Die Heilige Gees werk die geloof deur die Woord en sakramente

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-09-18
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 25
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 18 September 2016 AD,
17:30

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 61:1,2

Gebed

Skriflesing:
Johannes 3

Ps 61:3,4

Nederlands
Geloofsbelydenis art. 33

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 25

Preek

Sb 27:1,4,5

Gebed

Geloofsbelydenis
(Apostoliese)

Ps 98:2

Kollekte

Ps 98:3,4

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 25

Onderwysers
en onderwyseresse sal beslis met my saamstem, dat dit baie moeiliker is om les
te gee as daar nie ‘n skoolbord is nie, of deesdae ‘n dataprojektor en skerm. En
dit geld nie net vir skool nie.

Orals waar
iemand iets aan ander mense moet duidelik maak, op universiteit, op katkisasie,
in ‘n besigheid, waar ook al, orals is visuele hulpmiddels welkom. Sodat as jy
vir mense iets verduidelik, hulle behalwe vir hoor ook kan sien. In die
leerproses word gebruik gemaak van meerdere sintuie. Hoor en sien.

En soms span
die juffrou op skool nog meer sintuie in.

Soms vat sy
iets saam skool toe, sodat die kinders ook kan ruik, of voel, of selfs proe. So
leer mens baie vinniger, as alle sintuie ingespan word.

Nou is dit
so dat as jy wil leer om te glo, mens
primêr daarvoor jou gehoor moet inspan. Soos ons lees in Romeine 10:17:

“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor
is deur die woord van God.”

Die gehoor
is primêr. Tog wil dit nie sê dat die ander sintuie heeltemal uitgeskakel word
nie. Behalwe vir luister, maak die Here dit vir ons makliker as ons ook kan
sien, voel, ruik en proe.

Dit is
byvoorbeeld die doel van doop en nagmaal, die twee sakramente.

Met doop en
nagmaal word naamlik al jou sintuie ingespan.

Tema: Die Heilige Gees werk die geloof deur
die Woord en sakramente

  1. Waar kom die geloof vandaan?

  2. Wat is die doel van die sakramente?

     

  1. Waar kom die geloof vandaan?

    Antwoord 65
    is baie duidelik.

    Die geloof
    kom nie van jou ouers af nie. Die geloof kom ook nie diep uit jou hart uit nie.
    Die geloof kom ook nie van die kerk af nie.

    Maar die
    geloof kom van die Heilige Gees af.

    Die Heilige
    Gees gebruik twee maniere om die geloof in die lewe van ‘n mens te laat posvat.
    Die verkondiging van die heilige Evangelie en die gebruik van die sakramente. Oor
    die herkoms van die geloof het ons saam ‘n belangrike gedeelte uit die Bybel
    gelees.

    Die gesprek
    tussen twee rabbi’s, tussen Jesus en Nikodemus.

    Nikodemus
    was iemand wat die nodige outoriteit gehad het in die samelewing. Hy was lid
    van die Sanhedrin. Hy was ‘n leraar in
    Israel
    (Joh 3:10). Nikodemus was ‘n stille bewonderaar van Jesus.

    In die
    gesprek tussen hierdie twee rabbi’s het dit veral oor die wedergeboorte gegaan.
    Jesus het vir Nikodemus duidelik gemaak dat die reg op toegang in die hemel nie
    iets is wat aangebore is nie, ook nie vir God se verbondsvolk nie. Jesus het
    duidelik gemaak dat daar toelatingseise is.

    ‘n Mens moet
    naamlik van bo af verwek en weer gebore word.

    Van bo af
    beteken – uit die hemel. Gebore Jode is nie outomaties burgers van God se
    koninkryk nie. Die was alreeds die boodskap wat, Johannes die Doper, Jesus se
    voorloper, indringend aan die volk voorgehou het.

    Die stamboom
    van Abraham groei nie net vanself die hemel in nie. God kan desnoods uit klippe
    ook geloofskinders vir vader Abraham verwek.

    Soos ons
    gelees het, was Nikodemus skepties oor Jesus se opmerkings.

    ‘n Mens wat
    al oud is kan mos nie vir die tweede keer die moederskoot ingaan en nogmaals
    gebore word nie? Jesus het toe die geleentheid gebruik om dit mooi aan hom te
    verduidelik. Iemand kan die koninkryk nie binnegaan nie, tensy hy gebore word uit
    water en Gees. Reinigende water, en die lewewekkende Gees staan aan die wieg
    van die nuwe lewe.

    Jesus sluit
    hier aan by Johannes die Doper se prediking.

    Hy het in
    water gedoop, en het vooruitgewys na Iemand wat sou doop in die Heilige Gees. Soos
    reinigende water kenmerkend was vir die boeteprofeet Johannes die Doper, so is
    die lewewekkende Gees kenmerkend vir die Messias. Johannes se prediking het
    opgeroep om jou ou lewe af te sterf – waarvoor die water simbool gestaan het.

    Geloof in
    Jesus is dan die begin van ‘n nuwe lewe, deur die lewewekkende krag van sy
    Gees. Daar is ‘n wesenlike verskil tussen die natuurlike geboorte van ‘n mens,
    en die geboorte van bo af, deur water en Gees.

    Die feit dat
    Nikodemus as Jood uit Abraham gebore is – ‘n afstammeling van Abraham – is vir
    Jesus geensins deurslaggewend nie.

    Deurslaggewend
    vir burger word van die hemelryk, is of daar ‘n tweede geboorte was.

     

    Nog steeds
    het Nikodemus skepties op Jesus gereageer. Hoe is dit moontlik? Hoe kan mens ‘n
    tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word? (vers 4) Maar
    Jesus het hom hieroor vermaan.

    Jy is die
    leraar van Israel en weet jy hierdie dinge nie? Jy behoort beter te weet.  As rabbi, as teoloog, behoort jy mos te weet
    dat dinge wat by mense onmoontlik is, by God mos wel moontlik is! Jy wat ‘n
    rabbi, ‘n teoloog is, is jy nie meer verbaas oor God se grootheid nie? Verwonder
    jy jou nie meer oor die werk van God se Gees nie? En dan vergelyk Jesus die
    werk van die Gees met die waai van die wind. Die wind is vry om te waai
    waarheen dit wil. Vir mense is die wind onsigbaar, maar die effek van die wind
    wat waai is wel sigbaar. As jy die blare sien beweeg, dan weet jy dat dit waai.

    So is dit
    ook met elkeen wat uit die Gees gebore is. Jy sien nie die Gees nie, maar jy sien
    wel die effek van sy werk. Jy sien nie die oorsprong van die geloof nie, maar
    die geloof word wel sigbaar in iemand se lewe.

    Die feit dat
    iemand uit die Gees gebore is, is ‘n werklikheid wat waarneembaar is.

    Die ware
    toedrag bly God se geheim, hoe die Gees werk, maar feit bly, as iemand uit die
    Gees wedergebore is en deur die Gees in beweging kom, dan word dit in sy woorde
    en dade waarneembaar. Die oorsprong van die geloof is onsigbaar. Die uitwerking
    van die geloof is sigbaar.  

    Die term wedergeboorte het sy ontstaan gehad uit
    hierdie hoofstuk, Johannes 3. Die Heilige Gees is die verwekker van die geloof.

    Jesus het
    Nikodemus duidelik op die implikasies hiervan gewys.

    En dit is
    vir ons nog steeds net so relevant.

    Die geloof
    is nie iets wat jy vanself oorneem, wat vanself – sê maar – op jou afsmeer, as
    jou ouers gelowig is, as jy opgroei in ‘n Christelike gesin, as jy kerklid is,
    as jy na ‘n Christelike skool toe gaan nie.

    As die
    Heilige Gees nie ‘n wedergeboorte in
    jou lewe werk nie, dan help al hierdie dinge nie. Dan gee dit net aanleiding
    tot ‘n kultuur, ‘n tradisie, ‘n lewenswyse, maar nog nie tot ‘n lewende geloof
    nie.

    Kultuurchristene
    was deur die eeue heen ‘n groot bedreiging vir die kerk.

    Hulle ken
    die Bybel, hulle neem dikwels vooraanstaande plekke in, in die sinagoge en die kerk,
    maar ‘n lewende geloof het hulle nog nie.

    Hulle sal
    selfs die Heilige Gees teenwerk, sonde teen die Gees begaan.

    Daarom, moenie
    die Gees bedroef nie, as Hy deur die Woord jou lewe wil verander, ‘n nuwe lewe
    in jou wil laat ontstaan.

    ‘n Lewe wat
    gekenmerk word deur die vrugte van die Gees.

    “die vrug
    van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid,
    goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal 5:22)

    Hierdie
    oproep het Paulus aan die gelowiges in Galasië voorgehou, wat vir ‘n groot deel
    Jode was, wat die HERE se Woord geken het, ons sou vandag sê – hulle was ervare
    kerkgangers – maar tog het hulle nog nie die vrugte van die Gees gehad nie. So
    klink die oproep van die Gees ook tot ons as kerkmense vandag. Moenie die Gees
    bedroef nie. Neem sy vrugte in ontvangs, laat dit jou lewe beheers: liefde,
    blydskap, vrede, sagmoedigheid, selfbeheersing, vriendelikheid, getrouheid. Deur
    hierdie vrugte word die geloof sigbaar. Soos ons die wind wat waai nie kan sien
    nie, maar wel die blare en takke van die bome wat beweeg. So is die geloof
    onsigbaar, maar dit word sigbaar as hierdie vrugte in iemand se lewe is.

    (Tema: Die
    Heilige Gees werk die geloof deur die Woord en sakramente

  1. Waar kom die geloof vandaan?

  2. Wat is die doel van die
    sakramente?

    In die
    eerste punt van hierdie preek kon dalk die misverstand ontstaan het, dat die
    geloof iets is wat sommer uit die lug kom val. Jy het dit of jy het dit nie, en
    verder kan mens nie veel daaraan doen nie. Dit val dalk op sommige kinders in
    ‘n gesin en hulle bly by die kerk, terwyl dit nie op ander kinders val en hulle
    gevolglik die kerk vaarwel toeroep. Maar gemeente, dit is beslis nie die geval
    nie. Dit is ‘n groot misverstand. Nêrens in die Bybel vind mens die gedagte,
    asof die geloof een of ander soort lotsbestemming is.

    Iets waaraan
    jy niks kan doen nie. Iets waarop jy net passief moet sit en wag. Hoewel punt 1
    van die preek volledig waar is en bly staan, naamlik dat die geloof ‘n geskenk is van die Heilige Gees, is die
    ander kant van die muntstuk net so waar. En dit is dat ‘n mens opgeroep word om
    hierdie geskenk aan te neem en nie van die hand te wys nie. Die laaste drie
    vrae van Sondag 25 het veral te make met hierdie ander kant van die muntstuk.

    Die Heilige
    Gees skenk die geloof aan mense deur van middels gebruik te maak. Of soos dit
    in die teologie genoem word: die Heilige Gees skenk die geloof langs die
    middelike weg. Hy gebruik hulpmiddels om die geloof in ons te werk. Net soos ‘n
    onderwyser op skool middele gebruik om vir die kinders goed les te gee. ‘n
    Skoolbord, ‘n handboek, ‘n rekenaar, noem maar op. So gebruik die Gees die
    middele van Woord en sakramente.

    Die
    verkondiging van die Evangelie gaan voorop.

    En ter
    versterking gebruik die Gees ook nog visuele middele.

    Die
    sakramente is naamlik tekens en seëls. Die Nederlandse Geloofsbelydenis art. 33
    omskryf dit soos volg: Ons glo dat ons goeie God deur ag te gee op ons
    stompsinnigheid en swakheid, vir ons die sakramente ingestel het. Net soos ‘n
    goeie juffrou weet dat die kinders hulle sal begin verveel, as sy die hele les
    net staan en praat, en daarom ook dinge op die bord skryf, en prentjies wys by
    die les, so hou die HERE ook rekening met ons stompsinnigheid en swakheid. En
    dan nie in die sin dat ons swakbegaafd is nie, maar met name die feit dat ons
    hele lewe geteken is, deur die sondeval. As gevolg daarvan is elke mens, van
    nature, vyandig, skepties en agterdogtig teenoor die Heilige Gees en sy werk. Elke
    mens probeer, van nature, sy werk af te weer. Maar die Heilige Gees trek ons
    as’t ware oor die streep deur ons nie net te laat hoor nie, maar ook te laat
    sien en proe hoe goed dit is om God te dien. Ons mag by Christus aan tafel
    skuif, die nagmaalstafel. En daar vertel Hy nie net wat Hy vir ons gedoen het
    nie, maar laat Hy ons ook van sy oorvloed proe. Deur die proe van brood en wyn
    dring die belofte van die Evangelie beter tot ons deur.

    Christus
    skenk inderdaad vergewing van sondes en ewige lewe!

    Soos die
    nagmaalsformulier sê: “Ek voed en verkwik julle hongerige en dorstige siele met
    my gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed tot die ewige lewe. Dit is ewe
    seker as die brood wat voor julle oë gebreek word en die beker wat aan elkeen
    gegee word”.

    Deur iemand
    uit te nooi om te kom eet, laat jy sien dat jy vriende met hulle wil wees. So
    nooi Jesus ons by Hom uit aan tafel en Hy noem ons sy vriende! Hierdie goedheid
    van Christus deurdring jou lewe.

    Waar by ‘n
    preek dit nog kan gebeur dat die woorde net in jou kop bly hang, kan dit nie by
    die nagmaal nie. Aan die nagmaal dring sy goedheid deur in jou hele liggaam, in
    jou hele lewe. En dit is presies die doel van die sakramente. Hulle doel is,
    skryf Nederlandse Geloofsbelydenis art. 33: “om ons geloof te voed en in stand
    te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige
    sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en
    wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan
    ons meedeel.”

    Hierdie
    funksie van die sakramente in ag genome, behoort ons vervolgens onsself af te
    vra of die manier waarop die sakramente in ons kerk bedien word, ook in
    ooreenstemming is met hierdie funksie.

    As dit die
    bedoeling van die Heilige Gees met die doop is om aan ons duidelik te maak dat
    ons regtig by God hoort, dat die HERE met ons ‘n verbond gesluit het nog
    voordat ons self vir Hom gekies het, dan is dit belangrik dat die hele gemeente
    elke keer voor hierdie feit geplaas word, en daarvan onder die indruk kom, elke
    keer as daar ‘n doop plaasvind.

    Die doop is
    nie net ‘n geleentheid vir die ouers, die baba en die voorganger, soos in die
    Roomse kerk byvoorbeeld die geval is, met die gevolg dat ouers hulle kind
    sommer deur die week ook kan kom laat doop in die kerk nie.

    In ‘n
    Gereformeerde kerk vind die doop in die openbare erediens plaas, sodat die hele
    gemeente nie net getuie kan wees nie, maar sodat hierdie sakrament ook spreek
    tot die hele gemeente. Die doop is ‘n visuele gebeurtenis, in die erediens,
    waar almal teenwoordig is. Almal moet sien en ervaar wat daar gebeur, naamlik
    dat God ‘n mens in sy verbond opneem.

    Visueel, dit
    wil sê: almal moet dit sien. Ook die kinders in die kerk moet dit sien. Dit
    help nie as die doop daar doer voor in die kerk gebeur, en die kinders dit
    amper nie eers kan sien nie. Dan verdien dit aanbeveling dat die kinders gewoon
    op die banke staan, sodat hulle goed kan sien wat gebeur.

    Of dat al
    die kinders vorentoe kom. Dit sal hulle des te meer prikkel om tuis aan hulle
    ouers te vra of hulle ook so gedoop is, en of die dominee oor drie keer ‘n hand
    vol water oor hulle gegiet het.

    As die
    juffrou op skool iets op die bord skryf, is dit wel belangrik dat elke kind dit
    goed kan sien, selfs die kinders wat agter in die klas sit.

    Dus, as die
    doop ‘n teken is, dan is dit baie
    belangrik dat almal dit goed sal sien, dat dit op jonk en oud ‘n onuitwisbare
    indruk maak.

    Die teken
    van die doop is baie belangrik in die geloofsopvoeding.

    NGB art. 33
    sê: “Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te
    mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle
    geheel en al betekenisloos sou wees.”

    En om nou by
    die nagmaal te kom, ook hier moet ons onsself reformerend afvra, of die manier
    waarop ons hierdie sakrament gebruik, nog steeds in ooreenstemming is met sy
    funksie.

    Die
    nagmaalsformulier bring onder ons aandag dat hierdie sakrament twee funksies
    het, naamlik selfbeproewing en herdenking. Om met die eerste te begin: lei die
    manier waarop ons nagmaal hou, nog regtig tot selfbeproewing, bekering en berou?
    Het ons nagmaalsvieringe nog daardie diepte? En wat die herdenking betref? Word
    ons aan die nagmaal werklik gevoed, in die sin dat dit tot ons deurdring dat
    Christus ons siele voed, nie net met ‘n karige dieet nie, maar oorvloedig? Laat
    ons eerlik wees, soos ons tans nagmaal vier, word ons aan tafel na liggaam
    allermins gevoed. Ons kry ‘n blokkie witbrood, ongeveer 2cm by 2cm. Dit is nie
    werklik in ooreenstemming met de funksie van hierdie sakrament nie. Christus
    het, toe Hy die nagmaal ingestel het, nie net so klein blokkie brood vir sy
    dissipels gegee nie. Dit was ‘n maaltyd, waarby Hy die brood en wyn tekens
    gemaak het van sy liggaam en bloed.

    Die
    bedoeling was dat jy ryk gevoed sou word, dat jy met ‘n versadigde gevoel ook
    kan oordenk hoe jou siel ook deur Hom versadig word.

    Proe en
    ervaar dat die HERE goed is, dat sy sorg oorvloedig is.

    Dit is die
    doel van die sakramente.

    My volkome
    saligheid rus in die enigste offer van Christus, vir my aan die kruis gebring. Die
    sakramente sorg daarvoor dat hierdie blye boodskap nie net teorie bly nie, nie
    net akademiese kennis bly nie, maar dat dit ook jou emosies bereik. Die
    sakramente sorg dat diepe dankbaarheid gebore word in die lewe van ‘n sondaar.

    En ‘n lus en
    ‘n liefde, om graag te wil lewe soos Christus verlang.

    Lank gelede
    het Moses vir die volk Israel gesê:
    “die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE
    jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.”
    (Deur 30:6)

    Hierdie
    Oudtestamentiese woorde vorm ‘n pragtige samevatting van wat die Heilige Gees
    deur Woord en sakramente in die lewe van ‘n mens doen.

    Jou hart
    word besny, en dit het geloof, blydskap, toewyding toe gevolg.

    Broer,
    suster, is jou hart al besny?

    Die tema vir
    hierdie diens: Die Heilige Gees werk die geloof deur die Woord en sakramente.

    Ons het
    geleer dat die geloof van Hom af kom.

    Ons het ook
    stilgestaan by die doel van die sakramente.

    Kom ons
    beaam nou die prediking met die sing van die volgende woorde:

Ek geloof, met stille aanbidding,

in die Heil'ge Gees wat my

in my sondedood gewek het,

my as Trooster leer en lei.

(Sb 27:4)

En:

Ek geloof aan die
gemeenskap

heilige verbintenis

van wie almal saam 'n eenheid,

in hul Heer een liggaam is. (Sb 27:5)

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)