God sorg dat Salomo sy lewe afstem op die golflengte van sy verlossingsplan

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-09-06
Text: 
II Kronieke 1 : 1-13
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 6 September
2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 38:1-3

Votum

Seën

Ps 47:1,4

Wet

Ps 119:8,9

Gebed

Skriflesing: 1 Konings 3:1-15

Ps 89:8,9

Skriflesing: 1 Kronieke 29:10-30

Ps 132:7,8,9,11

Teks: 2 Kronieke 1:1-13

Preek

Ps 89:10,11

Gebed

Kollekte

Ps 89:12,14

Seën

 

 

 

Preek: 2
Kronieke 1:1-13

 

 

God verskyn aan die jong koning
Salomo . 

Hierdie bekende verhaal ken die
meeste van u seker al van kinderdae af.

‘n Pragtige geskiedenis.

Ons kyk  vandag in die preek na hierdie geskiedenis.

God het aan Salomo verskyn .

Ons sien in hierdie hoofstuk dat
die Here nie net met Salomo gepraat het in daardie bekende geskiedenis waarvan
ons vers 7 en volgende lees nie.

Maar daaraan voorafgaande verskyn
die HERE ook al aan Salomo, ons kan daarvan lees in die voorafgaande gedeelte,
die verse 1-6.

 

Tema: God
sorg dat Salomo sy lewe afstem op die golflengte van sy verlossingsplan

 

Eers iets meer oor die boek
Kronieke.

Hierdie boek is geskryf na die
ballingskap.

Waarskynlik was die boeke
Kronieke, Esra en Nehemia vroeër een geheel.

Een  lang, uitgebreide geskiedenisbeskrywing.

In die Hebreeuse Bybel staan
hierdie boeke in die volgorde: Esra, Nehemia, Kronieke.

In ons Bybel staan hulle los van
mekaar.

Volgens die Joodse tradisie is
Esra die skrywer van Kronieke.

Daar is ‘n goeie kans dat dit
waar is.

In elk geval het die skrywer
gelewe in die tyd van die wederopbou na die ballingskap.

Met hierdie boek wil hy ‘n sekere
boodskap aan die volk oordra.

Kort saamgevat die volgende
boodskap:

God gaan voort met sy heilshistoriese
plan.

Dit is opvallend dat die boek
Kronieke met ‘n geslagsregister begin.

Nou dink u seker: Ons het dan
nounet hoofstuk 1 gelees, maar daar was dan geen geslagsregister nie .

U is reg, maar ek bedoel naamlik
die begin van 1 Kronieke.

Eintlik is daar net een boek
Kronieke.

Maar omdat die boek Kronieke te
lang was om in een boekrol te pas, het hulle dit in twee gedeeltes opgedeel.

Vroeër was daar mos nie boeke
nie, maar boekrolle.

Dit is die rede hoekom ons tot
vandag toe praat van 1 en 2 Kronieke.

Ons teks staan aan die begin van
die tweede boekrol.

Maar die boek Kronieke begin dus
met ‘n geslagsregister.

Die eerste woord in die boek
is  Adam.

God het sy kerk vergader vanaf
Adam, die eerste mens, ook die eerste mens wat in sonde geval het.

Die boek Kronieke begin ook met
Adam.

In die geslagregister wat daarna
kom, volg die skrywer die lyn van God se kerkvergaderende werk deur die
geskiedenis.

In hierdie konteks gaan hy nou
ook verder.

Ook die jong koning Salomo staan
in hierdie konteks.

In die lyn van die geskiedenis
van God se reddingsplan.

 

Soos gesê, die skrywer van die
boek Kronieke het na die ballingskap gelewe.

Met hierdie boek wil hy sy lesers
bewus maak van die groter konteks waarin hulle lewe.

Al het daar maar net ‘n
handjievol Jode terug gekom uit die ballingskap,

al kon die nuwe tempel nie
naastenby vergelyk met die skoonheid van die 
tempel van Salomo nie.

Ondanks dit, mog hulle al is
hulle hoe klein en onaansienlik, deur God se genade verder lewe in  dieselfde lyn, die voortgaande lyn van God se
heilshistoriese werk op aarde.

Dit is dus, kort opgesom, die
tema van die boek Kronieke, of beter gesê die geskiedskrywing wat ons vind in
die boeke Esra, Nehemia en Kronieke.

 

Daar is nog ‘n saak wat ons
aandag vra.

Dit is die verhouding met die
boek Konings.

1 en 2 Konings is, soos u nou sal
begryp, ook eintlik een boek, verdeel oor twee boekrolle.

U weet waarskynlik dat Konings en
Kronieke parallel loop.

Konings en Kronieke beskryf
dieselfde geskiedenis.

Naas ooreenkomste is daar ook
verskille.

En die vraag wat ons nou besig
hou, is:

Hoekom verkil hierdie boeke,
terwyl hulle tog dieselfde geskiedenis beskryf?

In hierdie verband is dit
belangrik om die volgende in gedagte te hou.

Die skrywer van Kronieke, soos
gesê dalk Esra, beskryf net wat belangrik was vir die doel van sy boek.

In sy tyd, die tyd na die
ballingskap, is daar ‘n nuwe koninkryk opgebou, die tyd van die heerser
Serubbabel.

In hierdie konteks is sekere gedeeltes  uit die geskiedenis meer relevant as ander.

Om ‘n voorbeeld te noem:

Die boek Kronieke fokus slegs op
die Twee-Stammeryk

In die boek Konings gaan dit ook
oor die Tien-Stammeryk.

Die skrywer van Kronieke los dit
uit, hy skryf sy boek vir die teruggekeerde ballinge wat uit die Twee-Stammeryk
afkomstig was.

 

Nog ‘n voorbeeld.

In Kronieke word nie die sonde
van Dawid met Batseba beskrywe nie.

Dit laat sommige Bybelkritiese
eksegete by voorbaat die konklusie trek dat die Bybel dus nie betroubaar sou wees
nie.

Die skrywer van Kronieke sou
naamlik die swart bladsye uit die verlede oorslaan.

Hy idealiseer Dawid, asof die
sondeloos sou wees.

Tog is so ‘n konklusie te gou getrek.

‘n Ander sonde van Dawid word wel
volledig in die Kroniekeboek beskryf.

Die feit dat hy die volk getel
het om homself daardeur te verheerlik.

Dit word heel eksplesiet vertel
in Kronieke 21:7.

“En hierdie saak was verkeerd in
die oë van God: Daarom het hy Israel swaar getref. Toe sê Dawid tot God:  Ek het swaar gesondig, dat ek hierdie ding
gedoen het.”

Vervolgens word God se straf
beskryf deur die Kronis.

Gemeente, die feit dat ‘n skrywer
selekteer wanneer hy oor die verlede skryf maak hom daarom nog nie onbetroubaar
nie.

Niemand kan alles beskryf nie.

Die Kronis het met ‘n doel sekere
onderwerpe uit die verlede gekies.

Die onderwerpe wat hy kies gaan
globaal gesien veral oor sake wat met die regering van die land en met die
tempelbou te make gehad het.

En deur die Heilige Gees se
leiding het die Kroniekeboek ook ‘n plek in die Bybel gekry.

‘n Boek wat in die eerste plek
geskryf is om rigting te wys aan die klein oorblyfsel van die volk wat uit die
ballingskap teruggekeer het, wat besig was om ‘n nuwe bestaan in die beloofde
land op te bou, huise, die tempel, ‘n muur rondom die stad, ensovoorts.

Die boek Kronieke het vir hulle
rigting te gee, deur terug te gaan en te wys op die Verbondsgod se omgang met
sy volk in die verlede.

En ook vir ons vandag leer die
Kroniekeboek hoe die HERE met sy kinders omgaan.

Daarom dat ons nog steeds hierdie
boek lees en daaruit preek.

 

In ons teks is die bekendste
gedeelte waarskynlik die verskyning van God in die nag aan Salomo.

Hoe dit presies gebeur het word
nie vertel nie.

Uit die boek Konings weet ons dat
dit ‘n droom was. 

Miskien dink u nou

Kan dit vandag ook nog gebeur?

Laat ons dit nie te vinnig ontken
nie.

God sou ook aan ons in ‘n droom
kan verskyn.

God is ook koning oor die ryk van
die drome, ons gedagtewêreld.

Ook die verwarde gedagtes van ons
drome.

Meer nog, God ontmoet ons op al
ons weë, selfs helder oordag.

Ons lewe is vol van tekens en
aanwysings van God.

Die roepstem van God klink orals.

Miskien dat ons in ons Westerse
rasionele tradisie ons te veel hiervoor afsluit.

Dat ons wat dit betref te wêreldgelykvormig
geword het.

Maar aan die ander kant, dit is
ook belangrik om nie na die teenoorgestelde uiterste deur te slaan nie.

Ongelukkig gebeur dit ook .

Dat aan gesigte en visioene en
tekens meer waarde geheg word as aan die Woord.

Hier in Suid-Afrika is dit ‘n
algemene verskynsel.

 

Want laat dit veral duidelik
wees, in sy Woord spreek God tot ons helder en duidelik verstaanbaar.

In die Bybel spreek God
ondubbelsinnig met ons.

Daarom is dit ‘n belangrike
beginsel dat ‘n mens wat jy ook al meemaak en hoe oortuig jy ook al is van ‘n
persoonlik teken of visioen van God,

dit nooit koersbepalend vir jou
lewe mag wees solank dit nie in ooreenstemming is met God se geopenbaarde wil
nie.

Drome, tekens en visioene kan ook
van die duiwel kom.

Die oorsprong is nie swart op wit
te bewys nie.

God se Woord wel.

Daarom is God se Woord die vaste
rigsnoer vir ons lewe.

 

As ons na die geskiedenis van die
jong koning Salomo kyk, sien ons dit ook op ‘n heel mooi manier.

Salomo gaan, nie soos koning
Saul, sy eie gang nie.

Hy gaan nie na ‘n plek wat hy
self kies om sekerheid oor die toekoms te kry nie.

Saul het sy sekerheid in Endor
gesoek, maar Salomo gaan, saam met die hele volk, na Gibeon.

Salomo soek God se stem in
Gibeon.

En dan praat ons nie in die
eerste plek oor God se verskyning aan hom nie.

In die eerste plek staan ons stil
by wat in vers 1-6 gebeur.

 

1 Kronieke, die eerste boekrol, eindig
met die troonsbetyging van Salomo.

As ons dan met die tweede deel
begin, vind ons eers in vers 1 ‘n oorgangsteks, ‘n kort samevatting van die
geskiedenis wat volg.

‘n Logiese inleiding aan die
begin van ‘n nuwe boekrol.

Maar in vers 2 word die verhaal
uit die vorige boekrol weer vervolg.

Wat ons daar dan lees is die
eerste selfstandige aksie wat die jong koning Salomo onderneem het.

Hy bring ‘n offer.

 

Maar as mens wil offer het jy ‘n
altaar nodig.

Waar was die altaar van die Here?

Nog nie in Jerusalem nie.

Die ark was al wel daar, op die
dorsvloer van Arauna.

Dawid het ‘n spesiale tent
daarvoor opgerig.

Maar die tabernakel het nog nie
na Jerusalem verhuis nie.

Waarom weet ons nie.

Die koperaltaar was nog in
Gibeon.

Dit is die altaar wat destyds
deur Besaleël gebou is toe die volk  in
die woestyn was.

Gibeon was ongeveer 10 km van
Jerusalem af.

Salomo het dus na Gibeon gegaan.

Hy het ook die hele volk opgeroep
om soontoe te gaan.

 

Hoekom het hulle dit gedoen?

Daar staan: om die HERE te
raadpleeg.

Om hierdie nuwe regeerperiode in
sy naam te begin

‘n Goeie begin is halfpad gewin.

Dit is ook hier so.

En Salomo het uit die verlede van
sy pa geweet dat jy as koning nie maar net jou eie gang kon gaan nie.

God het sy pa Dawid daarby bepaal
deur ‘n insident wat in ons oë miskien onbelangrik lyk maar wat tog deur God
pynlik gestraf is.

Ek bedoel die gebeure met die ark
toe Dawid dit naar Jerusalem gebring het.

Hy het dit aanvanklik op sy eie
manier gedoen - op ‘n wa.

En daardeur het hy nie genoeg
eerbied vir die heiligheid van God getoon nie.

Een van die mense wat langs die
wa geloop het, is dodelik getref.

Almal het toe goed geskrik.

Die projek om die ark na
Jerusalem te bring het toe vir ‘n geruime tyd stil gelê.

Dit is te danke aan hierdie
insident dat Salomo nie nou sommer sy eie gang gaan nie.

Hy bou nie gou-gou vir homself ‘n
altaar in Jerusalem nie.

Hy bou nie gou-gou ‘n eie
heiligdom, soos wat hy dit persoonlik sou verkies nie, soos wat koning Jerobeam
dit later gedoen het..

Dit met noodlottige gevolge.

Jerobeam het naamlik sy eie gang
gegaan.

 

Die jong koning Salomo het die  lesse uit die verlede ter harte geneem.

Hy het met die hele volk God gaan
dank.

Gaan bid vir sy seën.

Hom gaan raadpleeg op die plek
waar Hy Hom laat vind.

En daardie plek was in die OT die
tempel, of toe nog die tabernakel.

Broers en susters, waar laat God
hom vandag vind?

Waar kom mens op God se
golflengte?

Daar waar sy geopenbaarde wil
bekendgemaak en eerbiedig word.

Daar waar die heilshistoriese lyn
sy voortgang het.

Wat word eintlik daarmee bedoel?

Die heilshistoriese lyn...?

Hiermee word bedoel die weg wat
God deur die geskiendenis van die wêreld volg om die mensdom te red.

In die OT word hierdie weg van
God deur die geskiedenis heen beskryf.

Hierdie weg sien jy soms kort en
bondig saamgevat in ‘n geslagsregister.

‘n Klomp name...

Maar aan hierdie name kleef
verhale, geskiedenis.

Verhale van God se bemoeienis met
sondige mense.

Met so ‘n heilshistoriese geslagsregister
begin die Kroniekeboek ook.

Adam, Set, Enos... Noag, Sem, en
dan later Dawid, Salomo tot waar die Kronieke eindig met Kores wat sy
toestemming gee om terug te keer na die land Kanaän.

So volg die skrywer God se hand
deur die geskiedenis.

Dit noem ons dus die
heilshistoriese lyn.

Die geskiedenis van die heil.

Die geskiedenis van hoe daar
redding gekom het vir die mense op aarde.

 

God se reddende hand gaan daarna
nog veel verder.

As mens die Bybel lees kan jy dit
volg.

Na Kronieke is daar nog baie Bybelboeke.

Dink aan ‘n boek soos Mattheüs,
wat ook met ‘n geslagsregister begin.

Dit begin ook met die naam van Adam.

Maar as mens Mattheüs en Kronieke
vergelyk, sien mens dat Mattheüs die geslagsregister van Kronieke op datum
bring.

God se reddende hand het aktief
gebly in die geskiedenis.

Kronieke het uitgebreid stilgestaan
by koning Salomo en wat God in hom aan sy volk gegee het.

Mattheüs staan uitgebreid stil by
koning Jesus en die koninkryk wat hy gebring het.

So gaan die geskiedenis verder.

God se reddende optrede kan mens
op die voet volg.

Sy helpende hand staan nie ‘n
moment stil nie.

 

Broeders en susters, wil u ook
daaraan deel hê?

Wie sou eintlik nie hiervan  die voordeel wil hê nie.

Of beter gesê:

Wie sou gered wil word van die
ewige ondergang nie?

Wie sou nie in God die ewige
vreugde wil vind nie?

Dit is nie toevallig dat dit die
blye boodskap genoem word nie.

Die Evangelie van God se reddende
hand, wat na ons uitgesteek word in Jesus Christus.

Hierdie blye boodskap is daar vir
almal.

Dit is vir ons as mense nie
moeilik om op God se golflengte te kom nie.

Laat ons in hierdie opsig ook die
lesse uit die geskiedenis ter harte neem.

Nie dat ons Salomo moet
idealiseer nie.

Ons weet hoe dit later gegaan
het.

Hoe Salomo se veelvoud aan
ongelowige vroue hom tot ‘n val gebring het.

Hoe hulle hom weer daartoe verlei
het om nie alleen te offer of die plek wat God daarvoor bedoel het nie, maar op
verskeie hoogtes,

en let wel ook nog vir vreemde
gode,

Koning Salomo het uiteindelik teleurgetsel.

Tog leer die skrywer van Kronieke
ons, dat hoe vol sonde Salomo ook al was, dat hy hier aan die begin van sy
koningskap sy heil nie by homself gesoek het nie, in sy eie vermoëns nie, sy
eie ondernemende idees nie, dit in teenstelling met byvoorbeeld sy opvolger Jerobeam.

Dink maar aan al Jerobeam se slim
idees.

Hy het vir homself ‘n totaal nuwe
heiligdom, priester en offerkultus ontwerp.

Salomo het egter die les uit die
geskiedenis ernstig opgeneem, die les wat sy pa Dawid op ‘n pynlike manier moes
leer.

En Salomo vat die uitspraak van
Samuel teen koning Saul ernstig op:

“Het die HERE behae in
brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE?”
(1Sam 15:22)

Dit bring hom daartoe om juis by
die tabernakel te gaan offer.

Salomo het ‘n enorme offer
gebring: duisend brandoffers staan daar in vers 6.

Maar uit die vervolg blyk dit dat
sy hart, dit wat vir die HERE eintlik belangrik is, ook betrokke was.

Hy het naamlik die HERE wysheid
en kennis gevra om God se volk in geregtigheid te kan regeer.

Die HERE wat die hart van elke
mens ken, het gesien dat Salomo opreg was:

Kyk maar na vers 11, God sê daar:

“Omdat dit in jou hart gewees het
en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs ‘n lang
lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk
waarooor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer - daarom word die wysheid en
die kennis aan jou gegee.”

U ken die vervolg - Salomo het
nog baie meer gekry.

So onthou God niks aan hom wie se
hart opreg is nie.

God kan die hart aansien.

Soos die spreekwoord sê: dit is
net sterk bene wat rykdom kan dra.

Sterk bene is bene wat weet hoe
om voor God te kniel.

En dan laat God Homself verbid.

Selfs ongevraagd skenk Hy aan
Salomo ook nog rykdom en eer.

 

God maak Homself bekend

Dit is nie moeilik om op sy
golflengte te kom nie.

Luister na sy stem en rig u op sy
woord.

Dit vra wel dat mens jou eie
wysheid, jou eie wil, die mond moet snoer.

Dat jy jou onderwerp aan God se
wysheid.

Wie God se wil in sy lewe volg,
mag vertrou op sy seën oor sy lewe.

Om dag na dag te mag lewe in God
se teenwoordigheid.

Elke dag sy sterke en reddende
hand in jou eie lewe op te merk.

God se reddende hand maak
geskiedenis.

Die geskiedenis van sy heil gaan
verder.

En wat ‘n voorreg dat u en ek daarby
ingesluit word.

Moenie dit van jou laat afvat
nie!

Lewe elke dag vanuit God se
woord.

Merk God se hand in u lewe op.

Want elke dag is sy hand daar.

In seen, in verdriet, in
beproewing, in alles

God het aan Salomo verskyn.

Nie in die eerste plek in die
nag, die gedeelte wat in vers 7 beskryf word nie.

Maar in die eerste plek op die
plek waar Hy Hom laat ken.

By die tabernakel, daar waar God
se Woord klink.

Hierdie twee gaan hand in hand.

Dieselfde geld in u lewe.

God verskyn aan u, in die eerste
plek daar waar Hy Hom laat ken.

En dit is in sy Woord

Deur Jesus Christus, want die
hele Woord gaan oor Jesus Christus.

Hy verskyn aan u daar waar sy
Woord klink.

In die kerk, die kerk wat sy
Woord eerbiedig.

Maar nie alleen daar nie.

God verskyn ook aan u in die
alledaagse lewe, in gewone dinge,

Merk sy stem op, waar u ook is of
wat u ook al doen.

Bly ingestel op sy golflengte.

En so gaan die geskiedenis van
God se heil in die lewe van mense voort.

Die heilshistorie mag selfs
voortgang vind in u lewe.

‘n Wonder om so deel te mag wees
van God se plan.

Moenie dit ooit van u laat afvat
nie.

God het daarvoor gesorg dat
Salomo sy lewe, ook sy regeringsbeleid, afgestem het op die golflengte van sy
verlossingsplan.

God sorg ook dat jy jou lewe kan
afstem op die golflengte van sy verlossingsplan.

Hou hierdie geskenk was.

Dis van lewensbelang om op die
juiste golflengte te bly.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)