God se verlossingsplan weerspieel sy karakter

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-07-12
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 20
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
12 Julie 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 25:1-4

Votum

Seën

Ps 32:1,2,6

Gebed

Skriflesing: Exodus 33:12-34:35

Ps 40:6

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 20

Preek

Sb 10:1-6

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 78:13,24

Seën

 

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 20

 

 

Mens sou kon sê die hart van die
NGB lê in die artikels wat handel oor Christus se Middelaarswerk.

In meerdere artikels word in
detail hieraan aandag geskenk, die onderwerp word vanuit verskillende invalshoeke
benader.

Die ryke skakerings van die
Skrifopenbaring oor sy versoeningswerk.

Dit begin al by art. 17 en dit
gaan deur tot art. 26.

 

In artikel 20 gaan dit spesifiek
oor God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus.

God is volkome regverdig en
barmhartig.

Dit is wesenlik aan God se
karakter, soos ons Hom van die begin af in die Skrif leer ken.

Ons begin in hierdie preek om
terug te gaan, baie eeue gelede, toe die HERE Homself aan Moses geopenbaar het.

Ons gaan kyk hoe die HERE daar
oor Homself praat.

En vervolgens gaan ons sien hoe
hierdie essensiële karaktereienskappe van God uitkom in sy dade, veral in sy
verlossingsplan.

 

Tema: God se
verlossingsplan weerspieel sy karakter

-         
Hy is regverdig

-         
Hy is barmhartig

-         
In Christus seëvier sowel sy regverdigheid
as barmhartigheid

 

In Exodus 34 vertel die HERE self
aan Moses hoe Hy is, wat sy karaktereienskappe is.

Hy is genadig, barmhartig,
lankmoedig.

Maar dit neem absoluut niks weg
van sy heiligheid nie, van sy regverdigheid nie.

In een asem word gesê: Hy vergewe
die ongeregtigheid en oortreding en sonde, maar Hy laat dit nooit ongestraf bly
nie.

Hy is ‘n jaloerse God.

Hoe kan dit saamgaan...?

 

Regverdigheid is ‘n eienskap wat beskryf hoe
God is.

Regverdigheid, of geregtigheid.

Hierdie woorde stam af van die
woord reg, of regter.

Dit is in God se aard om reg te
verskaf.

Dit is in God se aard om die reg
te handhaaf.

Hierdie tema kom dwars deur die
Bybel voor.

In die Ou Testament ontmoet ons
God telkemale as die een wat reg verskaf aan hulle wat onreg ly, aan hulle wat
verdruk word.

Aan hulle wat nie in staat is om
vir hulle eie reg op te kom nie, soos die weduwees, en die wese.

God openbaar Homself telkens deur
die profete as die Een wat reg herstel op aarde, wat die onreg nie vir altyd
verdra nie.

Ook laat Hy nie toe dat die reg
gebuig word nie.

Ook is God se reg van so ‘n aard
dat dit nie uitsonderings toelaat nie.

Sy reg is nie aanpasbaar aan
spesifieke persone nie.

Sy reg kan nie gebuig word nie.

Die konings en magtiges van die
aarde val onder dieselfde reg as die armes en verdruktes.

God se reg onderskei nie tussen
verskillende klasse mense nie.

Voor die almagtige God is elke
mens dieselfde, en elke mens word volgens dieselfde maatstaf geoordeel, of hy
die koning, president of ‘n bedelaar is.

God se reg is nie afkoopbaar nie.

God se reg is onkrenkbaar, en
niemand ontkom daaraan nie.

Tog is sy reg ook billik.

Mens hoef maar net deur die wette
van Moses in die Pentateug te lees, om dit te sien.

Om ‘n voorbeeld te noem: ‘n sonde
wat per ongeluk begaan is, word nie in dieselfde mate gestraf as ‘n sonde wat
met opset begaan is nie.

Iemand wat per ongeluk ‘n ander
persoon doodgemaak het, kry nie dieselfde straf as hy wat sy medemens doelbewus
vermoor het nie.

 

As die HERE Homself aan Moses
openbaar in Exodus 34, en Hy sê oor Homself dat hy die ongeregtigheid en
oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, dan lê in
hierdie woorde opgesluit hoe Hy is.

En in die res van die Bybel,
beginnende met al die wette van Moses, soos die HERE dit aan hom openbaar het,
en veral ook hoe God deur die eeue met sy volk gehandel het, en met name hoe
God Homself in die Nuwe Testament geopenbaar het deur sy Seun, dit lê alles al
opgesluit in hierdie woorde.

Hierdie uitsonderlike kombinasie
vergewing aan die een kant, maar aan die ander kant dat sonde nooit ongestraf
bly nie.

Barmhartigheid wat sy
regverdigheid nie ophef nie.

En regverdigheid wat sy
barmhartigheid nie aantas nie.

 

Die woord barmhartig word dikwels in die Bybel, beginnende in die Ou
Testament, vir God gebruik.

Dit is sinoniem met ander woorde
soos goedertieren, of goedgunstig, of weldadig, of trou, of genadig, lojaal,
vol medelyde.

Die NGB beskryf God se
barmhartigheid as sy mees volmaakte liefde.

Dit is ‘n mooi omskrywing
daarvan.

Hierdie terme funksioneer en kan
net in hulle volle diepte en rykdom verstaan word in die konteks van die
verbond wat God gesluit het met sy kinders.

In die verbond is Hy ‘n Vader vir
sy kinders.

En al hierdie woorde probeer daardie
unieke houding, daardie unieke karaktereienskappe beskryf, wat ‘n Vader vir sy
kinders toon.

‘n Vader is barmhartig.

Sy kinders het ‘n plek in sy
hart.

Hy is bereid om vir hulle swaar
te kry, op te offer.

En so lê al in hierdie woord, toe
God Hom in Exodus 34 aan Moses geopenbaar het, die hele Evangelie in sy kern
opgesluit.

Sy barmhartigheid hou in dat Hy
die oortreding en sonde, die ongeregtigheid vergewe.

 

Die NGB art. 20 skryf dat God sy
regverdigheid teenoor sy eie Seun laat sien het, met die doel om aan ons
barmhartigheid te kan bewys.

Hierdie twee woorde, wat vir ons
gevoel mekaar byt, staan in God se karakter tog langs mekaar, sonder dat die
een die ander een ophef.

Dit is die wonderbaarlike, vir
ons onbegryplike, van God se karakter.

 

Toe die HERE Homself so aan Moses
geopenbaar het, moes dit ‘n ongelooflike indruk op Moses gemaak het.

Ons het die gedeelte uit Exodus
gelees.

Moses het gevra of hy God se
heerlikheid mog sien.

Ek dink nie dat hy goed besef het
wat hy vra nie.

Want die HERE sê vir hom:

“Jy kan my aangesig nie sien nie,
want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Ex 33:20)

Dit is soos in die son kyk.

As jy vandag vir ‘n uur in die
son staar, gaan jy die res van jou lewe blind wees.

Ons leef elke dag in die sonlig,
maar die son is te groot vir ons om oog in oog daarmee te staan te kom.

Dit is ‘n duidelike voorbeeld vir
ons om iets van God se grootheid te begin besef.

God is nog veel groter en
kragtiger as die son.

Ons mag elke dag lewe in die lig
van sy aanwesigheid, maar oog in oog met Hom te staan kom, dit is te veel vir
ons nietige en sondige mensies.

 

Dus, hoewel Moses nie God se
heerlikheid te sien gekry het nie - die HERE het aan Moses verskyn, maar net
van agter, tog het die HERE tot hom gespreek.

En in daardie paar woorde vind
ons die kern van God se karakter.

En ons wat bevoorreg is om die
Bybel by ons te hê, die Ou sowel as die Nuwe Testament, God se hele openbaring,
dit is vir ons duidelik dat in daardie enkele woorde al die kern van God se
optrede opgesluit lê, sy regverdige maar ook genadige en barmhartige optrede in
sy heilsplan, soos dit in Christus Jesus sy Seun tot volle ontplooing gekom
het.

 

Die groot impak wat God se
heerlikheid op Moses gehad het, het geblyk uit die feit dat sy gesig  geblink en geskitter het.

Dit was so helder, dat dit die
mense (Aäron en die Israeliete) bang gemaak het.

Hy moes gevolglik ‘n sluier voor
sy gesig plaas.

Dit was vir heel die volk
duidelik dat hier iets uitsonderliks plaasgevind het, dat Moses in God se
aanwesigheid was.

 

Dikwels het Moses teruggedink aan
hierdie indrukwekkende oomblik.

Aan dit wat die HERE toe vir hom
gesê het.

In Numeri 14:18 lees ons, in
verband met die HERE se besluit dat die Israeliete veertig jaar langer in die
woestyn moes bly, omdat hulle wou teruggaan na Egipte toe, Moses sê dan:

“Die HERE is lankmoedig en groot
van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit
ongestraf laat bly nie...”

Moses haal hier die woorde aan
wat die HERE self gesê het in Exodus 34.

Moses pleit by die HERE vir die
volk, deur hierdie woorde van God self te gebruik.

Moses gaan verder: “Vergeef tog
die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en
soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het.”

 

En jare later, aan die einde van
die 40 jaar in die woestyn, het Moses die volk nogmaals op hierdie groot
gebeurtenis gewys.

In sy afskeidsrede tot die volk
in Deuteronomium het Moses die volk weereens daaraan herinner, aan die feit dat
die God wat met hulle verbond gesluit het, ‘n barmhartige God is.

As dit mog gebeur het dat hulle
ver afdwaal, en baie verkeerde dinge doen, en die HERE sy regverdige oordele
oor hulle laat kom, en as hulle deur die nood gedrewe terugkeer, dan mag hulle
weet: “die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou
nie in die verderf stort nie” (Deut 4:31).

 

 

-         
In Christus seëvier sowel sy
regverdigheid as barmhartigheid

Die indruk wat hierdie woorde op
Moses gemaak het, maak dit vandag nog net soveel op ons.

Dit maak ons stil.

Dit laat ons besef dit gaan oor
Iemand wat soveel groter as ons is.

Iemand wat vir ons onbegryplik
is.

Wat geen verantwoording teenoor
ons hoef af te lê nie.

Maar ook Iemand van wie ons
volledig afhanklik is.

Sy heerlikheid het ‘n
ontsagwekkende skittering.

En die wonderlike is, en daarop
vestig art. 20 van die NGB ons aandag.

God het sy heerlikheid vir enkele
oomblikke aan Moses getoon, met die gevolg dat sy gesig gestraal het.

Maar toe God sy geliefde Seun na
die aarde gestuur het, het sy heerlikheid onder sy volk kom woon.

In Christus Jesus mog die volk
God se heerlikheid oog in oog te sien kry, maar op so ‘n wyse dat dit hulle nie
verbrand het nie, maar wel dat dit ons gesigte ook laat skitter.

Paulus skryf byvoorbeeld aan die
Korinthiërs dat wanneer God se volk hulle tot die Here bekeer, dat die
bedekking, die sluier, weggeneem word. (2 Korinthiërs 3:12-18)

Met onbedekte gesig soos in ‘n
spieël aanskou ons die heerlikheid van die Here.

Wie behoort aan Jesus Christus,
sy gedaante verander – net soos die van Moses destyds – van heerlikheid tot
heerlikheid.

 

Dit wat in die OT nog nie
eksplisiet duidelik was nie, word in die NT geopenbaar.

Dit bou voort op wat reeds in die
OT geopenbaar is, dit is nie in stryd daarmee nie.

God se veelsydige karakter, soos
Hy dit aan Moses geopenbaar het, daarin lê in sy wese sy hele reddingsplan al
opgesluit.

Maar eers in die NT het dit
eksplisiet geword.

Hoe sy barmhartige en tegelyk
regverdige karakter Hom daartoe gebring het om sy eie geliefde Seun te stuur om
die straf op Hom te neem.

 

Geliefde gemeente, ook vandag nog
mag ons bely, net soos die NGB, dat ons God sowel regverdig en barmhartig is.

Lank gelede in sy openbaring aan
Moses het God Homself so bekend gemaak.

Toe kon Moses en die volk dalk
nog gewonder het hoe dit moontlik is dat daardie karaktereienskappe kan
saamgaan sonder om mekaar te byt.

Maar deur die eeue van die Ou
Testament, deur al daardie eeue van God se verbondstrou, het geblyk dat dit
moontlik is.

En die allerduidelikste het dit
geblyk toe Hy sy geliefde Seun na die aarde gestuur het.

In Christus het God se
regverdigheid geseëvier.

Wat Hy destyds aan Moses gesê
het, naamlik dat Hy die sonde nooit ongestraf laat bly nie, het Hy waargemaak.

Hy het die regverdige straf oor sy
eie Seun uitgegiet.

Maar in Christus het God se
barmhartigheid ook geseëvier.

Want Hy het Hom tot ons
regverdiging opgewek, soos art. 20 sê.

Deur Hom mag ons die
onsterflikheid en ewige lewe beërf.

 

Deesdae is daar ‘n trend by
sommige teoloë om kritiek te hê op die leer van versoening deur voldoening.

Kritiek op hoe die
belydenisskrifte, soos die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse
Geloofsbelydenis, hierdie leer verwoord.

Ons mog vandag teruggaan na die
Bybel self, en nagaan hoe die belydenisskrifte eenvoudigweg net die Skrifte
naspreek.

 

Hy het sy Seun gestuur.

Hy het Hom aan die dood oorgegee.

Deur hierdie daad aan ons die
mees volmaakte liefde betoon.

Die belydenis het dit nie self
versin nie.

Die Skrif, God se eie Woord, gaan
ons hierin voor: God se Seun moes die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan
is, aanneem.

Hy moes in die menslike natuur
aan die geregtigheid voldoen.

Die straf vir die sondes deur sy
allerbitterste lyding en sterwe dra.

Die NGB verwys in hierdie verband
na Hebr 2:14-15: “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy
dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot
niet kon maak wat mag oor die dood het, dit is die duiwel – en almal kon bevry
wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”

Ook in Romeine 8 word daarop
gewys dat Christus mens moes word, om sodoende om aan God se regverdigheidseis
te kan voldoen:

Rom 8:3-4 “Want God het – wat vir
die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees – deur sy eie
Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die
sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon
word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

So het dit moontlik geword dat
Jesus, soos daar in Rom 4:25 staan “oorgelewer is ter wille van ons misdade en
opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.”

Aan God se regverdigheid voldoen
deur sy lyde en sterwe: daar is betaal..

Aan God se regverdigheid voldoen
deur sy opstanding: Hy kan die oorwinning aan ons uitdeel.. Die regverdige
staat wat Hy verwerf het, naamlik die ewige lewe wat Hy terugverdien het, kan
Hy nou met ons deel.

 

Die leer van versoening deur
voldoening weerspieel God se karakter, soos ons dit al in Exodus 34 kan vind,
en hoe God Homself deur die res van die eeue van die Ou Testament deur die
profete, en nog veel duideliker in die Nuwe Testament deur sy eie Seun,
geopenbaar het.

God is regverdig en barmhartig.

En enigiemand wat dit wat die
Skrif openbaar oor hierdie karaktereienskappe, begin afswak, tas God self aan.

Inderdaad, God se geregtigheid
laat ons bang en klein voel. Dit laat ons geweldig nietig en skuldig voel.

Dit dwing ons op die knieë.

Terselfdertyd mag ons, hoe nietig
ons ook voel, ook die besef bly behou dat Hy deur en deur eerlik en regverdig
is, dat Hy nie ‘n despoot is nie.

Ja dat Hy boonop ook barmhartig
is.

Gemengde gevoelens, as ons voor
God se troon nader.

Maar tog mag, hoeveel ons God ook
moet vrees, die immense dankbaarheid die botoon voer.

Romeine 8 verwoord hierdie
gevoel, en art. 20 verwys na hierdie hoofstuk.

“Wat sal ons dan van hierdie
dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees?

Hy wat selfs sy eie Seun nie
gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met
Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?

Wie sal beskuldiging inbring teen
die uitverkorenes van God?

God is dit wat regverdig maak.
Wie is dit wat veroordeel? ...

Wie sal ons skei van die liefde
van Christus?” (Rom 8:31-35)

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)