Die troos van die hemelse heerlikheid en van die wederkoms van Christus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-07-24
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 24 Julie 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 124:1,2

Gebed

Skriflesing:
1 Tessalonisense 4:13-5:11

Ps 7:1,7

Skriflesing:
Openbaring 22

Ps 7:8

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 19

Preek

Sb 23:1-4

Gebed

Geloofsbelydenis:
Nicea

Sb 11:3-6

Kollekte

Ps 124:3,4

Seën

Amen

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 19

Daar is
sommige dinge wat ons skielik kan laat skrik uit die sleur van elke dag se
lewe, die gewone lewe met sy daaglikse roetine.

Dit kan iets
wees soos ‘n ramp wat plaasgevind het. ‘n Vliegtuigongeluk of  ‘n terroristiese aanslag.

Sommiges van
ons wat toe al geleef het, onthou tien teen een nog die ramp wat in 2001 in
Amerika plaasgevind het – 9/11.

Of die Tsunami
wat in 2004 in lande soos Indië en Indonesië plaasgevind het.

Ons word
opgeskrik as ons hoor dat iemand oorlede is.

Ons word
opgeskrik deur aardbewings, watersnoodrampe, ensovoorts.

Soms wonder
mens: wanneer sal die volgende ramp plaasvind?

En waar sal
dit plaasvind?

Die
onderwerp vanaand is die wederkoms van Christus.

Gemeente,
dink u ook aan die wederkoms as ‘n ramp wat ‘n keer onverwags kan plaasvind? Sal
dit iets wees wat u laat opskrik?

Of is dit
iets waarna u uitsien?

Tema: Die troos van die hemelse heerlikheid
en van die wederkoms van Christus

Ons let
vanaand op die volgende aspekte:

Eerstens: wat die hemelse blydskap en heerlikheid
inhou.

Tweedens: die tydstip wanneer die wederkoms daar sal
wees.

Derdens: die werklikheid van die hemel, en die
werklikheid van die wederkoms, en hoe dit ons vandag troos.

Sondag 19
(v/a 52)neem ‘n aantal kerngegewens uit die Bybel oor Christus se wederkoms
saam.

Christus sal
weerkom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Ek verwag
Hom as Regter uit die hemel.

Christus sit
nou aan die regterhand van God.

Hy is daar
die Hoof van die Christelike kerk.

Dink aan die
teks uit Kolossense, waarna die vorige Kategismussondag verwys (Kolossense
3:1): Soek die dinge wat daarbo is, waar Christus is, aan die regterhand van
God.

Daarmee word
bedoel: sorg dat jy steeds in verbinding bly met die hemelse hoofkwartier.  Vandaar ontvang jy jou instruksies.

Daar is
Jesus, deur wie die Vader alle dinge regeer.

Die feit dat
Christus op die troon sit in die hemelse heerlikheid is van groot waarde:  ons ontvang hemelse gawes van Hom.

Daarvoor
sorg die Heilige Gees.

En met sy
hemelse gawes beskerm Hy ons teen alle vyande.

Ook, sê
Sondag 19, is dit ‘n groot troos dat ons weet dat Jesus terugkom.

In droefheid
en vervolging verwag ons Hom as Regter uit die hemel.

Hy sal dan
al Sy en my vyande aan die ewige ondergang oorgee, maar my met alle
uitverkorenes tot Hom neem in die hemelse blydskap en heerlikheid.

Wat word
eintlik hiermee bedoel: Hy sal my na Hom in die
hemelse blydskap en heerlikheid saamneem?

Want as ons op daardie oomblik
nog op die aarde lewe, gaan ons nie hemel toe nie.

En as ons al oorlede is, dan
keer ons vanuit die hemel tog saam met Christus terug na die aarde, waar siel
en liggaam weer verenig word?

Gemeente, kom ons probeer
hieroor duidelikheid kry.

Ten eerste skryf Sondag 19
hier vanuit die oogpunt van iemand wat nog hier op aarde lewe, soos u en ek.

Sondag 19 is geskryf vanuit
die besef dat ons hierdie wederkoms van Christus enige oomblik kan verwag.

Juis hierin lê daar vir ons ’n
troos: dit kan elke oomblik gebeur.

Sondag 19 is dus nie geskryf
asof die wederkoms eers oor honderde of dalk duisende jare, in die verre
toekoms, miskien ’n keer sal plaasvind, en dat die mense wat dan lewe dit sal
meemaak, maar dat ons vandag in die hede dus nie so veel daarmee te make het
nie.

Nee, Christus kom soos ’n dief
in die nag.

Dit hou juis my as Christen op
die been te midde van gebrokenheid, onreg en lyde.

Naamlik die besef dat Hy enige
oomblik kan terugkeer. Met ’n opgehewe hoof gaan ek deur die lewe. Dit beteken:
selfversekerd.

Ek hoef my as Christen nie te
skaam vir wie ek is nie.

Maar veral beteken opgehewe
hoof ook: verwagtingsvol. Hoopvol.

Ons sien uit. Wanneer kom Hy? Wanneer
kom Hy sake op orde stel?

Nou is dit vir ’n kind baie
gewoon en maklik om te glo: kyk op na die hemel, en weet, eendag kom Jesus
terug.

Maar hierdie kinderlike geloof
is vir ’n volwassene meer problematies.

Veral in dae dat jy ’n
geliefde aan die dood moes afstaan, ’n man of vrou, ’n pa of ma, ’n kind.

As mens ’n lewelose liggaam
sien, dan kyk jy soms omhoog, en vra jouself af: Waar sal hy, waar sal sy nou
wees? Waar is die hemel?

Ek sien niks nie. Ek sien net
die blou lug.

En ek weet, as volwassene wat
op skool wetenskap as vak gehad het, dat mens ligjare ver die ruimte in kan
reis, verby miljoene sterre, maar wanneer kom mens eintlik in die hemel aan?

Hoe werk dit, as ons opkyk na
die hemel, dan kyk ons in ’n heel ander rigting as wanneer mense in
Nieu-Seeland, of in Amerika, opkyk na die hemel? Uit watter rigting moet ons die
Here Jesus dan verwag?

Gemeente, met sulke vrae kom
ons gou agter dat ons die grense van ons menselike begrip bereik het. Nie dat
jy nie hierdie vrae mag vra nie.

Juis deur sulke vrae te vra,
kom mens verder.

Solank jy besef dat die
antwoord nie byvoorbaat opgesluit is binne die grense van jou menselike denke
en verstaansvermoë nie.

Ons praat naamlik hier oor
iets wat nog geen mens gesien het, wat nog geen mens meegemaak het nie.

En hoe praat mens eintlik oor iets wat nog niemand ervaar het nie?

‘n Plek waar geen lewende nog ooit was nie?

Sê nou maar jy was op vakansie in ‘n verre land, waar nog niemand
anders van ons was nie. Kom ek noem as voorbeeld Patagonië.

Hoe verduidelik jy vir die mense hier hoe daardie plek lyk?

Jy kan, dalk met behulp van foto’s, iets sê soos:

Dit het my ‘n bietjie laat dink aan die Drakensberge, maar dan tog
anders.

Veel groter,
nog ontsagwekkender. Wat jy dus kan doen is om ‘n bekende voorbeeld uit ons
land te gebruik om aan die hand daarvan te verduidelik hoe die onbekende land
presies lyk.

Patagonië,
‘n bietjie soos die Drakensberge: maar tog nie dieselfde nie.

Gemeente,
dit is nou presies wat gebeur as die Bybel ons vertel oor die hemel, en oor die
nuwe aarde.

Dit is ‘n
werklikheid wat niemand van ons nog ooit gesien of meegemaak het nie.

Maar die
HERE verduidelik dit aan ons in die Bybel met beelde en voorbeelde wat ons wel
ken. Dink aan die boek Openbaring.

Dit sal wees
soos die stad Jerusalem, net veel mooier.

Dit sal ‘n
nuwe Jerusalem wees, ‘n stad van goud, met poorte van edelstene.

Dit sal soos
die paradys wees, net nog veel uitbundiger.

Die bome sal
twaalf keer per jaar vrugte dra, elke maand ‘n oes.

En so word
nog meer voorbeelde genoem.

Dit sal wees
soos: maar dan net nog veel mooier!

Hierdie
beelde sê nie alles nie, hulle wys bo hulleself uit na iets wat nog veel
volmaakter is.

En dan nog die
vraag: wanneer sal dit gebeur?

Duur dit
ondertussen nie al lank genoeg nie?

By die
beantwoording van hierdie vraag moet ons ook weer bo ons menslike beperkings uitstyg.

Dink maar
aan die Bybelteks wat sê: vir God is een dag soos duisend jaar en duisend jaar
soos een dag (2 Petr 3:8). God staan bo die tyd.

Ons lees in
die Bybel dat Hy enersyds haastig is met die wederkoms, want Hy wil ‘n einde
maak aan alle ellende op aarde.

Maar
andersyds lees ons ook in die Bybel dat Hy geduldig is, dat Hy mense, volke,
wat nog nie in Hom glo nie, die tyd gee.

Dat Hy mense
wat hulle teen Hom verhard, ruimskoots tyd gee om tot Hom terug te keer. Dit is
die spanningsveld waarin ons lewe.

Aan die een
kant haas, aan die ander kant uitstel van die oordeel.

Dieselfde
spanning wat ‘n werkgewer soms het as hy sien dat een van sy werknemers nie sy
hande uit sy moue steek nie, soms selfs ander kollega’s uit die werk hou. Die
spanning van hoe lank tolereer jy dit.

Hoeveel keer
moet jy nog ‘n waarskuwende sinjaal gee, met die hoop dat sy houding sal verander.
Of vind jy dit nou lank genoeg en hak jy die knoop deur en ontslaan die
persoon.

Dieselfde
spanning wat ‘n ouer meemaak as sy kind elke keer die grens opsoek. Wat mag nog
wel en wat mag nie meer nie.

Hoe lank
moet ek nog waarsku, wanneer is dit genoeg gewees?

Oor hierdie
spanning lees ons ook in die Bybel.

Dieselfde
spanning het God met mense.

Aan die een
kant roep alle ellende en onreg vir sy oordeel.

Aan die
ander kant is Hy barmhartig en stel die oordeel uit.

En soos ek
gesê het, ons moet besef dat God bo die tyd staan.

Duisend jaar
is vir Hom soos een dag...

Wat lank vir
ons voel, is by God heeltemal anders.

Iemand het
die mensheid ‘n keer met ‘n boom vergelyk.

By Adam en
Eva het dit opgekom as ‘n klein plantjie.

Ondertussen
het dit al uitgegroei tot ‘n groot boom met baie takke.

Met elke
generasie kom daar nuwe aftakkings by, terwyl die vorige generasies deel begin uitmaak
van die stem.

So groei die
menseboom al verder. Is die boom al volgroei?

‘n Mens, as
‘n enkele blaar of takkie, het nie sig daarop nie.

Net God weet
dit, wanneer die menseboom wat Hy geskep het en wat Hy laat groei, wanneer dit
volgroeid is.

In die
Bybelboek Openbaring lees ons baie oor die nuwe hemel en aarde.

Die Heilige
Gees spreek daarin tot ons veral in beelde.

So laat Hy
ons iets verstaan van die werklikheid wat ons verstand te bowe gaan. Johannes
sien in ‘n visioen dat die bruilof van die Lam aanbreek.

Hy sien die
oordeel oor die dier wat uit die aarde opkom en sy profeet.

Hy hoor oor
die duisendjarige ryk, oor die satan wat geoordeel word,

oor die
laaste oordeel, oor die nuwe hemel en aarde, oor die nuwe Jerusalem, oor die
rivier met lewende water, oor die boom van die lewe.

Al hierdie
dinge is beelde wat wys na iets wat ons verstand te bowe gaan.

Ons weet dat
iets op koms is wat geweldig indrukwekkend is, maar die details is vir ons
onbekend.

Ter
vergelyking, gemeente, kan u dink aan alles wat oor die Here Jesus in die Ou
Testament staan. Alle profesieë, voorspellings oor dat Hy sou kom.

As mens dit
alles op ‘n rytjie plaas, moet mens erken dat aan die een kant ‘n gelowige in
die Ou Testament eintlik baie min oor Jesus kon geweet het – alle details was
nog onbekend.

Maar aan die
ander kant het ‘n gelowige uit die Ou Testament wel die sekere verwagting gehad
dat die Messias op koms was.

En toe die
Messias gekom het, toe het al die profesieë skielik sin gemaak.

Want al die
profesieë het na Hom verwys!

Gemeente, so
werk dit ook wat betref die profesieë in die Nuwe Testament oor die nuwe hemel
en aarde.

Aan die een
kant weet ons dat dit op koms is, die sekere verwagting is daar.

Maar die
details ken ons nog nie. Met details bedoel ek die tipe vrae wat ons dikwels
vra: Sal ons mekaar dan herken?

Sal ons op
die nuwe aarde dieselfde werk doen as wat ons nou doen?

Sal die Here
dan aan ons alle geheimenisse uitlê?

Sal daar ook
karre en vliegtuie op die nuwe aarde wees?

Hierdie is
alles detail vrae, waaroor nou die laaste woord nie gespreek kan word nie.

Maar ons kan
wel daarvan uitgaan dat dit nog veel mooier sal wees as hier.

Daar sal
geen gemis meer wees nie. Ons lewe nou net met die verwagting.

Maar as ons
eenmaal daar is, dan sal alles sin maak, eers dan sal ons kan aanskou en sê: Dit
is dus wat God al die tyd in die Bybel bedoel het.

En dan sal
ons spontaan die Here begin loof, vir iets wat so ongelooflik mooi is.

Net soos
Simeon spontaan begin sing het, toe hy die Here Jesus in sy arms mog vashou. Nou
sien ek die saligheid wat u toeberei het!

‘n Lig, ‘n
helder stralebaan, skiet deur die donker wolke.

Dit is
Immanuel, die Vors van Israel, die Lig van alle volke (Sb 3:2).

Gemeente, dit
geld ook vir die tydstip van Jesus se wederkoms.

Wanneer Hy
sal terugkeer, hoe dit presies gaan werk, ook daaroor lees ons in die Bybel net
in beelde.

Byvoorbeeld
dat die basuin sal klink.

Die basuin
was vroeër die sirene, wat mense se aandag getrek het.

Iemand het
op die basuin geblaas, ‘n soort trompet, wat ver gehoor kon word. Dit is gedoen
as gevaar gedreig het. Maar ook as daar goeie nuus was.

Ons is
bekend met die gewoonte dat ‘n sirene loei, of dat die kerkklokke gelui word.

Maar so sal
die blye tyding ook aangekondig word deur God se engele, soos die gelui van kerkklokke,
as die Here Jesus terugkom.

En waar gaan
die Here Jesus dan verskyn?

Daar is
mense wat sê dat Hy gaan terugkom op presies dieselfde plek as waarvandaan Hy
vertrek het, naamlik die Olyfberg in Jerusalem.

Dit staan
nie met soveel woorde in die Bybel nie.

Ons lees dat
na die hemelvaart die engele vir die dissipels gesê het:

Jesus sal op
dieselfde wyse terugkom as wat julle Hom na die hemel sien wegvaar het. Daar
word nie bygesê: op dieselfde plek, nie. Dit kan natuurlik wel. Maar ons moet
besef dat die Here Jesus alomteenwoordig is.

Hy wat bo
die tyd staan, sou Hy nie in staat wees om op dieselfde oomblik aan alle mense
op aarde te verskyn nie?

Of hulle nou
in Jerusalem is, of in Suid-Afrika, of in Asië of Amerika.

Moenie te
beperk dink oor sy hemelse heerlikheid nie.

Ons het
onsself afgevra waar die hemel is.

Kyk ons en
die mense in Nieu-Seeland en Amerika in die rigting van dieselfde hemel, as ons
opkyk?

Gemeente,
ook oor die hemel praat die Bybel in beelde.

Want die
hemel is ook ‘n werklikheid wat niemand van ons nog gesien het nie. Hoogstens
mense wat op hulle sterfbed lê, wat op die punt is om te sterf, soos Stefanus. Ons
kan oor die hemel ook nie in details praat nie.

Nie soos wat
jy oor jou eie huis in details kan praat nie.

Van jou eie
huis kan jy ‘n noukeurige beskrywing gee, hoe groot dit is, hoeveel kamers dit
het, wat in elke kamer is, ensovoorts – al die details.

Oor die
hemel kan ons slegs herhaal wat die Bybel aan ons openbaar.

“In die huis van
my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê
het. Ek gaan om vir julle plek te berei.” – sê Jesus in Johannes 14:2.

As mens dit
so hoor, sou mens aan ‘n geweldige groot stad kan dink – vele wonings. Ja mens
moet aan ‘n heel ander wêreld dink.

En so is dit
goed, en belangrik, gemeente, dat ons onsself telkens weer bevry van die
beperkings wat ons eie menselike denke aan ons oplê.

Die hemel is
veel groter as die voorstelling wat ons dikwels maak.

Die hemel is
ook heel anders as wat ons onsself kan voorstel.

Dit is ‘n
ander werklikheid. Dit is bo ons koppe, maar nie net dit  nie.

Dit is ook
om ons heen.

Dit is ‘n
werklikheid wat die aarde omspan, hier in Suid-Afrika, maar ook aan die ander
kant van die wêreld.

Dit is ‘n
werklikheid, aan die een kant ver weg, maar aan die ander kant baie naby.

En as ons
dan aan die einde van Sondag 19 lees:

Hy sal al sy
en my vyande in die ewige verdoemenis werp, maar my, saam met al die
uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid neem, dan word
hiermee dus nie bedoel dat ons saam met Hom dan hemel toe gaan nie. Maar dat
die hemelse werklikheid juis die aarde sal vervul, dan op die jongste dag. Hemel
en aarde word een.

Die hemelse
werklikheid, die hemelse dimensie, word dan vir ons ‘n reële werklikheid om ons
heen. Ons oë word geopen.

En gemeente,
ook op hierdie punt moet jy die grense van jou eie denke, jou menslike
verstand, oorstyg.

Met die
verstand wat jy nou het, lyk dit na ‘n ontmoontlikheid dat alle gestorwe mense
eendag sal opstaan.

Soos iemand
‘n keer gesê het, op Sandfontein begraafplaas sal dit ‘n besige gedoente wees.

Dit lyk vir
ons amper onmoontlik, dat alle grafte sal oopgaan, en dat, soos Johannes in die
Openbaringsvisioen gesien het, dat selfs die see, die diep oseaan, sy dooies
sal teruggee.

En dan moet
jy ook nog jouself voorstel dat die hele mensheid sal versamel voor God se
troon. Miljarde mense.

Ons kan ons
nou al nie voorstel hoe 55 miljoen Suid-Afrikaners op een plek bymekaar kan kom
nie.

Ons kan ons
dit nie voorstel nie. Die Bybel openbaar dit aan ons in beelde.

Jesus sê: Dit
sal wees soos ‘n herder wat die skape van die bokke skei.

Die een
groep aan sy linker- en die ander groep aan sy regterhand.

Gemeente,
word bevry uit die beperkte denkkaders van hierdie wêreld.

Binne
afsienbare tyd gaan ons dit ook meemaak. Want God sê dat Hy haastig is. Ons sal
aanwesig wees, by die laaste oordeel, of as nog lewendes, of as reeds
ontslapenes, en dus in lewe by die Here Jesus in die hemelse werklikheid.

 

 

En ten
slotte: om bewus van hierdie hemelse werklikheid, vandag deur die lewe te gaan,
dit is baie waardevol. Dit bied troos.

En dit wil
Sondag 19 onder ons aandag bring.

Die feit dat
die Here Jesus op hierdie oomblik op die troon sit in die hemelse werklikheid. Die
feit dat Hy van daaruit die aarde regeer.

Hy beskerm
en bewaar ons.

Ons weet ook
dat ons geliefdes wat in Hom gesterf het, nou by Hom is in die hemel. Die
hemelse werklikheid wat ons tans nie met ons menseoog kan sien nie. Al wat ons
daarvan weet, is dit wat in die Bybel aan ons geopenbaar is. Maar daar is ons
geliefdes gelukkig en veilig.

En ons weet
dat hulle daar ook vir ons bid.

Sodat ons
die wedloop volhou, sodat ons standvastig bly.

Ons weet ons
getroos in droefheid, selfs in vervolging.

As ons sien
hoe daar onreg gebeur, en ons kan niks daaraan doen nie, dan weet ons dat die
dag van regspraak sal kom.

Dit hou ons
op ons hoede, dat ons self nie ook deelneem aan die sonde nie, juis vanweë die
besef dat onreg nie ewig ongestraf sal bly nie.

Gemeente,
soms het volwasse mense meer woorde nodig om iets te glo.

Iets wat
kinders veel makliker met ‘n kinderlike geloof aanneem.

Laat ons as
volwassenes ons twyfels oorwin.Laat ons ons lewe bou op God se beloftes. Saam,
oud en jonk, verwag ons die wederkoms van Christus.

Maranata (1
Kor 16:22), kom vinnig, Here Jesus!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)