;
Gebed
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis
Sing: Ps 85: 3,4;
Seën