Die liggaam vorm ‘n eenheid

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-04-10
Text: 
I Korinthiërs 12 : 12-27
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 10 April 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 133:1,2

Wet

Ps 119:61

Gebed

Skriflesing:
1 Korinthiërs 12-13

Sb 21:1-4

Teks: 1
Korinthiërs 12:12-27

Preek

Ps 48:1,5

Gebed

Kollekte

Ps 122:1,2

Seën

Preek: 1 Korinthiërs 12:12-27

Toe ek ‘n
jong seun was, het ek ‘n keer my toon oopgestamp.

Ons het
altyd kaalvoet skool toe geloop.

Maar ‘n seun
kerm mos nie.

Dit maar net
‘n toon.

‘n Bietjie
bloed is mos nie erg nie.

Ek het nie
eers vir my ma ‘n pleister gevra nie.

Na ‘n rukkie
het die toon egter begin swel en sweer.

Dis toe dat
ek agtergekom het dat jou liggaam ‘n eenheid is.

Jy kan nie
‘n deel verwaarloos, sonder gevolge vir die hele liggaam nie.

Tema: Die liggaam vorm ‘n eenheid

  1. Dit is ‘n feit

  2. Dit is ‘n opdrag

  1. Dit is ‘n feit

    1
    Korinthiërs 12 staan as ‘n tussenpouse binne ‘n ander gedeelte.

    Paulus
    behandel naamlik die vraag oor die praat in tongetaal, iets wat die Korinthiërs
    baie besig gehou het.

    En breër
    behandel Paulus die gawes van die Heilige Gees.

    Ook hoofstuk
    13, oor die liefde, is ‘n intermezzo binne hierdie onderwerp.

    Met as
    bedoeling om klem te lê op die gelykwaardigheid van die gawes.

    Binne
    hierdie konteks behandel Paulus die gawes van die Gees.

    Iemand wat
    nie in tonge kan praat nie, maar wat wel elke oggend haar bejaarde buurvrou
    help om aan te trek, daardie iemand is net so onmisbaar as die persoon wat in
    tonge spreek.

    Hulpvaardigheid,
    bereidheid om onopvallende werkies te doen, is net so belangrik as om in tonge
    te praat, of watter ander opvallende Geestesgawe dan ook.

    Elkeen is
    gelykwaardig voor Christus.

    Elke gawe is
    ook gelykwaardig.

    Die
    vergelyking van ‘n gemeenskap van mense met ‘n liggaam was algemeen in die
    antieke literatuur.

    Paulus
    gebruik dus bekende beeldspraak.

    Maar die
    apostel doen nog meer.

    Hy betrek
    die verhouding van die gemeente tot Christus ook daarby.

    Nie net
    horisontale verhoudings, maar ook die vertikale band met Christus in die hemel.

    Christus die
    Hoof, die gemeente die liggaam.

    Tot een
    liggaam gedoop, lees ons in vers 13.

    Die doop is
    nie net teken dat  Christus die sondes
    afwas nie, maar die doop was ook alle verskille af.

    Elkeen is
    gelykwaardig.

    Jood of
    Griek, slaaf of vry, dit is in die kerk nie meer bepalend vir jou identiteit
    nie.

    Bepalend is
    dat jy van Christus is, ‘n nuwe skepping in Hom.

    Dit is iets
    waarmee nie net die kerk in Korinthe destyds moeite gehad het nie.

    Maar deur
    die eeue heen vele kerke.

    Naamlik dat
    daar ontereg onderskeid gemaak word op grond van jou afkoms, of jou stand, of
    jou beroep, of wat ook al.

    Bekend is
    dat in die 18e eeu die Gereformeerde Kerk in Stellenbosch op so ‘n wyse nagmaal
    gevier het, dat die swart lidmate slegs aan die laaste tafel mog aangaan.

    Later, in
    die 19e eeu, het daar ‘n volledige skeiding gekom en het wit en swart apart
    begin nagmaal vier.

    In Nederland
    het dit in die verlede soms gebeur dat net boere deel uitgemaak het van die
    kerkraad, en hulle het daarvoor gesorg dat geen arbeider op tal gekom het nie.

    Maar,
    gemeente, vir sulke praktyke het ons teks dus geen enkele simpatie nie.

    Die doop was
    alle verskille af.

    Die bloed
    van Christus maak geen onderskeid tussen wit en swart, boer en arbeider nie.

    In Christus
    gelykwaardig!

    En so mog
    dit in die gemeente in Korinthe ook nie gebeur het, dat die Jodechristene gesê
    het: ons soek geen heidenchristene in die kerkraad nie.

    Want ons ken God al vanaf ons jeug, en hulle
    nie.

    Natuurlik
    kan ‘n pasbekeerde geen ampsdraer word nie, lees ons elders in die Bybel.

    Maar die
    Griek-wees op sig, eks-heiden wees op sig, dit is geen verhindering nie.

    Want in
    Christus is julle almal gelykwaardig!

    ‘n
    Heidenchristen wat al jare lid van die kerk is, wat die Bybel grondig ken en
    daagliks ywerig daarmee besig is, hy is ook ‘n gawe van God vir die gemeente,
    hy mag ook ampsdraer word!

    Gedoop tot
    een liggaam.

    Gelykwaardig!

    In vers 13
    gebruik Paulus in die Grieks ‘n opvallende woordspeling, wat as mens dit
    vertaal, nie meer opval nie.

    Ons lees: “Want
    ons is almal ook deur een Gees gedoop ... en ons is almal van een Gees
    deurdronge ...”

    Die Griekse
    woord vir doop en vir deurdronge lyk soos twee druppels water
    op mekaar.

    Daar is
    slegs een lettergreep verskil.

    Doop is ba(p)tizoo.

    Deurdronge
    is potizoo.

    Vir Jood en
    Griek, vir slaaf en vryman geld dat hulle dieselfde doop ontvang het, óók in
    die naam van die Heilige Gees.

    En dat hulle
    nou deur dieselfde Gees steeds gevorm word in ‘n Christelike lewe – d.w.s. van
    dieselfde Gees deurdronge.

    Deurdronge –
    die oorspronklike woord – potizoo
    is ‘n term vir irrigasie, waterleiding.

    Dit beteken
    dat die grond deurdrenk word met water.

    So deurdrenk
    die Heilige Gees ons bestaan van elke dag meer en meer.

    En dit
    gebeur met elkeen wat gedoop is.

    Dus
    nogmaals: gelykwaardig.

    Nie net in
    die begin, dat almal dieselfde doop ontvang het nie.

    Maar ook in die
    voortgang.

    Die steeds
    deurgroei in ‘n geestelike lewe.

    Ook wat dit
    betref put die gemeentelede uit dieselfde bron: gedrenk of deurdrenk deur
    dieselfde Gees.

    Dit wil nie
    sê dat elkeen ewe vinnig groei nie.

    Daar is
    helaas ook mense wat steeds bly vashou aan ou gewoontes, sondige gewoontes, wat
    nie loskom van bepaalde vorme van wêreldgelykvormigheid nie.

    Dit rem die
    groei in die Gees af.

    Maar
    gelukkig is daar ook baie wat kragtig deurgroei.

    Tog wil dit
    nie sê dat elkeen tot dieselfde in staat is nie.

    Dit is
    dieselfde Gees, maar die gawes is verskillend.

    Die een word
    steeds meer gemotiveer om sy bejaarde buurvrou die nodige versorging te bied,
    of om vir sy bejaarde ma of ouma vervoer te verskaf kerk toe.

    Die ander
    leer om steeds beter ‘n liefdevolle pa vir sy gesin te wees, aan sy gesin die
    voorbeeld te stel dat hy self uit vergewing leef, dat hy in staat is om te sê
    hy is jammer, dat hy die gesin lei in die bely van sy sondes.

    Die ander
    leer steeds beter om die Bybel uit te lê, en gaan so maar voort.

    Die gawes is
    verskillend, maar dit is dieselfde Gees.

    En daarom is
    alle gawes gelykwaardig.

    Of dit nou
    is om die vloer te skrop, vervoer na die kerk te voorsien, in die kerkraad te
    dien, ‘n gemeentedag te organiseer of wat ook al.

    In hierdie
    verband is dit belangrik om te besef dat Paulus hier oor die gewone doop skryf.

    Die doop
    soos ons dit ken.

    Ons noem dit
    die gewone doop.

    Maar eintlik
    is dit tog baie besonder.

    Want jy word
    gedoop in die naam van Vader, Seun en Gees.

    Dit is dus
    in die sin ‘n driedubbele doop.

    Doop met die
    Vader.

    Doop met die
    Seun.

    Doop met die
    Heilige Gees.

    In daardie
    tyd was die doop van mense nie heeltemal onbekend nie.

    Daar was die
    doop van Johannes die Doper.

    Hierdie doop
    was ‘n voorbereiding op die doop in die naam van Jesus.

    Die verskil
    was dat by Jesus se doop jy ook gedoop is met die Gees.

    Verder het
    die Jode verskillende rituele wassinge geken met water, wat ook op die doopsritueel
    gelyk het.

    Deur hierdie
    Joodse rituele handelinge is die onderskeid tussen Jood en Griek juis
    uitgebeeld en versterk.

    Die Jode was
    kulties rein, danksy hierdie handelinge.

    Die heidene
    was onrein.

    Die Jode het
    hulle nie met die heidene gemeng nie, maar het juis deur hierdie rituele
    handelinge hulle van die heidene afgesonder.

    Maar dit is
    nou so besonder by die doop, skryf Paulus, dat die doop van Jesus geen
    onderskeid maak tussen Jood en Griek nie.

    Die doop
    bring geen verwydering teweeg nie.

    Die doop
    bring juis mense bymekaar.

    Die doop
    skep ‘n nuwe eenheid in Christus.

    ‘n Eenheid
    wat verdeeldheid tussen volke, rasse, kulture, tale, stande en wat ook al
    oorstyg.

    Gedoop om
    een liggaam te gaan vorm!

    Ons noem die
    doop gewoon.

    Maar as jy dit besef, kyk mens met nuwe oë na ons
    gewone doop.

    Hierdie doop
    is eintlik geweldig besonder, geweldig kragtig!

    Hierdie doop
    het as resultaat: eenheid en gelykwaardigheid.

    Die Jood en
    die Griek neem saam plaas in dieselfde kerkband.

    Die slaaf en
    die vryman vou saam hande.

    Die miesies
    en die bediende sit saam aan dieselfde nagmaalstafel.

    So ook die
    baas en sy tuinboy.

    Geweldig
    kragtig, dat die doop dit regkry!

    Hierdie
    dinge is te danke aan die doop.

    Die doop
    bring geen verdeeldheid nie, maar juis eenheid en gelykwaardigheid.

    Deur een
    Gees is ons almal tot een liggaam gedoop.

    Maar soos
    hierdie voorbeelde al aandui, die doop en die Gees maak van die kerk nie ‘n
    eenderse grys massa nie.

    Binne die
    eenheid van die liggaam kom die uiteenlopende verskeidenheid juis pragtig tot
    sy reg.

    Oor, oog,
    neus, mond, arm, hand, been, voet, toon, almal hoort hulle by mekaar.

    Tog het
    elkeen ‘n eie funksie.

    Almal is ons
    nodig.

    En elke
    funksie, elke gawe, is belangrik.

    Die voet
    hoef hom nie minderwaardig te voel, omdat hy nie die hand is nie.

    Die oog mag
    ook nie die houding hê dat die liggaam ook wel sonder gehoor kan regkom nie.

    Die oor hoef
    hom nie minderwaardig te voel, omdat ander altyd ‘n mens in die oë kyk, en nie
    na die ore nie.

    Dit is God
    wat aan elke lid persoonlik sy plek aangewys het in die liggaam, soos Hy
    besluit het.

    Dit was die
    wens van God om ‘n volledige liggaam te vorm, nie net een groot oog of een
    groot voet of wat ook al nie.

    En dit is
    dus God wat alle funksies onderling op mekaar afgestem het.

    Wie dus
    enige op- of aanmerkings het oor sy plek of die van ‘n ander, is by God aan die
    juiste adres.

    Maar wat sal
    ons eintlik vir God sê?

    Wie sal met
    God in diskussie gaan?

    Kan die
    pottebakker op lyn gestel word met die klei? (Jes 29:16)

    God skenk sy
    Gees.

    Dit is die
    Gees wat in elkeen persoonlik die gawes ontwikkel waarvoor hy of sy aanleg
    ontvang het.

    En of die
    een meer aanleg het as ‘n ander, niemand van ons het vir alles aanleg nie.

    God skakel
    ons almal in.

    Ons is almal
    gelykwaardig.

    Ons sit aan
    mekaar vas in dieselfde liggaam.

    Ons behoort
    dus onderling op mekaar betrokke te wees.

    Dit bring
    ons by die tweede punt van die preek.

    (Tema: Die
    liggaam vorm ‘n eenheid

  1. Dit is ‘n feit)

  2. Dit is ‘n opdrag

    Betrokkenheid
    op mekaar.

    Paulus wys
    die gemeente in Korinthe op die feit hoe ‘n liggaam funksioneer.

    Verskillende
    ledemate, sintuie en organe, elkeen met sy eie funksie.

    Oog, oor,
    neus, voete, hande, almal is hulle noodsaaklik vir die liggaam.

    Geen lid is
    gelyk aan ‘n ander.

    Dus is
    elkeen onmisbaar.

    Die
    bedoeling is dat elkeen vir homself daarom ook die vraag beantwoord:

    wat is my
    funksie, hoe kan ek in die kerk diensbaar wees?

    Wat is my
    opdrag?

    Deesdae, in
    ons supermarkera, is ons vinnig geneig om te vra: wat bied die kerk vir my?

    Die klant is
    koning, en as hierdie kerk nie vir my bied wat ek soek nie, dan gaan soek ek ‘n
    ‘kerk’ wat beter by my behoeftes pas.

    Maar 1
    Korinthiërs 12 leer ons om die vraag om te draai.

    Nie, wat
    bied die kerk my nie.

    Maar: wat is
    my taak, my funksie, my opdrag in die liggaam?

    Dink net hoe
    onsinnig dit sou wees as die arm sou beweer: God het my op die verkeerde
    liggaam aangeskroef.

    Ek gaan
    myself amputeer, ek gaan ‘n ander ligggaam opsoek wat beter by my pas.

    ONSINNIG.

    Inderdaad.

    Met hierdie
    beeldspraak van die liggaam wil Paulus die gemeente in Korinthe wakker skud.

    En ook
    vandag ons.

    Hoe gaan jy,
    hoe gaan u met die liggaam om?

    Die liggaam
    waarin God jou geplaas is, waarvan jy ‘n ONAFSKEIBARE deel uitmaak.

    Niemand kan
    sê: ek het nie ‘n funksie nie.

    En niemand
    hoef skuldig te voel, as hy nie dieselfde kan doen as ‘n ander nie.

    Daar is mense
    wat maklik voor ‘n groot groep kan praat, daar is mense wat ‘n nag wakker lê as
    hulle dit moet doen.

    Daar is
    mense wat nie eers ‘n stukkende gloeilamp kan vervang nie.

    Daar is ook
    mense wat per maand meerdere huise kan bou.

    Die beeld
    mag dus nie ontstaan dat jy nie ‘n goeie lid is, as jy daarteen opsien om die
    gemeente toe te spreek, of om leier of leidster van ‘n Bybelstudie te wees nie.

    Net so min
    as mense, skryf Paulus, in Korinthe hulle skuldig hoef te voel as hulle nie in
    tonge kan praat nie.

    Nie dat dit,
    omdat hulle dit nie kan doen nie, as ‘n verskoning kan dien om nou maar
    agteroor te sit en alles aan ander oor te laat nie.

    God roep jou
    juis om goed en ywerig te doen wat jy wel kan.

    As jy nie
    die persoon is om ‘n Bybelstudievereniging te lei nie, doen dan wel ywerig mee
    as lid van die Bybelstudie.

    Soek mekaar
    op, as gemeente, as LIGGAAM, ook deur die week.

    Jy kan moes
    nie Sondag in die kerk sit, aanstaande Sondag aan die nagmaalstafel, asof ons
    ‘n hegte liggaam is, maar deur die week is jy glad nie betrokke by die gemeente
    nie.

    Dit sal dalk
    beter wees om eers betrokke te raak, voordat jy weer die skyn aan die
    nagmaalstafel ophou dat jy wel ‘n hegte eenheid vorm met die gemeente.

    Ons het
    mekaar nodig.

    Elkeen lewer
    gewillig sy bydrae.

    Met bydrae
    bedoel ek nie in die eerste plek geld nie, dit ook.

    Die diakens
    het ons opgeroep om ekstra te skenk vir die hulpbehoewendes.

    Het u al aan
    daardie oproep gehoor gegee?

    Maar nie net
    geld nie.

    In die
    allereerste plek jouself, jou tyd.

    Jou tyd is
    soveel meer werd as jou geld.

    Soms hoor ek
    mense sê: dominee, deur die week het ek nie tyd nie.

    Mens sou
    hierdie opmerking ook anders kon verwoord:

    Dominee,
    deur die week is die kerk nie vir my belangrik nie.

    Maar ons is
    mos EEN LIGGAAM!

    Sewe dae per
    week!

    Die eerste
    Christelike gemeente het elke dag bymekaar gekom (Hand 2:46).

    Ook daardie
    lede waarvan mense dink dat hulle geen funksie in die kerk het nie – miskien
    dink hulle dit ook van hulleself – ook hulle het hulle plek van God ontvang.

    Is dit nie
    ook so in die menslike liggaam nie?

    Daar is
    organe wat jare lank ‘n sluimerende bestaan het, voordat hulle aktief raak.

    Daar is
    organe waarvan ons die nut nog nie eers ken of ten volle verstaan nie.

    Tog wil dit
    nie sê dat hulle vir spek en bone onderdeel van die liggaam is nie.

    Daar is
    miskien gemeentelede wat – byvoorbeeld as gevolg van hulle ouderdom – ‘n
    onopvallende bestaan lei.

    Hulle kan
    nie meer die kerk gereeld besoek nie, hulle kan nie meer in kommissies dien nie,
    hulle kan nie meer Bybelstudie toe kom nie.

    Tog is dit
    vir hulle geen rede om as bejaarde hulle afsydig te hou van die kerklike lewe
    nie, en nog minder vir ander om te maak asof bejaardes nie meer saamtel nie.

    Miskien het
    die gemeente hulle meer as ooit nodig.

    Dat deur
    hulle daaglikse gebed – nie gehaas, soos dit so dikwels by gesinne en werkende
    mense gebeur – maar dat hulle in alle rus die gemeente aan die Here kan opdra.

    Het die
    Israeliete in die woestyn nie die oorlog gewen omdat Moses sy arms die hele tyd
    in gebedshouding omhoog gehou het nie?

    Miskien het
    ons dit aan hulle volhardende gebed te danke, dat die gemeente desondanks nog
    ‘n eenheid vorm, dat daar jongmense is wat deurgroei tot belydende lede.

    Ja ons is
    vir mekaar onmisbaar.

    Oud en jong.

    Gesond en
    siek.

    Ja, skryf
    Paulus, veel eerder is daardie lede van die liggaam, wat die swakste lyk,
    noodsaaklik.

    En, lees
    ons, daardie lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons
    met oorvloediger eer.

    Ons minder
    edele dele word daarom met groter eer behandel, en die meer edele dele het dit
    nie nodig nie.

    God het die
    liggaam so saamgestel dat hy aan die mindere meer eer gegee het, sodat daar in
    die liggaam geen verdeeldheid sou wees en al die liggaamsdele eensgesind vir
    mekaar sou sorg.

    Wat Paulus
    presies met hierdie redenasie bedoel, word duidelik as mens besef dat hy hier
    oor die geslagsorgane praat.

    Dit is die
    dele van die liggaam wat ‘n ander nie hoef te sien nie.

    Maar dit wil
    nie sê dat hulle minder belangrik is nie.

    Juis intern
    sorg die res van die liggaam goed vir hierdie lede, deur byvoorbeeld – skryf
    Paulus – hulle behoorlik te klee.

    Die gebrek
    aan aandag wat hulle ontvang van ander, word gekompenseer deur die aandag en
    versorging wat die liggaam self aan hierdie lede skenk.

    Daar is
    gemeentelede wat jy nooit sal hoor in die erediens, op ‘n gemeentevergadering
    of Bybelstudie nie.

    Tog, hoe
    onopvallend hulle ook is en hoe weinig aandag hulle vir hulleself opeis, weet
    elke ander lid hoe onmisbaar hulle ook vir die liggaam is.

    En dus sorg
    die meer opvallende lede met ekstra liefde en aandag vir hulle.

     

    Hierdie
    onderlinge sorg, gemeente, berus op die feit dat ons een liggaam is.

    Iets
    waarvoor ons nie self gekies het nie, maar waarin God ons geplaas het.

    Ons eie wil
    of voorkeure mag nie die botoon voer nie.

    Ons word
    aangestuur deur die Hoof.

    Dit is die
    Here Jesus Christus.

    Wat een lid
    ondergaan, ondergaan almal.

    Pyn aan een
    ledemaat of orgaan werk deur in die hele liggaam, al is dit die kleintoontjie.

    Maar ook die
    omgekeerde: as een lid geëer word, is al die lede saam met hom bly.

    Gemeente,
    daar is nog een saak wat ek nie onaangeroerd wil laat nie.

    Dit is die
    onderwerp van 1 Korinthiërs 13.

    Dit is
    weliswaar die volgende hoofstuk, maar tog kan mens ons teks nie los lees van
    hoofstuk 13 nie.

    As jy na die
    gemeente kyk, die kerklike gemeenskap, dan is daar ‘n enjin wat alles aan die
    gang hou, wat elkeen motiveer.

    Daardie
    enjin is die liefde.

    Jy kan ‘n
    groep mense bymekaar sit, met allerlei talente en gawes, maar as hulle nie wil
    nie, as daar geen onderlinge liefde is nie, dan kom daar nooit ‘n hegte eenheid
    nie.

    Daardie wil
    tot iets word aangedryf deur die liefde.

    Die liefde
    wat ons van Godsweë mag ervaar, straal ons uit na mekaar.

    Dit is soos
    die bloedsomloop in die liggaam.

    Daardeur bly
    die hele liggaam warm.

    Die liefde
    sorg dat alle gawes aangewend word om die gemeenskap op te bou, nie af te breek
    nie.

    Te dien, nie
    jou eie eer te soek nie.

    Hierdie
    liefde moet die botoon voer.

    Deur die
    liefde word die foute en gebreke wat ons almal het, vergewe.

    Deur die
    liefde kry ons dit reg om nie die heeltyd mekaar te bekritiseer nie.

    Deur die
    liefde word daardie dinge wat elke lid wel goed doen, nog mooier en
    invloedryker, omdat die ander lede ook daarvan profiteer.

    Volgende
    week, DV, word die eenheid in hierdie gemeente weer sigbaar aan die
    nagmaalstafel.

    Die
    verbindende element is die liefde van Christus.

    Berei u
    daarop voor.

    Is die
    liefde van Christus die bloedsomloop in jou persoonlike lewe?

    Staan jy as
    persoon bekend as ‘n liefdeVOLLE mens?

    Is die
    liefde van Christus ook die bloedsomloop in hierdie gemeente?

    Die liggaam
    vorm ‘n eenheid.

    Dit is ‘n
    feit.

    Dit het ons
    in hierdie preek gesien.

    Dit is ook
    ‘n opdrag.

    Die
    voorbereiding op die viering van die nagmaal bepaal ons hierby.

    Gaan jy in
    die komende week jou gang, al op jouself, sonder belangstelling vir die
    gemeente?

    Vir die
    gemeente aktiwiteite?

    Funksioneer
    jy op die rand?

    Sien jy jou
    broers en susters net op Sondag?

    Dan is daar
    iets fout.

    Gaan jy in
    die komende week bid vir die gemeente?

    Bid vir die
    kerkraad, vir die diakens, vir die dominee, en veral ook: bid vir die
    onaansienlike lede?

    Of gaan jy
    hierdie week veral kritiek lewer op die liggaam waarin God jou geplaas het?

    Kla, fout
    soek, aan die kantlyn staan?

    Dan is daar
    iets fout.

    As jy dan
    volgende week nagmaal toe kom, is dit ‘n skyneenheid.

    As jy ‘n lid
    aan die kantlyn is, aan die rand van die liggaam, waar die bloedsomloop nie
    goed uitkom nie, gaan jy dalk ‘n keer afsterf.

    Die liggaam
    vorm ‘n eenheid, waarvan jy ‘n lid is.

    Dit is ‘n
    feit.

    Dit is ook
    vir jou ‘n opdrag.

    Amen.

     

     

Liturgie: 

(kyk in preek)