Gedra u as wyses

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-05-03
Text: 
Kolossense 3 : 18-4 : 6
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
3 Mei 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 11:1-6

Votum

Seën

Ps 135:2

Wet

Ps 112:1,2

Gebed

Skriflesing: Kolossense 3:1-17

Ps 34:6

Teks: Kolossense 3:18-4:6

Preek

Ps 111:3,5

Gebed

Kollekte

Ps 118:8

Seën

 

 

 

 

 

 

Preek:
Kolossense 3:18-4:6

Hierdie is nou al die vierde
preek uit ‘n serie wat ek oor Kolossense hou.

Die eerste preek was ‘n paar weke
gelede, toe klein Liam van den Bout gedoop is.

Die tema was toe: Die doop is sowel ‘n lewensbeëindiging as ‘n
nuwe lewensbegin.

Dit was oor Kolossense 2:11-12.

Daarna was daar ‘n preek uit
Kolossense 1 met as tema: Jesus Christus,
die heerlike versekering
.

Verlede week het ons geluister na
‘n preek uit Kolossene 2 met as tema: Die
werklikheid behoort aan Christus.

Vandag kyk ons verder na hierdie brief.

Hierdie brief van vertroosting,
bemoediging en instruksies wat die apostel Paulus vir die mense in Kolosse en
omgewing gegee het.

Hierdie brief wat die Heilige Gees
ook vir ons bestem het, om ons wins daarmee te doen.

Vandag is die tema:

 

Tema: Gedra
u as wyses

1                  
Teenoor die geloofsgenote

2                  
Teenoor hulle wat buite staan

 

1                  
Teenoor die geloofsgenote

Laat ons begin deur onsself af te
vra: wat is wysheid?

Die mense wat in Kolosse gewoon
het, was vir die grootste deel Grieke, of vergriekste Jode.

Die Grieke het bekend gestaan vir
al hulle boeke wat volgeskryf was met wysheid.

Die Griekse wysbegeerte,
filosofie.

Maar wanneer Paulus hierdie woord
opskryf, sien hoofstuk 4:4 “Wandel in wysheid”, dan is sy inspirasiebron nie in
die eerste plek die Griekse filosowe, mense soos Plato en Aristoteles nie.

Dit merk ons wel uit die res van
sy brief.

Byvoorbeeld as hy in hoofstuk 3:1
skryf: “soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God
sit.”

Of wat hy in hoofstuk 3:17 skryf:
“wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here
Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Dis duidelik dat Paulus se
inspirasiebron nie die Griekse filosowe is nie, maar Jesus Christus.

Christus en die Skrifte van die
Ou Testament, wat deur Hom vervul is.

Dit heilige Skrifte, nie van die
Grieke nie, maar van die Jode.

Omdat dit God in sy raadsplan behaag
het om hom tot die mensdom te rig, en daardie klein en onaansienlike Joodse
volk daarvoor te gebruik.

Nie in die Griekse boeke nie,
maar in daardie unieke boeke van die Jode, was die ware wysheid.

Dink aan wat daar in Psalm 111
staan: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; almal wat dit
beoefen, het ‘n goeie verstand.”

En soos ons in die Spreukeboek
lees: “Die vrees van die die HERE is die beginsel van die kennis”   (Spreuke 1:7)

As Paulus dus sê in ons teks:
“Wandel in wysheid”, dan sê hy nie vir die Kolossense dat hulle aan die voete
van Sokrates of Plato moet gaan sit nie, inteendeel.

Hulle moet gewoon deurgaan met
hulle daaglikse lewe, hulle gewone beroep, maar wel ‘n lewe wat gevoed word
vanuit die Skrifte.

Die heilige Skrifte gee rigting
vir die lewe en is vol wysheid vir die lewe.

Die Bybelse wysheid het ‘n ryke
inhoud, en beteken soveel vir ons daaglikse omgang met ander mense.

En in die eerste plek kyk ons dus
nou wat die Bybelse wysheid beteken vir die omgang met ons  geloofsgenote.

 

Wie is hulle eintlik?

Paulus begin met daardie mense
wat jy gewoonlik elke dag sien.

Die mense digby huis.

Hy het ‘n boodskap vir die vroue,
die manne, die kinders, die pa’s, die slawe, oftewel werknemers, en die here,
oftewel werkgewers.

Dit is die eerste plek waar ‘n
toegewyde Christelike lewe hande en voete kry.

In die huisgesin, in die
daaglikse omgang met mekaar, by die huis, of op die werk.

 

In die oproepe wat Paulus gee,
neem hy – nogmaals – sy inspirasiebron – die Skrifte van die Ou Testament, en
hoe hulle in Jesus Christus vervul is, as uitgangspunt.

As hy hier oor aktuele situasies
skryf, praat hy die mense nie na die mond nie.

Hy pas ook nie aan by die
heersende mening, of die heersende rolpatrone tussen man en vrou, ouers en
kinders, werkgewers en werknemers nie.

Hy bring Christus se Woord.

Want die Evangelie het ‘n baie
duidelike boodskap vir die samelewing.

Dit is maatskappykrities.

 

Neem byvoorbeeld wat hy skryf vir
die vroue:

Vers 18: “Vroue, wees julle mans
onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.”

Die idee van onderdanigheid, baie
vroue hoor dit nie graag nie.

Moenie dink dat die verskynsel
van feminisme net iets van ons tyd is nie.

Maar Paulus kom op vir ‘n goeie
gesonde Bybelse onderdanigheid.

Soos dit betaamlik is in die
Here.

Nie ‘n slaafse onderdanigheid,
nie ‘n andersoortige onderdanigheid, ons kan vandag dink aan die onderdanigheid
wat moslimvroue soms in die Midde-Ooste aan hulle mans moet bewys, wat die hele
dag in ‘n burka moet rondloop.

Nee, Paulus skryf, ‘n
onderdanigheid soos dit betaamlik is in
die Here.

Die soort onderdanigheid word
vanuit die Skrif gedefinieer.

Ons kan dink aan die rolpatrone
soos dit beskryf is aan die begin van die Bybel in Genesis.

Ons kan dink aan die voorbeelde
van die “heilige vroue, wat op God vertrou het en aan hulle mans onderdanig
was”, om die huweliksformulier aan te haal.

Ons kan dink aan die vrou van
Spreuke 31, wat in alle opsigte haar man se trots was.

Dus weer eens, ‘n onderdanigheid
soos dit betaamlik is in die Here.

In ‘n ander brief, die
Efesiërsbrief, skryf Paulus aan die vroue ongeveer dieselfde.

In Efesiërs vergelyk hy die
verhouding man-vrou met die verhouding tussen Christus en sy gemeente.

Soos die gemeente gehoorsaam is
aan Christus, so die vrou aan haar man.

Soos dit betaamlik is in die
Here.

Geen slaafse onderworpenheid,
maar onderdanigheid soos die Skrif dit van ‘n vrou verlang.

 

Vir die manne het Paulus ook ‘n
boodskap.

Julle moet jul vroue liefhê.

Moenie teen hulle verbitterd word
nie.

Mans wat hulle gesag, hulle
outoriteit, misbruik, is iets van alle tye.

Mans wat hulle huishouding laat
uitloop op ‘n tirannie.

Die werkwoord wat Paulus hier
gebruik: liefhê, is in Grieks nie die woor waarmee erotiek aangedui word nie.

Maar juis om dit aan te dui wat
ons meestal omskryf as: liefde as ‘n werkwoord.

Nie die liefde wat deur passie en
drif tot stand kom nie.

Maar die liefde wat sorg vir ‘n
ander, die liefde wat ‘n ander spaar.

Nie die liefde wat in die eerste
plek begeer nie, maar die liefde wat gee.

Hierdie oproep van Paulus, dat
die mans moet uitblink in hierdie soort liefde, dit was nogal iets om te sê in
sy tyd.

En net soveel is dit ‘n groot
ding in ons tyd om van mans te verwag.

Hoekom sou jy ‘n vrou liefhê?

Nie in die eerste plek omdat sy
sensueel lyk nie.

Omdat sy so aantrek nie, omdat sy
jou so te sien iets te biede het nie.

Maar in die eerste plek het God
haar aan jou gegee om vir haar te sorg.

Pasop dat die liefde vir jou
eggenoot nie ‘n verkeerde fondament het nie.

Pasop, jong mans, dat julle nie
kyk van die verkeerde soort meisies nie.

Dat julle geen belangstelling
toon in die meisies van die kerk, omdat hulle nie sensueel aantrek nie, en
hulle nie sodanig gedra nie.

As dit die geval raak, dat die
jong mans met sulke meisies begin aankom, van buite die kerk af, meisies wat
hulle sensuele behoeftes vervul, as dit die geval raak, dan is die toekoms van
die kerk baie donker.

Nogmaals, waak daarvoor,
jongmans, dat jy jou liefdeslewe nie op die verkeerde fondament bou nie.

Verwerf jou vrou met die
seleksiekriteria wat saak maak.

Kies ‘n vrou in eerbaarheid.

Kies ‘n vrou met die regte
motiewe.

Dan sal jy lank plesier van haar
hê.

Dan sal die kerk en die
samelewing ook deur julle huwelik gebou word.

 

Ook julle, kinders, word
aangespreek.

Paulus skryf, wees gehoorsaam aan
jou ouers.

Dit is nie jy as kind wat mag
uitmaak waarna jy luister en waarna nie.

Dit bepaal jou ouers.

Vir tienerkinders kan dit soms
lastig wees.

Hulle dink soms, as ek mog kies,
sou ek totaal ander ouers gekies het.

Maar so werk dit nie.

In sy voorsienigheid, katkisante,
julle weet al wat hierdie woord beteken, in sy voorsienigheid gee God aan jou
die regte ouers.

Dit wil nie sê dat jou ouers
daarom sondeloos is nie.

Maar ook al doen of sê hulle soms
sondige dinge, hulle bly jou ouers.

God wil dat jy hulle bly
respekteer, dat jy geduld het met hulle swakhede.

Want dit is die Here
welbehaaglik, skryf Paulus.

Dit is soos die Here dit graag
wil hê.

Natuurlik is daar uitsonderlike
gevalle waar kinders uitgelewer is aan die tirannie van ouers.

Maar onthou, daardie ouers sal
teenoor die hemelse Vader verantwoording moet aflê.

 

Elke Sondag hoor ons die vierde
gebod in die kerk.

Eer jou vader en jou moeder...

Uit die volgende vers, vers 21,
leer ons egter dat hierdie gebod nie net ‘n boodskap vir die kinders het nie,
maar ook vir die ouers.

Paulus skryf hier vir die pa’s.

Vaders, moenie julle kinders terg
nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.

Nou het in Afrikaans die woordjie
terg dikwels ook ‘n positiewe
assosiasie.

Hier word egter bedoel: geen
ongenaakbare hardheid van die kant van die ouers nie.

Dat ouers respek het vir die feit
dat hulle kind ook ’n mens is met gevoelens, ‘n mens wat uniek deur God geskape
is.

As jy byvoorbeeld dieselfde
sondes, of dieselfde swakhede, in jou kinders opmerk, as wat jy self ook het,
hoe gaan jy daarmee om?

Straal jy ‘n bietjie solidariteit
uit in die stryd teen die sonde?

‘n Kind sal, as sy pa of ma op
die regte wyse met hom werk, nie moed verloor nie, maar juis moed kry.

Pa’s en ma’s wat vir geen enkele
rede vatbaar is nie, hol die gesag uit, wat hulle van God ontvang het.

 

Die gesag kan jy as ouers ook op
‘n ander manier uithol.

Op ‘n omgekeerde manier.

As jy as ouers jou opvoedingstaak
verwaarloos.

As jy amper nooit tuis is nie, as
jy die opvoeding oorlaat aan ‘n bediende of ‘n naskoolsentrum.

As jy dink dat opvoed outomaties
gebeur, asof ‘n goeie gesprek, en soms ‘n pak slaag, nie nodig is nie.

Ouers wat nie rekening hou met
die sondeval, ook van jou eie kind, kan later nog voor onaangename verrassings
te staan kom.

God gee vir jou as ouers nie vir
niks gesag oor jou kind nie.

Daar is baie werk wat moet gebeur
met die opvoed van elke kind.

Daar is geen kind wat dit
outomaties leer om God en sy naaste lief te hê nie.

 

Ons kom nou by die volgende groep
mense.

Paulus het ook ‘n boodskap vir
die slawe.

Ek het dit nounet al genoem: die
feit dat Paulus maatskappykrities durf te wees, omdat hy staan op die fondament
van die Skrifte, wat in Christus vervul is.

Maar as Paulus maatskappykrities
is, hoekom durf hy dan nie iets teen slawerny as sulks te skryf nie?

Dis mos ‘n onmenslike instituut?

Kom ons kyk mooi na wat Paulus
skryf.

Hy bedien homself nie van oppervlakkige
krete, ‘slogans’, nie.

Sy adviese, sy oproepe, is aan
die een kant indringend, maar aan die ander kant ook genuanseerd.

Hy voer nie ‘n rewolusionêre
pleidooi vir die afskaffing van slawerny in Kolosse nie.

Hy aanvaar die gesagsverhoudings
wat daar is.

Wat hy wel doen is om die
mensonwaardige gedrag in die verhouding tussen ‘n baas en sy slaaf aan die kaak
te stel.

Hy was in die eerste plek daarop,
soos ons in hoofstuk 3:11 gelees het, dat alle mense voor God gelyk is.

Daar is nie “Griek en Jood,
besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman”, “maar Christus is
alles en in almal”.

Ons is as mense almal ewe klein
en nietig.

Ons het almal eweveel genade van
Christus nodig.

Ons moet almal eweveel broodnodig
na die beeld van Christus vernuwe word.

In hierdie opsig is daar dus geen
verskil tussen Jood en Griek, besnede of onbesnede, slaaf of vrye nie, skryf
Paulus.

Dink ook vir ‘n oomblik aan
Paulus se advies aan sy vriend Filemon, in verband met sy weggelope slaaf
Onesimus.

Miskien is dit ‘n idee om hierdie
kort briefie in die Bybel vanmiddag aan tafel deur te lees.

 

Maar goed, Paulus spreek die
slawe toe.

Doen julle werk van harte soos
vir die Here.

Want in alles wat jy doen dien jy
die Here, dit is Christus.

Uiteindelik doen jy alles in die
lewe vir Hom.

Julle weet mos, dat julle die
erfenis as vergelding van Hom sal ontvang.

Gemeente, hierdie is ‘n pragtige
beeld.

Dit oorstyg eintlik die slawerny.

Dit het naamlik ook in daardie
tyd gereeld gebeur, in die Romeinse Ryk, dat daar ‘n baie goeie verhouding kon
wees tussen ‘n baas en sy slaaf.

Dat die slaaf selfs sy
vertroueling geword het.

Die baas kon alles aan hom
oorlaat.

Dink byvoorbeeld aan die goeie
verhouding wat daar was tussen Josef en Potifar, al was hierdie uit ‘n heel
ander tyd, maar tog.

En dit het ook van tyd tot tyd
gebeur, wanneer ‘n baas gesterf het, dat hy ‘n groot deel van sy erfenis aan sy
slaaf bemaak het.

Dit het ook gebeur dat ‘n heer
aan sy slaaf die moontlikheid gegee het om vry te word.

Die slaaf kon dan kies, om sy
vryheid te ontvang en te gaan waarheen hy wou.

Soms het sulke slawe liewerste
gekies om te bly waar hulle was.

Want hulle was eintlik alreeds
kind aan huis by hulle heer.

Hy het eintlik alreeds alle
vryhede geniet wat hy kon wens.

En so is dit ook by Jesus
Christus.

Hy is ons Heer, en in die Bybel
word ons soms sy slawe genoem.

Dit is in hierdie goeie sin van
die woord.

Die betekenis oorstyg dan eintlik
die woord slawerny, omdat Jesus ons ook sy broers en susters gemaak het.

Saam het ons een Vader.

En vir ons het Hy nou alreeds ‘n
geweldige erfenis weggelê!

Net so moet die here in Kolosse
hulle slawe behandel.

Die verhouding moet so goed wees
dat hulle slawe selfs erf.

Net soos vir die slawe in
Kolosse, mag dit vir elkeen van ons ‘n geweldige aansporing wees:

Daar is nie mense wat
minderwaardige werk doen nie.

Of jy ‘n dokter of professor is,
of jy ‘n tuinman of bediende is, almal mag ons ons arbeid verrig met die oog op
die koms van die koninkryk van Jesus Christus.

En as Christene moet ons uitblink
in positiewe arbeidsverhoudings.

 

Dan lê dit ook voor die hand
watter boodskap Paulus vir die baas en miesies het, die managers, die ceo’s of
hoe mens hulle ook noem.

Gee jou werknemers ‘n regte en
billike behandeling.

Dink daaraan hoe jy self behandel
wil word deur jou eie Heer in die hemel.

Paulus sinspeel hier op die
wetgewing van Moses in Levitikus 25:

“Jy mag nie met hardheid oor hom
heers nie, maar jy moet jou God vrees.” (v43)

“Jy moenie rente of wins van hom
neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe.” (v36)

God waak oor al sy kinders, of
hulle slawe is of base, of hulle arm is of ryk.

 

Eintlik het ons nou al met die
twee punt van die preek begin.

In ons beroep, in ons
arbeidsverhoudinge, kry ons dikwels te make met mense wat nie geloofsgenote is
nie.

Tot dusver het ons in die eerste
punt gesien hoe Paulus adviese gee aan elke verskillende groep in die gemeente.

Instruksies hoe om hulle as wyse
mense te gedra, soos ons tema sê.

Instruksies wat vir ons vandag
nog net so relevant is, of ons vroue is of mans, kinders, ouers, diensknegte of
base.

Want ons geloofsgenote is ‘n
bonte verskeidenheid aan verskillende soorte mense.

En ons word opgeroep om as wyses
te gedra teenoor ‘n ieder en elk van hulle.

 

(Tema: Gedra u as wyses

1Teenoor die geloofsgenote)

 

2                  
Teenoor hulle wat buite staan

Ons begin weer met ‘n enkele
opmerking oor die woord wysheid.

In die konteks van wat Palus
skryf, wat betref ons houding teenoor hulle wat buite staan, in hierdie konteks
beteken wysheid veral taktvol, geïnteresseerd, geduldig.

As ons met hulle praat, is dit op
‘n aangename manier, ons woorde is met sout besprinkel.

Sonder takt sal wees as ons ‘n
ongeïnteresseerde houding teenoor hulle het, as ons hulle nie eers raaksien
nie, of as ons dalk ‘n meerwaardige houding teenoor hulle openbaar, dalk ‘n
oorgeestelike houding, om hulle die gevoel te gee hulle is nie deel van ons
nie.

Dit werk natuurlik afstotend.

Ons word hier opgeroep: “Wandel
in wysheid teenoor die wat buite is”.

Laat ons besef dat ons lewe soos
‘n spieel is.

Want in ons lewe sien ander mense
wat dit beteken om christen te wees, wat dit inhou om lidmaat van die Vrye
Gereformeerde Kerk te wees.

En skryf Paulus: koop die tyd
uit.

Jy kan ook sê: as die geleentheid
hom voordoen, gebruik dit.

Oefen jouself daarin om op die
regte oomblik gereed te wees om te kan getuig.

Sê nou maar, om ’n voorbeeld te
noem, jy het ‘n buurman wat op Sondag sy gras sny, of dalk sy tuinboy die gras
laat sny.

Hoe reageer jy daarop?

Wel, as jy nog nooit met jou
buurman gepraat het nie, nog nooit ‘n vriendelike gesprek met hom gehad het
nie, nog nooit bietjie van ‘n band opgebou het nie, en dan op daardie Sondag
wat hy sy gras sny, bel jy hom op en kla daaroor, omdat jy graag wil rus.

Dan is dit nie die regte
geleentheid nie, dan het jy nie in die verlede die tyd uitgekoop om met jou
buurman kennis te maak en ‘n band met hom op te bou nie.

As jy net kla oor alles wat hy
verkeerd doen, gaan sy beeld van kerkmense wees:

Normaalweg stel hulle nie in jou
belang nie, hulle lei hulle eie lewe, maar die dag as jy iets verkeerd doen,
dan kla hulle.

Ek noem nou die buurman, maar ons
kan net so goed ook praat oor jou kollega, of dalk familie wat nie kerklid is
nie.

Laat ons ekstra versigtig
daarvoor wees dat mense nie die beeld kry dat ons as kerkmense, ons as VGK,
altyd met kritiek gereed staan, terwyl ons verder nie ‘n band met mense opbou
nie.

Dit is wat Paulus bedoel as hy
skryf: laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel. Sodat julle
kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.

Dit is ‘n kuns, ‘n vaardigheid,
wat jy jouself eie moet maak.

Nie net met mense praat as daar
gekla moet word nie, as foute aangewys moet word nie.

Maar getuig.

Daardie dag toe jy by ‘n
begrafnis was, vertel vir jou kollega daarvan.

Dit was natuurlik verdrietig,
maar dit was ook goed om daar te wees.

Dit klink dalk snaaks, maar ons
is werklik deur God getroos.

Gisteraand het jy huisbesoek
gehad, of het die dominee ‘n besoek gebring, vertel dit vir jou kollega.

Sodat hy agterkom hoe ‘n kerk
werk en hoe hulle vir mekaar omgee.

Vertel vir hom hoe die diakens
jou gehelp het toe jy ‘n ruk sonder werk was.

Ek kan nog meer voorbeelde noem.

Maak ‘n punt daarvan om meer
positiewe dinge te sê oor jou geloof, en oor jou kerk.

As jy gereeld positiewe dinge sê
oor jou kerk (natuurlik bedoel ek die kerk van Christus), dan gaan jou kollega
of buurman ook ‘n goeie beeld begin kry van jou kerk.

En as mense vir jou ‘n vraag vra,
moenie ‘n ontwykende antwoord gee nie, maar sê gewoon wat in jou hart is.

Ons hoef nêrens voor skaam te
wees nie, ons is juis buitengewoon bevoorreg.

 

Nou besef ek goed dat dit soms
makliker gesê as gedaan is.

Maar die beste is om net te
begin.

Hoe meer mens dit doen, hoe
makliker gaan dit word.

Paulus benadruk ook die belang
van die gebed.

Volhard in die gebed en waak
daarin met danksegging (hfst 4:1).

En, vers 2: “bid tegelykertyd ook
vir ons”

Ons het mekaar se voorbede nodig!

Laat ons mekaar dra in gebed.

Paulus het die Kolossense gevra
om dit vir hom te doen.

Sodat hy geopende deure sou vind.

Sodat daar gesprekke op gang sou
kom en die geheimenis openbaar kon word.

Sodat die volle Evangelie mog
klink.

 

Ek het ‘n keer van ‘n christen
gehoor uit die Midde-Ooste, hoe moeilik dit kan wees om openlik met iemand oor
die geloof te praat.

In baie Midde-Oosterse lande word
Christene nie direk vervolg nie.

Christene en moslims leef langs
mekaar in vrede.

Maar dit is wel verbode om van
geloof te verander, om te evangeliseer is ‘n groot misdaad.

Die gevolg is dat Christene baie
baie moeilik met ander oor die Evangelie kan praat.

In so ‘n klimaat kan jy jou
voorstel hoe belangrik gebed is.

Dat God deure oopmaak, veilige
geleenthede skep, vir gesprekke.

Vergeleke daarmee, hoe maklik het
ons dit eintlik nie in ons land nie!

Ons mag vryuit evangeliseer,
sending doen.

Maar tog, ook in ons land, hoe
dikwels gebeur dit dat mens van hart tot hart ‘n gesprek voer?

Vandaar dat gebed so belangrik
is.

Bid of God deure wil oopmaak,
geleenthede wil skep, dat daar ‘n sfeer ontstaan, waarin mense bereid is om
regtig te luister.

Baie mense sluit hulleself so gou
af, sodra die gesprek begin handel oor geloof of kerk.

Met die gevaar dat hulle juis
oningelig bly, en vooroordele bly koester.

Laat ons van ons kant doen wat
ons kan om geen struikelblok te wees nie.

Gedra jouself wys teenoor hulle wat buite is.

Wees taktvol, belangstellend,
vriendelik, positief, geduldig.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)