God se verlossingsplan ontkiem in die moederbelofte

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-06-07
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 17
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
7 Junie 2015 AD, 17:30

Voorsang:
Sb 19:1-4

Votum

Seën

Ps 121:2,4

Gebed

Skriflesing: Genesis 3

Ps 40:1,6

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 17

Preek

Sb 2:1,3

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:1,2,3

Kollekte

Ps 40:7,8

Seën

 

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 17

Ons goeie God...

Dit is die manier waarop die NGB
oor God praat.

In die wêreld om ons heen kan ons
dikwels mense hoor wat op ‘n verwytende toon oor God praat.

Hoekom laat God toe dat daar
rampe op aarde gebeur?

Hoekom keer God nie die oorloë op
aarde nie?

Hoekom moet ek aan hierdie siekte
ly, as God sou bestaan?

Gemeente, as kerk van Christus
praat ons op ‘n ander manier oor God.

Hy is ons goeie God.

Hy het die mens opgesoek, wat al
bewende van Hom weggevlug het.

Hy het ons ellende raakgesien.

Hy het besluit om dit waarin ons
onsself gestort het, die liggaamlike en geestelike dood, nie te laat vir wat
dit was nie.

Hy het die mens getroos.

 

En oor hierdie troos gaan die
preek, hierdie enige troos in lewe en in sterwe.

Ons gaan kyk hoe God die gevalle
mens getroos het, die eerste keer na die sondeval, met ‘n belofte.

Ons gaan in detail na hierdie
belofte kyk.

Ons gaan kyk hoe hierdie belofte
telkens terugkom in die Skrif.

En ons gaan kyk hoe die goeie God
hierdie belofte ook inderdaad vervul het.

 

 

God se
verlossingsplan ontkiem in die moederbelofte

-         
Ontkenning en erkenning van die
moederbelofte

-         
Toeëiening van God se
verlossingsplan

 

-         
Ontkenning en erkenning van die
moederbelofte

Die moederbelofte is die moeder
van alle verdere beloftes wat ons in die Skrif vind.

Alle volgende beloftes is nadere,
breër en duideliker uitwerkings van hierdie eerste belofte.

In hierdie eerste belofte lê al
die latere beloftes al opgesluit, soos in ‘n saadjie die volledige potensiaal
van ‘n groot boom opgesluit lê.

Daarom kan mens die moederbelofte
ook wel die kiembelofte noem.

In ‘n neutedop is die hele
Evangelie al in Genesis 3:15 opgesluit.

 

Nou is dit deesdae in liberale
kringe die mode om die Bybel nie meer as een geheel te benader nie, nie meer as
die Woord van God in sy geheel nie.

Die Bybel is, word dan gestel, ‘n
versameling boeke van verskillende mense wat oor God geskryf het.

Hulle diepste gedagtes oor God en
oor die ewigheid het hulle op skrif gestel.

In die Bybelboeke kan ons sogenaamd
baie leer oor die skrywers se godsbeeld.

En in die Bybelboeke is daar baie
lewenswysheid waarmee jy jou wins kan doen.

Maar die Bybelboeke is nie God
wat met mense praat nie, maar mense wat oor God skryf.

Hierdie sienswyse het ook ‘n
impak op hoe die boek Genesis verklaar word, en ook op die uitleg van Genesis
3:15.

 

Toe ek destyds op universiteit
was, Tukkies, het ‘n dosent aan die klas verduidelik:

Genesis 3:15 gaan nie oor Jesus
Christus nie.

Dit is wat die dogmatiek, die
Christelike teologie, daarvan gemaak het.

Hulle lees Christus in hierdie
teks in, maar dit was nie die oorspronklike bedoeling van hierdie teks nie.

Die oorspronklike bedoeling van
hierdie teks is dat dit bloot aandag skenk aan die ongemaklike verhouding wat
daar tussen mense en slange bestaan.

Van alle diere is mense dalk die
bangste vir slange.

Mense is natuurlik ook bang vir
leeus.

Leeus is gevaarlik, hulle skerp
en lang tande kan ‘n mens maklik doodbyt.

Dit weet ons hier in Suid-Afrika
maar al te goed.

Maar tog kan ‘n mens op ‘n manier
nog met ‘n leeu assosieer.

Hy is warmbloedig net soos ‘n
mens, en as mens ‘n sagte klein leeuwelpie sien, dan smelt jou hart.

Met ‘n slang is dit egter anders.

‘n Slang is koudbloedig, is slang
het geen ooreenkoms met ‘n mens nie.

Mens voel nie simpatie vir ‘n
slang, of vir ‘n babaslang soos vir ‘n leeuwelpie nie.

‘n Slang is vir ‘n mens se gevoel
onvoorspelbaar, listig, skelm.

‘n Gevaar wat vir jou lê en wag
op ‘n onverwagte plek.

‘n Slang wat ‘n mens pik, en sy gif
in ‘n mens spuit, dit is iets wat ‘n mens met afsku vervul.

Oor hierdie ongemaklike, haatlike
verhouding tussen die menselike ras en die slangeras, dit is waaroor Genesis
3:15 gaan, aldus liberale uitleggers.

Dit was die oorspronklike uitleg
van hierdie teks.

Genesis 3 is ‘n fabel oor die
vyandskap wat daar tussen mense en slange bestaan.

Die definisie van ‘n fabel is dat
dit ‘n verhaal is waarin ‘n dier as ‘n hoofpersoonlikheid optree.

Dit is wat Genesis 3 ons dus
bied.

‘n Fabel uit die ou antieke wêreld,
waarin die gespanne verhouding tussen mense en slange geskets word.

 

Dit is duidelik, gemeente, dat
die NGB art. 17 nie hierdie uitleg aan Genesis 3:15 gee nie.

En die vraag waarmee ons ons
besig hou, is of die NGB se uitleg eintlik Christus in hierdie teks inlees,
terwyl die teks nie self oor Hom praat nie.

Of dat daar grond is om te sê dat
die teks inderdaad al ‘n belofte bevat oor die koms van die Messias.

Wat bepalend is vir die
beantwoording van hierdie vraag, is of mens die Skrif as ‘n geheel sien of nie.

En ook of mens ‘n boek soos Genesis
as ‘n geheel sien of nie.

Want alleen al in die boek
Genesis sien mens ‘n duidelike lyn van God se beloftes.

Dis nie net die moederbelofte
nie, maar dit word gevolg deur baie ander beloftes van God.

Dink aan sy beloftes wat Hy aan
Abraham gemaak het.

En sy beloftes aan Isak en aan
Jakob.

Die boek Genesis eindig met die
wonderlike geskiedenis van Josef.

Hoe die HERE sy verbond, wat Hy
met Abraham gesluit het, nagekom het.

Hoe Hy sy nageslag bewaar het,
dinge so gelei het Josef in Egipte onderkoning geword het, en dat Jakob en sy
kinders na Egipte kon aftrek en so gered is van die hongersnood.

In die boek Genesis neem God se
beloftes dus ‘n prominente plek in, en ook hoe God begin het om daardie
beloftes te vervul.

 

Sien mens die boek Genesis egter
nie as ‘n eenheid nie, en die res van die Skrif ook nie, soos liberale
uitleggers doen, dan kom mens by ‘n totaal ander uitleg.

Dan is die eerste hoofstukke van
Genesis legendes, of fabels, wat oorspronklik weinig te make gehad het met die
geskiedenis van die aartsvaders, soos beskryf vanaf Genesis 12, en wat net so
min te make het met die res van die Skrif.

 

Daarenteen bely ons egter, saam
met die NGB, dat die Skrif as geheel God se Woord is, en dat ons in Genesis
3:15 ‘n bewuste heenwysing vind na Christus.

Dit is moontlik, omdat God die
outeur is van elke vers in die Bybel.

Dit is nie inlegkunde, as ons in
hierdie teks ‘n eerste en prille verwysing vind na Christus se middelaarswerk,
Christus se oorwinning van die duiwel met sy kruisiging en opstanding nie.

Dit pas, dit spreek uit die teks
self, en hierdie teks staan in die verband van die res van die Skrif, met al
die ander beloftes wat later gevolg het, waaruit God se plan steeds duideliker
geword het.

 

Dis soos wanneer mens op die
verre horison ‘n figuur sien aankom.

Omdat hy so ver is, kan jy nog
geen detail onderskei nie.

Jy kan net sien dis ‘n mens wat
aangeloop kom.

Maar of daardie mens blank of
swart is, man of vrou, jonk of oud, dit kan jy nog nie onderskei nie.

Laat staan die gelaatstrekke van
die persoon, sodat jy kan sien wie dit is.

So is die belofte in Genesis 3:15
‘n persoon wat op die verre horison verskyn.

Ons weet slegs Hy stam af uit die
saad van die vrou.

Maar wie dit is, wat sy naam is,
wanneer Hy gaan kom, en wat Hy gaan doen, dit is nog alles onduidelik.

 

Gemeente, so beïnvloed die manier
hoe ons Genesis benader, en die Bybel as geheel, hoe mens Genesis 3:15
interpreteer.

Ontken jy dat hierdie teks die
moederbelofte is, of erken jy dit?

Ons bely, saam met art. 17 van
die NGB, dat die moederbelofte nie inlegkunde is nie.

Maar dat dit die korrekte
eksegese is, wat rekening hou met die konteks.

Eerstens die konteks van die res
van hierdie hoofstuk, Genesis 3.

Tweedens die konteks van die hele
boek Genesis.

En derdens die konteks van die
geheel van die Skrif.

 

(God se verlossingsplan ontkiem
in die moederbelofte

-         
Ontkenning en erkenning van die moederbelofte)

 

 

-         
Toeëiening van God se
verlossingsplan

Genesis 3 beskryf kortliks die
sondeval van die eerste mensepaar, Adam en Eva.

Ons het in die preek oor die
erfsonde, NGB art. 15, daarna gekyk.

Die sondeval was nie net ‘n
appeltjie steel nie.

Dit was dat hulle bewus die grens
geminag het wat God gestel het.

Adam en Eva het na die duiwel
geluister en geloofwaardigheid verleen aan dit wat hy te sê gehad het.

Jesus noem die duiwel die vader
van alle leuens – Johannes 8:44: hy is ‘n leuenaar en die vader daarvan.

Luister net na wat die duiwel te
sê gehad het, Genesis 3:1 “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet
van al die bome van die tuin nie?”

‘n Suggestiewe vraag waarmee hy
gepoog het om God in diskrediet te bring.

Om sogenaamd ‘n onredelike
element in die proefgebod uit te wys.

Maar dit was allermins wat die
proefgebod ingehou het.

Adam en Eva mog van al die bome van die tuin vry eet –
Genesis 2:16 – net van die boom van kennis van goed en kwaad mog hulle nie eet
nie.

Satan verdraai dit nou na dat
hulle van geen enkele boom mog eet nie.

En oor die boom van kennis van
goed en kwaad vertel hy net so leuen.

Dit sou nie die dood tot gevolg
hê nie, maar dit sou hulle oë laat oopgaan.

Dit sou hulle in die posisie stel
om te mag kies wat goed en wat kwaad is.

Ons weet dat Adam en Eva toe aan
die versoeking toegegee het.

Die slang het hulle omgepraat.

Mens wonder soms hoekom die
duiwel juis ‘n slang uitgekies het om deur te praat.

Het hy geassosieer met hoe ‘n
slang is en lyk?

Met die geniepsige manier waarop
‘n slang sy prooi vang?

Het slange al ander diere geëet
voor die sondeval?

Dit is almal vrae waarop die
Bybel ons nie ‘n antwoord gee nie.

 

In die res van die Skrif sien ons
vervolgens, na hierdie gebeurtenis, dat die duiwel telkens vereenselwig word
met ‘n giftige en gevaarlike slang.

Dink byvoorbeeld aan Openbaring 12:9 “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word
duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei”.

Dit verwys terug na die ou geskiedenis van die sondeval.

Na Adam en Eva se opstand, het God hulle opgesoek, en Hy het van hulle
rekenskap geëis van dit wat hulle gedoen het.

God begin by Adam.

Want Adam wil nie verantwoordelikheid neem nie.

Hy skuif die skuld oor op sy vrou, eintlik op God.

Daardie vrou wat U my gegee het... (Gen 3:12)

En Eva skuif ook die blaam van haar af, na die slang.

Die slang het my bedrieg (Gen 3:13).

En dan begin God om elkeen van die drie toe te spreek, beginnende by die
slang.

God maak met enkele woorde eintlik net duidelik, hoe die nuwe situasie
nou gaan lyk, noudat daar ’n era van dood en verganklikheid en verderf en
moeite en verdriet sy intrede gedoen het.

Die slang sal ’n veragtelike dier word.

Die vrou sal met smart kinders
baar, en die man as die sterker geslag sal haar oorheers.

Die man sal in die sweet van sy
aangesig ’n bestaan op aarde maak.

En aan die einde van die dag sal
almal sterf, want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

’n Uitsiglose prentjie, ’n
doemscenario.

‘n Donker sluier het oor die
aarde geval.

Daar het nou ‘n vloek gerus op
alle skepsels op aarde, beginnende by die mens, en die slang.

Die satan het dit reggekry om
hulle te verlei.

 

Tog is hierdie donker prentjie
nie al wat ons lees nie.

God maak ‘n nuwe begin, dit sien
ons in die res van Genesis.

Pleks van dat Adam en Eva dadelik
sterf, mag hulle voorlopig aanhou leef, en selfs kinders kry.

Dit is waarmee Genesis 4 begin.

En selfs in Genesis 3 is daar ‘n
ligpuntjie.

En dan praat ons oor Genesis
3:15, die moederbelofte.

Want hierdie vers pas presies op
die res van die Bybelse boodskap, die feit dat God ‘n Middelaar gestuur het om
die dood te oorwin.

En as hierdie vers presies pas by
die res van die Bybelse boodskap, en as God die Outeur is van sowel Genesis
3:15 asook die res van die Bybel, dan maak dit sin en dan is ons belydenis nie
besig met inlegkunde om hierdie vers die moederbelofte, of die kiembelofte, te
noem nie.

Want in Genesis 3:15 gaan dit mos
nie net oor ‘n slang nie.

Dis duidelik uit die res van die
hoofstuk, naamlik dat die slang die duiwel verteenwoordig.

En dan lê dit voor die hand dat
in hierdie vers nie net ‘n willekeurige slang se kop vermorsel word nie, maar
die duiwel s’n!

En as daar staan dat die saad,
die nageslag van die vrou die slang se kop sal vermorsel, dan dui dit nie net
daarop dat alle mense sedertdien die geneigheid gehad het om as hulle ‘n slang
sien, dit dood te maak nie, maar dit gaan oor meer.

Want die slang is in hierdie
hoofstuk nie net die slang nie, maar dis die duiwel.

En wie was dit wat die duiwel se
kop vermorsel het?

Dit is uit die res van die Skrif
duidelik.

En dan kom ons uit by Jesus
Christus.

Jesus Christus wat net soos Adam
en Eva deur die duiwel versoek is.

Maar Hy het nie geval vir die
duiwel se praatjies nie.

Ook toe het die duiwel God de
woorde verdraai.

Oor klippe wat brood kan word, en
oor engele wat Jesus op die hande sal dra, as Hy van die tempel se dak sou
afspring.

Maar gelukkig het die tweede Adam
standgehou.

Hy is deur God gestuur, luidens
die eeue-oue moederbelofte, om die slang se kop te vermorsel.

Hy het die donker sluier, die
werklikheid van die dood, wat Adam en Eva oor die aarde gebring het, weer
opgehef, die son van geregtigheid het begin skyn, Hy het die dood oorwin.

Hy het opgestaan uit die graf, en
Hy het opgevaar na die hemel.

Soos dit so mooi in 1 Korinthiërs
15 verwoord word:

1 Kor 15:21-22 “Want aangesien
die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want
soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend
gemaak word”

En toe is die duiwel en sy ryk
uit die hemel verban, op die aarde gegooi, en aan bande gelê.

Die belofte van al hierdie
heilfsfeite, wat sou plaasvind, lê in die moederbelofte opgesluit.

Die moeder van alle latere
beloftes.

God se Seun is uit ‘n vrou
gebore, ‘n nakomeling van Eva (Galasiërs 4:4), om die belissende veldslag teen
die satan te wen.

 

Geliefde gemeente, hierdie
realiteit, hierdie heilsfeite, bely ons as kerk in artikel 17 van die NGB.

Dis nie ‘n teologie wat die kerk
self uitgedink het nie.

Dit kom op uit die Skrif self, en
die NGB spreek dit bloot na.

Die NGB verwys nog na meer
Bybelgedeeltes: Genesis 22:18, waar God beloof dat alle nasies van die aarde
deur Isak se nageslag geseën sal word.

Jesaja 7:14, waar God se beloftes
al hoe duideliker kontoere kry: die aankondiging van Immanuël, gebore uit ‘n
maagd.

Johannes 7:42, wat terugverwys na
die profeet Miga, wat die koms van die Messias aankondig uit die geslag van
Dawid, gebore in Betlehem.

Johannes 1:14, die Woord, die
Belofte van God, wat vlees geword het.

So vat die Nederlandse
Geloofsbelydenis die boodskap wat uit die hele Skrif tot ons kom saam.

 

En as u so daarna sit en luister,
gemeente, na hierdie pragtige bouwerk van God se heilsplan, soos dit belowe is,
en soos dit sy vorm gekry het in die loop van die openbaringsgeskiedenis, as u
dit alles so hoor, moet u uself afvra.

Aanvaar ek hierdie boodskap?

Erken ek nederig dat al hierdie
ook nodig was as gevolg van my
sondeval?

Erken ek dat dit wat in die Bybel
staan, God se openbaring is, van Genesis 1 tot Openbaring 22?

Erken ek dat dit God is wat met
jou spreek?

Nie net mense wat oor God hulle
gedagtes in die Bybel opgeskryf het nie.

Erken jy die werklikheid en die
noodsaak van hierdie openbaringsgeskiedenis?

Bely jy dat dit God was wat die
moederbelofte uitgespreek het?

Bely jy dat God al geweet het wat
sou kom, hoe sy planne in die toekoms sou uitwerk, en dat Hy in Genesis 3:15
begin het om die gevalle en opstandige mensheid ‘n sprankie hoop te gee?

Maak jy hierdie Bybelse verhaal
jou eie?

Dat dit nie net iets wat jy ooit
op skool gehoor het, en op katkisasie, maar wat nie werklik jou eksistensieel
raak nie?

Of beleef jy dit ook as jou geskiedenis.

God se plan om ook vir jou te
red, en ook vir jou ‘n toekoms te verseker?

Dit is naamlik ook die doel van
die belydenisgeskrifte, hoekom ons hulle in die kerk het.

Artikel 17 begin met die woordjie
ons.

Ons bely hierdie dinge.

Ons staan daaragter.

Ons aanvaar dit.

Ons vind dit belangrik.

Ons verleen ons identiteit daaraan.

Mag ook hierdie preek, gemeente, daartoe
bygedra het, dat elkeen van ons hierdie belydenis, wat in art. 17 verwoord word
oor die belofte van die Verlosser, en oor moederbelofte, dat ons dit onsself
toeëien.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)