Waar die hart vol van is, loop die mond van oor

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-04-02
Text: 
I Petrus 3 : 15 en 16
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 2 April 2017 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 34:2,5

Wet

Ps 119:24,26

Gebed

Skriflesing:
1 Petrus 3:13-4:6

Ps 9:1,4,5

Teks: 1
Petrus 3:15-16

Preek

Ps 9:8,9,10

Bevestiging
Ouderling

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 118:6,7

Seën

Preek: 1 Petrus 3:15-16

‘n Gelowige
se lewenswyse is dikwels, ja meestal, nie in ooreenstemming met die mense wat
rondom hulle woon nie. So was dit ook al eeue gelede. Daar was ‘n Romeinse
skrywer met die naam Plinius wat heerser was oor Klein-Asië. Hy het, so 19 eeue
gelede, agtergekom dat daar al hoe meer Christene in sy land gekom het. Daar
was snaakse stories oor hulle in omloop. Hulle sou almal mekaar broers en
susters noem, en hulle dus skuldig maak aan bloedskande.  Hulle sou ook tydens hulle gesamentlike
maaltye mensbloed drink. Plinius het besluit om ondersoek in te stel. Hy het ‘n
paar slawemeisies, wat erken het dat hulle Christene was, laat ondervra. Toe
uit hulle getuienis egter niks van hierdie stories geblyk het nie, het hy hulle
laat martel. Maar nog steeds het hulle niks toegegee wat misdadig was nie. Hulle
het ook nie soos misdadigers gelyk nie.

Hierdie
verhaal van Plinius, wat regtig gebeur het, tipeer die omstandighede waarvan
ons in 1 Petrus lees. Petrus het sy brief aan die Christene geskryf wat, net
soos hierdie slawemeisies, in Klein-Asië gewoon het. Petrus se brief dateer
êrens uit die jare sestig van die eerste eeu. Wat Plinius geskryf het, dateer
so 50 jaar later. Hierdie slawemeisies kon dus kleindogters gewees het van die
Christene aan wie Petrus geskryf het. In die gedeelte wat ons vanoggend gelees
het, skryf die apostel oor presies dit waarmee hierdie meisies ook ongewild mee
in aanraking gekom het. Naamlik dat hulle moes ly ter wille van hulle geloof.

Tema: Waar die hart vol van is, loop die mond
van oor

1 ‘n Getuigende houding

2 ‘n Gepaste houding

1 ‘n Getuigende houding

Petrus
begroet die Christene in Klein-Asië aan die begin van sy brief met
“vreemdelinge van die verstrooiing”. Dat dit inderdaad so was, word duidelik as
ons vir ‘n oomblik terugdink aan die boek Handelinge. Daarin word vertel hoe
die apostel Paulus van stad tot stad deur Klein-Asië getrek het. Die eerste wat
hy in elke stad gedoen het, was om na die sinagoge van die Jode te gaan. Dikwels
het hy daar toestemming gekry om die mense toe te spreek. Hierdie Jode was op
sig al vreemdelinge in Klein-Asië. Dit was Jode wat na die twee groot
ballingskappe, waarvan ons in die Ou Testament lees, nie teruggekeer het na
Judea nie. Hulle het bly woon in die verstrooiing. Wanneer Paulus hierdie Jode
in hulle sinagoges toegespreek het, het dit dikwels gebeur dat die Jode sy
boodskap nie aanvaar het nie, en hom weggestuur het. Sommige Jode het egter wel
met hom saamgegaan – daardie Jode wat Jesus as die Messias aanvaar het. En naas
hierdie Jode was daar ook proseliete. Heidene wat die ware God van die Jode
vereer het. Al hierdie mense wat by Paulus aangesluit het, is uit die sinagoge
verban. Hulle het die kerk van die Here Jesus Christus geword. Mens sou dus kon
sê dat hierdie Christene dubbele vreemdelinge was. Hulle het afstand gedoen van
hulle ou heidens verlede. By hulle ou volksgenote het hulle onbegrip ontmoet. En
die groep wat miskien nog hulle sou kon begryp, die Jode in die sinagoges, die
het hulle ook verstoot. Hulle was jaloers op die kerk van Christus, wat soveel
heidene getrek het, en nog baie Jode ook afvallig gemaak het – vanuit hulle
gesigspunt dan. Al met al, die Christene in Klein-Asië was nie in ‘n maklike
posisie nie. Van alle kante het hulle te make gekry met onbegrip. En dit terwyl
hulle gebrand het om te getuig van die hoop wat in hulle was.

Aan hulle
vriende, familie, bure, wie ook al.

In ons teks
spreek Petrus, in opdrag van die Heilige Gees, sy mede-Christene moed in. Hy
help hulle in hierdie moeilike situasie. Herken u ook hierdie situasie,
gemeente? Dat jy iemand wil oortuig van Christus, van alles wat in sy Woord
staan, maar dat die vonk net nie wil oorspring nie? Ons teks begin met die
woorde: “Maar heilig die Here God in julle harte”.  Die eerste punt van hierdie preek lui: ‘n
getuigende houding. Wat het heilig
eintlik met getuig te make?

Volgens ons
teks is die allereerste stap, as jy ‘n getuie vir Christus wil wees.

Heilig jy
Hom self in jou eie lewe as Here?

Dink vir ‘n
oomblik aan wat die Heidelbergse Kategismus sê oor die eerste bede van die Onse
Vader: laat u Naam geheilig word. “Gee
allereers dat ons U reg ken en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke ...
Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat
u Naam om ons ontwil nie gelaster nie, maar geëer en geprys word.” (v/a 122) Wat
is ‘n getuigende houding dus? In die eerste plek dat jy self opkyk na jou
Heiland Christus.

Dat jy Hom
in jou lewe heilig. Petrus skryf aan die Christene in Klein-Asië: as die mense
van alle kant onbegrip toon, as hulle julle geloof belaglik vind;

as hulle
julle selfs bedreig, en julle selfs moet ly; 
moenie onseker word nie;

maar kyk op
na jou Heiland. Heilig Hom in jou hart.

In jou hart,
dus in jou hele lewe. Laat Christus jou lewe bepaal. Sorg dat jy al hoe meer
soos Hom lyk. Die Bybel noem Hom die son van geregtigheid. Om Hom te heilig,
beteken dat Hy, die son van geregtigheid, ook in jou lewe skyn.  Dat niks belangriker vir jou is as sy wil nie.
Om van Christus te getuig, beteken dus nie in die eerste plek dat jy oortuigend
kan praat nie. Dit beteken in die eerste plek dat jou lewenswyse reg is, dat jy
Hom met jou lewe heilig. As jy na Hom opkyk, dan skyn Hy ook in jou lewe. Net
soos die volle maan die sonlig weerkaats.

Die lig kom
nie uit jouself nie, maar dit kom van Hom af.

Die vervolg
van vers 15 word nou ook duideliker. Daar staan: wees altyd bereid om
verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop
wat in julle is.  Bereid wees, d.w.s.
gereed wees, voorbereid wees.

Petrus
skryf: dit gaan oor die hoop in jou. Daardie hoop is nie ‘n prestasie wat jy
lewer nie. Iemand anders het daardie hoop in jou lewe gelê. Iemand wat hoop,
rig sy aandag op iemand anders. Soos ‘n drenkeling wat opkyk na die een wat hom
uit die see uit trek.  So kyk ons op na
Hom, ons Heiland en Verlosser.

In die
Griekse teks staan: die hoop wat in julle midde is. Dit is die hoop wat
Christus in die midde van sy kerk gelê het, en waarin elkeen deel wat by sy
kerk aansluit. Dit is dus nie die gelowiges se eie prestasie nie. Die hoop op
‘n beter toekoms skenk Christus aan sy kerk. Dit is ‘n hoop wat slegs in die
kerk te vinde is. Buite die kerk is daar geen hoop vir die toekoms nie.

Dit is dus, gemeente,
die vertrekpunt vir alle getuienis, vir alle sending, vir alle evangelisasie.  Stel Jesus Christus sentraal in jou eie lewe.
Heilig Hom, wees op Hom gerig. Dan sal jy outomaties sy glans vertoon.

‘n Glans
waarsonder jy, op eie kragte met eie prestasies, nooit iemand sal kan oortuig
of sal kan oorhaal om by die kerk te kom nie. Soms dink ons dat ons die kerk,
die geloofslewe, aantrekliker moet maak, vir ander mense sodat hulle wil
aansluit. Ons is bang hulle sal die kerk te eentonig, of te oudtyds vind. Gemeente,
Petrus bepaal ons by wat die belangrikste is. Bly gefokus op jou basis. Soos
ons in die vorige preek oor die eerste Brief van Petrus gesien het:

bly fokus op
die hoeksteen. Laat jou op Hom inbou.

Die kerkies
in Klein-Asië was baie kwetsbaar. Hulle moes die lig van die Evangelie in ‘n
donker wêreld om hulle heen laat skyn. En om hulle te bemoedig verwys Petrus in
sy brief meer as een keer na Noag. Ook in die gedeelte wat ons gelees het.  As daar ooit iemand was wat homself uit die
mark geprys het, was dit Noag. Soos ons deesdae sê van iemand wat homself uit
die mark prys: hy verkoop yskaste op die suidpool. Wat Noag gedoen het was om
‘n skip in die woestyn te bou. Maar, skryf Petrus, ons kan van Noag se
getuigende houding leer. Terwyl die wêreld rondom hom geleef het asof God nie
bestaan nie, het Noag wel na God bly opkyk. Noag het die wind van voor gekry.  Sy tydgenote het hom bespot, belaglik gemaak,
gedreig. Hy het gely ter wille van die geregtigheid.

Maar dit was
ook sy redding!

Terwyl Gods
geduld oneindig gelyk het met die sondige wêreld, moes Noag maar net deurgaan
om God se wil te doen. En dit was om ‘n boot in die woestyn te bou.

Die mense
het gedink dat Noag mal was. Miskien het hy ook aan homself begin twyfel. Sou
God ooit nog reën stuur? Hoekom het God so lank gevat? God het so lank gevat,
want Hy het geduld gehad. Hy is barmhartig. Hy wil nie dat sondaars verlore
gaan nie, maar gered word. Petrus skryf: Die Here talm nie, maar Hy is
lankmoedig. Hy kan een dag soms uitrek dat dit soos duisend jaar word. Maar God
vergeet nie sy kinders nie. Selfs as hulle ly, is Hy nog steeds in beheer.

Vir Noag, en
vir die Christene in Klein-Asië, en ook vir ons, is dit ‘n gerusstelling.

Laat ons
voortgaan op die pad wat God gewys het. Laat ons maar net bereid bly om te
getuig van die hoop wat in ons is. Die hoop wat ons redding is. Noag het die
ark gebou op God se bevel. Dit was sy hoop op die toekoms. Dit was ook sy
redding. Toe die goddeloosheid in sy dae die aarde so oorwoeker het dat niemand
meer daaraan kon ontsnap nie, toe het God se dag aangebreek.

Hy het ‘n
watervloed gestuur om Noag uit hierdie goddeloosheid te red.

Reddende
water, dit klink paradoksaal, maar dis waar. Petrus vergelyk dit met die doop. Hy
doen dit om die Christene in Klein-Asië te bemoedig. Die kerkies daar wat amper
oorwoeker is deur die heidense vyandigheid rondom hulle, en die jaloesie van
die sinagoges.

Deur die
water van die doop word hulle bevry uit hierdie see van goddeloosheid.

Deur die
doop kry hulle ‘n veilige plek in die kerk. Soos Noag die ark gebou het, so
moes die Christene in Klein-Asië saam die kerk bou. Die kerk wat, net soos die
ark, wys op die groot oordeel van God wat kom. Die oordeel van God wat
onafwendbaar is met soveel onreg op aarde. En die kerk wat andersyds ‘n veilige
hawe bied vir elkeen wat wil deel in die hoop. Die geweldige hoop, wat in ons
midde is. Die hoop wat van ons afstraal.

Die hoop
waarvan die hart vol is, en die mond oorloop.

Noag het van
sy geloof in God getuig, Noag het geëvangeliseer, deur die ark te bou. Die Christene
in Klein-Asië het getuig, bloot deur hulle lewensstyl. Hulle het die Here Jesus
Christus geheilig in hulle lewens. Hulle het bewus anders gelewe.

En daardie
lewenswyse van hulle het vrae opgeroep. 

Dit bring
ons by die tweede punt van die preek:

(1 ‘n
Getuigende houding)

2 ‘n Gepaste houding

Tema: Waar
die hart vol van is, loop die mond van oor.

Hoewel daar
waarheid skuil in hierdie spreekwoord, is dit in die praktyk dikwels lastiger. Aan
die een kant voel jy die drang om te vertel oor jou geloof. Oor die hoop wat
die kerk het op ‘n beter toekoms. Maar omdat hierdie saak vir jou so belangrik
is, en so alomvattend, weet jy eintlik nie waar om te begin nie.

Dalk is jy
ook bang dat jy per ongeluk iets verkeerds sê. Sê nou maar dit wat jy sê word
verkeerd opgevat, anders as wat jy bedoel het. Daar kan so maklik ‘n
misverstand ontstaan, ook oor kerkmense. Daar is so baie voorbeelde uit die
geskiedenis. Dink aan die misverstand wat ek in die inleiding genoem het – dat
die heidene begin dink het dat die Christene mensebloed drink, terwyl dit
eintlik gegaan het oor die wyn aan die nagmaalstafel.

Nou met die
oog hierop kry ons in ons teks ‘n paar baie nuttige riglyne. Petrus skryf aan
die gelowiges in Klein-Asië: jy hoef nie te pas en te onpas te getuig aan ieder
en elk nie. Maar wees bereid, wees gereed, om verantwoording af te lê van die
manier hoe jy lewe, sodra iemand jou vra.

En as jy dit
dan doen – as jy getuig oftewel verantwoording aflê van hoe jy lewe,

doen dit dan
met sagmoedigheid, met vrees en met ‘n goeie gewete.

Kom ons kyk
kortliks na elkeen van hierdie drie.

Met
sagmoedigheid ...

Eerstens
sagmoedigheid teenoor God. Soms, as die een teenslag na die ander jou tref, kan
jou geduld met God opraak. Dan sien jy nie meer sy leiding in jou lewe nie.  Bly sagmoedig teenoor God. En tweedens
sagmoedigheid teenoor jou naaste. As jy steeds venynige opmerkings te verduur
kry, is dit moeilik om nie geprikkeld te raak nie. Maar laat ons hierin ons
Heiland volg, wat sagmoedig gebly het, ten spyte van hoe die mense Hom behandel
het.

Dan,
tweedens, as jy getuig, doen dit ook met vrees, oftewel met respek.

Eerstens
vrees teenoor God. Om God te vrees, beteken om bang te wees om teen sy wil in
te gaan, Hom verdriet te doen. Petrus skryf dit nie sommer nie.

Hy weet:
vrees vir God verdryf vrees vir mense. Wie in die oorlog geen respek vir sy
generaal het nie, sal hom ook nie volg as dit daarop aankom nie.

Vrees jy
God? Of vrees jy meer dit wat ander mense van jou dink?

Om God te
vrees, om met eerbied oor Hom te praat, dit is iets wat die meeste ongelowiges
nie gewoond is om te doen nie.

Laat ons
egter ‘n wag voor ons mond plaas, en nie ook soos die wêreld of sonder vrees
oor God begin te praat nie.  Petrus moes
self ook leer om God te vrees.

Dink maar
aan die nag waarin Jesus oorgelewer is. Petrus het ‘n slavin wat hom toevallig
ontmoet het, meer gevrees as sy Heiland. Hy het sy Heiland verloën om sy gesig
teenoor mense te behou. Vrees vir God verdryf vrees vir mense.

Dit het
Petrus ook geleer, danksy sy Heiland se geduld met hom.

In die boek
Handelinge vind ons ‘n heel ander Petrus terug.

En ten
slotte sê Petrus in ons teks:

as julle
getuig van die hoop wat in julle is: doen dit dan met behoud van ‘n goeie
gewete.

‘n Goeie
gewete teenoor God en teenoor jou naaste. Waar dit op neerkom is dit: jou mooi
woorde hou nie stand as jou lewe nie ook ooreenkomstig is nie. Of positief
gesê: as jou lewe opreg is, as jy ‘n skoon gewete het, dan kry jy ook
outomaties vrymoedigheid om te praat. Hoe kry jy ‘n skoon gewete?

Nie uit eie
krag nie. Deur elke dag uit vergewing van sondes te lewe. Vra elke dag
vergewing vir jou sondes.  Bly elke dag
volkome afhanklik van Christus.

Heilig Hom. Dan
sal jou lewe sy lig weerkaats.

Julle goeie
lewenswandel in Christus, noem Petrus dit. Vir ons, net soos vir die gelowiges
destyds in Klein-Asië, is dit ‘n kwessie van val en weer opstaan. Ons almal
struikel. Maar dit gaan uiteindelik oor die koers van jou lewe. Hou jou blik op
Christus. Volg Hom. Christus is bespot en gesmaad deur die wêreld.

Maar omdat
Hy steeds na sy Vader bly opkyk het, het Hy koers gehou.

Sy goeie
lewenswandel het ongekende werfkrag gehad.

Hy gee ook
aan jou lewe werfkrag, as jy trou Hom bly volg.

Jy hoef dit
nie self te doen nie. Hy doen dit, ook met jou lewe. Solank jy maar gehoorsaam
Hom bly volg. En so sal Hy ook, op sy tyd, deur jou goeie lewenswandel wonders
doen, en ander werf. So sal hy jou getuigende en gepaste houding seën. Eerstens
deur jou dade – deur jou lewenswandel.

En tweedens
ook deur jou woorde.

Vertrou Hom
maar, as Hy alles in jou lewe is, sal Hy jou ook die woorde in die mond lê, as
dit daarop aankom.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)