God skenk ons die 6e gebod as ’n beskermende heining om die lewe

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-07-27
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 27 Julie 2014
AD, 10:15

Voorsang: Ps 100:1-4

Votum: sing
Ps 121:1

Seën

Ps 9:1

Wet

Ps 5:1,2,4

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 5:21-26

Ps 91:1,2

Skriflesing:
Galasiërs 5:16-6:10 & Efesiërs 4:30-5:2

Ps 91:5,6,8

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 40

Preek

Ps 55:8,10

Gebed

Kollekte

Ps 36:2,3

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 40

In hierdie
erediens is die 6e gebod aan die orde: Jy mag nie doodslaan nie.

Ook hierdie
gebod ontvang ons as ’n geskenk uit God se hand.

Hierdie
gebod is as’t ware ’n beskermende heining om ons lewe.

En dan gaan
dit nie net oor die paar woorde van die 6e gebod as sulks nie.

Dit is die
hele pakket.

God gee nie
net sy 10 gebooie, waarna ons dinge verder moet uitsoek en implimenteer nie.

As mens deur
die res van die Bybel lees, veral ook die Pentateug, die eerste vyf boeke, is
daar nog baie meer riglyne wat met die 6e gebod te make het.

Dink ook aan
die gedeeltes wat ons vanoggend uit die Nuwe Testament gelees het.

Verder skenk
die Here ook hulpmiddels om ons binne die grense van hierdie gebod te bewaar.

As voorbeeld
kan ons dink aan die owerheid – wat as dit goed is daaroor waak dat die 6e
gebod nageleef word op alle gebiede.

Sodat mense
in hulle land veilig kan woon, veilig rond kan beweeg, veilig kan vakansie hou,
sonder om bang te wees vir gevaar om elke hoek en draai.

Verder skenk
die Here ook ampsdraers in die kerk.

Ook hulle
sien daarop toe dat die gebooie nageleef word.

Want die
owerheid kan iemand straf wat ’n moord begaan het, maar die owerheid kan nie iemand
straf as hy byvoorbeeld ’n ander mens haat nie.

Juis
ampsdraers sien daarop toe, en stimuleer dat ons nie net nie moordenaars is
nie, maar dat ons ons naaste ook van harte liefhet.

So staan ons
vanoggend stil by hierdie geskenk, hierdie hele pakket van dinge wat met die 8e
gebod te make het.

In die preek
sal ons hierdie geskenk probeer uitpak, sodat ons goed kan sien watter voordeel
dit vir ons oplewer.

Tema: God skenk ons die 6e gebod as ’n beskermende heining om
die lewe.

Doodslaan,
dit doen jy mos nie as jy christen is nie.

Dit is nogal
vanselfsprekend.

Maar hoekom
word die 6e gebod elke Sondag nog voorgelees?

Is hierdie
gebod nie eerder bedoel vir moordenaars, en vir mense wat in die tronk sit, vir
gevaarlike mense nie?

Nie net nie,
hierdie gebod is ook vir ons bedoel.

Selfs die
kinders onder ons kan hulleself afvra:

Is jy soms
lelik met ander kinders?

Sê nou maar
’n ander kind sê op skool iets vir jou wat nie mooi is nie.

Of dalk jou
boetie of sussie by die huis.

Sou jy hom
dan nie dalk wil skop of knyp nie?

Miskien doen
jy dit wel nie, maar die gedagte was wel in jou kop.

 

En dis
hoekom die Here dit belangrik vind dat ons elke keer goed na hierdie gebod
luister.

Want Hy wil
nie hê dat ons kwaad bly vir ander mense nie.

Hy wil nie
dat ons jaloers is op ander mense nie.

Hy wil nie
dat daar haat in ons hart is nie.

Sulke dinge
is – soos die Kategismus sê – vir die Here net so erg soos doodslag.

As die erHere nie wil hê dat ons gemeen is,
of jaloers, wat wil Hy dan wel?

Die positiewe
kant van die 6e gebod is dat ons mekaar liefhet.

Dat ons nie
lelike dinge teen iemand anders doen, of sê, of dink nie.

Soos die
Here Jesus ons geleer het: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Kinders, jy
hou mos ook van jouself?

Dit is ook
deel van die 6e gebod.

Die Here wil
nie hê dat jy jou eie lewe in gevaar bring nie.

Deur
byvoorbeeld jou eie liggaam nie goed op te pas nie.

 

So vorm die
6e gebod ’n beskermende heining om die lewe.

Die lewe is
die moeite werd, dit is ’n kosbare besitting wat God skenk, en daarom mag ons
nie ons naaste of onsself van die lewe beroof nie.

In Psalm 36
sing ons dat God van al wat leef die bron is.

God bepaal
die geboortedag en sterwensuur van elke mens.

Hierdie
bevoegheid kom Hom alleen toe.

Dink maar
aan die allereerste gesin, waar die een kind van Adam en Eva sy broer vermoor
het.

Juis vanweë
die sondeval plaas God met hierdie gebod ’n beskermende heining om die lewe.

Die woord
wat in Exodus 20:13 in die grondtaal vir doodslaan gebruik word, kan mens die
beste vertaal met: wederregtelik doodmaak.

Vir die
doodstraf wat die owerheid namens God kan oplê, word ’n ander woord gebruik.

Dit is nie
wederregtelik nie.

 

In Sondag 40
word die woord – wederregtelik doodmaak – in breë sin verduidelik.

Al die
verskillende toepassings daarvan, soos die Bybel aanwys.

Ek mag my
naaste nie onteer, haat, wond of doodmaak nie.

Dit gaan dus
nie net oor die eintlike daad nie, maar ook oor die hele voortrajek.

Mense kan
soms op so ’n vernederende manier met mekaar omgaan.

Nie net deur
dinge soos slaan of skop nie, maar bloot deur woorde, insinuasies, en dan praat
ons nog nie oor gedagtes nie.

Elkeen van
ons kan by onsself begin.

 

Laat ons ons
woorde oor ander mense noukeurig kies.

Die
Kategismus praat oor die wortel van doodslag, naamlik dinge soos nyd, haat,
toorn, wraakgierigheid.

Hierdie breë
uitleg wat die Kategismus van die 6e gebod gee, is heeltemal in
ooreenstemming met die Bybel.

In die
Bergrede van ons Here Jesus sien ons dit baie mooi.

Respek vir
die lewe het met alles te make.

Die Here
plaas hierdie beskermende heining om die lewe.

Ons as mense
het grense nodig.

En die
duiwel sal ons steeds sover probeer kry dat ons daardie grense probeer oprek,
of verlê.

Dink aan die
diskussie op mediese gebied, oor sake soos aborsie, en euthenasie, of
sogenaamde genadedood, wat dit dus nie is nie.

 

Ons mag nie
moeg word om hieroor te praat, te protesteer, en op te voed nie.

Want hierdie
dinge dring saggies maar seker binne, selfs onder mense wat hulle christen
noem, ook hier in Suid-Afrika.

Juis in
sulke sake kom die geestelike bankrotskap van die moderne samelewing na vore.

Derduisende
menselewens word elke jaar wederregtelik beeïndig.

Aborsie is
’n grote gevaar vir ons land as die misdaad.

Ons kan en
mag as christene nie daaraan verby gaan nie.

In 2011 was
daar byvoorbeeld meer as sewentig duisend wettige aborsies in die land.

Die
sogenaamde onwettiges is nog nie eens saamgetel nie.

Natuurlik is
almal onwettig, vanuit Bybelse oogpunt, maar ons land se wetgewing maak op ’n
manier onderskeid tussen wettig – wat bv. in ’n hospitaal of goedgekeurde
kliniek uitgevoer word – en die wat sogenaamd in agterplase gebeur.

Hoe dit ook
sy, Suid-Afrika het ’n buitengewoon liberale aborsiewetgewing.

Ek herhaal,
elke jaar word in elk geval meer sewentig duisend babas so om die lewe gebring.

Aan
geweldsmisdaad sterf daar in Suid-Afrika elke jaar so twintig duisend mense.

Ongeveer 50
moorde per dag; maar dus 191 aborsies per dag, ten minste.

Ons staan
midde in hierdie samelewing.

Dit is die
skadukant van die samelewing.

Aborsies
gebeur in stilte, dit word nie rondvertel nie.

Maar dit
gebeur, onder swartmense en witmense.

Ook op die
sendingsveld, ook in die sendingsgemeentes.

Die druk om
wêreldgelykvormig te raak is groot.

En as ons
nie hieroor praat nie, gaan ons wêreldgelykvormig raak.

Ons sal
onsself moet bewapen, geestelik, anders gaan hierdie vloedgolf ook oor ons heen
kom.

En dieselfde
geld vir euthenasie.

Mens kan nie
neutraal bly in hierdie sake nie.

Kom ons hou
aan stry vir die goeie.

Die behoud
van die Bybelse visie op die lewe.

Op die kry
van kinders.

Op die
wonder van die lewe.

Oefen
jouself hierin, om in alle omstandighede respek te hê vir die lewe.

Die
allereerste begin van die lewe.

Maar ook die
einde van die lewe.

Laat ons bly
besef dat hierdie aardse lewe nie die eindpunt is nie.

Dat lyde in
hierdie lewe ’n loutering is vir die ewige lewe.

Laat ons as
kerk ’n hegte gemeenskap bly vorm, wat die las van ongetroude moeders saamdra,
en die las van bejaardes wat ongeneeslik siek is.

Kom ons bly
stry vir die goeie.

Kom ons swem
teen die stroom van die tydsgees in.

Lewende
visse swem stroomop, dooie visse dryf saam met die stroom.

Ons moet
wakker bly, geestelik wakker.

Dit doen ons
deur te bly konsentreer op die goeie.

Die lewe as
kosbare geskenk van God.

Ons mag
geniet van die goeie binne die beskermende heining wat God geplaas het.

Die
omheining van die 6e gebod.

Ons stry vir
die goeie, want dit is die moeite werd om te verdedig.

 

Ook jou eie
lewe.

God wil met
hierdie gebod nie net die lewens van ander, maar ook jou eie lewe beskerm.

Dit moet ons
ruimer opvat as net ’n verbod op selfmoord of euthenasie.

Jy mag
jouself nie te kort doen nie.

Jy mag jou
liggaam of gees nie verwaarloos nie.

Die
Kategismus wys ook na onnodig gevaarlike gedrag.

Die manier
hoe ons aan die verkeer deelneem, sportsoorte waaraan ons deelneem,
stokperdjies, die sug na sensasie, of om die ‘kick’ te ervaar van gevaarlike
dinge.

Jy mag nie
met die grense van die lewe speel nie.

Mense – dalk
veral mans – is geneig om dit te doen vanweë die spanning.

Is dit nie
die gevolg van die geestelike leegte in mense se lewens nie?

Dat daar
niks meer in die lewe is wat werklik voldoening gee nie?

Dat mens net
op so ’n manier die sleur van die lewe kan deurbreek?

Dan is dit
’n voorreg en groot rykdom as jy as christen wel ’n duidelike doel in die lewe
het.

Dat jy mag
besef dat jy mede arbeider is aan God se koninkryk.

 

Aan die
einde van antwoord 105 word in een sin nog iets oor die owerheid gesê.

Op grond van
onder andere Romeine 13 sê die Kategismus dat die owerheid geregtig is om die
doodstraf op te lê.

Juis om
daardeur soveel as moontlik doodslag te voorkom.

Ons dink
hier aan die taak van die owerheid om die samelewing te beskerm teen mense wat
blywend ’n gevaar vorm vir ander.

En ook ter
afskrikking.

Die lewe mag
nie goedkoop word nie.

Mens kan ook
dink aan die taak van die owerheid om burgers te beskerm teen magte van die
kwaad.

Die owerheid
het die reg om soms ’n oorlog te verklaar.

In oorloë
sterf mense.

Tog het die
owerheid soms hierdie taak.

Om in ’n
bose wêreld deur een kwaad ’n veel groter kwaad te voorkom.

Toe Europa
in die Tweede Wêreldoorlog beset is deur die Nazi’s, het die geallieerde magte
die besluit geneem om Europa binne te val.

Hulle het
besef dat daardie offensief met sterftes gepaard sou gaan.

Tog het
hulle dit gedoen, om die groter kwaad aan bande te lê.

Hierdie is
nie net iets uit die verlede nie, ook in ons tyd is dit nog aktueel.

Dink aan die
stryd tans tussen Israel en die Palestyne.

En na die
ystergordyn geval het en die koue oorlog verby was, het baie lande in
Wes-Europa gedink daar gaan nooit weer oorlog kom nie.

Lande het ernstig
begin besuining op hulle weermagte.

Daar het ’n
atmosfeer geheers dat nou dat die koue oorlog verby was, die toekoms net vrede sou
bring.

Nou begin
hulle egter besef dat dit wensdenkery was.

Tot op die
jongste dag sal die magte van die kwaad met ons wees.

 

As ons na
God se Woord kyk, sien ons dat die voer van ’n oorlog nie sonder meer daarin veroordeel
word nie.

Die Bybel is
nie pasifisties nie.

Daar is
natuurlik oorloë EN oorloë.

Ons mag
stryd, oorlog, wapens ook nie romantiseer nie, dit is ewe sondig.

Maar God se
Woord staan wel midde in die ellendige werklikheid van die mensdom.

Vroeër was
dit nodig, en vandag is dit net so nodig, dat die owerhede hulle Godgegewe taak
ernstig neem.

 

Die laaste
vraag van Sondag 40 werk die positiewe kant van hierdie gebod verder uit.

Die onkruid
van haat en doodslag kan die beste uitgeroei word deur die goeie saad van die
liefde.

Wie die
akker van sy hart leeg laat, gee vir onkruid ’n kans.

Maar wie
goeie saad saai, verdring daardeur outomaties dat die onkruid opskiet.

Ons oorwin
die kwaad deur die goeie.

Soos
Christus die wet saamvat: dat jy God liefhet en jou naaste soos jouself.

Ons word
opgeroep om die gesindheid van Christus na te volg.

Sy
gesindheid word saamgevat in woorde soos:

Geduld.

Vergewingsgesindheid.

Sagmoedigheid.

Barmhartigheid.

Vriendelikheid.

Volharding.

Trou.

Selfbeheersing.

Hartlikheid.

Nederdigheid.

Al hierdie
is tipies Bybelse woorde.

Dit is
woorde wat mens nie so dikwels hoor as jy die radio aansit, of televisie kyk
nie.

Heelwat van
hierdie woorde is nie meer gangbaar in ons moderne taalgebruik nie.

Dis nie
omdat hierdie woorde te moeilik is nie.

Dis nie
omdat hierdie woorde oudtyds is nie.

Dit gaan
eerder oor die saak self.

Word die
saak nog wel belangrik geag?

Om bv.
sagmoedig te wees.

Of, om
barmhartig te wees.

As die saak
vir jou belangrik is, dan sal mens die woord ook verstaan.

 

In ons
moderne samelewing word baie moeilike woorde daagliks gebruik.

Op skool of
op universiteit leer jy in elke vak moeilike tegniese terme, woorde wat jy
nodig het om insig te kan kry in bepaalde sake.

Op die
werksvloer is dit nie anders nie.

En die
winkels staan vol produkte met dikwels ingewikkelde name.

En as die
naam van ’n produk dalk eenvoudig is, wat dan van al die bestanddele?

Dikwels
ingewikkelde woorde wat op die verpakking afgedruk word.

So word daar
in die kerk soms ook moeilike woorde gebruik.

Maar as die
saak vir jou belangrik is, sal jy leer om dit te verstaan.

 

Hierdie
woorde wat ek hierbo genoem het, beskryf almal uit verskillende oogpunte die
gesindheid wat ons Here Jesus Christus gehad het:

Geduldig,
vergewingsgesind, sagmoedig, barmhartig, trou, hartlik, nederig, ensovoorts.

Neem
barmhartig byvoorbeeld - dat jy ander mense ’n warm hart toedra.

Dat jy
begaan is oor hulle lot.

Ook as hulle
jou niks te biede het nie.

 

Dit is goed
en belangrik om hierdie woorde een vir een te bestudeer, sodat ons die rykdom
daarvan leer besef,

en sodat ons
met ons eie gesindheid ons Heiland hierin kan navolg.

Ons verdiep
ons daarin hoe Christus toe Hy op aarde was, ons voorgeleef het.

Soos dit
beskryf is in die Bybel.

En in ons
alledaagse lewe volg ons Hom hierin na.

Ons oefen
onsself ook om barmhartig te wees, sagmoedig, hartlik, nederig.

 

Dit is,
gemeente, die positiewe kant van die 6e gebod.

As ons
aandag bestee hieraan, en ons bewus oefen in hierdie deugde, dan word die lewe
mooi, en ook die samelewing, waar
mense saam leef.

Dan kry die
kwaad al hoe minder vat op ons – die kwaad van doodslag, haat, jaloesie, en al
die dinge waarteen die 6e gebod ook waarsku.

Wie
vriendelikheid, barmhartigheid, geduld, sagmoedigheid op sy akker saai, sal
sien dat daar nie plek is vir die haat, en jaloesie en afguns om op te kom nie.

So is
hierdie gebod – sowel sy verbied as sy gebied-kant – ’n beskermende heining
rondom ons lewe.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)