Die Christelike troos

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-01-24
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 1
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 24 Januarie 2016 AD, 17:30

Voorsang: Ps
10:1-3,8,10

Votum

Seën

Ps 31:1,2

Gebed

Skriflesing:
Jesaja 51:1-16

Ps 16:1,2

Skriflesing:
Romeine 8:31-39

Ps 16:3,4

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 1

Preek

Sb 10:2-6

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 23:2,3
(2e beryming)

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 1

As mens
iemand troos, doen jy normaalweg twee dinge.

In die
eerste plek laat jy blyk dat jy medelye het.

In die
tweede plek sorg jy dat die oorsaak van die verdriet weggeneem word.

As jy as
kind huilende die huis instorm omdat jy geval het, en jou hand byvoorbeeld vol
bloed is, dan wil jy getroos word.

In die
eerste plek dat jou mamma ook dink dat dit baie erg is, en dat sy jou
gerusstel.

Maar in die
tweede plek moet mamma ook iets daaraan doen.

Byvoorbeeld
‘n pleister plak, sodat die oorsaak
van die verdriet weggeneem kan word.

As mens ‘n
volwasse persoon troos, geld dieselfde.

In die
eerste plek laat sien dat jy medelye het.

Maar in die
tweede plek wil mens ook die oorsaak van die verdriet wegneem.

Nou is dit
nie altyd ewe maklik nie.

Sê nou maar
iemand het in ‘n motorongeluk albei sy bene verloor.

Of sê nou
maar iemand moes sy geliefde aan die dood afstaan.

Dan kan mens
in die eerste plek wel laat blyk dat jy medelye het.

Jy kan na
die verdriet luister, jy kan ‘n kaartjie stuur, jy kan daaroor praat, jy kan
probeer om die persoon op te beur.

Ja kan alles
doen om jy medelye te laat blyk.

Maar die
tweede aspek, die oorsaak wegneem, daarteenoor staan jy net so magteloos as die
persoon self.

En dit besef
almal ewe goed, al word dit nie altyd gesê nie.

Daarom is
die verdriet, die gemis ook so groot.

Die
gebrokenheid van hierdie wêreld, en die dood is iets wat ook volwasse mense nie
kan regmaak nie.

Mens kan 101
teorië ontwikkel oor hoe om die dood van ‘n geliefde te verwerk, hoe om met die
gemis, met die gebrokenheid verder te leef.

Maar die
troos bly wel beperk.

Mens besef
op sulke oomblikke dat daar ‘n ander troos nodig is.

Hoe
bevoorreg is ons nie dat ons hierdie ander troos ken, hierdie enigste troos in
lewe en sterwe.

Hierdie
troos wat nie net medelye toon nie, maar ook die oorsaak van die ellende
aanpak.

Dit is
waaroor die preek vanaand handel.

Tema: Die Christelike troos

  1. My lewe is duur gekoop

  2. My lewe het ‘n doel

  1. My lewe is duur gekoop

    Die kerkraad
    het dit noodsaaklik gegag om weer by Sondag 1 van die Kategismus te begin.

    So gaan dit
    al jare, beter gesê eeue.

    Die eerste
    kategismuspreek is al meer as vier eeue gelede gehou.

    En nog
    steeds gaan dit deur.

    Waarom
    eintlik?

    Want in die
    Kategismus kom die belangrikste onderwerpe uit die Bybel aan die orde.

    Dit is goed
    as die belangrikste sake uit die Bybel reëlmatig in die eredienste aan die orde
    kom.

    Vandaar die
    prediking uit die Kategismus, en dit geld uitaard ook vir die prediking na
    aanleiding van die ander belydenisgeskrifte, soos die NGB wat ons nou agter die
    rug het, en die Dordtse Leerreëls.

     

    Die feit dat
    die Kategismus met Sondag 1 begin, is nie toevallig nie.

    Want in
    Sondag 1 gaan dit oor die belangrikste boodskap uit die Bybel.

    Mens kan dit
    noem: die Christelike troos.

    Hierdie
    onderwerp was in die 16de eeu, toe die Kategismus geskryf is, die belangrikste
    boodskap van die Bybel, en dit is nog steeds so.

    Dit is dus
    nie toevallig nie dat die Kategismus met die vraag begin: wat is jou enigste troos
    in lewe en in sterwe?

    Ook in die
    16de eeu was hierdie troos ‘n omstrede saak.

    As jy dit
    wil verstaan, moet mens bietjie meer weet oor die leer van die Roomse kerk in
    daardie dae.

    In daardie
    tyd was daar naamlik meerdere Kategismusse.

    Trouens, dis
    vandag nog steeds so.

    So was daar
    byvoorbeeld ook ‘n Roomse Kategismus, wat genoem is die Kategismus van Trente.

    As dit oor
    troos gaan, vertel hierdie kategismus iets heel anders as ons kategismus.

    Daar was nog
    ‘n ander Roomse kategismus, spesifiek geskryf in Nederland, deur ‘n Nederlandse
    priester met die naam Martin Duncanus.

    Soos u dalk
    weet, is die Heidelbergse Kategismus, hoewel dit in Duitsland geskryf is, ook
    baie in Nederland gebruik.

    Die Roomse
    priester Duncanus het toe ‘n eie sogenaamde Katolieke Kategismus geskryf om die
    Heidelbergse oftewel Gereformeerde Kategismus te weerlê.

    Uit sy
    Kategismus blyk dat hy nie saamgestem het met die enige troos van Sondag 1 nie.

    As daar in
    Sondag 1 staan: daarom gee Christus my deur sy Heilige Gees ook sekerheid van
    die ewige lewe’, skryf Duncanus daaroor in sy Kategismus:

    ‘As daar
    sekerheid omtrent die ewige lewe is, dan weet slegs God dit. Moenie voor die
    tyd oordeel nie.’

    Dit wil sê,
    sekerheid oor of jy gered word, kry jy nie hier op aarde nie.

    Ook al doen
    jy jou hele lewe lank boete en goeie werke.

    Die rede
    hoekom die Heidelbergse Kategismus dus met Sondag 1 begin, is omdat die
    Gereformeerdes nie saamgestem het met die Roomse leer nie.

    Die Roomse
    leer was: dit is juis vroom en ‘n bewys dat jy ernstig is oor die geloof, as jy
    voortdurend twyfel of jy wel salig sal word.

    Maar, al was
    dit die leer van die magtige Roomse kerk, dit was glad nie die boodskap van die
    Bybel nie.

    En daarom
    het die Heidelbergse Kategismus tot stand gekom.

    Om die
    boodskap van die Bybel weer in ere te herstel in die kerk.

    Om die mens
    weer die enigste egte troos te bied.

    Troos, dit
    is die hoofdoel van die Kategismus.

    En dan nie
    net die eerste aspek van troos – dat jy laat blyk dat jy medelye het nie.

    Maar ook
    troos deur die oorsaak van die ellende weg te neem.

    Daaroor
    handel Sondag 1.

    Wat is die
    Christelike troos?

    Sondag 1
    begin direk daarmee: dat ek, as mens, as volledige mens – siel en liggaam,

    die eiendom
    is van Jesus Christus.

    Ek is nie
    die baas oor my eie liggaam nie.

    Jesus
    Christus is Baas oor my.

    Hy is my
    betroubare Heiland.

    Heiland, dit
    wil sê: die een wat my gesond maak.

    My
    betroubare Dokter.

    Nou klink
    dit dalk teenstrydig.

    Hoe kan dit
    vir jou ‘n troos wees dat iemand anders jou Baas is?

    Dat jy nie
    vry is om te doen wat jy wil nie?

    Dit klink
    teenstrydig.

    Maar Sondag
    1 help ons van ‘n illusie af.

    Die illusie
    dat, as jy nie aan Jesus Christus sou behoort nie, dat jy vry sou wees.

    Want as ons
    nie aan Hom behoort nie, dan sit ons in die mag van die duiwel.

    Hoe weet jy
    of jy in die mag van die duiwel is?

    As jy sondig
    is.

    En mense wat
    dink dat hulle nie so sondig is nie, dat dit meeval, dat Christene dikwels
    oordryf met al hulle klem op die sonde, sulke mense merk wel dat hulle sterflik
    is.

    Die Bybel
    leer ons dat die dood die gevolg is van die sonde.

    Elke mens is
    ‘n slaaf van die sonde, ‘n slaaf van die verganklikheid, ‘n slaaf van die ...
    duiwel.

    Slaaf wees
    beteken: jy kan nie ontsnap nie aan die feit dat jy sondig is, dat jy gaan
    sterf.

    Dit geld vir
    elke mens.

    Daarom kan
    dit nie anders nie of Sondag 1 het ongekend goeie nuus vir elke mens!

    Sondag 1 sê
    dat daar ‘n troos is in lewe en
    sterwe.

    Daardie
    troos is dat jy die eiendom mag wees van Jesus Christus.

    In
    teenstelling tot die duiwel, wil Hy nie dat jy aanhou sondig, en dat jy
    doodgaan nie.

    In
    teenstelling tot die duiwel is Hy ‘n Heiland, ‘n Dokter.

    Hy wil dat
    jy leef.

    Hy wil dat
    jy bly is.

    Hy troos
    jou, nie net met medelye, met die verwerking van jou verdriet nie.

    Hy bied ook
    ‘n oplossing.

    Hy verwyder
    die oorsaak van die probleem.

    Ons het
    vanaand ‘n gedeelte gelees uit Jesaja 51.

    Hierdie
    gedeelte is gerig aan die volk Israel toe hulle in ballingskap was.

    Hulle was
    verban uit hulle eie land en het as slawe in ‘n vreemde land gewoon.

    Hulle het
    hulleself afgevra hoe hulle ooit getroos kon word.

    En dan nie
    net troos in die sin van dat iemand medelye met hulle sou hê nie.

    Ook troos
    deur die oorsaak van hulle verdriet weg te neem.

    Naamlik dat
    hulle weer kon teruggaan na hulle eie land.

    Vir hulle sê
    die HERE: Ek is dit wat julle troos!

    En wie is
    jy?

    Jy is ‘n kind
    van my.

    Hoekom is jy
    dan bang?

    Hoekom is jy
    bang vir mense?

    Ek, die HERE
    jou Verbondsgod, is die Een wat hemel en aarde gegrondves het.

    Ek sal sorg
    dat jy nie sterf nie.

    Jy sal nie
    in die graf neerdaal, voordat jy jou eie land weer gesien het nie.

    Geliefdes,
    leer die volgende uit hierdie gedeelte:

    Die HERE sê:
    Ek is dit wat jou troos.

    Of anders
    gesê: jou troos lê buite jouself.

    Op die
    grootste en moeilikste lewensvrae bied God ‘n antwoord.

    Daarom het
    ons ook Romeine 8 gelees.

    “As God vir
    ons is, wie kan teen ons wees?” (vers 31)

    As God ons
    troos, God wat nie net ‘n medelydende God is nie, maar ook die oorsaak van ons
    ellende en verdriet wegneem, wie of wat sal dan nog ons vreugde, ons sekerheid,
    kan wegneem?

    En as jy jou
    miskien afvra: Is God regtig wel vir ons?

    Of as iemand
    dalk sou twyfel: bestaan God ooit wel?

    As hierdie
    vrae jou besighou, dan is die antwoord daarop kort en kragtig.

    As jy die
    antwoord nie oortuigend vind nie, lê dit nie aan God nie.

    As jy jouself
    afvra of God regtig wel vir ons is, en of Hy ‘n lewende, aktiewe God is, kyk na
    die feite uit die verlede.

    Die verlede
    spreek duidelike taal.

    Uit die
    verlede weet ons, en dit is feite wat jy kan nagaan:

    God het sy
    eie Seun nie gespaar nie!

    Hy het Hom
    gekruisig vir ons.

    Christus is
    gekruisig.

    Christus het
    opgestaan uit die dood.

    Dit het God
    alles vir ons mense gedoen.

    Om die oorsaak van ons ellende en verdriet weg
    te neem.

    As God dus
    vir jou is, as God wil dat jy lewe, ewig lewe;

    as God wil
    dat jy sonder sonde is, eerder as met sonde bevlek,

    hoe is dit
    moontlik – skryf Paulus in Romeine 8 – dat iemand jou nog sal kan veroordeel?

    En waarom
    sou jy jouself veroordeel?

    Waarom sou
    jy twyfel aan die doel van jou lewe?

    Waarom sou
    jy aarsel om te glo?

    Jou troos lê
    dus buite jouself.

    Danksy
    Christus is ons oorwinnaars.

    Danksy
    Christus weet ek seker, dat nog dood nog lewe, of engele, of magte, of hede of
    toekoms, of kragte, hoogte, diepte, verdrukking, benoudheid, vervolging, honger,
    naaktheid, gevaar, swaard, wat ook al, niks sal ons kan skei van die liefde van
    God, wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

    Dit is die
    enigste troos, die enigste toekomsverwagting vir hierdie wêreld, vir elke mens.

    Dis of
    hierdie troos, hierdie toekomsverwagting, of geen nie.

    Sonder Jesus
    Christus is daar geen toekomsvooruitsig vir geen enkele mens nie.

    Sonder Hom
    is jy hopeloos verlore.

    Dit is
    daarom met reg die belangrikste boodskap van die Bybel.

    Die blye boodskap.

    Die
    evangelie.

    Met hierdie
    boodskap begin die Heidelbergse Kategismus.

    Hierdie
    troos mag ek u verkondig, aan die hand van hierdie eerste Sondag.

    Hierdrie
    troos mag die katkisante hierdie week leer, die katkisante wat hierdie jaar vir
    die eerste keer met katkisasie begin het.

    Ons enigste
    troos.

    Ons troos
    wat buite onsself lê.

    ‘n Troos wat
    nie verdwyn as ons sterf nie.

    Hierdie
    troos is teen die dood bestand.

    Die prys wat
    God hiervoor moes betaal was ontsettend duur.

    Verskriklik
    hoog.

    Soms hoor
    mens in die nuus van ‘n gyselingsdrama.

    Die kind van
    ‘n miljoenêr word ontvoer en dan word ‘n yslike bedrag gevra om die kind weer
    terug te gee.

    Nou kan mens
    dit wat Sondag 1 skryf nie in alle opsigte met ‘n gyselingsdrama vergelyk nie.

    Maar wat wel
    geld, is dat Jesus met sy kosbare, sy duur bloed vir ons sondes betaal het.

    Dat Hy ons
    so weggekoop het uit die heerskappy van die duiwel en ons weer aan ons
    regmatige Eienaar teruggegee het.

    God, ons
    Skepper.

    Vir jou lewe
    is duur betaal.

    Petrus skryf
    in sy eerste brief (1 Petr. 1:18-19):

    Julle is nie
    “deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop ... uit julle ydele
    lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed
    van Christus”.

    Dit gee ‘n
    veilige gevoel.

    Dit is ons
    troos, wat vasstaan.

    Ja vasstaan
    selfs onafhanklik van jou gevoel.

    God het ‘n
    baie hoë prys vir my lewe betaal.

    En nou is
    jou lewe kosbaar in God se oë.

    Soos iemand
    ‘n keer gedig het: ‘selfs daardie een haartjie op jou kussing, so lig in gewig,
    weeg swaar by God.’

    Hy het dit
    vrywillig gedoen, ek het dit nie vir Hom gevra nie.

    God skenk my
    nuwe lewe, terwyl ek oppad was na die ewige dood.

    Dit gee my
    ‘n troos wat bo my gevoel uitgaan.

    Dit gee my
    ook sekerheid.

    As God so
    duur vir my lewe betaal het, sal Hy my ook in die toekoms bewaar.

    Danksy
    Christus, danksy die feit dat Hy ons Baas is, is ons nou vry.

    Soos daar in
    Johannes 8 staan: elkeen wat die sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. Maar as
    die Seun julle vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees (vers 34-36).

    Jou lewe is
    kosbaar in God se oë.

    Hy wil dat
    jy deel in die duur betaalde vryheid.

    Ja jou lewe
    is duur gekoop.

    Dit was die
    eerste punt van die preek.

    (Tema: Die
    Christelike troos

  1. My lewe is duur gekoop}

  2. My lewe het ‘n doel

    Ek het
    nounet al genoem: jy het nou ook sekerheid oor die toekoms.

    Die Christelike
    troos geld nie net vir vandag nie.

    Die
    Christelike troos staan vas, onafhanklik van die tyd en kultuur waarin jy leef.

    Vier eeue
    gelede, toe die Heidelbergse Kategismus opgestel is, kon die mense danksy
    hierdie Christelike troos ‘n sinvolle lewe leef.

    Hulle het
    geweet waaraan hulle toe was, hulle was nie bang nie, ook nie vir wat na die
    dood sou volg nie.

    Net so kan
    baie mens ook vandag danksy hierdie Christelike troos ‘n sinvolle lewe lei.

    En in die
    toekoms sal dit ook so wees.

    Toekomstige
    generasies, so lank die wêreldgeskiedenis nog voortgaan, sal ook ‘n sinvolle
    lewe kan lei op die basis van hierdie enigste troos.

    Dit staan
    vas, onafhanklik van die tyd, onafhanklik van die kultuur.

    Hierdie
    troos gee sin vir jou lewe.

    Die feit dat
    jy aan Jesus Christus behoort, dat jy sy eiendom is.

    Hierdie feit
    gee jou lewe ‘n doel.

    Jy wil dan
    ook slegs vir Hom lewe.

    Soos daar in
    Romeine 14:8 staan: “Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons
    sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons
    behoort aan die Here.”

    Broer,
    suster, as jy vandag al sou weet dat die toekoms nie vir jou rooskleurig lyk
    nie, dan verval ook die motivering om vandag jou bes te doen.

    Om dit met
    ‘n voorbeeld te verduidelik: as jy weet dat jou motor môre in ‘n ongeluk
    afgeskryf gaan word, waarom sou jy dit vandag nog laat diens?

    Dan maak dit
    nie meer sin om geld aan jou motor te spandeer nie.

    Dieselfde
    geld vir mense.

    As jy tog weet
    dat jy gaan sterf, waarom sou jy belê in jouself?

    Dit klink
    dalk snaaks, maar in ons kultuur is dit eintlik ‘n baie algemene houding.

    Ons leef in
    ‘n sinloosheidskultuur.

    Solank hulle
    kan geniet, wil mense leef.

    Maar as die
    pyn kom, verdriet, ouderdom, ongeneeslike siekte, dan het dit geen sin meer om
    te lewe nie.

    Gemeente, te
    midde van hierdie sinloosheid leef ons met die 
    Christelike troos.

    Die sin van
    jou lewe is soveel dieper as van mense wat Christus nie ken nie.

    En daarom
    kan en moet ons ook in ons lewens belê.

    Die
    Kategismus sê: Christus verseker ons deur sy Heilige Gees van die ewige lewe.

    As ons te
    sterwe kom, is ons nie afgeskryf nie.

    Ons verwag
    die vernuwing van ons liggaam, die opstanding, ons verwag ‘n nuwe lewe, ons
    verwag ‘n nuwe hemel en aarde.

    Dit is ons
    troos.

    Die
    Christelike troos.

    Die Heilige
    Gees verseker ons daarvan.

    Hierdie
    troos gee sin aan ons lewe.

    Ons lewe nie
    vir niks nie.

    Ons mag saam
    met God bou aan die nuwe aarde.

    Ons mag saam
    met Christus stry teen die duiwel, die dood, die sonde.

    Die enigste
    troos is die rots waarop ons ons lewe bou, waarop ons ‘n toekoms bou.

    En gemeente,
    hierdie troos word vir elke mens aangebied.

    Die
    Christelike troos is nie net vir bekeerde mense nie.

    Die blye
    boodskap is gerig aan alle mense.

    Vir elke
    mens geld, daar is slegs ‘n toekoms as dit in Jesus Christus gevind word.

    Sondag 1 kom
    met ‘n betroubare boodskap.

    Betroubaar,
    omdat dit die Bybel naspreek.

    Vir jou lewe
    is duur betaal.

    Jou lewe het
    ‘n duidelike doel.

    Jou lewe is
    veilig in God se hand.

    En daarom,
    sê Christus, mag julle weet dat God alle dinge sal laat meewerk ten goede,

    vir hulle
    wat Hom liefhet.

    Amen.

     

     

Liturgie: 

(kyk in preek)