Die Here Christus stig die gemeenskap van die heiliges

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-08-07
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21 vraag en antwoord 55
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 7 Augustus 2016 AD, 17:30

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 48:1,2

Gebed

Skriflesing:
Handelinge 2:37-47

                        1 Korinthiërs 12:12-31

Ps 48:3,4,5

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 55

Preek

Ps 135:1,4,5

Gebed

Geloofsbelydenis:
sing

Kollekte

Ps 135:8,11

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 21 vraag
en antwoord 55

‘n
Onderwyser, ‘n drywer, ‘n verpleegster, ‘n direkteur, ‘n huisvrou, ‘n skolier,
‘n student, ‘n advokaat, ‘n gepensioneerde, ‘n gestremde, ‘n ryke, ‘n arme, ‘n
driftige, ‘n besadigde, ‘n doener, ‘n denker, ‘n optimis, ‘n pessimis, en gaan
so maar verder. Vanaand kyk ons na die gemeenskap van die heiliges. Daardie
groep mense wat hier in die kerk bymekaar is.

Baie
verskillend, maar wel een in ons Heiland, Jesus Christus.

Tema: Die Here Christus stig die gemeenskap
van die heiliges

Daar is twee
punte, ooreenkomstig die antwoord van die Kategismus.

1 Ten eerste dat die gelowiges almal saam en elkeen afsonderlik, as
lede met die Here Christus gemeenskap het en aan al sy skatte en gawes deel
het. Die samestelling van hierdie gemeenskap is baie uiteenlopend.

Dit is nog
veel breeër as ons plaaslike kerkgemeenskap.Dit is internasionaal. Dit is selfs
‘n gemeenskap wat die gelowiges insluit wat reeds ontslaap het. Wat ‘n voorreg
dat ons vandag aan dieselfde kerk mag behoort as Abraham, en as Stefanus die
martelaar, en al die ander, wat nou al by die Here Jesus in die hemel is.

Die
Kategismus skryf dat ons gemeenskap het met die Here Christus, wat nou in die
hemel is. Hy is die Hoof en sy kerk is die liggaam.

Die Bybel
gebruik ook die huweliksband om dit te verduidelik.

Wanneer ‘n
man en ‘n vrou met mekaar trou, verbind hulle hulle aan mekaar met ‘n belofte
van trou.

Die band,
wat hulle voortaan verenig, is die band wat met die wedersydse belofte gesmee
is. Nou is dit natuurlik die allermooiste, as hulle ook dadelik na die huwelik saam
in een huis kan woon en voortaan altyd by mekaar kan wees. Dit is die volle
huweliksgemeenskap. Maar dit kan nie altyd nie.

Soms het dit
in die verlede gebeur dat ‘n man en ‘n vrou met die handskoen getroud is, soos
dit heet. Dan het die band van die belofte hulle aan mekaar gebind, al was
hulle nog nie by mekaar nie. Soms moet die man, byvoorbeeld as hy ‘n matroos
is, op ‘n verre reis gaan. Soms moet hy vir sy werk lank oorsee wees. Of
miskien is dit oorlogstyd, en moet hy na die oorlogsveld toe, of dalk moet hy
onderduik.

Maar in al
hierdie gevalle, die feit dat hulle vir tyd en wyl nie bymekaar is nie,
verbreek nie die huwelik nie.

Die volle
gemeenskap is wel nie daar nie, maar tog is hulle aan mekaar verbonde. En die
man en vrou bly mekaar ook liefhê, en bly glo aan mekaar se trou. Die man sorg
vir sy vrou. Hy bid elke dag vir haar.Hy werk vir haar.

Hy stuur
geld huistoe. Hy skryf briewe, berigte, hy bel, en hy troos haar met die
vooruitsig van sy terugkoms. En sy vrou ontvang al die berigte met ‘n
verlangende hart. Want al is haar man ver weg, tog is hy ook naby, want deur
die liefde het hy ‘n plek in haar hart.

Die Skrif
noem die kerk die bruid van Christus.

Nou sal die
gemeenskap tussen Christus en sy gemeente ook eers ‘n volledige gemeenskap
wees, wanneer Hy in die toekoms terugkom.

Soos daar in
Kolossense 3:4 staan:

“Wanneer
Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in
heerlikheid geopenbaar word.”

Met
heerlikheid word hier bedoel die volle gemeenskap.

Dat ons
volledig deel kry aan die skatte en gawes van Christus.

Soos in
Filippense 3:21 staan: Hy sal ons vernederde liggaam van gedaante verander, om
gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam.

Maar sover
is dit nou nog nie. Christus is tans nog in die hemel.

Maar dit wil
dus nie sê dat daar geen gemeenskap met Hom is nie.

Die Bybel
leer dat die Here Jesus daagliks vir ons sorg. Hy bid vir ons.

Hy stuur vir
ons reeds ‘n so groot moontlike deel van sy loon.

Hy stuur ons
naamlik sy Gees. Hy het aan ons, deur die werking van die Gees, die Bybel
geskenk. Hierdeur het ons ontwyfelbare kennis van God.

Voldoende
kennis om salig, gelukkig te lewe, en getroos te sterwe.

Seker
wetende dat die ewige lewe sonder sonde en pyn op ons wag.

Danksy die
werking van die Gees, word die gawes, as dit goed is, die gawes wat Christus
deur sy Gees uitstort, in ons lewe gesien:

Liefde,
blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, trou, sagmoedigheid,
wysheid.

So kry die
gemeenskap met die Here Christus hande en voete.

Die
Kategismus sê vervolgens: almal saam, maar ook elkeen afsonderlik.

Waarom word
dit apart genoem: elkeen afsonderlik?

Dit word
genoem om te onderstreep dat elke indiwidu vir wat betref sy verhouding met die
Here Christus nie afhanklik is van ‘n ander nie.

Dis nie soos
‘n blaartjie wat met die boomstam verbonde is deur ‘n takkie, wat weer vassit
aan ‘n groter tak, en die weer aan nog ‘n dikker tak, wat uit die stam kom nie.
Met die gevolg dat as jy die groot tak afsaag, die blaartjie ook sterf. Maar so
werk dit dus nie wat betref die gemeenskap met Christus nie. Dit is regstreekse
gemeenskap. ‘n Persoonlike lewende geloof.

Dit sou nie
goed wees as dit anders was nie.

As dit, om
weer hierdie beeld te gebruik, as die sytak afgesaag word, dat ook die
blaartjie sou doodgaan nie. Dit sou beteken dat jou geloof en saligheid
heeltemal afhanklik was van die kerk. Gelukkig is dit nie so nie.

Elke
gelowige het persoonlik, afsonderlik, ‘n verhouding met die Here Christus.

Persoonlik
deel Hy sy skatte en gawes uit.

Om dit goed
te verduidelik, kan mens dink aan die voorbeeld van ‘n huisgesin. Alle kinders,
van die oudste tot die jongste, het direk ‘n band met pa en ma. Dit is nie so
dat die jongste via die ouer boetie of sussie met pa en ma kontak het nie. As
dit goed is, is daar met elkeen afsonderlik ‘n direkte verhouding. So is dit
ook in die kerk.

‘n Lewende
gelowige het direk, persoonlik, ‘n band met God.

Die kontak
met jou hemelse Vader loop nie via die predikant, die ouderling, jou ouers, of
dalk via Maria of ‘n ander heilige, of via wie ook al nie.

Ons het
direkte toegang tot Jesus Christus. En danksy Hom ook tot ons hemelse Vader. Daarom
is dit ook so in die liggaam van Christus dat geen lid belangriker is as die
ander een nie.

Daarom het
Jesus sy dissipels bestraf, toe hulle met mekaar geredekawel het oor wie die
grootste was (Mark 9:34).

Die lede van
ons liggaam, oog, oor, neus, hand, voet redekawel nie met mekaar oor wie die
belangrikste is nie. Hulle vorm saam een liggaam.

Hulle het
mekaar nodig.

En die feit
dat hulle mekaar nodig het, dit is waarna ons nou in die tweede plek gaan kyk,
die tweede punt uit vraag en antwoord 55.

2 Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met
vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

Ons het nie
net gemeenskap met Christus nie. Maar ook met mekaar.

Danksy die
versoenende werk van Christus in ons.

Ons deel
saam as gemeenskap in vreugde en verdriet, siekte en gesondheid, in alles. As
die oor nie meer kan hoor nie, is dit vir die hele liggaam ‘n terugslag. As die
toon ‘n ontsteking het, dan moet die hele liggaam daarop reageer. Anders sal
dit nie beter word nie. Daar is ook gesamentlike vreugde. As die koppyn verby
is, voel jy as geheel weer beter, en het die hele liggaam weer energie en lus
om iets te doen.

So lewe ons
met mekaar saam, as een liggaam van Christus.

As iets
dreig om in jou oog te skiet, knip jy nie net met jou ooglede en wimpers nie,
maar ook jou hande kom in aksie om jou oë te beskerm.

So beskerm
die liggaam homself.

So waak die
lede van Christus se kerk vir mekaar se welsyn.

Baie mooi
word dit in Handelinge 2 beskryf.

Hier lees
ons oor die saamleef van die kerk kort na Pinksterdag.

Hulle het
vir mekaar gesorg. Niemand het gebrek gely nie.

Was daar
nood, dan was ander bereid om hulle besittings, hetsy roerend of onroerend, te
verkoop en aan die behoeftiges uit te deel.

Hulle het ‘n
eenheid gevorm, wat tot uiting gekom het in gesamentlike gebed. Ook het hulle
brood met mekaar gebreek.

‘n Oosterse
uitdrukking vir saam eet.

Saam geniet
van ‘n maaltyd, dit is ‘n baie sterk uitdrukking van eenheid.

Is dit ook
by ons so? Sal u by ieder en elk wat lid van ons kerk is, aan tafel wil skuif? Nooi
u ‘n gemeentelid soms uit, en dan nie net familie en vriende nie? Saam aan
tafel, dit bou die gemeenskap, dit beeld die gemeenskap uit.

En dan
bedoel ek nie net die nagmaalstafel nie, maar ook by u tuis, aan tafel. Verder
lees ons in Handelinge 2 dat hulle God saam geprys het.

Om saam te
sing, dit bou ook eenheid. ‘n Singende kerk kan die duiwel nie binnedring nie. Sing
u ook gereeld? Nie net op Sondag nie.

Ook by die
huis, aan tafel, as u skottelgoed was, in die motor?

Wie sing,
beleef die eenheid, die gemeenskap van die heiliges.

As ons ons
nou sou voorneem om vyf minute per dag minder radio te luister, vyf minute per
dag minder TV te kyk, vyf minute per dag minder op ons selfone besig te wees,
en vyf minute per dag meer te sing! Is dit teveel gevra? Van sing word mens
gelukkig. Dit gee mens innerlike rus.

‘n Singende
kerk, ‘n singende huisgesin, ‘n singende egpaar, dit is ja waarlik eenheid! En
selfs vir alleenstaandes, weduwees, ongetroudes, deur te sing sal jy ook die
gemeenskap belewe. Deur te sing tot God se eer word jy warm van binne. Word jy
getroos, en beleef jy die gemeenskap.

‘n Lewende
gemeenskap – dit is ‘n geweldige voorreg as jy daarvan lid mag wees! En dit is ons. Meer nog, ons het almal
persoonlik gawes, skatte, talente van Christus ontvang. Soos die Kategismus sê:
ons is verplig om dit gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die
ander lede aan te wend. Dit is ‘n mooi plig. Jou gawes en talente tot opbou van
mekaar.

Ons lees dit
ook in Handelinge, en dan gaan dit nie net oor geestelike dinge nie. Sê maar
dat mense met ‘n groot geloof iemand met ‘n klein geloof opbeur nie. Dit gaan
ook oor baie konkrete dinge.

Jou besit,
roerend of onroerend, jou geld tot opbou van die gemeenskap van heiliges.Daar
is niks beters as om in die kerk van Christus te belê nie.

Christus wil
nie dat die lede van sy liggaam hulle geld opgebruik vir nuttelose dinge nie.

Geld moet gebruik
word in diens van die Here. En dieselfde geld vir jou tydsbesteding. Daar is
deesdae soveel stokperdjies, en ons is deesdae so mobiel, ons kom tyd tekort om
orals heen te gaan waar ons kan en wil.

En voor jy
dit weet, gebeur dit dat die gemeenskap van die heiliges onderaan jou
prioriteitslysie staan. Laat ons daarvoor waak.

Laat ons ons
gawes gewillig en met vreugde gebruik tot nut en saligheid van die ander lede.

Onder gawes
val ook die tyd wat ons van God gekry het. Tyd en energie.

As jy nog
jonk en gesond is, en jou liggaam nog nie protesteer as jy jou dag vol stop met
allerlei aktiwiteite nie. Laat ons nie net die ressies van tyd wat nog oorbly
bestee aan die gemeenskap van die heiliges nie.

Laat dit voorop staan, gewillig en met
vreugde. Dink aan wat in 1 Korinthiërs 12:21 staan: “die oog kan nie vir die
hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle
nie nodig nie.”

Dit geld vir
ieder en elk van ons, jongmense, gepensioneerde mense, almal.

Staan jou
vriendegroep, en jou familie, oop vir die hele gemeenskap van die heiliges? Probeer
u hulle wat alleen staan, bewus op te soek.

Probeer u
bewus kontak te lê met al jou mede broers en susters?

Dat jy nie
ander vermy omdat hulle anders as jy is nie?

Dit is een
van die oersondes van die mensheid.

Om te
diskrimineer teen ander omdat hulle anders is.

Maar in
Christus se kerk werk dit dus nie so nie.

Die
onderwyser, die drywer, die verpleegster, die direkteur, die huisvrou, skolier,
student, advokaat, gepensioneerde, gestremde, ryke, arme, driftige, besadigde,
doener, denker, optimis, pessimis, ons is almal vir mekaar waardevol. Wie een
van Christus se lede beledig, beledig Christus self.

Ons hoef nie
almal dieselfde te wees nie, dit sou geweldig eentonig wees.

Ons moet een
wees in geloof, in liefde vir mekaar, in belangstelling vir mekaar, in tyd vir mekaar.
As een lid afdwaal, dan is ons saligheid ook in geding, as ons nie uitgereik
het nie.

Paulus skryf
in Filippense 2: “maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en
dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug
of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as
homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na
die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus
Jesus was.”

Geliefde
gemeente, ware kerk van Christus wees is nie net afhanklik van ons kerklike
papiere nie, ware kerk is nie omdat ons ‘n regsinnige verlede het nie, maar dit
word beoordeel in die daaglikse praktyk.

En as ons
blywend tekort skiet in die gemeenskap van die heiliges, dan is ons die
benaming ware kerk nie waardig nie.

Voorwaarde
vir ware kerk wees, voorwaarde om as ware kerk te funksioneer, is van kardinale
belang dat sondes bely word, en ook vergewe word. Sonde veroorsaak die drumpels
en mure wat daar gebou word tussen mense. Waar die mure van sonde afgebreek
word, daar kan ons deelneem aan die gemeenskap van die heiliges. Daarom
gemeente, bely u sondes. Nie net teenoor God nie, maar ook teenoor mekaar.

En wees
bereid om ‘n ander te vergewe, ruimhartig.

Solank dit
nie gebeur nie, bly daar ‘n drumpel.

As u iets
het teen ‘n ander, gaan praat daaroor met hom of haar.

As u dit nie
doen nie, en dit gebeur ook nie voor u sterfdag nie, dan bly dit lê, ook tussen
u en God. Dit is eintlik ‘n skrikwekkende gedagte, dat dit dan ewige
konsekwensies kan hê!

Maar aan die
ander kant, as dit wel gebeur, as mense sover kom om met mekaar te praat, en
mekaar te vergewe, sonder reserwes, soos God dit ook met ons doen, dan kom daar
ruimte vir die beoefening van die gemeenskap van die heiliges. Laat die sonde
geen plek in ons midde hê nie.

Sonde
veroorsaak dat die gemeenskap verstyf en afkoel.

Sonde
verhinder dat ons met vrymoedigheid deelneem aan die gemeenskap van die
heiliges.

So begin jy
jouself buite te sluit, as jy nie sonde bely nie, of as jy nie bereid is om
sonde te vergewe nie.

Hoe mooi is
dit nie as die gemeenskap van die heiliges funksioneer soos ‘n gesonde liggaam.
As dit ook sigbaar is vanaf die buitekant. As ongelowiges dit selfs beaam. Vir
die mense rondom ons, in ons omgewing, is dit die duidelikste sigbaar op
Sondag, as alle gelowiges saamkom in die erediens.

Dan kom die
kerk saam om te hoor wat die Gees vir haar wil sê.

Op Sondag
klink oor die hele wêreld, in ontelbare kerkgeboue, selfs onder die ope hemel,
die stem van dieselfde Gees. Orals waar die Evangelie gepreek word. Almal wat
daar saamkom, word besiel deur een geloof.

Dan blyk
dit, duidelik sigbaar, dat al hierdie mense saam een liggaam vorm.

Een liggaam
waarvan Christus die Hoof is. Die Here Christus stig die gemeenskap van die
heiliges. Een liggaam, saam bid hulle, saam sing hulle, saam luister hulle,
saam gee hulle hulle gawes, saam ontvang hulle die seën.

Hoe mooi is
dit nie!

En hoe mooi
is dit as dit ook deur die week sigbaar is!

As lidmate
vir mekaar opkom.

As daar geen
verwydering tussen lidmate is nie.

As hulle
saam ‘n gesonde liggaam vorm.

Ja sewe dae
per week stig die Here Christus die gemeenskap van die heiliges.

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)