Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon
Kopiereg word
voorbehou.
PRETORIA-MARANATA,
14 Junie 2015 AD, 10:15
Votum
Seën
Ps 81:1,2
Wet
Ps 119:1
Gebed
Skriflesing: Handelinge 10
Ps 86:5
Teks: Handelinge 10:45
Preek
Ps 87:2,3,4,5
Gebed
Kollekte
Sb 34:1,2
Seën
Preek:
Handelinge 10:45
Ons mag vandag weer luister na
die Pinksterevangelie.
Dat die Heilige Gees in Jerusalem
uitgestort is.
Die apostels het op die
Pinksterdag vlamme op hulle koppe gehad.
Dit herinner aan die brandende
braambos in die woestyn, wat Moses gesien het.
Met die vlamme het God sy aanwesigheid getoon.
Dit was sigbaar op Pinksterdag
dat die apostels aangevuur word deur die Heilige Gees.
En die grootste wonder van
daardie dag:
Dat die apostels in staat gestel
is om in allerhande tale te praat.
Die evangelie oor die opstanding
uit die graf het ineens geklink in Egipties, Persies, Grieks, Arabies,
ensovoorts.
Alle tale van die toenmalig
bekende wêreld.
Sodat alle Jode uit die Diaspora
wat verstrooid gewoon het onder die volke, die kon verstaan.
Die Pinksterfees was naamlik ‘n
Joodse fees.
In die vroeë somer is die
allereerste produkte van die land vir die Here gebring.
Om Hom daarvoor te dank.
Die eerstelinge.
Maar vanaf daardie dag het die
Pinksterfees ‘n nuwe betekenis gekry.
Dit het die dag geword waarop die
eerstes hulle lewe toegewy het aan Jesus Christus, en gedoop is.
Die eerste oes van meer as drie
duisend mense.
En so staan Pinksterfees vanaf
toe bekend as die fees wat gaan oor die groei van die kerk van Christus.
Nou is dit opvallend dat ons in
die boek Handelinge nie net in hoofstuk 2 lees oor die uitstorting van die
Heilige Gees nie.
Dit is naamlik duidelik dat die
Heilige Gees meer as een keer uitgestort is.
Ons lees dat die Heilige Gees
drie keer uitgestort is.
Die bekendste keer is natuurlik
wat gebeur het op Pinksterdag, Handelinge 2.
Maar ook in ons teks – Handelinge
10 – lees ons oor die uitstorting van die Heilige Gees.
En ‘n aantal hoofstukke verder –
Handelinge 19 – lees mens dit nog ‘n keer.
Ons sal in hierdie preek aandag
skenk aan die tweede keer toe die Heilige Gees uitgestort is,
en watter boodskap dit vir ons
het.
Tema: Volg
die voetspore van die Heilige Gees
Ek is tans besig met ‘n serie
preke oor die boek Handelinge.
Handelinge kan mens vergelyk met
‘n klip wat in die water gegooi word.
Daar waar die klip die water
tref, ontstaan golwe wat uitkring reg rondom, tot uiteindelik die hele dam se
water in beweging is.
Die boek Handelinge gaan eintlik
oor wat daar in hoofstuk 1:8 staan.
Die laaste woorde voordat die
Here Jesus na die hemel gegaan het.
Hy het vir sy dissipels opdrag
gegee:
“julle sal krag ontvang wanneer
die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel
as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”
Mens kan die aarde vergelyk met
die dam water.
Die beweging het in Jerusalem
begin.
Van daar het dit steeds verder
uitgekring.
Judea, dit is die provinsie
waarin Jerusalem geleë was.
Samaria, dit is die naburige
provinsie.
En so het die golwe uitgekring,
om al die uithoeke van die aarde te bereik.
Die klip wat vir die beroering
gesorg het, is natuurlik die evangelie.
Dat Jesus Christus die dood
oorwin het.
Sedert Pinksterdag sien mens dat
die evangelie steeds verder uitkring.
Eers was die mense in Jerusalem
aan die beurt.
Onder hulle was ook die Jode wat
saamgekom het uit alle lande om die fees by te woon.
Want sedert die ballingskap het
die Jode verspreid oor die aarde gewoon.
En die Jode het ook al al die
verskillende tale van die wêreld gepraat.
Op Pinksterdag het die Heilige
Gees daarvoor gesorg dat hulle elkeen die evangelie in hulle taal van land van
herkoms kon hoor.
Daarna, in die eerste hoofstukke
van Handelinge, tot en met hoofstuk 7, lees ons oor gebeurtenisse wat
plaasgevind het in Jerusalem en direkte omgewing.
Vanaf Handelinge 8 ontstaan egter
‘n volgende golf.
Filippus begin te preek in
Samaria.
Die Samaritane was halfbloed
Jode.
Daar was altyd spanning tussen
die Jode en Samaritane.
Die Jode het hulle as
minderwaardig beskou.
Maar die apostels nie.
Net soos die Here Jesus het hulle
uitgereik na Samaria, en die evangelie daar gebring.
Met ‘n geweldige resultaat.
Tot dusver het die evangelie dus
uitgekring na die Jode en die Samaritane.
In Handelinge 8 lees ons ook oor
die bekering van ‘n Ethiopiese minister.
Hy was ‘n heiden wat die God van
die Jode vereer het, ‘n proseliet, of Jodegenoot.
Vanaf hoofstuk 9 begin weer ‘n
nuwe golf.
Hierdie golf begin met die
bekering van Saulus.
Vir hierdie nuwe golf van
uitbreiding het die verhoogde Heiland die mees geskikte persoon uitgekies om
daarby betrokke te wees: Saulus.
Hy sou binnekort begin om land en
see af te reis.
Maar die allereerste aksies in
hierdie nuwe golf kom van die kant van Petrus.
Hy is die eerste een wat deur
Christus gestuur word na ‘n volbloed heiden.
Dit is die geskiedenis van
Cornelius, wat ons gelees het.
Dit het nie sonder slag of stoot
gebeur nie.
Petrus was ‘n opregte Jood.
Aan die Joodse wette was hy een
honderd persent toegewyd.
Van jongs af was hy daarmee
opgevoed.
Maar hierdie einste Joodse
tradisies het gedreig om ’n verhindering te word vir die verdere verbreiding
van die evangelie.
Daarom het Christus hier
spesifiek hier ingegryp.
Petrus het nie die inisiatief
geneem nie.
Die Heilige Gees het naamlik die
heidene op Petrus afgestuur.
En Christus het deur sy Gees
gesorg dat Petrus – as voorbereiding daarop – ‘n veelbetekenende visioen
ontvang het.
Die eerste heiden, dit was
Cornelius.
Dit was naamlik so dat die keiser
in Rome op daardie stadium regstreeks bewind gevoer het oor Judea.
Cornelius was in sy diens.
Hy was gestasioneer as hoofman
oor ‘n aantal soldate.
Volgens Lukas was hy ‘n vroom
man.
In sy huis het daar ‘n atmosfeer
van ontsag geheers vir die God van die Jode.
Dit was besonder.
Die deursnee Romein het naamlik
alles gehaat wat Joods was.
En omgekeerd het die meeste Jode
ook ‘n groot hekel aan die Romeinse besetters gehad.
Maar skynbaar was die Here al
lank al in die hart van Cornelius aan die werk.
Want toe Petrus uiteindelik daar
aankom, blyk dit dat hy nie ‘n vyandige huis betree het nie, maar ‘n plek waar
die kern van die wet, naamlik liefde God en die naaste, reeds geheers het.
Eers moes Petrus nog klaargestoom
word vir hierdie besoek.
Dit is eintlik baie indrukwekkend
om te sien hoe Petrus in die loop van die jare, soos ons dit in die Nuwe
Testament kan lees, steeds meer gegroei het in sy geloof en insig.
God was die heeltyd met hom
besig.
Die verandering het nie oornag
gebeur nie.
Hy was ‘n bietjie van ‘n hardekop
visserman, wat sy Heiland verloën het.
Tog het Jesus hom daarna weer in
diens geneem.
Na Christus se hemelvaart het hy
die leiding geneem.
Op Pinksterdag het hy ‘n kragtige
preek gehou.
Maar hier, aan die begin van
hoofstuk 10, was hy nog nie gereed om die Evangelie aan die heidene te
verkondig nie.
En ook nie om in ‘n heidense huis
binne te gaan nie.
Dit was buite die kwessie vir ‘n
Jood.
Daar het wel baie buitelanders in
Judea gewoon, maar ‘n Jood sou nooit ‘n heiden se huis betree nie.
Hy sou nooit en te nimmer by ‘n
heiden aan tafel skuif nie.
Hy sou niks eet nie, as hy nie vooraf
die versekering ontvang het dat die kos kosher voorberei is, en dat daar niks
onreins in was nie.
Presies hieroor het die visioen
gehandel.
God het nuwe planne gehad, en dit
was tyd dat Petrus dit begin besef.
In Handelinge 10 val Petrus van
die een verbasing in die ander.
Die Heilige Gees moes nog baie
onsekerheid by hom oorwin.
Maar alles het presies in plek
geval.
Petrus hoef self niks moeite te
gedoen het nie, geen eie inisiatief te geneem het nie.
Die Heilige Gees het gesorg dat
hy kom op die plek waar hy moes wees.
Hy het daar ‘n heilbegerige
publiek aangetref.
Sien vers 33: “Ons is dan nou
almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u
opgedra is.”
Dit was die woorde van Cornelius
en sy huisgenote.
Al wat Petrus hoef te gedoen het,
was om sy mond oop te maak en te vertel.
Te getuig.
Getuie wees in Judea en Samaria,
en nou ook in hierdie Romeinse huis.
En dan begin Petrus te vertel.
Uit die begin van sy woorde blyk
groot verbasing.
Mens hoor hom as’t ware nog hardop
dink.
Hy moet alles self eers op ‘n
rytjie kry.
“Ek sien waarlik dat God geen
aannemer van die persoon is nie...
Ja “dat in elke nasie die een wat
Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” (vers 35)
Jesus Christus is inderdaad Heer
oor alle volke.
Petrus getuig toe oor dit waarvan
hy getuie was.
Dit wat die afgelope jare gebeur
het in die hele Joodse land.
Dit het begin in Galilea, en met
die doop van Johannes, wat die volk opgeroep het tot bekering.
En toe het Jesus van Nasaret
verskyn.
Hy het rondgegaan, wel gedoen,
almal genees.
Ja God was met Hom.
Ons is getuie daarvan...
Petrus getuig, getrou aan Jesus
se opdrag aan die apostels net voor sy hemelvaart.
Christus is opgehang aan ‘n
kruis.
Maar God het Hom die derde dag
weer opgewek.
Hy het aan getuies verskyn.
Hy het aan ons ‘n besondere
opdrag gegee.
Om vir die volk te preek en te
betuig, dat God Hom aangestel het as Regter oor lewendes en dooies.
Van Hom getuig ook alreeds die
profete, dat elkeen, wat in Hom glo, vergewing van sondes ontvang deur sy naam.
Petrus staan en vertel.
En dit op ‘n plek wat hy
eergister nog nie kon vermoed het nie.
Geweldig, maar so groei Christus
se kerk, van land tot land.
Langs onverwagte weë.
God lei dit, en Hy verras ons.
So gaan dit vandag nog steeds.
Neem byvoorbeeld die sendingswerk
in Mamelodi, Nellmapius, Soshanguve, Nuwe Eersterus...
God het dit so gelei dat die Vrye
Gereformeerde Kerke daar met kerkplantingswerk begin het.
Die Heilige Gees het hierdie werk
gelei.
Met die gevolg dat daar nou baie
kontak oor en weer is.
Soms word daar ‘n
klassisvergadering in Soshanguve of Mamelodi gehou.
Daar is besoeke oor en weer.
Daar word oor en weer gepreek.
En so het dit wat eintlik heel
ongebruiklik is, in die kerk normaal geword.
Sal die gemiddelde persoon wat hier
in Waverley woon, ‘n besoek gaan aflê, ‘n klassis bywoon, of ‘n erediens gaan
bywoon in die township?
Dit is ‘n rariteit.
Net so raar as wat dit was toe
Petrus by die huis van Cornelius binnegegaan het.
Maar dit is nie toevallig nie,
dit is die leiding van die Gees.
So werk God se Gees.
Dit is nie so dat die Gees orals
volg waar mense getuig nie.
Dit is omgekeerd.
Die Heilige Gees plavei die pad
wat die getuies moet gaan.
Hy skep die kanse, Hy maak die
deure oop.
En ons hoef maar net ons mond oop
te maak, en te getuig.
Dit is wat Petrus gedoen het.
En sy mond het dikwels oopgeval
van verbasing.
Dit geld veral vir wat in ons
teks beskryf word.
‘n Herhaling naamlik van die
Pinksterwonder.
Die Heilige Gees het op almal
geval.
Hoe ons ons dit konkreet moet voorstel,
is nie duidelik nie.
Het hulle ook hier die geluid
gehoor van ‘n geweldige rukwind?
Het daar hier ook vuurvlammetjies
gekom op die koppe van Cornelius en sy huisgenote?
Dit word nie eksplisiet vermeld
nie.
Wel skenk Lukas aandag aan die
vernaamste Pinksterwonder.
Want ook Cornelius en sy mense
het begin om in tale te spreek.
Net soos in Handelinge 2.
Hulle het begin praat om God te
loof en te getuig van die blye boodskap, in alle tale, Grieks, Latyn, Arabies,
Persies, ensovoorts.
Almal was verbaas.
Petrus het hierin ‘n bevestiging
gesien van die visioen.
Die gawe van die Gees is ook oor
die heidene uitgestort.
Petrus hoef net te gevolg het,
daar waar die voetspore van die Heilige Gees hom heengelei het.
Hierdie is, gemeente, ‘n
belangrike knooppunt in die boek Handelinge.
‘n Nuwe golf kom te voorskyn.
Hier word die deur van die kerk
finaal oopgemaak vir die heidenwêreld.
Vir baie Jode was dit iets om te
sluk, ‘n hele omslag in hulle denke.
Dit sien ons veral in die
volgende hoofstuk, as Petrus homself in Jerusalem moes verantwoord.
Vir die feit dat hy Cornelius
gedoop het.
Cornelius, tot dan toe ‘n
volbloed heiden.
‘n Belangrike knooppunt.
‘n Belangrike wending.
En daarom dat die Heilige Gees
Homself weer duidelik vertoon het.
Dit was ‘n oomblik nie minder
belangrik as toe op die Pinksterdag nie.
Egipte, Babel, Filistyn en More,
Ook Tirus ken my Naam as hoogste
skat.
Die ou belofte van Psalm 87 word
werklikheid.
Hulle is voortaan almal in Israel
ingelyf.
Cornelius word ingelyf deur die
doop, nie meer deur die besnydenis nie.
Dit leer ons uit ons teks.
Hoe die Heilige Gees aktief is in
mense se lewens.
Ook in jou en my lewe.
Dit is verbasingwekkend, as mens
dit begin raaksien.
Hoe die Heilige Gees onverpoosd
besig is om die goeie vir mense op aarde te soek.
God wil nie dat mense ewig
verlore gaan nie, maar dat hulle gered word.
God wil dat u die vreugde proe
van ‘n lewe met Hom, selfs na die dood.
God is nie ver weg nie.
Hy is besig in jou lewe.
Hy is reeds besig in die lewe van
mense wat Hom nog nie ken en bely nie.
Daarop vestig hierdie hoofstuk
ons aandag.
Sien jy die voetspore van die
Heilige Gees?
En is jy ook gereed om te volg in
sy voetspore?
As dit goed is, gemeente, het
mense wat lid van die kerk is, oog vir die voetspore van die Heilige Gees.
In die kerk mag ons nie ons oë
toemaak vir sy voetspore nie.
Laat ons nie sondig teen God se
goeie Gees nie.
Ons moenie ons oë sluit nie vir
hoe Hy ook buite die kerkmure aktief is.
Om ‘n voorbeeld te noem, in
laasweek se kerkblaadjie was daar ‘n artikel oor die sendingswerk op die Kaapse
vlakte.
Dis nie toevallig dat dit daarin
gestaan het nie.
Die Heilige Gees het dinge so
gelei dat ons ‘n konneksie het met die sendingswerk wat op die Kaapse vlakte
gebeur.
Het u daardie artikeltjie toe
gelees?
Was u daarin geïnteresseerd?
Of het u dalk gedink: Kaapse
vlakte, dis ver weg, ek stel nie belang nie.
Maar wat as in die volgende
Kerkblad dalk ‘n artikeltjie staan oor die sending in Soshanguve?
Gaan u dit dan wel lees, gaan u
wel belangstel?
Want dit is naderby, en ons is
ook selfs die sendende kerk.
Hoe is u belangstelling en
betrokkenheid by die sendingswerk?
Ek vra dit, want ons hou vandag
voorbereiding vir die viering van die heilige nagmaal.
Die sendingswerk is nie net die
baba van die sendelinge, of van die sendingskommissie nie.
As gemeente behoort ons daaragter
te staan.
Soos u weet gly ons land al hoe
meer weg in ‘n staat van wanbestuur, korrupsie.
Wetteloosheid vier hoogty.
Mense vertrou mekaar al hoe
minder.
Daar is maar net een ding, dit is
hoe langer hoe meer my oortuiging, net een ding wat ‘n blywende verbetering kan
bring, en dit is die Evangelie.
Dalk gaan dinge nie op kort
termyn sienderoë verbeter nie,
maar as mense die Evangelie
aanvaar, bring dit verandering.
God se Woord sal nooit leeg tot
Hom terugkeer nie.
Daarom word u opgeroep:
Bid vir die kerk van Christus.
Bid nie net vir u eie gemeente
nie.
Bid ook vir die sendelinge.
Bid vir die sendingsgemeentes.
Stel belang in hulle wel en wee.
Probeer ‘n keer of meer op die
sendingsveld uitkom.
Die township het jou dalk niks te
biede nie, maar andersom het jy die mense daar wel iets te biede.
En dan bedoel ek, let wel, die
Evangelie.
Wees betrokke by die werk van die
Gees.
Net soos Petrus, toe die Gees hom
na die huis van Cornelius gelei het.
Die Heilige Gees wil nie dat jy
aan die kantlyn bly staan nie.
Volg die voetspore van die
Heilige Gees.
Ook sy voetspore hier in
Suid-Afrika.
En net soos Petrus, mag ons dit
ook ervaar, hoe mooi dit is om in die Heilige Gees se voetstappe te volg.
Dit gee ‘n nuwe dimensie aan jou
lewe.
Dit laat jou anders na dinge kyk.
Nou omvat die voorbereiding op
die viering van die nagmaal natuurlik meer as net die besinning oor hoe ons betrokkenheid
by die sending is nie.
Ons behoort ons hele lewesstyl
krities onder oë te neem.
In die komende week behoort ons
te fokus op hernude toewyding aan Christus en sy kerk.
Nagmaal toe kom behoort nie ‘n
outomatisme te word nie.
Tog lê die aandag vir die sending
heeltemal in lyn met die boodskap van ons teks.
Dit klink dalk vir ons ‘n
ongewone kombinasie, maar dit is dit nie.
Wie Christen is maar nie
belangstelling het vir die uitbreiding van die Evangelie nie, is dalk ‘n lou
Christen, ‘n slapende, ‘n oppervlakkige Christen.
Hierop behoort ons onsself ook te
ondersoek, as onderdeel van die voorbereiding op die nagmaal.
Volgende week, in die aanddiens,
wil die kerkraad die sendelinge ook spesifiek uitnooi, om saam die nagmaal te
vier.
Hulle is in naam lid van ons
gemeente, en dit is ook vir hulle belangrik om met hulle tuisgemeente, hulle
sendende kerk, ‘n band te hê.
Dit is noodsaaklik dat van beide
kante, die bande weer versterk word.
Saam volg ons die voetspore van
die Heilige Gees.
Hy is aktief in ons gemeente, Hy
is ook aktief op die sendingsveld.
Ons wag nog op Christus se
wederkoms.
Daar is nog tyd vir bekering.
Dit is die belangrikste wat ons
land nodig het, vir elke indiwidu.
Amen.
(kyk in preek)