PRETORIA-MARANATA,
1 Januarie 2017 AD, 17:30
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 121:2-4
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 2:1-12
Sb 3:1,2
Teks: Lukas 2:1-7
Preek
Sb 2:1,2,3
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 2:4,5
Seën
Preek: Lukas
2:1-7
Het jou ouers al vir jou bietjie meer vertel
oor die omstandighede toe jy gebore is? Weet jy waar jy gebore is? Was dit in ‘n hospitaal, of was dit by die
huis? Was jou pa aanwesig by jou geboorte? Is jy met ‘n keisersnit gebore, of
langs die natuurlike weg? Is jy hier in Pretoria gebore? Of was jou ouers dalk nog
in die buiteland toe jy gebore is?
En hoe was die historiese omstandighede toe
jy gebore is?
Ek het ‘n keer van iemand gehoor wat kort na
die Tweede Wêreldoorlog gebore is. Hy is ver van huis gebore, want as gevolg
van die oorlogsomstandighede was dit vir sy ouers nog nie moontlik om terug te
keer huis toe nie. Hulle eerste kind is dus ver van huis gebore.
So is daar historiese omstandighede wat baie
dinge in jou lewe bepaal.
En ons sien dat dit ook die geval was by die
gesin waarbinne die Here Jesus gebore is. ‘n Sameloop van omstandighede het
skynbaar tot gevolg gehad dat Jesus ver van Nasaret gebore is, in Betlehem. Dit
lyk op eerste gesig toevallig. Die evangelis Lukas wys ons egter daarop dat
daar meer aan die hand was. In hierdie preek is dit die bedoeling dat ons vol
verwondering word. Vol verwondering oor die begin van Christus se lewe op
aarde.
Tema: Vir
die God wat hemel en aarde in sy hand het, bestaan daar geen toeval nie
-
die historiese omstandighede van
Jesus se geboorte tydens ‘n volkstelling -
die bomenslike beplanning van die
plek en datum van Jesus se geboorte -
die historiese omstandighede van
Jesus se geboorte tydens ‘n volkstellingOns gaan na hierdie geskiedenis van twee
kante kyk. Die kant van net nog ‘n geboorte van ‘n baba in Israel. Maar ook die
kant van ‘n wêreldbepalende gebeurtenis, wat baie sorgvuldig eeuelank al
voorberei is.Die evangelis Lukas het alles noukeurig
ondersoek. So begin hy met sy boek. Hy het goeie historiese navorsing gedoen. In
die preek waarna ons op Kersdag geluister het, het ons dit gesien met
betrekking tot die lofsang van Maria. Hoe hy met die Here Jesus se ma
deurgepraat het, om ‘n goeie en betroubare beeld te kry van die begin van Jesus
se lewe op aarde. In die teks vir vandag sien ons nog ‘n voorbeeld van Lukas se
deeglike ondersoek.In ons teks gee Lukas naamlik ‘n datering. Hy
vertel ook meer oor die historiese omstandighede rondom die geboorte. Hy skenk
aandag aan die oorsaak wat aanleiding gegee het, hoekom die jong ouers so
ineens na Betlehem moes vertrek. Lukas skenk uitvoerige aandag aan die
aanleiding vir hierdie reis.Keiser Augustus het naamlik ‘n bevel
uitgevaardig. Wie was keiser Augustus? Augustus
is nie ‘n naam nie, maar ‘n titel, en dit beteken: die verhewene, die
goddelike. Die eintlike naam van hierdie man was Octavianus. En hierdie titel,
Augustus, het hy aangeneem nadat hy die hele wêreld rondom die Middellandse See
in 27vC oorwin het. Octavianus, oftewel Augustus, was heerser oor die Romeinse
Ryk. En dit was hy wat ‘n volkstelling uitgeskryf het, ‘n soort sensus. Iets
wat nie ongebruiklik was vir die mense in daardie tyd nie. Ook vandag word daar
van tyd tot tyd ‘n groot sensus gehou. In vers 2 vind ons nog ‘n naam. CireniusWie was Cirenius?
Cirenius het bewind gevoer oor Sirië, die
land wat aan Palestina grens.Hoekom word Cirenius hier genoem? As mens
vers 2 lees, dan lees ons oor ‘n eerste inskrywing. Dit het dus meer dikwels
voorgekom. Maar of dit werklik die eerste keer onder Cirenius was, daarna gaan
ons nog nader kyk.As ons ook bietjie na buite-Bybelse bronne
kyk, lees ons by die geskiedskrywer
Josefus dat die goewerneur van Sirië, Cirenius, in die jaar 6 van ons
jaartelling ‘n registrasie deurgevoer het in Judea, Samaria en Idumea. Dit het
saamgehang met die feit dat hierdie gebied op daardie oomblik onder regstreekse
Romeinse bewind geplaas is. Voor daardie tyd het Judea relatief baie vryheid
geniet binne die Romeinse Ryk. Maar omdat Judea altyd so ‘n oproerige provinsie
was, wou die Romeine hulle beheer in hierdie provinsie opskerp. So het hulle
onder direkte kontrole gekom van Cirenius, heerser namens keiser Augustus. Dis
nie moeilik om jou in te dink dat die Jode nie hiermee bly was nie. Deur
hierdie besluit moes hulle baie vryheid inboet. Logies dat daar daarom verset
gekom het teen hierdie registrasie. Josefus vermeld dat Cirenius toe met geweld
‘n opstand onder leiding van Judas die Galileër moes neerslaan. Dink verder ook
aan die Selote, ‘n opstandige party onder die Jode, en aan Theudas, ‘n
rewolusionêr, oor wie mens in Handelinge 5 kan lees. Daar sê Gamaliël oor hom:
“nie lank gelede
nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n
aantal mense--omtrent vier honderd--aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na
hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword.” (Hand 5:36)In feite kan mens hierdie opstandige ontwikkelinge,
wat begin het toe die Romeinse bewind opgeskerp is onder Cirenius, in feite kan
mens dit die begin van die latere Joodse oorlog noem, wat uiteindelik sou lei
tot die val van Jerusalem in 70nC. Palestina is van ’n staat met relatiewe
vryhede gedegradeer tot ’n ingelyfde gebied. In Handelinge 5:37 verwys Gamaliël
ook na hierdie inskrywing oftewel sensus. Maar, en dit is belangrik vir ons
teks. Hierdie inskrywing was ’n ander een waarvoor Josef na Betlehem moes trek.
Hierdie inskrywing het eers plaasgevind in die jaar 6nC. Hierdie inskrywing was
ook nie wêreldwyd nie, oftewel dit het nie vir die hele Romeinse Ryk gegeld
nie. Hierdie inskrywing was slegs beperk tot een gebied binne Palestina. Ook
weet ons dat by hierdie volkstelling dit nie nodig was vir die burgers van
Galilea om na Judea te reis nie.Maar die inskrywing oftewel volkstelling waarvan
ons in ons teks lees, daarby was dit wel die geval. Die geboorte van Jesus het
ongeveer 11 jaar voor hierdie telling plaasgevind, waaroor ons in Handelinge
5:37 lees.Maar as dit so is, beteken dit dat die
geboorte van Jesus nie kon gebeur het onder Cirenius nie, maar onder Herodes. Cirenius
sou eers ongeveer 10 jaar na die geboorte van Jesus aan bewind kom. Nou vra u
uself dalk af.Ja maar dit klop moes nie met wat daar in
vers 2 staan nie.Daar staan tog duidelik dat hierdie
inskrywing, en dus ook die geboorte, plaasgevind het toe Cirenius goewerneur
van Sirië was. Dit bring ons by ‘n vertalingskwessie. Daar staan in vers 2:
“Hierdie eerste inskrywing het
plaasgevind toe Cirenius goewerneur van Sirië was.”Hierdie vers kan egter ook soos volg vertaal
word: Hierdie inskrywing het plaasgevind voordat
Cirenius goewerneur van Sirië was. Die Griekse woord word dus nou nie met eerste vertaal nie, maar met voordat. As mens dit doen, maak dit meer
sin. Ons lees dan: hierdie inskrywing het plaasgevind voordat Cirenius goewerneur van Sirië was.Nou moet ons onsself afvra wat eintlik die
doel van vers 2 is. Ons sien dat in vers 1 ‘n datering gegee word. Die geboorte
van Jesus het plaasgevind in die dae toe keiser Augustus ‘n volkstelling
uitgeskryf het. Maar hoekom is daar in vers 2 dan nog ‘n tweede datering? Gemeente,
die evangelis Lukas het hiervoor sy redes. Sy doel is naamlik om met vers 2
duidelikheid te skep vir sy lesers. En dan moet u onthou wie die eerste lesers
was van Lukas se evangelie. Dit was die hooggeagte Theofilus (Luk 1:3). En
verder kan ons sê: dit was mense wat geleef het in die tweede helfte van die
eerste eeu.Om vers 2 goed te kan plaas, moet ons onsself
vir ‘n oomblik verplaas in die skoene van hierdie eerste lesers in die tweede
helfte van die eerste eeu.Want dit was naamlik so, ‘n aantal dekades
later, soos ek genoem het, in die tweede helfte van die eerste eeu, dat die
volkstelling oftewel volksregistrasie onder Cirenius nog goed in die geheue was.
Dit was ‘n sensus wat, soos ek genoem het, eers plaasgevind het 6 jaar na die
geboorte van Christus. Dit was dus vir die mense van die tweede helfte van die
eerste eeu, ongeveer ‘n halwe eeu gelede. Vir die mense wat toe oud was, was
dit ‘n gebeurtenis wat in hulle kinderdae plaasgevind het. Maar soos ek
verduidelik het, Jesus is gebore tydens ‘n ander volksinskrywing. ‘n Inskrywing
wat plaasgevind het nog voordat
Cirenius aan bewind gekom het.En dit is dan ook die doel hoekom Lukas in
vers 2 so sorgvuldig dit verduidelik. Om sy lesers daarop attent te maak dat
dit hier gaan oor ‘n ander volkstelling, as die bekende telling wat later onder
Cirenius plaasgevind het. Die groot volkstelling onder Cirenius was nog goed in die Jode se geheue
gegrif. En die rede was dat daar juis tydens daardie volkstelling ‘n opstand
plaasgevind het, gelei deur Judas die Galileër.Soos ek genoem het, ons lees daaroor in
Handelinge. Mens kan ook daaroor by die geskiedskrywer Josefus lees. Lukas
probeer dus te verduidelik: die geboorte van Jesus het plaasgevind voor hierdie opstand. Die volkstelling
wat plaasgevind het toe Jesus gebore is, was vir die mense jare later baie
minder bekend, waarskynlik al lankal vergeet. Hierdie telling waartydens Jesus
gebore is, het die gemoedere skynbaar baie minder in beweging gebring as die
latere een onder Cirenius.Dis maar, tussen hakies, soos dit vandag ook
dikwels gaan. As mens ‘n volkstelling vir ‘n oomblik met ‘n verkiesing sou vergelyk.
Daar is verkiesings wat amper ongemerk verbygaan. Maar daar is ander
verkiesings wat lank in die geheue gegrif sal bly. Die verkiesing van afgelope
jaar, toe die munisipaliteit van Pretoria, Tshwane, onder DA-bewind gekom het,
sal ons waarskynlik nog lank onthou. Die sogenaamde Brexit-verkiesing sal ook
lank in die geheue bly. En dieselfde sal ook waarskynlik geld vir die
Amerikaanse verkiesings van verelde jaar, waardeur Donald Trump aan bewind
gekom het.Hoewel hierdie volkstelling, waartydens Jesus
gebore is, redelik geruisloos verloop het, het dit vir die Romeinse Ryk wel sy
doel gedien. Die resultate is benut deur die Romeinse bewind en opgeslaan in
hulle keiserlike argiewe in Rome. Die regeerders het van die inligting gebruik
gemaak om sake soos die invordering van belasting te reël. Dit is opvallend dat
die Christene uit vroeg-Christelike kerk by herhaling na hierdie sensus verwys
het, en die feit dat dit nog steeds in die argiewe van die staat in Rome
geraadpleeg kon word.Die vroeg-Christelike skrywer Justinus, wat
ongeveer een en ‘n halwe eeu na Christus geleef het, skryf byvoorbeeld aan die
keiser van sy dae, Antoninus Pius, en hy wys die keiser daarop dat die keiser
welkom is om in die verslae van hierdie volkstelling na te gaan dat Jesus in
Betlehem gebore is. Die kerkvader Chrysostomos, wat nog later geleef het,
verwys vir die datum van Christus se geboorte na die argief in Rome. En die
kerkvader Tertullianus, wat self ‘n juris was, en dus nie onbekend met die
argiewe in Rome nie, sê in een van sy boeke dat die Romeinse argiewe die telling
van Augustus bewaar as die mees betroubare getuie vir die geboorte van die Here
Jesus (Adv. Marcionem IV 7,7).Bietjie later in sy boek kom hy nog op
hierdie opmerking terug, as hy skryf: Maar
dit staan ook vas dat daar toe onder Augustus tellinge gehou is in Judea door
Sentius Saturninus: in hierdie tellinge kan mens die menselikheid van die Here
Jesus nagaan.Gemeente, hoekom noem ek al hierdie
besonderhede? Ek vertel al hierdie details om reg te doen aan die bedoeling van
die evangelis Lukas. Hy het alles noukeurig ondersoek, die betroubaarheid van
al die berigte oor die Here Jesus. En dit is ook die doel van hierdie preek. Om
u te wys op die betroubaarheid van die kersevangelie. En daarom is dit vir u
ook nodig dat u moet weet hoe om vers 2 van ons teks te verstaan. Want dit is
naamlik nie korrek dat Christus gebore is tydens die bewind van Cirenius nie. Dan
sou die gegewens uit die Bybel nie ooreenstem met gegewens uit ander bronne
nie. Daarom dat ek aan u verduidelik het dat vers 2 op ‘n ander wyse vertaal
moet word. Jesus is naamlik gebore voordat
Cirenius aan bewind gekom het. Dit is jammer dat die nuwe Direkte Vertaling
van die Bybel in Afrikaans vers 2 nog steeds op die ou manier vertaal het,
altans in hulle eerste proefuitgawe van die Nuwe Testament. Dit sal mooi wees
as ons Deputate Bybelvertaling die Bybelgenootskap hiervan bewus kan maak, dat
vers 2 anders vertaal behoort te word.Dit het al meer as een keer gebeur dat
Skrifkritiese teoloë in die verlede hierin aanleiding gevind het om te beweer
dat die Bybel nie histories betroubaar is nie. Dat dit wat in die evangelies
oor Jesus opgeskryf is, nie werklik die toets van geskiedskrywing kan deurstaan
nie. Met sulke opmerkings beledig hulle Lukas, wat juis noem dat hy alles
noukeurig ondersoek het. Met sulke opmerkings beledig hulle die Heilige Gees,
wat met groot sorg daaroor gewaak het dat die Bybel tot stand gekom het, en dat
alles wat daarin staan ook betroubaar is.Maar, geliefde gemeente, die evangelie wat
deur die eeue verkondig is, is ‘n betroubare evangelie. Die kersevangelie
waaroor ons ons verheug in hierdie dae, het soliede wortels in die geskiedenis.
Daar is goeie rede om bly te wees. Soos die apostel Petrus skryf: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels
nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend
gemaak het nie” (1 Petr
1:16).Dit bring ons by die tweede deel van die
preek, waarin ons na nog ‘n dimensie dieper gaan kyk. Ons gaan sien hoe hierdie
op eerste gesig toevallige sameloop van omstandighede eintlik geensins
toevallig was nie, maar dat dit al eeue lank voorberei is. Want vir die God van
hemel en aarde bestaan daar geen toeval nie.(Tema: Vir die God wat hemel en aarde in sy
hand het, bestaan daar geen toeval nie -
die historiese omstandighede van Jesus se geboorte tydens ‘n
volkstelling) -
die bomenslike beplanning van die
plek en datum van Jesus se geboorteIn ons teks fokus Lukas op die groot mag van
die keiser. Dat een mens die hele bewoonde wêreld in beweging kon bring. Mens
kom onder die indruk van so ‘n man. Net soos mens onder die indruk kan kom van
hoeveel mag en invloed die president van Amerika in die wêreld het. Geen wonder
dat daar so fel gestry word om hierdie titel te bemagtig nie. Maar gemeente,
agter die grotes van hierdie wêreld sien Lukas nog Iemand veel groter.En juis oor Hom gaan dit in ons teks. Dat die
magtige keiser maar slegs ‘n instrument is in die hand van God, wat hemel en
aarde in beweging kan bring. En dan kan mens dink aan die pragtige spreuk van
Salomo:“Die koning se hart is in die hand van die
HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spreuke 21:1)Hy lei dit oral heen, waar dit Hom behaag. Skitterend
hoe God die wêreldgeskiedenis lei. Christus is gebore as onderdaan van die
keiser. Judea was ‘n provinsie van sy groot ryk. Ook Jesus is ingeskryf in die
registers. Hy sou om en by 33 jaar later ook in naam van hierdie ryk veroordeel
word tot die kruisdood. Hy is veroordeel deur Pilatus, ‘n wettige heerser namens
die keiser in die provinsie Judea.Dit alles bring ons tot verwondering oor die
egtheid van alles wat daar gebeur het. Hoe God se Seun in ons menslike
geskiedenis ingekom het, hoe Hy ‘n mens geword het soos ons. Hoe Hy deelgeneem
het aan die gewone burgerlike lewe. Ook sy naam kan teruggevind word in
sensusse en registrasielyste. Maar tog was Hy ook weer so ontsettend anders.God se Seun, een in wese met die Persoon wat
alles om ons heen geskape het. Die Skepper kom binne in sy eie skepping, die
Kunstenaar openbaar Hom in sy eie kunswerk. Asemrowend blyk dit uit die verloop
van die omstandighede. Hy is gebore in Betlehem, as verteenwoordigr van die
koningshuis van Dawid. Hy is daar in die registers opgeskryf. Die koningshuis
van Dawid was vergane glorie.Keiser Augustus was nou oppermagtig. Maar die
God van hemel en aarde troon bo hom uit. Hy lei Josef en die swanger Maria na
Betlehem.Wie Lukas 1 goed gelees het, weet dat die
swangerskap van Maria sal lei tot die geboorte van ‘n ander, ‘n blywende Heerser
oor die wêreld.Christus is gebore binne ‘n paartjie wat
volgens die wet al met mekaar getroud was. Wat volgens die Joodse wetgewing nie
meer van mekaar mog skei nie. Ons verwonder ons oor die feit dat Josef juis op
die oomblik van geboorte in Betlehem moes wees. Hulle het in Nasaret gewoon,
ongeveer 100km na die noorde. Dit was ‘n behoorlike reis om te voet af te lê.Onder normale omstandighede het Josef
waarskynlik nooit in Betlehem gekom nie. Maar vir die God wat hemel en aarde in
sy hand het, bestaan daar geen toeval nie. En saam met die evangelis Lukas, het
ons die profesie uit Miga 5:1 in ons agterkop. Na die mens gesproke sou ons
Heiland, as daar geen sameloop van omstandighede was nie, gewoon in Nasaret in
Galilea gebore geword het. Maar God het self ingegryp. God het Homself van
niemand minder nie as keiser Augustus bedien. So het Hy daarvoor gesorg dat nie
net Josef, maar ook Maria na Betlehem gereis het. Ten spyte van die feit dat sy
hoogswanger was. Hiervan het Augustus natuurlik niks geweet nie. Augustus het
eenvoudig ‘n maatreël ingestel om daardeur die staatsinkomste te vermeerder.Maar so lei God die geskiedenis. Vir die God
wat hemel en aarde in sy hand het, bestaan daar geen toeval nie. Dit was sy wil
dat die opvolger van Dawid in Betlehem gebore moes word. En so het dit gebeur. Maria
het haar eersgebore seun in doeke gewikkel. Dit was heel gebruiklik, dit is
gedoen met elke kind na geboorte. Die beentjies reguit en die armpies styf
langs die lyfie. Daarna is die hele liggaampie behalwe die kop styf toegedraai
met lang katoen of linne doeke. Maar die feit dat Maria haar kind in ‘n krip,
in ‘n voerbak, gelê het, dit was nie gebruiklik nie. So het die vernedering van
Jesus al vanaf die eerste nag begin. Koning Jesus is gebore in ‘n plek waar
selfs ‘n gewone Joodse baba nie eers die eerste lewenslig sou aanskou nie.Tog was ook dit geen toeval nie. Dit was
alles onderdeel van die Vader se plan, vir die lydensweg van sy Seun. Eers sou
Hy verneder word, om daarna oneindig verhoog te word.En so luister ons vandag nog steeds na die
Kersevangelie. Ons ken nog steeds vir keiser Augustus, keiser Octavianus. Maar
die rede hoekom ons hom ken, is danksy hierdie Kind gebore in Betlehem. Want
hierdie Kind was veel magtiger as die keisers ooit sal wees.Hierdie Kind sou die res van die
wêreldgeskiedenis bepaal.Hierdie Kind wie se koms voorberei is gedurende
alle voorafgaande eeue. Jesus van Nasaret, gebore te Betlehem.Hom prys ons, ook in ons tyd.
Hy het sy mag en reg versaak.
Hy het ‘n stal verkies.
Hy het die gedaante aangeneem van ‘n kneg.
Hy, die Skepper van die heelal.
Hy ruil met ons op vreemde wyse.
Hy neem ons vlees en bloed,
maar gee ons sy Vader se huis.
Ja sy oorvloed. Amen
(kyk in preek)