PRETORIA-MARANATA,
1 Maart 2015 AD, 17:30
Voorsang: Ps 150:1-3
Votum
Seën
Sb 8:1
Gebed
Skriflesing: Johannes 20:26-31;
Johannes 21:21-25
Ps 62:5,6
Skriflesing: Galasiërs 1:1-12;
Openbaring 22:6-21
Ps 62:7,8
Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 7
Preek
Ps 18:13,14
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 18:15,20
Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 7
Dit is ongeveer honderd jaar
gelede wat die eerste mense die suidpool bereik het.
Hulle moes na die lang bootvaart
ook nog baie kilometers deur die winterlandskap van Antartika aflê.
Was dit nie vir ‘n betroubare
kompas nie, sou hulle die suidpool nooit bereik het nie, maar verdwaal het, en
soos dit werk as jy verdwaal, in groot sirkels begin rondloop het.
‘n Betroubare kompas gee ‘n
gevoel van veiligheid.
Dit stel mens in staat om
vorentoe te beweeg, al sien mens nie die bestemming nie.
Die oomblik as jou kompas breek,
of onbetroubaar blyk, oorval jou ‘n gevoel van wanhoop en verlorenheid.
Die onderwerp waaroor art. 7 van
die NGB handel is die volkomenheid van
die Heilige Skrif om alleen die reël van die geloof te wees.
Oftewel, die Heilige Skrif is ‘n
betroubare kompas vir die mens.
Dit is dan ook die tema vir
hierdie preek:
Tema: Die
Heilige Skrif is ‘n volkome betroubare kompas vir die mens
-
Die Skrif en die Gees is een
-
Die Skrif en Christus is een
-
Die Skrif en die Gees is een
Die Skrif wys selfs vir ons die
pad vorentoe, in die toekoms.
Dit Skrif openbaar aan ons dat
daar ‘n pragtige toekoms wag, vir wie aan Christus behoort.
Ja die Skrif is volmaak, dit
bevat volkome alles wat die mens vir sy saligheid moet weet.
Niemand, selfs nie die apostels,
mag anders leer nie. Selfs nie ‘n engel uit die hemel nie (Gal 1:8).
Dit is verbode om iets by die
Woord te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32)
Geen enkele geskrif van mense mag
aan die Skrif gelyk gestel word nie.
Die Woord van die HERE kan nie op
een lyn gestel word met mensewoorde nie.
Hierdie het ‘n implikasie op hoe
ons bv. na die prediking kyk.
In die erediens lees ons bv. eers
‘n gedeelte uit die Bybel.
Daarna word dit deur die dominee
in die preek uitgelê en toegepas.
Hoewel hy die Woord van God
bedien, en die HERE ook deur hom praat, wil dit nog nie sê dat sy woorde, sy
preek, op dieselfde vlak as die Skrif is nie.
Dit is nie onfeilbaar nie.
Hy bly slegs ‘n bedienaar van die Woord.
Die gemeente word opgeroep om na
die Woordbediening te luister.
Die gemeente moet haarself
daaraan onderwerp, asof God deur die bedienaar met hulle spreek.
Terselfdertyd word die Woordbediening
nie die Woord van God self nie.
Dit geld nie vir ‘n preek nie,
dit geld ook nie vir – bv. – ‘n gebed nie.
Daar is groeperings wat beweer
dat – as ons die Bybelse woorde in ons mond neem in bv. ons gebed – dat dit dan
ook die lewende Woord van God word.
En dit maak gebedsgenesing dan
moontlik.
Wanneer ‘n pastoor bv. vir jou
siekte bid, gebruikmakend van die HERE se woorde, dan word dit die HERE se eie
woorde, wat effek van genesing sal hê.
In so ‘n geval is die mens, die
pastoor of dominee, nie meer bedienaar van
die Woord nie, maar stel hy homself gelyk aan die woord.
Dit klink dalk verwarrend, dit
klink dalk of die twee nie werklik van mekaar verskil nie.
Maar tog is hier ‘n belangrike
onderskeid.
‘n Bedienaar mag homself nie vereenselwig met die Woord nie.
Die onderskeid tussen die Skrif,
die Woord van God, en die mens wat die Woord van God in die mond neem, moet bly
bestaan.
Dit mag nie uitgewis word nie.
In die tyd van die Nuwe Testament
het bv. die apostels die bevoegdheid van Christus ontvang om wonders te verrig.
Hulle kon dit as’t ware op
bestelling verrig.
Petrus kon vir ‘n verlamde sê,
staan op, en dit het gebeur.
Paulus kon ‘n dooie persoon, wat
uit die vensterbank geval het, weer lewendig maak.
Paulus kon ‘n giftige slang wat
sy hand gebyt het, afskud, en sonder dat hy enige medisyne gebruik het, het hy
ongedeerd gebly.
Maar dit is nie meer die geval
nie.
Die bevoegdheid wat die apostels
ontvang het, het die herders en leraars na hulle – dink aan mense soos
Timotheüs en Titus – nie meer ontvang nie.
Ook ons nie meer nie.
As voorgangers, priesters of
pastore, mense wel so benader, asof hulle met die HERE se Woord in hulle mond,
dieselfde dinge kan doen as die apostels destyds, dan lei hulle mense om die
bos.
Natuurlik kan ons bid om
genesing, natuurlik kan ons die HERE herinner aan sy eie Woorde in die Skrif,
maar vir geen mens geld vandag meer dat hy dit op bestelling kan doen, soos dit
die geval met die apostels was nie.
Soos art. 7 sê, deur 1 Joh 4:1
aan te haal: ons moet die geeste op
die proef stel, of hulle uit God is.
Die eerste punt van hierdie preek
lui: Die Skrif en die Gees is een.
Maar, die Skrif is nie gelyk aan
alle geeste nie.
Deur die eeue heen het mense die
neiging gehad om hulle eie gedagtes, hulle eie geskrifte, hulle eie woorde, op
een lyn te stel met God se Woord.
Niemand mag sy eie woorde, hoe na
dit ook aan God se Woord mag klink, op een lyn stel met die Skrif nie.
Want dan word Christus se kudde om
die bos gelei, bedrieg, gedesillusioneer.
Want geen enkele woord wat uit ‘n
mense se mond uitgaan, sal ooit dieselfde krag en gesag hê as God se Woord nie.
Want alle mense, soos daar in
Psalm 62 staan, is uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self.
Hierdie gewoonte van bv.
gebedsgenesing, bose geeste uitdrywing, die verrig van wonders, deurdat ‘n mens
God se woord in die mond neem met die houding asof hy daarmee ook Goddelike
kragte ontvang, is iets wat mens veral in baptistiese en charismatiese
groeperings kry.
Dit gaan terug op ‘n tradisie wat
eintlik die geskrewe Woord van God verag.
Wat aan die einde van die dag die
geskrewe teks van die Bybel as ‘n dooie letter beskou.
Maar dit is die Gees wat lewend moet
maak.
‘n Stappie verder is dat mense
beweer dat hulle regstreekse openbarings van God ontvang.
Of dat die Gees hulle verlig het,
dat hulle nuwe dinge te wete gekom het, dat die Gees aan hulle ‘n nuwe saak, of
‘n totaal nuwe gesigspunt openbaar het.
Aan die einde van die dag word
die mens en sy eie insigte, onder die dekmantel van asof dit van die Heilige
Gees kom, na vore geskuif en begin dit die Bybel self oorheers.
Dan kan ons maar net weer
onderstreep wat in Psalm 62 staan, soos die NGB doen: alle mense is uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid
self.
Mense se menings, of openbarings
of insigte wat hulle sogenaamd van die Gees ontvang het, mag nooit die plek van
die Skrif inneem nie.
Die Gees en die Woord is een.
Die Heilige Gees kan nie aan
iemand ‘n openbaring gee, wat in stryd is, of onbekend is, aan die Skrif nie.
Dan laat iemand die Heilige Gees
buikspreek.
Stel die geeste op die proef, of
hulle uit God is.
Die Woord is die Gees se
instrument.
Hy kan harte daarmee sagmaak.
Ons kan dit nie doen nie.
Ons is slegs bedienaars van die
Woord, werktuie in die hand van die Gees.
Hy is dit wat wonders doen.
Op sy tyd, met wie Hy wil.
Dit was die 1e punt: die
Skrif en die Gees is een.
Wie die Gees se leiding wil
ervaar, moet met die Skrif as kompas in sy hand lewe.
(Tema: Die Heilige Skrif is ‘n
volkome betroubare kompas vir die mens
-
Die Skrif en die Gees is een)
-
Die Skrif en Christus is een
Die NGB gaan voort deur te stel
dat selfs die kerk se insigte, of van kerklike vergaderings soos sinodes, of
die insigte van teologiese deskundiges, moet altyd onderworpe bly aan die Skrif
self.
Daar is ‘n ou opvatting, ‘n
dwaling van die Roomse kerk, in hierdie opsig, wat deesdae weer aanhangers kry
ook onder Gereformeerdes.
Kom ek verduidelik eers die
Roomse siening, en daarna kyk ons hoe dit deesdae toegepas word.
Dit is hierdie Roomse dwaling wat
NGB art. 7 op die oog het en weerlê.
Hierdie Roomse siening gaan onder andere terug op die
konsilie van Trente.
Die konsilie van Trente was ‘n
Roomse sinode wat plaasgevind het in dieselfde tyd as wat die NGB geskryf is.
Nou hierdie ou Roomse dwaling
beweer dat die kerk nie aan die Woord gebonde is nie, maar aan Christus.
Hoekom maak hulle hierdie
onderskeid?
Wel, sê hulle, toe Christus op
aarde was, het Hy baie dinge gedoen en gesê.
Maar slegs ‘n gedeelte daarvan
het in die Bybel tereggekom.
Sê die apostel Johannes nie dat –
as alles opgeskryf sou moes word – die hele wêreld die boeke nie sou kon bevat
nie?
En daarom, sê die Roomse kerk, is
dit nie net die Bybel wat Christus se woorde tot ons bring nie, maar ook die
tradisie.
Met tradisie bedoel hulle, dit wat
deur die eeue van mond tot mond oorgelewer is, wat in die kerk oorgelewer is.
Die kerk het sogenaamd die
tradisie bewaar deur die eeue.
Die kerk is die bewaarder van die
woorde van Christus.
Die Bybel is net ‘n klein
neerslag van wat Christus gesê en gedoen het.
Die kerk het ‘n veel ryker
tradisie as net die Skrif.
Lees mens bv. in die Skrif nie
iets oor die vaevuur nie, die tradisie wat deur die kerk oorgedra is bevat dit
wel.
Lees mens in die Skrif
byvoorbeeld nie iets oor die hemelvaart, oftewel die liggaamlike ten hemel
opneming van Maria nie, die tradisie deur die kerk oorgedra bevat dit wel.
Dit wat die kerk leer en waar die
kerk voor staan, is dus veel breër as net dit wat mens in die Bybel kan vind.
Die kerk is die bewaarder, nie
net van die Skrif nie, maar ook van die tradisie.
Met so ‘n opvatting is dit dan
ook nie verbasend dat die Roomse kerk bepaalde opvattings en dogma’s kan hê wat
glad nie in die Skrif staan nie, of wat soms op gespanne voet met die Skrif
staan.
Dit is egter volgens hulle nie ‘n
probleem nie, want die Skrif is nie die enigste bron en fondament vir die
waarheid nie.
Nee, hulle is gebonde aan
Christus, wat tot hulle kom ook deur die tradisie.
U hoor waarskynlik, gemeente, dat
Christus en die Woord, die Skrif, hier teen mekaar uitgespeel word.
Die Skrif, die kanon, soos ons in
die voorgaande artikels van die NGB gesien het, bevat dus nie volkome die wil van God vir ons saligheid nie.
Die kanon is beperk, dis maar net
‘n toevallige byeenskraapsel van boeke uit die tyd van Christus.
Christus self staan vir veel meer
as net die kanon.
Christus se wil, Christus se
openbaring, bevat veel meer as net dit wat in die kanonieke boeke tot ons gekom
het.
Christus se woorde is veel ruimer
as net die kanon, in sowel letterlike as figuurlike sin.
Dit is dus die klassiek Roomse
standpunt.
Kom ons kyk nou vervolgens hoe
hierdie ou standpunt, hierdie ou dwaling, nuwe lewe kry in ons tyd, en dan
spesifiek ook onder Gereformeerdes.
Hierdie sienswyse word op ‘n baie
verleidelike wyse gebring, ‘n baie oortuigende wyse.
Daar word veral gewys op die
belang van dat alles Christosentries moet
wees.
Alles moet sy fokus in Christus
hê.
Die prediking, ons lewensstyl,
dit wat die kerk doen, dit wat die kerk goed- of afkeur, dit alles moet op
Christus gefokus wees, Christosentries.
Dit klink baie mooi, natuurlik!
Wie sou dit nou wil ontken?
Dat Christus die sentrum van ons bestaan moet wees,
persoonlik, kerklik, teologies, in die prediking, met Bybelstudie, orals.
Tog is daar hier ‘n addertjie
onder die gras.
En dit word duidelik die oomblik
wanneer die term Christosentries gebruik begin word, met die doel om die
maatstaf van die Skrif te verruim, of om die maatstaf van die Skrif aan die
kant te skuif.
Wanneer Christus en die Skrif
uitmekaar getrek word.
Wanneer Christus voorgestel word
as ruimdenkend, aanpasbaar, en die Skrif as eng en bekrompe, rigied.
Wanneer iemand die Skrif wil toepas vandag, dan kry hy die
verwyt te hore dat hy bekrompe is, dat hy Biblisisties is, of fundamentalisties.
Mens behoort eerder
Christosentries te dink, in die gees van Christus.
Hier woord Gees en Woord dus ook
uitmekaar getrek, teen mekaar uitgespeel.
Dus om saam te vat, ineens kry
hierdie pragtige term – Chrsitosentries – ‘n totaal nuwe betekenis.
Word hierdie term gebruik om ‘n
wig te dryf tussen Christus en die Skrif.
Kom ek verduidelik hierdie met ‘n
voorbeeld, hooplik maak dit die saak iets duideliker.
In ons hedendaagse samelewing is
daar ‘n sterk lobby om ‘n homoseksuele lewensstyl te aanvaar as ‘n normale
alternatief vir ‘n heteroseksuele lewensstyl in die huwelik.
Dis nie net ongelowiges en
buitekerklikes wat so dink nie.
‘n Groeiende aantal kerke gaan
saam met hierdie tydsgees.
En teologies regverdig hulle dit
met hierdie einste ou dwaling waaroor ons nou praat.
Want as mens op die Skrif sou afgaan, is daar geen enkele
twyfel – sowel in Ou as in Nuwe Testament – dat ‘n homoseksuele lewensstyl
duidelik in die Skrif afgekeur word.
Maar wat nou gedoen word, is dat
teoloë beweer dat Christus self eintlik ruimer gedink het as die Skrif.
In die “gees” van Christus moet
dit dus wel aanvaarbaar wees, ook in die kerk.
Hierdie selfde argument word
gebruik om die onderwys wat die Skrif oor die ampte gee, te neutraliseer.
Om te beweer dat wie werklik
“Christosentries” dink, geen probleem sal hê om die vrou in die amp toe te laat
nie.
‘What would Jesus do?’ – dit word
nie net meer suiwer deur die Skrif bepaal nie.
Die Skrif word onderwerp aan ‘n
hermeneutiese proses, passende kultuurhistoriese data word daarby gevoeg, en
siedaar, Christus het eintlik iets anders bedoel.
Die apostel Paulus het nie die
volle reikwydte besef, toe hy die swygtekste opgeskryf het nie.
Of, die apostel Paulus het
Christus se woorde toegepas op ‘n spesifieke tyd en situasie, maar vandag sou
Christus beslis iets anders gesê het.
Ons kan nog meer onderwerpe
hieraan toevoeg:
Wat is ‘n “Christosentriese” kyk
op bv. genadedood? Of op byvoorbeeld aborsie?
Wat is ‘n “Christosentriese” kyk
op ander wêreldgodsdienste?
Wie die norm van die Skrif
loslaat, kan Christus eintlik inspan voor elke moontlike karretjie.
En juis daarom bely ons in die
ortodokse lyn: Christus is die Woord.
Die Skrif en Christus is een!
Die heilige Skrif is volkome.
Die heilige Skrif is nie net ‘n
sameraapsel van boeke van die apostels wat toevallig bewaar gebly het nie.
Net soos by die Ou Testament,
geld dit ook vir die Nuwe Testament, dat God se voorsienige leiding daarvoor
gesorg het dat die kanon tot stand gekom het.
Dit het nie toevallig gebeur nie.
Christus het deur sy Gees
daarvoor gesorg.
Die Nuwe Testament bevat, net
soos die Ou Testament, ‘n ryk verskeidenheid aan boeke en briewe, verskillende
genres, verskillende apostels wat hulle geskryf het, maar almal met dieselfde
ryke boodskap, al belig elkeen dalk ‘n ander aspek van die ryke boodskap.
Maar dis nie so dat wesenlike
elemente van Christus se eie woorde agterweë gebly het nie, soos die Roomses
beweer oor bv. die vaevuur, oor die liggaamlike hemelvaart van Maria nie.
En dit is ook nie so dat die
Skrif ‘n enger weergawe is van die ruimer boodskap van Christus nie.
Ons bely: hierdie heilige Skrif bevat die wil van God volkome.
Alles wat die mens vir sy
saligheid moet glo, word daarin voldoende geleer.
Die hele wyse – let wel! – hoe
God deur ons gedien moet word, word daarin – let wel – breedvoerig beskrywe.
En niemand, geen sinode, dominee
of teoloog, mag anders leer as wat ons reeds deur die heilige Skrif geleer word
nie, ja al was dit ook ‘n engel uit die hemel – Galasiërs 1:8.
Dit is – sien Deut 12:32 – verbode om iets by die Woord van God by
te voeg, of daarvan weg te laat.
Verbode, dit is ‘n sterk woord,
maar baie duidelik.
Wanneer daar byvoorbeeld aan die
einde van die Nuwe Testament staan, in Openbaring 22:18-19: “Want ek betuig aan
elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by
hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie
boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie
profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit
die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”
Daar is mense wat beweer dat ons
hierdie twee verse aan die einde van Openbaring net moet toepas op die boek
Openbaring, en nie op die hele Bybel nie.
Die apostel Johannes sou nie
geweet het dat sy boek aan die einde van die Bybel ‘n plek sou kry nie.
Laat ons ‘n nugter antwoord
hierop gee.
Wat maak dit eintlik saak, wat is
die verskil, of hierdie twee verse – met die verbod daarin om enige woorde toe
te voeg of weg te neem – wat maak dit eintlik saak as dit net op Openbaring sou
slaan, en nie op die hele Bybel nie?
Wat is die verskil?
Want in die boek Openbaring kom
die hele Bybelse leer in elk geval aan die orde.
Dit sal geen enkele verskil maak
nie.
Meer nog, hierdie stelling dat
die twee verse slegs op Openbaring sou slaan, hierdie stelling verraai eintlik
‘n verkeerde kyk op die hele kanon.
Dit verraai ongeloof in die feit
dat dit Christus was, wat deur sy Gees dit so gelei het dat die kanon tot stand
gekom het.
As ons dit glo, en elkeen wie die
Nuwe Testamentiese boeke onbevange lees, sal tot daardie slotsom kom, en sal die
grootste respek kry vir die Heilige Skrif, as die volkome Woord van God.
Om saam te vat, teenoor die
dwaalleer, bely ons:
Elkeen wie sy lewe inrig volgens
die Heilige Skrif, is Christosentries besig.
Wie die tydsgees volg, en die
Skrif en kwansuis Christus se mening daarby aanpas, misbruik die woord
Christosentries.
Laat ons die Skrifgedeelte
ernstig neem waar Paulus skryf: “maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel
julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat
hom ‘n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As
iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het,
laat hom ‘n vervloeking wees! Soek ek dan nou die guns van mense, of van God?
Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n
dienskneg van Christus wees nie. Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die
evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook
nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus
Christus.” (Gal 1:8-9)
Is hierdie woorde van Paulus vir
enige misverstand vatbaar?
Natuurlik, Christus het baie meer
dinge gesê en baie meer wonders gedoen as wat in die Bybel beskrywe is.
“As hulle een vir een beskrywe
moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie” (Joh
21:25)
As ons eendag by Christus sal
wees, dan kan ons Hom uitvra, en ons sal ‘n ewigheid tyd hê om na sy wonderdade
en woorde te luister, en Hom daarvoor te prys.
Desnieteenstaande, vir hierdie
lewe geld, soos Johannes baie duidelik geskryf het in die gedeelte wat ons
gelees het:
“Nog baie ander tekens het Jesus
voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie
is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en
dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh 20:30-31)
Die heilige Skrif is volledig,
die heilige Skrif is volkome geskik vir sy doel, naamlik om alleen die reël van
die ware geloof te wees.
Geliefde gemeente, moenie toelaat
dat iemand, maak nie saak wie, jou ooit aan die Skrif laat twyfel nie.
Moenie ooit onseker raak oor die
Skrif nie.
Dit is jou Kompas, dit is ‘n betroubare Kompas.
En dis al Kompas wat jy nodig het
om by jou bestemming uit te kom.
Amen.
(kyk in preek)