PRETORIA-MARANATA,
10 Januarie 2016 AD, 10:15
Voorsang: Ps 7:5-8
Votum
Seën
Ps 78:2
Wet
Ps 119:12;13
Gebed
Doopsformulier
Doopsbediening: Pieter Cornelis Botha
Ps 105:5
Skriflesing: Genesis 1
Ps 8:1-4
Skriflesing: Genesis 9:1-17
Ps 8:5-7
Teks: Genesis 1:28
Preek
Ps 137:7-9
Gebed
Kollekte
Ps 128:1-4
Seën
Preek:
Genesis 1:28
Soms geld daar vir ‘n film of ‘n boek ‘n
ouderdomsbeperking.
Nou geld dit vir die preek vandag ook ‘n
bietjie.
Maar dan bedoel ek nie ‘n ouderdomsbeperking
vir kinders nie.
Kinders sal die boodskap dalk juis beter
verstaan.
Ek bedoel die beperking eerder in die sin van
wat Jesus gesê het in Mattheüs 19:11:
“Almal vat hierdie woord nie, maar net die
aan wie dit gegee is.”
Of in Mattheüs 11:25 sê Jesus: “Ek loof U, Vader,
Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en
verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.”
Daarom wil ek dit vooraf noem, mog dit so
wees dat u die boodskap van vanoggend bespotlik vind, dalk ouderwets, bedink
dan dat hierdie boodskap vir ‘n gewone mens moeilik verstaanbaar is, maar vir
iemand wat deur die geloof by Christus hoort, wel sin maak.
Nie dat ek bedoel dat jy ongelowig is as jy
nie met alles in die preek saamstem nie.
Maar ons moet ons wel daarvan bewus wees dat
daar ruimte is om verder te groei in die geloof, na meer geestelike
volwassenheid toe.
Geestelike volwassenheid beteken nie dat jy
‘n super-Christen word nie.
Geestelike volwassenheid beteken juis dat jy
groei in sondebesef, in beskeidenheid, in die besef hoeveel ons nog tekort
skiet in die diens aan die HERE.
Tema: Die
opdrag van God aan sy beelddraers
Ons teks staan bekend as die kultuuropdrag,
ook wel genoem kultuurmandaat.
Dit voer te ver om nou in hierdie preek te
verduidelik hoekom dit so genoem word.
Kultuur staan vir alle menslike aktiwiteit op
aarde.
Ons gebruik die woord kultuur soms in ‘n eng
sin, vir dinge soos musiek, literatuur ens.
Maar met kultuuropdrag word bedoel alles wat
mense op aarde doen, van kinders kry, huise bou, vakansie hou, klere dra, alles
is kultuur.
En die vraag wat by elke menslike aktiwiteit
gevra moet word, is: hoekom doen mense iets?
Met watter motief doen mense iets?
In ons teks gee God aan die eerste mensepaar
opdragte.
Wat hulle op aarde moet doen, binne die
konteks dat hulle deur Hom geskape is en Hom moet dien.
In ons teks gee God aan Adam en Eva globaal
twee opdragte:
1: wees vrugbaar en word talryk, vervul die
aarde;
2: heers oor die visse van die see, die voëls
van die hemel en die diere op die aarde, in kort: regeer oor alle ander geskape
dinge.
Visse, voëls en diere staan hier vir die hele
skepping.
As ons hierdie opdragte goed wil verstaan,
moet ons oog hê vir die konteks van ons teks.
Die Here God sê dit vir die eerste mensepaar
op die sesde dag.
Dit is die laaste skeppingsdag, waarop Hy die
diere, wild en mak, kruipend en lopend, geskape het.
En as laaste het Hy op hierdie dag die mens
geskape, ‘n man en ‘n vrou.
Ons lees dan dat God die mens na sy beeld
geskape het.
Nou beteken dit nie dat die mens ‘n bietjie
op God lyk nie, dit is nie die bedoeling van hierdie uitspraak nie.
Ook word hiermee nie bedoel dat die
tweeëenheid van man en vrou ‘n bietjie lyk op die Drieëenheid van God en dat
mense daarom beeld van God genoem word nie.
As dit so was, dan sou dit ook geld vir
byvoorbeeld die diere, wat God ook manlik en vroulik geskape het.
Met beeld van God word hier veral gedoel op
die taak, die funksie, wat die mens op aarde kry.
Hy moet heers op aarde.
Om hierdie taak goed te kan uitvoer, kry die
mens God se seën.
God se seën stel die mens in staat om
vrugbaar te wees, en om in verantwoordelikheid te heers oor alle lewende
wesens.
God seën die mense, sodat hulle vrugbaar is.
Net soos Hy die diere seën om vrugbaar te kan
wees.
Een verskil is daar wel.
God spreek sy seën oor die diere uit.
Maar Hy spreek tot die mense.
Van ouds af word ons teks dus die
kultuuropdrag genoem.
Soos ek gesê het, dui kultuur die somtotaal
van alle menselike aktiwiteit op aarde aan.
Alles wat hy tot stand bring, gebruik makende
van God se skepping.
Hierdie kultuurtaak word dikwels omskryf met
drie woorde:
bou, bewerk en bewaar.
Ons teks gaan dus oor die taak en doel van
die mens op aarde.
Hiermee moet die mens besig wees.
God gee Adam en Eva die opdrag om vrugbaar te
wees.
Dit is duidelik dat dit God se bedoeling is
dat die aarde vol word met mense.
Mense wat die aarde bebou, bewerk en bewaar.
Hierdie is uit en uit ‘n positiewe opdrag.
Tog is dit so dat baie mense deesdae skepties
is oor hierdie teks.
Is dit regtig so dat die aarde al mooier sal
word, as daar al hoe meer mense op aarde kom?
Is daar nie lande in die wêreld wat oorbevolk
is nie, om nie van stede te praat nie?
Is dit nie eerder so dat die aarde op ‘n
ekologiese ramp afstuur, as die wêreldbevolkingsgroei ongebreideld voortgaan om
te groei nie?
Is dit vandag nog wel verantwoordelik om baie
kinders te hê?
Staan dit nie op gespanne voet met jou plig
om suinig te wees met die beperkte natuurlike hulpbronne wat die aarde het nie?
Kortom, Genesis 1:28 staan behoorlik ter
diskussie deesdae.
Baie ongelowiges sien hierin ‘n bewys dat die
Bybel ouderwets is.
So ‘n boodskap kan mens vandag nie meer
verkoop nie.
Maar gemeente, hoe dink ons daaroor, ons as
Bybelgetroue Christene, wat opgegroei het in ‘n tradisie waar groot gesinne as
‘n seën van die HERE beskou is?
Dit is belangrik om te besef dat God hierdie
kultuuropdrag voor die sondeval gegee
het.
Die geskiedenis van die sondeval lees ons in
Genesis 3.
God het die bevel om vrugbaar te wees en te
heers oor die aarde gegee aan twee mense wat sonder sondes was.
Twee mense wat ‘n volmaakte
verantwoordelikheisgevoel gehad het teenoor hulle Opdraggewer.
Hulle het besef hulle is onderkonings,
aangstel om die aarde te bewoon, te bebou, te bewerk en te bewaar.
En dit in ‘n volmaakte harmonie met alle
lewende wesens, soos dit voor die sondeval vanselfsprekend was.
Dit is kenmerkend vir na die sondeval dat die
harmonie onder druk gekom het in die skepping.
Dat alles mekaar begin beveg en teenstaan
het.
Selfs sien ons dat mense dit doen met die
gebooie wat hulle van God ontvang het.
God se gebooie is in hulleself goed, maar ‘n
mens kan ‘n gebod van God so uitvoer dat jy uiteindelik die bedoeling van
daardie gebod heeltemal mis.
Dink maar aan al die konflikte wat Jesus met
die Fariseërs gehad het.
Die konflikte het dikwels oor God se gebooie
gehandel.
Die Fariseërs het dit die Here Jesus kwalik
geneem dat Hy ‘n man met ‘n verskrompelde hand op die sabbat genees het.
Want mens moes rus op die sabbat.
Met al hulle reglemente het hulle mense
verbied om goed te doen op die sabbat.
Nie dat die Here Jesus ‘n mediese praktyk op
die sabbat bedryf het nie.
Hy het die man toevallig teengekom, Hy het
slegs ‘n woord gespreek, en die man is genees.
Uiteindelik het al die reglemente van die Fariseërs
daarvoor gesorg dat die mense op sabbat glad nie tot rus gekom het nie, maar
hulle die heeltyd angstig afgevra het of hulle nie iets oortree nie.
En dit was nou juis nie God se bedoeling met
die vierde gebod nie.
Met al hulle aandag vir al die reglemente het
die Fariseërs ‘n ander gebod oortree.
Naamlik dat God van ons verwag dat ons goed
doen aan siekes en swakkes.
Nou is dit so, gemeente, dat dieselfde gevaar
dreig ten opsigte van die opdrag wat God in ons teks gee: die opdrag om
vrugbaar te wees en die aarde te vul.
Dit was uiteraard nie God se bedoeling dat
die uitbreiding van die menslike populasie ten koste moes gaan van die res van
sy skepping nie.
Dit is nie God se bedoeling dat met die nakom
van een gebod, mens ‘n ander gebod oortree nie.
As daar soveel mense is dat daar nie meer
plek oorbly vir diere nie, dan is die mens nie meer ‘n goeie rentmeester nie.
As daar soveel mense is dat daar nie eers
meer land oorbly om voedsel te verbou nie, dan is daar vir die mense ook nie
meer ‘n lewe nie.
God se bedoeling met die kultuuropdrag is
juis dat alles in harmonie saam behoort te leef.
En juis daarvoor het Hy die mens as heerser,
as onderkoning, aangestel.
Die mens is God se beelddraer.
Hy verteenwoordig God.
Dit is juis sy taak om toe te sien dat alles
in harmonie saamleef.
Maar vanaf die sondeval, waarvan ons in
Genesis 3 lees, het alles anders geword.
Vanaf toe kon die mens geen onderkoning, geen
beelddraer meer wees nie.
Hy het nie meer God verteenwoordig nie, hy
het juis in opstand teen God gekom!
Sy heerskappy op aarde is nie meer gekenmerk
deur harmonie, ‘n bou, bewerk en bewaar in harmonie nie.
Maar sy heerskeppy het uitgeloop op wedywer
en oorlog, afbreek pleks van bou, verwoes pleks van bewaar.
Die eerste moord is gepleeg.
Die aarde was nie eers groot genoeg vir vier
mense, as dit aan Kaïn gelê het nie.
Weg alle harmonie.
God moes ingryp, Hy moes die een mens teen
die ander beskerm.
U weet hoe die geskiedenis verder verloop
het.
‘n Gebroke geskiedenis, oorlog, haat en nyd.
‘n Harmoniese bestaan tussen mense onderling,
tussen mense en diere, tussen mense en die skepping, sedertdien was daarvan
geen sprake meer nie.
Dorings en distels staan daarvoor simbool in
Genesis 3.
En in hierdie werklikheid van na die sondeval
verkeer ons vandag nog steeds.
Telkens weer blyk dat die aarde nie groot
genoeg is nie.
Volke verdryf mekaar, broers staan teen
mekaar op, regerings moor hulle eie onderdane uit, ensovoorts.
Nooit is die land groot genoeg nie.
Almal is honger vir grond.
Almal wil net meer hê, niemand wil iets
inlewer nie.
En wat moet ons nou doen met hierdie teks,
Genesis 1:28?
Geld dit nog steeds vandag – dat as God
vrugbaarheid skenk – mense kinders moet kry?
Gemeente, ons het ook ‘n gedeelte uit Genesis
9 gelees.
Die rede is omdat ons ook in hierdie hoofstuk
die kultuuropdrag terugvind.
Na die sondvloed het God opnuut vir Noag
gesê:
“Wees vrugbaar en vermeerder en vul die
aarde.” (Gen 9:1)
Wat opval is dat God hier dieselfde gebod gee
as in ons teks.
Maar hier gee God dit na die sondeval.
Dus, die kultuuropdrag kan ons nie beperk tot
iets wat slegs voor die sondeval geldig was nie.
Wat wel belangrik is om te besef, is dat God
hierdie opdrag spesifiek aan Noag gegee het.
Hy gee hierdie opdrag, naamlik om vrugbaar te
wees, nie aan al Noag se tydgenote nie.
Sy tydgenote het God juis kort daarvoor in
die sondvloed laat verdrink!
Alle goddelose mense wat nie na sy roepstem
geluister het en nie in die ark ingegaan het nie, hulle almal het hulle
welverdiende straf gekry.
Dit bring ons tot ‘n belangrike gevolgtrekking.
Die opdrag om vrugbaar te wees gee God nie
aan die goddelose mense nie, nie aan die ongelowiges nie, maar aan die
gelowiges.
Hulle mag uit genade – om Christus’ wil –
opnuut beelddraers van God word.
Hulle word opgeroep om hierdie aarde te bebou,
te bewerk en te bewaar.
En dit in harmonie met mekaar en met die hele
skepping soos God dit bedoel het.
Ons teks, die kultuuropdrag, en soos dit
herhaal word in Genesis 9:1, is dus gerig aan die mense wat die HERE dien.
God se oproep om vrugbaar te wees klink nie
tot die ongelowiges nie.
Hy het hulle juis van die aardbodem af
verwyder deur die sondvloed.
Kom ons probeer hierdie nou toepas vir
vandag.
In die eerste plek is daar nie ‘n Bybelse
opdrag, ook nie vandag nie, rigting ongelowiges om vrugbaar te wees en te
vermeerde nie.
Inteendeel.
Hoekom sou iemand kinders kry, as hy nie van
plan is om daardie kind op te voed in die vrees van die Here nie?
Dan word die kind grootgemaak vir die hel.
Dis waar dit op neerkom.
Iemand wat ver van God leef, het nie ‘n
toekomsvooruitsig nie.
En iemand wat ver van God en sy gebooie leef,
is nie ‘n aanwins vir hierdie aarde nie.
Die aarde sug onder die swaar las van hulle
wat net vir hulleself leef en nie hulle Skepper dien nie.
Mense met ‘n – mens kan dit noem – Lameg-mentaliteit.
Dit is beter dat hulle nie uitbrei en
vermeerder nie.
In die lig van die Skrif moet ons beklemtoon:
slegs hulle wat in diens van die HERE leef, word opgeroep om kinders te kry en
tot sy eer op te voed.
Natuurlik is God ‘n genadige God, en in sy
raadsplan lei Hy dit soms so dat mense wat in ‘n goddelose omgewing opgegroei
het, tot bekering kom en lid word van Christus se kerk.
So het God deur die eeue besluit om mense te
red uit hierdie verdorwe geslag.
Lank gelede het God die ongelowige wêreld met
die sondvloed gestraf.
Nog steeds gaan God se strawwe oor die
wêreld.
Tog is God ook lankmoedig, en staan Hy toe
dat die onkruid saam met die koring opgroei.
As Christene is dit nie ons taak om te straf
nie, dit kom alleen God toe.
As Christene is dit ons taak om ongelowige
mense te waarsku vir die oordeel wat op koms is, en hulle op te roep tot
bekering.
Ons sien orals om ons heen dat die aarde
gebuk gaan onder die las van sondige mense.
Mense wat hulleself op die troon geplaas het
en God se gebooie minag.
Ons moet oproep tot bekering.
Ons moet hulle jaloers maak, ons wat wel ‘n
pragtige toekomsvooruitsig het.
Ons moet self trou bly.
Vir wie nie glo nie, is daar geen toekoms
nie, ook nie vir sy nageslag nie.
Vir wie glo en die HERE opreg dien, vir hom
en sy nageslag is daar ‘n ryke toekoms, danksy Christus se genade.
Ons mag lewe in God se verbond.
Net soos God, na die sondeval en die
sondvloed, opnuut met Noag ‘n verbond gesluit het, en in daardie konteks vir
hom en sy familie die opdrag gegee het om vrugbaar te wees,
so doen God dit ook vandag met die kerk.
In ‘n wêreld waar die gees van Kaïn orals
deurgedring het, die gees van spot en haat, die gees van genot- en vermaaksug,
die gees van afguns, magsverheerliking, die gees van ontug en van geweld,
kortom die gees van die dood, in so ‘n wêreld sou destyds Noag en sy gesin,
slegs agt siele, verdrink het, as God dit nie voorkom het deur daardie
goddelose wêreld self te laat verdrink nie.
En presies dieselfde sê die apostel Petrus
ook oor vandag.
Die doop red ons, ons wat van nature van God
vervreemd was deur ons die sondeval en ons sondes – die doop red ons van die
ondergang.
Deur die doop kry ‘n sondaar ‘n plek in die
ark.
Die ark van die nuwe verbond is die kerk.
In die kerk ontvang ons ‘n nuwe toekoms.
In die kerk beveel God aan die gelowiges: wees
vrugbaar, word talryk en vervul die aarde.
Dit beveel Christus vir sy kerk.
God soek ‘n aarde vol mense wat in harmonie
met Hom lewe, in harmonie met mekaar, en in harmonie met sy skepping.
Deur die sondeval het alles fout geloop.
Maar by die moederbelofte, Genesis 3:15,
begin God met die herskepping.
In Christus het die aarde weer ‘n toekoms.
Hy werk aan ‘n nuwe aarde, sy koninkryk is op
koms.
Die kerk is die begin van sy koninkryk op
aarde.
Dit bring ons by die gevolgtrekking dat die
boodskap van ons teks, die kultuuropdrag, vandag gerig is aan die kerk.
Ja gemeente, dit is ‘n boodskap, ‘n opdrag,
aan u.
Wees vrugbaar en word talryk.
Dit is nie net ‘n opdrag aan die kerk in
terme van sending en evangelisasie nie.
Dit ook natuurlik.
Maar dit is ook ‘n opdrag aan die egpare in
die kerk, aan wie die HERE die gawe van vrugbaarheid skenk.
Ek hoop dat daar in hierdie nuwe jaar weer
baie baba’s in ons gemeente gebore mag word.
Dis nie net ‘n persoonlike wens van my nie.
Daartoe mag en moet ek u oproep, vanuit God
se Woord.
Die aarde het behoefte aan mense wat in diens
van God lewe, in harmonie met hulle Skepper, hulle medemens, en die res van die
skepping.
Laat die kerk sy verantwoordelikheid besef
vir die toekoms, juis deur talryk te wees.
Laat ons nie wêreldgelykvormig word nie, ook
nie in hierdie opsig nie.
Aan hulle wat in Christus mog trou, aan hulle
klink hierdie oproep.
Moenie hierdie opdrag uitstel nie.
Moenie sê: ek is finansieel nog nie daaraan toe
nie.
As die Here Jesus, die koning van die
konings, in ‘n stal gebore kon word, dan hoef ons nie ‘n eie huis te hê voordat
ons kinders begin kry nie.
Net soos by Noag destyds, klink ook vandag
tot die kinders van die verbond, vandag in tye van groot afval, tot ons klink
des te meer die oproep, wees vrugbaar en word talryk.
Nie omdat ons ‘n superras sou wees nie.
Maar omdat ons uit genade ‘n nuwe lewe en
nuwe kanse in Christus ontvang het.
Danksy Christus se verlossingswerk mag ons
opnuut God se beelddraers genoem word. Amen.
(kyk in preek)