Deur die gebed maak ons vrede met God se bestuur

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-04-07
Text: 
Hábakuk 3
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA & PRETORIA, 7 April
2016 AD, 19:00 (Dankdag vir gewas en arbeid)

Votum

Seën

Ps 29:1,2

Gebed

Skriflesing:
Habakuk 3

Ps 29:3,4,5

Teks:
Habakuk 3

Preek

Ps 134:1-4

Doopsformulier

Bediening
doop

Ps 105:5

Geloofsbelydenis:
NGB art. 13

Ps 148:1,2

Dankgebed

Kollekte

Ps 148:3,4,5

Seën

Preek: Habakuk 3

Hierdie jaar
word daar in ons land eintlik nie ekonomiese groei verwag nie, terwyl inflasie
kommerwekkend toeneem.

Ek hoef u
ook nie in te lig oor die wydverspreide droogte wat die land die afgelope
seisoen getref het nie.

Volgens
sommiges die ergste droogte sedert daar begin opteken is.

Nou is ons
vanaand bymekaar om Dankdag te vier.

Sou dit nie
dalk, gesien die huidige ekonomiese omstandighede, verstandig gewees het om nie
Dankdag te vier nie?

Sou dit nie
meer sensitief gewees het vir die toestand van die land en samelewing nie?

Maar
gemeente, tog het beide kerkrade u opgeroep om hierdie erediens by te woon.

En al is
daar inflasie en kan ons steeds minder met ons geld doen, nogtans gaan daar in hierdie diens ook weer twee kollektes gehou
word.

Ja nogtans.

Aan hierdie
besondere woord gaan ons vanaand aandag skenk: die woordjie nogtans.

Dit is die
belangrikste woord in Habakuk 3.

Dit is die
woord wat ons in ons teks vind.

Vir baie van
ons ‘n bekende teks.

Dit is ‘n
teks wat die katkisante onlangs uit hulle kop geleer het.

Dit is ‘n
teks waarvan meerdere digters al ‘n lied gemaak is – mens kan byvoorbeeld dink
aan Skrifberyming 74.

In die
Hebreeuse grondteks is dit ook ‘n lied, ‘n gedig.

Ek verkondig
u vanaand die Dankdagevangelie uit hierdie teks.

Tema: Deur die gebed maak ons vrede met God
se bestuur

Die profeet
Habakuk het in die land Juda opgetree.

Die
tweestammeryk was in ‘n baie roerige tyd gewikkel.

Dit was die
begin van die 6de eeu voor Christus.

Alles het in
daardie tyd op los skroewe gestaan.

Niemand het
geweet of die land die volgende jaar nog sou bestaan nie.

Die
Assiriese wêreldmag was iets van die verlede.

Die
Assiriese wêreldmag het gedurende die hele 7de eeu bewind gevoer en sy wil
afgedwing.

Die
Assiriese wêreldmag het ook die 10-stammeryk, Israel, in ballingskap gevoer.

Daarenteen
het Jerusalem, die hoofstad van Juda, eintlik goed daarvan afgekom onder die
Assiriërs.

Ja, hulle
moes wel belasting betaal, maar verder is hulle met rus gelaat.

Ten spyte
daarvan kon hulle nog steeds ‘n welvarende lewe lei.

Tenminste,
solank die regering in Jerusalem lojaal gebly het aan Assirië.

Solank die
opposie in Jerusalem, die party wat liewer met Egipte, pleks van Assirië, ‘n
bondgenootskap wou sluit, maar nie te veel steun gekry het nie.

Maar, nou in
die 6de eeu, het aan die stabiliteit onder die Assiriese bewind ‘n einde gekom.

Met die
eeuwisseling is die Assiriërs deur die Babiloniërs verslaan.

‘n Nuwe
wêreldmag het op die horison verskyn.

En nou moes
Jerusalem opnuut kant kies.

Moes hulle
nou maar ‘n koalisie met Babel sluit, of moes hulle eerder ‘n konfronterende
houding aanneem?

Gemeente,
die Babiloniërs het eintlik vir Jerusalem geen keuse gelaat nie.

Aan die
begin van die 6de eeu is Jerusalem naamlik beleër.

Hulle het
gewoon onderdanigheid geëis.

Net soos
Rusland dit na die Tweede Wêreldoorlog met die Oos-Europese lande gedoen het.

Jerusalem
moes maar skik, moes maar buig.

Hierdie was
dus ‘n baie roerige tyd.

Die Jode het
moeite gehad om alles wat gebeur het, te verwerk.

Om ‘n goeie
sig daarop te kry.

Hoekom het
dit alles hulle oorkom?

Hoekom het
hulle ‘n speelbal geword van die internasionale grootmoëndhede?

En waar was
God?

Die God van
die verlede, wat so almagtig was?

Waar was Hy
nou?

Hoekom laat
Hy op Hom wag?

Die vorige
eeu het hulle gedink hulle kon alles nog verstaan.

Die
Assiriërs, die feit dat die 10-stammeryk in ballingskap weggevoer is.

Dit kon
hulle nog verstaan.

Dit was mos
die straf van God!

Dit het die
noorderlinge, Israel, die valse kerk, die volgelinge van Jerobeam, dit het
hulle dubbel en dwars verdien!

Hulle het
mos van Jerusalem afvallig geraak.

En, ‘n
wonder wat soos ‘n paal bo water gestaan het, was dat die HERE toe Jerusalem
gered het uit Sanherib se beleëring.

Niemand kon
verklaar hoe dit moontlik was nie, maar Jerusalem is toe gespaar.

Dit was dus
die vorige eeu.

Toe alles
nog sin gemaak het.

Maar nou het
hulle aangekom in ‘n nuwe tydperk.

En nou het
niks meer sin gemaak nie.

Hoe kon God
toegelaat het dat die tempel geplunder is?

Hoe kon God
toegelaat het dat hulle koning se oë uitgesteek is, en dat hy toe in
ballingskap weggevoer is?

Die volk het
dit nie meer verstaan nie.

Die volk ...

Hoewel, daar
was wel profete, ons sou vandag sê teoloë, wat met ‘n verhaal gereed gestaan
het.

Hulle het
wel ‘n verklaring gehad.

En hulle
verhaal het soos volg gegaan:

Inderdaad,
die tempel is geplunder.

Die koning
en adellikes is in ballingskap gevoer, maar hulle het dit ook verdien.

Dit was God
se wil.

MAAR, nie
almal in Juda is weggevoer nie.

Almal wat
nie weggevoer is, was dus onskuldig.

God het
slegs die skuldige element uit sy volk verwyder.

Dus, mense, het
die profete gesê, ons hoef nie meer te vrees nie.

Ons volk sal
standhou.

Ons sal wel
‘n koalisie met Egipte moet sluit, en so sal ons kan standhou.

So was dus
die verhaal, die verklaring van die profete, waarmee hulle hulle omstandighede
probeer verklaar het.

Habakuk het
in ‘n roerige tyd opgetree.

Ook Habakuk
self het nie meer hoop vir die toekoms gehad nie.

Habakuk was
ook maar ‘n gewone mens.

Maar,
gemeente, as ons hierdie klein boek uit die Bybel lees, en veral hoofstuk 3,
dan vind ons tog wel ‘n ander verhaal.

Skynbaar was
Habakuk nie op een lyn met sy kollega-profete nie.

In hierdie
boek word die Chaldeërs, dit is ‘n ander benaming vir die Babiloniërs, naamlik beskryf
as ‘n instrument in God se hande.

Habakuk 1:6:
“Want kyk, Ek gaan
die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes
van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie.”

Die
Chaldeërs is deur die HERE gestuur.

Op sy bevel
moes hulle die HERE se eie volk straf, tugtig.

Maar, soos
die geskiedenis geleer het, die Babiloniërs het dit wel gedoen op ‘n
verskriklik wrede wyse.

‘n Manier
wat God nooit sou goedgekeur het nie.

Ook dit blyk
uit die boek Habakuk.

Tog bly dit
‘n feit dat die HERE die Babiloniërs op Juda afgestuur het.

Vir die meeste
Judeërs was hierdie boodskap onverteerbaar.

Dat God hulle op dieselfde wyse wou straf as die
noordelike ryk.

Hierdie
boodskap het hulle gevoel van eiewaarde te veel aangetas.

Was hulle
nie die ware volk van God nie?

Dit het die
meeste profete mos geleer?

Die meeste
profete het mos gesê dat niks verkeerd sou kon loop nie?

Dat God niks
teen sy volk gehad het nie ...

Ons kry in
die boek Jeremia – Jeremia was ‘n bietjie jonger kollega van Habakuk – ons kry
in Jeremia ‘n duidelike voorbeeld hiervan.

Daar spreek
die HERE via Jeremia tot sy volk:

“So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na
die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met
ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond
van die HERE nie.” (Jer
23:16)

Habakuk en
Jeremia het dus anders na die situasie gekyk as die res van die profete.

Hulle is
natuurlik deur hul kollega’s uitgekryt as doemprofete.

Die koms van
die Babiloniërs het niks met God se wil te make gehad nie, het die meerderheid
van die profete beweer.

Hoe kon mens
in Godsnaam so ‘n boodskap aan die volk bring?

Ja, Habakuk
en Jeremia is uitgekryt as doemprofete.

Gemeente,
die tema van hierdie preek lui: deur die gebed maak ons vrede met God se
bestuur.

Deur die
gebed ...

As ons na
Habakuk 3 kyk, dan lees ons in vers 1: “’n Gebed van Habakuk”.

‘n Gebed van
Habakuk die doemprofeet.

Hoekom sou
hierdie gebed eintlik hier staan?

Wat het dit
met die profesie van Habakuk te make?

Die tema gee
die antwoord.

Deur die gebed maak ons vrede met God se bestuur.

Habakuk is
gebrandmerk as ‘n doemprofeet, net soos sy kollega Jeremia.

Maar
gemeente, moenie dink dat Habakuk dit uit homself was nie;

dat hy dit
geniet het om teen die heersende mening in te gaan nie.

Habakuk was
‘n gewone mens, net soos ons.

Hierdie
boodskap, wat hy in opdrag van God moes uitdra, het hom ook swaar op die maag
geval.

Ook hy sou
oomblikke gehad het dat die moed hom in die skoene gesink het.

Net soos sy
kollega Jeremia, wat meer as een keer tou op wou gooi.

Habakuk begin
sy gebed met die woorde:

“HERE, ek
het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees!”

Here, “in
toorn, dink aan ontferming”! (Hab 3:2)

Habakuk het geweet
wat God van plan was.

Maar om
daarmee vrede te maak, dit kon hy nie tsoef-tsaf doen nie.

In hierdie
hoofstuk, in hierdie gebed, worstel hy daarmee.

Hy soek na
‘n uitweg, hy soek na die sin van alles wat God doen.

Hy soek
troos, hy wil weet of dinge in die toekoms weer gaan regkom.

Die boodskap
van die HERE, dat daar naamlik vir sy volk swaar tye op pad is, dit is vir hom
moeilik om te aanvaar.

En so is dit
vandag nog steeds.

Niemand vind
dit oulik om te hoor:

Daar is ‘n
ekonomiese resessie op koms.

Die Rand gaan
afgewaardeer word na rommelstatus.

Sal ons wel
in die toekoms nog genoeg geld hê om vakansie te kan hou?

Sal daar nog
geld wees om mooi klere te kan bekostig?

En ons hoop
ook nie dat daar oorlog kom, of rassespanning wat eskaleer in ons land nie.

Want dan sal
ons miskien nog moet vlug ook.

Inderdaad,
dit is nie aangename dinge om aan te dink nie.

Habakuk het
swaar tye sien aankom.

Broers en
susters, as ons hierdie gebed van Habakuk bestudeer, blyk dit dat dit ‘n baie
indringende en ook ‘n baie mooi gebed is.

Daar is baie
beeldspraak, wat soms nogal verwarrend kan wees.

Mens kan
hierdie gebed globaal in drie dele verdeel.

Die eerste
deel is vers 1 en 2.

Daar gee die
profeet ‘n reaksie op wat in die eerste twee hoofstukke voorspel is: die koms
van die Babiloniërs met die doel om Jerusalem te verwoes.

Dit laat
Habakuk nie koud nie.

Hy erken dat
sy eie volk dit verdien het.

Maar die
manier waarop die Babiloniërs hulle gedra, asof die hele wêreld nou aan hulle
behoort, dit is nie God se wil nie.

En daarom
dat die profeet om genade smeek.

Dink te
midde van die toorn tog ook aan ontferming!

Die gedeelte
wat dan volg, die tweede deel van die gebed, verse 3-15, kan mens ‘n
Godsopenbaring noem.

Dit is nie
nou die bedoeling om elke vers uit te lê nie, en al die beeldspraak wat ons
hier vind nie.

As ons egter
na die geheel kyk, blyk dat ons te make het met ‘n soort visioen.

Habakuk sien
wat in die toekoms gaan gebeur.

En te midde
van alle duisternis blyk dat daar tog hoop is!

God word in
die visioen geskilder as ‘n groot Heerser wat uittrek om sy volk te red.

‘n Groot
Heerser, wat nie net mag het oor alle volke op aarde nie, maar selfs oor die
natuur!

Berge en
heuwels, sonlig en weerlig, seë en riviere bedwing Hy.

Hy gebruik
dit selfs tot die beswil van sy volk.

Die
beeldspraak in hierdie gebed herinner aan die verlede.

Die verlede
waarin hierdie magtige Heerser, God almagtig, ook al uitgetrek het tot
bevryding van sy volk.

Seë en
riviere het voor Hom gewyk.

Dink aan die
bevryding uit Egipte en die intog in Kanaän.

Habakuk sien
hier dus ‘n visioen.

‘n Visioen
met die boodskap: die almagtige God uit die verlede is nog steeds aanwesig!

Hy staan
selfs op die punt om in die toekoms iets groots te verrig.

Habakuk is
duidelik dus nie net ‘n doemprofeet nie, gemeente.

En dan volg
die derde deel, die slot van hierdie gebed, verse 16-19.

Eers lees
ons die reaksie van Habakuk.

“Toe ek dit
hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het
gekom in my gebeente.”

Bederf in my
gebeente ..., mens sou ook kon vertaal: my knië het geknik, gebewe.

Mens kan
hierdie reaksie van Habakuk vergelyk met die reaksie van die volk Israel toe
God aan hulle by die berg Sinaï verskyn het.

Ook daar was
die volk doodsbenoud.

Hulle het
gebewe van angs.

Gewoon omdat
God se heerlikheid aan hulle verskyn het.

Nie omdat
God boos op hulle was nie.

God het juis
verskyn om hulle te help.

Maar bloot
die ontmoeting met Hom, in al sy almag, waarby selfs die berg Sinaï gebewe het,
bloot die ontmoeting met Hom het aanleiding gegee tot so ‘n reaksie.

Habakuk se
knieë het geknik.

Hy het
gevoel hy is in die teenwoordigheid van die lewende God.

Die Skepper
van alle dinge.

Vervolgens
staan daar in vers 16:

“omdat ek
rustig moes wat op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op
ons ‘n aanval maak.”

Gemeente,
hierdie is ‘n keerpunt in Habakuk se gebed.

Hier sien
ons dat hy op een lyn kom met God se bestuur.

As gelowige
sê hy: ek sal afwag op dit wat die HERE gaan doen.

As gelowige,
nie dat hierdie geloof sy eie prestasie is nie.

Om te glo is
om jou afhanklikheid van God te besef.

Wat God
doen, is welgedaan.

Habakuk het
vrede gemaak met God se wil.

Dit is die
keerpunt.

Ja gemeente,
dit is die primêre doel van die gebed.

Gebed is nie
‘n hefboom waarby ons dinge kan regkry by God nie.

Gebed is nie
om God te vra dat Hy dinge vir ons moet doen nie.

Gebed is die
omgekeerde, gebed is veral ‘n instrument vir ons om op een lyn te kom met God
se wil.

Gebedsworsteling
is bedoel dat ons vrede maak met God se wil.

Dit is die
krag van die gebed.

As ‘n
opstandige skepsel hom neerlê by God se wil.

U wil alleen
is goed!

 

Na hierdie
keerpunt, gemeente, volg dan die verse 17-19, een van die mooiste gedeeltes in
die Bybel.

Die profeet
Habakuk, wat ook maar ‘n sondige mens was, voel homself hier bevry van al sy
twyfels.

Hy ervaar
wat dit is om deur God opgetel te word, om deur God gedra te word deur moeilike
tye.

Want daardie
tye sou gewis kom.

Die volk
Juda sou eers nog weggevoer word in ballingskap.

Die stad
Jerusalem sou eers nog met die grond gelyk gemaak word.

Dit alles
sou eers nog moes gebeur, voordat hierdie visioen in vervulling kon gaan.

En ook
Habakuk sou moes wag tot daardie tyd.

Ook Habakuk
sou miskien self in ballingskap weggevoer word, hy en sy kinders.

Ook vir die
ware gelowiges het ‘n moeilike tyd gewag.

‘n Tyd
waarin hulle ook, solidêr met God se afvallige volk, die straf moes ondergaan.

Vir sewentig
jare lank.

In hierdie
gebed, hierdie hoofstuk, sien ons dat Habakuk vrede maak met God se bestuur.

Nie net
Habakuk nie, gemeente, ook elkeen wat hierdie gebed gehoor het.

Danksy
Habakuk se profesie, sy gebed, is baie Jode wat in ballingskap in Babel gesit
het, getroos met die wete dat God hulle nie vergeet het nie.

Dat daar
weer nuwe tye sou aanbreek.

Ja, dit gaan
nie vanself om op een lyn te kom met God se bestuur nie.

Vir elke
mens is dit moeilik.

Ook vir ‘n
gelowige.

God se
bestuur oor ons, ons lewe, ons geliefdes, en breër ook sy bestuur oor alle
volke en regerings, oor alles wat daar in die wêreld gebeur, selfs oor die
natuur, reën en droogte, God se bestuur is nie altyd in lyn met ons voorkeure
nie.

By Habakuk
was dit ook nie so nie.

Om op een
lyn te kom met God se bestuur, dat beteken dat ons erken dat ons totaal
afhanklik van Hom is.

Soos Habakuk
gebid het, dat, ook al sou alles teleurstel, ja regtig alles, dat nogtans, nogtans hy sal juig in die HERE.

Ook as alles
van my afgevat word, nogtans weet ek
dat die HERE Here my krag is.

Ek dink dat
baie van ons die gediggie ken, die gediggie Voetstappe.

Twee rye
voetspore in die sand.

Saam met God
gaan jy hand aan hand.

Tot daar
skielik net een spoor oorbly.

Dit is die
oomblik as dit moeilik gaan in jou lewe.

Een spoor
bly oor.

Maar, so
gaan die gedig dan verder:

Een spoor
nie omdat God jou verlaat het nie.

Maar een
spoor omdat God jou opgetel het.

Omdat Hy jou
dra!

Dra deur
moeilike tye, as jy self nie meer kan loop nie.

As ons self
nie meer kan loop nie, dan dra God jou.

En dan is
daar slegs nog een ding wat jy wel kan doen: bid.

Bid kan mens
tot op jou sterfbed.

En as jy selfs
dit nie meer kan doen nie, dan word daar nog vir jou gebid.

Deur die
gebed kry jy vrede met God.

En kom jy op
een lyn met sy bestuur.

Ons sit ook
met hierdie doel vanaand in die kerk.

Ons het
spesiaal saamgekom om te bid, en veral ook om te dank.

Dankdag vir
gewas en arbeid.

Baie van ons
het dalk gemengde gevoelens.

Die een het
sy werk verloor, die ander se oes het misluk, of in elk geval baie
teleurgestel.

Tog is ons
hier saam voor God se aangesig.

Ook die afgelope
jaar en seisoen het God regeer.

Het Hy
hierdie wêreld bestuur, ook die politiek, ook die ekonomie, ook die natuur.

En ook jou
persoonlike lewe.

En ook sy
kerk.

Die afgelope
seisoen het ons ook uit God se hand ontvang.

Dit geld nie
net vir die landbou nie, maar vir alles.

Ook vir die
onder ons met ‘n kantoorwerk, wat elke maand sy salaris in sy bankrekening kry.

Ons ontvang
alles uit God se hand.

En juis
daarom het ons vanaand saamgekom om te dank, om op een lyn te kom met sy
bestuur.

Vrede te
maak.

Reën en
droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, oorlog en vrede, niks
oorkom ons by toeval nie, maar alles val ons ten deel uit die Vader se hand.

God se
Vaderhand het ons deur Jesus Christus leer ken.

In Christus
het Hy die geskiedenis so gewend dat alles ten goede sal uitwerk vir die wat
Hom vrees.

Christus
regeer.

En daarom,
al sou die vyeboom nie bloei nie,

en aan die
wingerdstokke geen vrug wees nie,

en die drag
van die olyfboom teleur sal stel,

en die
saailande geen voedsel oplewer nie,

die kleinvee
uit die kraal verdwyn,

en daar geen
beeste in die stalle sal wees nie,

nogtans sal ek jubel in die HERE,

sal ek juig
in die God van my heil.

NOGTANS,
gemeente, kom ons gebruik hierdie woord meer dikwels.

NOGTANS is
ons bly.

NOGTANS is
ons dankbaar.

NOGTANS kla
ons nie.

NOGTANS sien
ons die toekoms nie somber in nie.

Want die
HERE Here is my krag, Hy is my sterkte.

Hy maak my
voete soos die van ‘n ribbok.

Hy laat my
tree op my hoogtes.

Vir die
musiekleier op snaarinstrumente.

 

Of soos
Randall Wicomb dit berym het met kitaarbegeleiding:

“Hy gee my voete van 'n gemsbok die Kalahari
lê nou oop       

Ek sal nou veilig op die hoogste duine kan
loop

Al sou die doringse in die veld nie meer wil
blommie

En die wingerde oppie jaartse se troste
willie kommie

Al sal die dadelse nou niks dadelse dra nie

En dittie help om putse virrie water ditte
gra nie

Al sal daar nie meer skaap in die kampe in
wesie

In die krale nie meer bok of eers 'n besie

Dan sal ek nog altyd in die Jirre sit en
jubel en juig

Want die Jirre red die wat voor hom buig.”

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)