PRETORIA-MARANATA,
6 Desember 2015 AD, 10:15
(nagmaal
& doop)
Voorsang: Ps 5:1,7,8,9,11
Seën
Ps 105:2
Wet
Ps 86:3
Gebed
Doopsformulier
Bediening doop aan: Annelien
Maartje Moes
Dankgebed
Nagmaalsformulier (p 23)
Gebed (afgesluit met sing van
Onse Vader)
Ps 105:3
1e tafel: Hebreërs 11:1-31; Ps
105:7,23
2e tafel: Hebreërs 11:32-40; Ps
105:8,9
3e tafel: Lofverheffing; Ps
105:10
Gebed
Teks: Hebreërs 11:1
Preek
Ps 145:3,4
Kollekte
Ps 145:7,9
Seën
Preek:
Hebreërs 11:1
Tema: Ons
sien uit na dit wat nou nog onsienlik is. Ons hoop op dit wat in Christus
vasstaan.
Die laaste keer, hierdie jaar,
mag ons as gemeente die nagmaal vier.
As gasheer is aanwesig by hierdie
tafel die Here Jesus Christus self.
Ons sien Hom nie meer soos toe Hy
op aarde was nie, maar Hy is wel hier.
Ons word almal opgeroep om ons
harte te verhef tot Christus.
Daarmee word bedoel jou
geloofsoë.
Dat jy hierdie erediens so
ervaar, onder die indruk van die gedagte dat die Here Jesus jou sien sit.
Dat Hy jou uitnooi.
Dat Hy jou in liefde sy lewe gee,
sy liggaam en bloed.
Dat Hy jou krag gee vir die lewe.
Dat Hy jou die ewige lewe sal
gee.
Met daardie vertroue vier ons die
nagmaal.
Dit is vir ‘n buitestaander dalk
‘n misterie.
Dalk dink ‘n ongelowige, dit is
net inbeelding, en hy trek sy skouers op.
Want mens sien niks nie.
Mens sien nie die Here Jesus nie.
Mens sien net brood en wyn.
Watter viering is dit eintlik?
En inderdaad, as jy op hierdie
vlak dink, dan is die nagmaalsviering eintlik niks nie.
Dan is dit eintlik baie eentonig.
Ons teks gaan oor dinge wat ons
met ons liggaamlike oë nie kan sien nie.
Die geloof is ‘n vaste vertroue,
lees ons in die teks, ‘n vaste vertroue op dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die
dinge wat ons nie sien nie.
Deur die eeue heen was dit vir
alle mense moeilik gewees.
Dat jy glo, dat jy vertrou op
iets wat jy nie kan sien nie, wat jy nie kan kontroleer nie, wat jy nie kan
bewys nie.
Die kerkvader Augustinus was ‘n keer in gesprek met ‘n
vriend van hom.
‘n Vriend wat op hierdie punt
geloofstwyfels gehad het.
Die geloof het hy as ‘n
lugkasteel ervaar.
‘n Ballon, wat dalk mooi en groot
lyk, maar wat enige tyd kan bars.
Watter sin het dit om te glo?
In die gesprek wat Augustinus met
sy vriend gehad het, het hy probeer verduidelik dat hierdie onsekerheidselement
nie net vir jou geloof geld nie, maar
eintlik vir die hele lewe.
As jy vir alles in die lewe ‘n
bewys soek ...
As jy niks kan glo nie, as jy
niks net kan aanvaar nie, waar bly mens dan ...?
Augustinus noem die voorbeeld van
jou ouers.
Wie sê dat jou ouers jou ouers
is?
Het jy ‘n bewys daarvoor?
Ja, hulle sê so, maar is dit wel waar?
Miskien jok hulle.
Ja, jy vertrou hulle, maar dit is mos nie ‘n bewys nie?
Augustinus verduidelik dat as jy so lewe, dat jy vir alles ‘n bewys soek,
dan is niks meer moontlik nie.
Dan is dit selfs nie eers meer moontlik
om ‘n band met jou ouers op te bou nie, omdat jy altyd sal bly twyfel of hulle
werklik jou ouers is.
Vanoggend is Annelien gedoop.
Sy sal dit nie self kan onthou
nie.
Sy sal later haar ouers moet vra:
pappa, mamma, is ek ook gedoop?
En sy sal dan haar ouers op hulle
woord moet glo.
Dis soos alles in die lewe werk.
Daar bly geen lewe oor, as jy die
houding het dat jy aan alles moet twyfel.
Dan word jy wantrouig, onseker en
gefrustreerd.
Daarom, sê Augustinus, as jy nie
self gesien het hoe jy uit jou ma gebore is nie, maar haar tog as jou ma
beskou, hoekom sou jy dan so moeilik doen om God as jou Skepper te beskou?
En as die Skepper van hemel en
aarde.
Vertrou gewoon.
Om vir alles ‘n bewys te soek,
maak die lewe onmoontlik.
Om vir alles ‘n bewys te wil hê,
is onmoontlik.
Jy moet jouself oorgee.
Jy kan nie alles kontroleer nie.
Jy kan nie alles met jou mense-oë
sien nie.
Vertrou maar dat dit so is.
Dit is wat geloof is.
Soos ons teks sê:
die geloof dan is ‘n vaste
vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien
nie.
Ons kan nie verklaar hoe hierdie
wêreld, hoe die aarde, hoe die heelal ontstaan het nie.
Maar, sê vers 3, deur die geloof
verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is.
Dat die dinge wat gesien word,
nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
Dat die sigbare ontstaan het uit
die onsigbare.
God het gespreek, en dit is tot
stand gebring.
En geliefdes, presies dieselfde
geld vir ons geloof in die toekoms.
Ons glo in die opstanding van die
liggaam.
Ons glo dat ons met ons sterwe na
die hemel gaan, waar Jesus is en God ons Vader.
Ons kan dit nie sien nie, ons kan
dit nie kontroleer nie.
Maar ons glo dit.
Ons vertrou dat dit so is.
Ons hoop is ‘n vaste hoop.
Met hoop word hier nie bedoel:
nou ja ... miskien.
Nee, hierdie hoop het ‘n
fondament.
Iets wat wel bewys is.
Christus het wel uit die graf
opgestaan.
En in die vaste hoop op redding,
die ewige lewe, en die opstanding, in hierdie vaste hoop het baie mense ons al
voorgegaan.
Daaroor handel Hebreërs 11.
Mense wat net soos ons in hierdie
gebroke wêreld geleef het, mense wat self ook vol gebreke en sondes was, maar
wat tog tot die einde toe vasgehou het aan die geloof.
Wat God vertrou het.
Wat vas vertrou het dat God hulle
hemelse Vader is, en net soos ‘n aardse vader, ja nog veel meer, vir hulle sal
sorg, en hulle nooit in die steek sal laat nie.
Abel, Henog, Noag, Abraham, Sara,
Isak, Jakob, Josef, Moses, ensovoorts.
Ja, miljoene mense het ons voorgegaan
in hierdie geloof.
Ook mense wat u persoonlik geken
het.
In hulle lewens het God laat blyk
dat Hy groot is, en dat Hy betroubaar is.
Ja die geloof het ‘n fondament.
Ons Here Jesus is deur die Vader
na die aarde gestuur.
Hy het gesterf en het weer opgestaan.
Dit is ‘n bewys wat niemand van
ons kan wegvat nie.
Hierdie stukkie geskiedenis het
gebeur, dit staan in die verlede gegrif as ‘n bewys vir die toekoms.
Ons hoop met ‘n vaste vertroue om
ons Heiland te ontmoet.
Hy, Christus, wat nou in die
hemel regeer.
Ons verhef ons hart tot Hom.
As Gasheer skenk Hy aan ons die
brood en wyn.
Hy skenk vergewing van sondes.
Hy skenk ewige geluk.
Hy skenk die herskepping van
hierdie aarde.
Hy skenk Homself.
Ons mag uitsien na ‘n toekoms, as
Hy hier op aarde weer saam met ons gaan feesvier, soos die nagmaalsformulier
skryf: die wyn saam met ons sal drink in die koninkryk van sy Vader.
Ons sien uit na dit wat nou nog
onsienlik is. Ons hoop op dit wat in Christus vasstaan.
Amen.
(kyk in preek)