PRETORIA-MARANATA, 14 September 2014 AD, 10:15
Voorsang: Ps
113:1,2,3
Votum: sing
Ps 121:1
Seën
Ps 31:5,6
Wet
Ps 51:1
Gebed
Skriflesing:
Deuteronomium 32:1-18
Ps 143:2
Skriflesing:
Filippense 3:1-14
Ps 143:9
Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 44,114-115
Preek
Sb 42:1,4,5
Gebed
Kollekte
S: Ps 31:15,17
Seën
Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 44,114-115
Elke Sondag
hoor ons die tien gebooie.
En of dit
nie genoeg is nie, die afgelope maande het ons ook intensief na elke gebod
gekyk.
Die kerkraad
vind dit belangrik dat daar ook prediking uit die Heidelbergse Kategismus is.
Die rede
hieragter is om te sorg dat u as gemeente ’n gebalanseerde dieet kry.
As ’n
dominee self elke Sondag kon kies net waaroor hy wou preek, is daar die gevaar
dat die prediking eensydig raak.
Die een
dominee sou graag meer oor God se liefde wil preek.
Die ander
een dalk meer oor God se strawwe.
Die een
dominee is dalk besig met ’n studie oor ’n teologiese onderwerp, en preek net
daaroor.
Maar met die
prediking uit die Heidelbergse Kategismus word gesorg dat die hele leer van die
Skrif aan die orde kom.
Natuurlik
kan ons die ander belydenisse hieraan toevoeg, soos byvoorbeeld die Nederlandse
Geloofsbelydenis, of die Dordtse Leerreëls.
Daaruit word
ook van tyd tot tyd gepreek.
En so word
daarvoor gesorg dat die hele leer van die Skrif vanaf die kansel klink.
Die afgelope
maande was die tien gebooie aan die orde.
Watter
dominee sou vrywillig oor die tien gebooie wil preek?
En miskien
kan ek ook vra: wie van ons luister vrywillig na die tien gebooie?
Soos die
tweede Sondag van die Kategismus sê: ons ken ons ellende uit die wet van God.
Vir die
meeste van ons is dit nie lekker om na aanklagte en kritiek te luister nie.
En so het u
dalk die afgelope maande ook die gevoel gehad dat u moedeloos word.
Elke Sondag
weer gebod op gebod.
Hoekom so
konfronterend?
Hoekom elke
keer die vinger by die seer plek?
En dis nie
net u nie, ook ek het daardie gevoel.
En vir ’n
dominee kan dit soms verleidelik wees om nie so streng te preek nie.
Want alles
wat hy sê, kan ook teen hom gehou word.
En soos
julle weet, ons as dominees het ook maar ons sondes en gebreke.
Tog is dit
die bedoeling, dat ons moedeloos word.
Dat ons tot
die erkenning gedwing word: ja daar is nog baie sondes en swakhede.
Die spieel
van die wet vlei ons nie.
En soos die
Kategismus sê in navolging van die Skrif: dit dryf ons na Christus toe.
Dat ons des
te begeriger mag wees om die vergewing van die sondes en die geregtigheid in
Christus te soek.
Ek verkondig
vandag die Evangelie onder hierdie tema:
Tema: Die tien gebooie sorg dat ons nederig bly en in toewyding aan
Christus groei
1 nederig
2 toewyding aan Christus
1 nederig
Die
Heidelbergse Kategismus sluit die behandeling van die tien gebooie af met ‘n
paar besinnende opmerkings.
Die gebooie
het uitgebreid aan die orde gekom.
Elke keer
het ons die druk ervaar dat elke gebod hande en voete moet kry in die lewe van
‘n christen.
‘n Lewe in
ooreenstemming met elke aspek van die tien gebooie.
En miskien
kan u onthou, aan die begin van die behandeling van die wet het ek aan u
verduidelik dat die tien gebooie nie op hulleself staan nie.
Hulle is
slegs ‘n kort samevatting in ‘n neutedop van heel God se wil, in die eerste
plek sy wil in die Pentateug, maar ook God se wil in die res van die Skrif.
Agter elke
gebod is daar ‘n menigte ander gebooie, instruksies, toepassings ensovoorts.
Maar nou
word die vraag gevra:
Ja maar kan
hulle wat tot God bekeer is, al hierdie gebooie ten volle onderhou?
Opmerklik is
dat hier spesifiek verwys word na bekeerde
mense.
Bekering,
dit beteken: mense wat se lewe aan die Here Jesus toegewy is.
Dit gaan
hier dus nie oor ongelowige mense nie, maar mense wat vanuit hulle hart die
HERE liefhet, en die Here Jesus met hulle lewe wil dien.
Oor hulle
manier van lewe word nou gevra: is hulle, hulle wat dus vervul is deur die Gees
van Christus, is hulle in staat om hierdie gebooie na te kom?
Antwoord 114
en 115 is dan heel beskeie.
Ook as ons
vurig verlang om God te dien volgens sy Woord, struikel ons nog.
Soms kan ons
selfs in ‘n krisis beland, as gevolg van dit wat ons soms aanvang, en dan
wonder of ons wel werklik egte Christene is.
Soms kan dit
voel of die duiwel, of ‘n slegte gewoonte, of slegte vriende ons net saamtrek,
en dan val ons weer so diep, veel dieper as wat ons wou, en dalk het ons
onsself so ernstig voorgeneem om dit nie weer te doen nie.
Maar tog...
In die
praktyk van die daaglikse lewe is daar nog soveel wat mankeer.
Selfs die
allerheiligste mens het nog maar ‘n klein begin van die gehoorsaamheid wat God
verwag.
Met heilige
mense was hulle in die tyd toe die Kategismus geskryf is, redelik vertroud.
Daar was ‘n
veelheid aan verhale oor die buitengewone selfopoffering en toegewydheid van
die heiliges.
Die Roomse
kerk het die verering van heiliges aangemoedig.
Soos die
heilige Franciscus van Assissi, wat sy luukse lewe prysgegee het en sy lewe
gewy het aan die armes, die bedelaars en melaatses.
En in ons
tyd kan ons dink aan moeder Teresa, wat onder die armstes in die stad Calcutta
in Indië diensbaar was.
Op sulke
soort mense kan mens seker maar weinig kritiek lewer.
Inteendeel,
as daar maar bietjie meer van sulke mense op aarde geleef het, dan sou die
planeet dalk anders, beter, gelyk het.
Tog, sê
Sondag 44, ook sulke mense het net nog maar ‘n klein begin bereik van dit wat
God vereis.
Kortom, ‘n
baie neerdrukkende antwoord, hierdie antw. 114 van die Kategismus.
Kortom,
slegte nuus vir Franciscus en moeder Teresa, en nog meer vir ons.
Soms kan
Christene, veral pas bekeerde Christene, in die entoesiasme van hulle eerste
liefde vir Jesus dink dat hulle in staat is om voortaan volmaak te lewe.
Maar, die
Bybel plaas ons dan weer met albei voete op die aarde – jy sal as gelowige tot
jou sterfdag teen jouself moet veg, en teleurgesteld wees in jouself, en met
jouself gekonfronteer word, geïrriteer word deur jouself, beskaam word deur
jouself.
Keer op
keer.
Sondes en
tekorte klou langer vas as wat jy miskien gehoop het.
Nou sê
Sondag 44 dit nie om die vuur van die Gees te blus nie.
Pas op, want
hier lê die allergevaarlikste misverstand vir Gereformeerde mense.
Ons noem dit
verbondsoutomatisme.
Jy moet die
Here liefhê en jy doen dit ook.
Jy moet op
Sondag kerk toe gaan, en jy doen dit ook.
Jy moet
vergewing vra vir jou sondes, en jy doen dit ook.
Maar jy weet
ook dat jy die res van jou lewe sondig sal bly.
En dus veg
jy nie meer regtig teen die sonde nie.
En so kan
dit gebeur dat onder Gereformeerde mense iemand vir jare lank met dieselfde
sonde aangaan,
of dit nou
diefstal of belastingontduiking of drankmisbruik, of seksuele misbruik of
pornografie, of wat ook al is.
Dieselfde
Gereformeerde mense wat elke dag gewoond is om te bid:
Vergewe ons
ons skulde.
En wat in
die kerk sing: “Gebroke hart en gans verslae gees...”
Maar waar is
die gebroke hart eintlik?
Sodra die
diens verby is, praat ons weer oor ander dinge.
Die
Christelike lewe het ‘n ritueel geword, en die hart se toestand bly maar
dieselfde.
En so word
die Heilige Gees se werk geblus.
‘n
Lewensstyl van verbondsoutomatisme sal hoogstens twee of drie geslagte hou.
Dan begin
die onttrekkings.
Hoeveel
Gereformeerde kerke het nie al hierdie paadjie geloop nie?
Waar is die
vuur van die Heilige Gees?
Die
Kategismus slaan nie deur in ‘n vorm van Geesdrywery nie.
Naamlik dat
bekeerde mense nie meer las van die sonde sou hê nie.
Maar die
Kategismus gee net so min toestemming vir laksheid, of verstarring.
Waar bly die
vuur van die Gees?
Die vuur
waardeur mens die ernstige voorneme in hulle lewe kry om – soos antw. 114 sê –
nie net na sommige nie, maar na al die gebooie van God te lewe.
Waar is die
ernstige voorneme, waardeur die vanselfsprekendheid verdamp?
Waar is die
vuur van die Gees in jou lewe?
Ek het ‘n
keer ‘n verhaal gelees van ‘n man wat aan drank verslaaf was.
Elke Vrydagaand
het hy homself volgetap, en die volgende dag moes sy vrou en kinders net koes
vir die klappe.
Maar nadat
die man ‘n keer kontak gekry het met die dominee op die dorp – dit was êrens in
Amerika – en die dominee as een van die weiniges op die dorp hom nie as ‘n
minderwaardige dronklap benader het nie, maar as ‘n medemens, ‘n medesondaar,
het hy tot bekering gekom, en beloof dat hy nooit meer sou drink nie.
U vermoed
waarskynlik al wat nou gaan volg.
Natuurlik
kon die man sy belofte nie hou nie.
Sy vrou het
dit ook al voorspel.
Daardie
gepamperlang van haar man met die dominee, daaroor was sy vanaf die begin al
skepties.
Haar man is
‘n dronklap, en so sal hy altyd bly.
Sy het hom
verag.
En
inderdaad, na ‘n paar weke was dit weer die ou liedjie.
‘n Broer ‘n
op ‘n Vrydagaand kom kuier, en voor die man homself kon keer, was hy weer
volgetap.
Hoewel, en
hier kom die verandering.
Waar hy
altyd die dag daarna met ‘n knallende koppyn links en regs klappe uitgedeel
het,
het sy vrou
hom hierdie keer in die sitkamer gekry, stil, teleurgesteld en met sy kop in sy
hande.
Vanaf toe
het sy begin besef dat daar tog iets in haar man verander het.
Hy was nie
meer dieselfde nie.
Dit het nog
‘n lang tyd gevat voordat hy gerehabiliteer was, maar daardie klein begin was
tog ‘n ongekende verandering.
Hoekom ek
dit vertel, gemeente, is omdat Gereformeerde mense – en dit is ons – opnuut
moet besef dat bekering ‘n mens wel verander.
Dit is maar
‘n klein begin van waar God ons uiteindelik wil hê.
Maar die
klein begin is tog ‘n ongekende verandering.
Daardie
klein begin sal nie onopgemerk bly in jou omgewing nie.
Al sou daar
voor die oog nie veel verander nie, die ernstige voorneme om van die sonde af
te kom sal nie onopgemerk bly nie.
Net die
ernstige welgemene voorneme maak al van jou al ‘n ander mens.
Dan begin
die vuur van die Gees weer in jou lewe te brand.
En siedaar
ook die rede hoekom God die tien gebooie nog steeds so indringend laat preek.
Al word daar
in hierdie lewe maar ‘n klein begin gemaak.
Antw. 115 sê
in die eerste plek: dit hou mens nederig.
Sodat dit elke
dag ons begeerte bly om naby Christus te wees, want anders sal ons nie die dag
ongeskonde deurkom nie.
Dit waarvoor
Moses destyds gewaarsku het, dit is ‘n reële gevaar, ook vir Gereformeerdes.
“Toe het
Jesurun vet geword en agterop geskop... hy het God verwerp wat hom gemaak
het...” (Deut 32:15)
Hoeveel
Gereformeerdes, hier in Suid-Afrika, maar ook in Europa en Amerika, hoeveel
Gereformeerdes het nie gedurende die afgelope eeu, nadat hulle ‘n goeie
opvoeding ontvang het binne gesin, kerk en skool,
hoeveel van
hulle het nie toe hulle geword het, ook laks geword nie?
Laks in
hulle diens aan God, en hulle betrokkenheid by die kerk.
Geliefde
gemeente, as ons nie nederig bly nie, dan is dit ook ons voorland.
Hoekom laat
God die tien gebooie nog steeds so skerp vir ons verkondig?
Sodat ons
nederig bly.
Sodat ons
begeerte na ‘n lewe met Christus en sy kerk nie verflou nie.
2 toewyding aan Christus
En dan ten
tweede, sê antw. 115:
Dat ons
sonder ophou ons sal beywer en God sal bid om die genade van die Heilige Gees,
om steeds meer na die ewebeeld van God vernuwe te word.
Die lewe van
‘n Gereformeerde persoon is nie staties nie.
Jy kan nie
dieselfde geloofsvlak handhaaf van 8 tot en met 80 nie.
Ons lê
onsself nie by die feite van die lewe neer nie.
Wie Christus
liefhet, kan nie die sonde maar deur die vingers sien nie.
Ons mag
groei in sondekennis.
Groei in
ootmoed en afhanklikheid.
Soos ‘n
dokter vir ‘n pasiënt soms moet meedeel:
Hierdie
medisyne sal jy vir die res van jou lewe moet gebruik.
Dit geld
baie beslis van die genade van God in Christus.
Hoe beter
ons onsself leer ken, hoe meer ons ons verwonder oor God se genade.
Ten spyte
van die feit dat ons in hierdie lewe nie die volmaaktheid bereik nie,
skryf Hy ons
nie af nie,
maar skenk Hy
ons sy Woord en Gees,
sodat ons
treetjie vir treetjie vorder in die goeie rigting, op die pad van toewyding en
heiligmaking.
Klein
treetjies wat tog nie onopgemerk bly nie.
Waar die
Gees is, daar gebeur dinge.
Waar daar
niks gebeur nie, is die Gees nie aanwesig nie.
Ons as
Gereformeerdes bevind ons in ‘n beslissende periode.
Dit is ‘n
tyd waarin baie gereformeerdes die kerk verlaat, en dieselfde houding teenoor
die tien gebooie begin aanneem as die res van die wêreld,
naamlik om
hulle selektief na te kom net sover dit pas.
Elkeen van
ons sal persoonlik ‘n antwoord moet gee op die vraag:
Hoe gaan jy
verder?
Met
Christus, en al sy genade, en al sy gebooie?
Of
daarsonder?
Paulus, ‘n
man wat van jongs af in die kerk was, is op ‘n stadium ook baie indringend voor
hierdie keuse gestel.
As hy
agterom gekyk het, het hy al sy regte en voorregte gesien – as vooraanstaande
lid van die verbondsvolk.
Maar as hy
vorentoe kyk, het hy Christus gesien, wat in ‘n verblindende lig vir Hom gesê
het: volg My!
En dan lees
ons in Filippense 3:7:
“Maar wat
vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.”
Ons as
Gereformeerdes staan ook, net soos Paulus, in ‘n ryk tradisie.
‘n
Gereformeerde tradisie wat soveel vir die wêreld kan beteken.
Maar as ons
die hart van ons tradisie verwaarloos, dan kan ons baie vinnig
wêreldgelykvormig word.
Is ons van
hierdie wêreld?
Of beken ons
kleur, dat hoewel ons in hierdie wêreld is, ons burgers is van ‘n koninkryk wat
nog moet kom?
Wat Christus
besig is om voor te berei op aarde.
Alles wat
vir my wins was, het ek om Christus’ wil skade geag.
Om sy ontwil
het ek dit prysgegee, sodat ek Christus kon wen.
Gemeente,
die prediking uit die tien gebooie is nou voorlopig weer verby.
Tog sal jy
elke Sondag nog die tien gebooie hoor.
As jy
Sondagoggend in die kerk sit, probeer om nie met jou gedagtes af te dwaal nie, wanneer
die dominee die bekende sinne voorlees, maar doen ‘n poging om jou lewe te
toets.
Dalk kry jy
dit nie elke keer met elke gebod reg nie, maar in elk geval met ‘n paar.
En meestal weet
ons maar al te goed waar ons die afgelope week gesondig het.
Laat die
tien gebooie, so skerp en kompromisloos as wat hulle is, jou na Christus
toedryf.
Elke Sondag
weer word ons nederig gehou.
Ons word
aangespoor om vergewing te vra.
Elke Sondag
weer word ons gehelp om te groei in toewyding.
Word ons
geïnspireer om deur die krag van Christus se Gees strukturele veranderinge aan
te bring, beginnende by ons eie lewe.
Vernuwe na
Christus se ewebeeld.
‘n Begin van
die volmaaktheid, heerlik om dit nou al te mag ervaar.
Die
volmaaktheid wat ons na hierdie lewe volledig sal bereik.
Amen.
(kyk in preek)