Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds PG Boon
Kopiereg word voorbehou.
PRETORIA-MARANATA,
4 Oktober 2015 AD, 10:15
Voorsang: Sb 42:1,2,3,5
Seën
Ps 139:1,6
Wet
Ps 119:50,62
Gebed
Doopsformulier
Doop: Lihan Hendrik de Vries
Ps 105:5
Gebed (uit doopsformulier)
Skriflesing: Markus 10:13-45
Ps 139:9
Teks: Markus 10:13-16
Preek
Sb 15:1-4
Gebed
Kollekte
Sb 15:5-7
Seën
Preek:
Markus 10:13-16
Toe ons nounet die formulier vir
die doopsbediening gelees het, het ons ook al ons teks gelees.
In die tweede deel van hierdie
formulier word ‘n aantal redes genoem hoekom kinders – ook baba’s – die doop
behoort te ontvang.
Een van die redes is dat verwys
word na dit wat die Here Jesus in ons teks gedoen het.
Christus het die kinders omhels,
die hande opgelê en geseën.
As ons nou na ons teks kyk, dan
is die Griekse woord wat hier vir ‘n kind gebruik word, ‘n woord wat vir baba’s
gebruik word, of hoogstens vir klein kleuters.
Dit gaan hier dus nie oor
laerskoolkinders nie, maar regtig klein kinders wat nog op die arm gedra moet
word.
Dit maak hierdie teks dan ook
baie aktueel vandag, want ook in hierdie diens het ons ‘n klein babatjie in ons
midde.
Tema: Die
seën van die Here Jesus maak die poort van die koninkryk oop vir hulle wat word
soos kindertjies
Dit wat in ons teks gebeur, lyk
eintlik na nie veel meer as ‘n insident nie.
Toevallig op ‘n dag, tussen alle
ander belangrike dinge wat Jesus gedoen het.
Soos ‘n belangrike persoon onverwags
op die sypaadjie in ‘n groepie kinders vasloop, terwyl hy van die een na die
ander afspraak haas,.
Mens sou dink dat hy hulle glad
nie eers raaksien nie, net op sy horlosie kyk of hy nie laat is vir sy volgende
afspraak nie.
Besig besig besig.
Het Jesus ook gedruk gevoel vir
tyd, toe daar ineens, sonder ‘n vooraf afspraak, ‘n groep ouers met hulle
kinders op Hom afgekom het?
Die pa’s het voorop geloop, kan
mens uit die oorspronklike Griekse teks aflei.
Die pa’s het hulle baba’s op die
arm gedra, hulle het slegs verlang dat Jesus hulle kindertjies sou aanraak.
Niks meer nie.
Hulle was daarvan op die hoogte
dat Jesus deur bloot mense aan te raak, hulle gesond kon maak.
Nie dat hierdie baba’s siek was
nie.
Maar, en dis wat ‘n pa en ma maar
al te goed besef, ‘n baba is ‘n baie swak en kwetsbare wesentjie, en daar wag
‘n GROOT toekoms vol gevare.
Hoe weet jy of alles reg sal loop
vir jou baba?
Heel begryplik dus, dat die ouers
begeer het dat Jesus hulle kindertjies aanraak.
Sy aanraking sou goed wees vir
hulle lewe, vir die toekoms van hulle kleintjies.
Uit die blote feit dat die pa’s
na Hom gekom het, blyk dat hulle hulle vertroue op Jesus gestel het, wat betref
die toekoms van die volgende geslag in Israel.
Hy is mos die Messias wat sou
kom?
Hulle aksie, om die baba’s by
Jesus te bring, is ‘n soort geloofsbelydenis.
As Hy die Messias is, dan het
hulle kindertjies sy seën mos nodig!
Maar dan lees ons die reaksie van
die dissipels.
Hulle staan afwysend teenoor
hierdie inisiatief.
Jesus is besig genoeg.
Hy het al sy tyd meer as nodig
vir onderrig en vir al die genesings, en al die debatte met die Fariseërs en
die kerklike leiers.
En dan ook nog die gesprekke met
hulle.
Hierdie ouers se versoek is nie
dringend nie.
En dus word die ouers streng
aangespreek deur die dissipels.
Jesus het ander prioriteite,
hulle kan nie nou aankom met hulle kleintjies nie.
Jesus is met belangriker sake
besig, Hy is besig om die koninkryk van God te bring.
Dit is sake van groter belang,
groter as hierdie niksseggende versoek.
In vers 14 lees ons dan Jesus se
persoonlike reaksie.
Die ouers en hulle versoek het
Hom nie ontgaan nie.
Die woordewisseling wat daar met die
dissipels by die deur van die huis plaasgevind het.
En, blyk daar, dit irriteer Hom.
Markus gebruik hier ‘n sterk
uitdrukking: Jesus is verontwaardig.
Hy het hulle baie kwalik geneem.
En Hy gryp in, voor dit te laat
is, voordat die pa’s met hulle kindertjies weer verdwyn het.
Die dissipels kry die opdrag om
die kinders na Hom te laat kom, en om hulle nie langer te verhinder nie.
En ons lees: Hy het hulle omarm,
sy arms om hulle geslaan.
Mens kan moontlik ook vertaal: Hy
het hulle op die arm geneem.
En Hy het seënend sy hand op
hulle gelê.
Israel se jeug kry uit Jesus se
hande die seën vir die toekoms.
En dit blyk meer as duidelik uit
sy woorde, dat hierdie nie sommer net ‘n insident is nie, iets tussen al die
ander belangrike afsprake deur nie, al die belangrike dinge ivm die koms van sy
koninkryk nie.
Inteendeel, hier is Jesus juis
met sy hooftaak besig, dit is die
koninkryk.
En sy dissipels moet dit goed
besef.
Aan sulkes behoort die koninkryk van God.
Dat dit nie net ‘n onbelangrike
insident was nie, blyk ook uit die feit dat hierdie gebeurtenis in drie van die
vier evangelies beskryf word.
Net ter vergelyking: die opwekking
van Lasarus uit die dood vind ons slegs in een evanglie (Johannes).
Die opwekking uit die dood van
die jong man van Naïn, vind ons ook net in een evangelie (Lukas).
Daarenteen vind ons die
allerbelangrikste gebeurtenisse uit die lewe van Jesus op aarde, die feit dat
Hy gekruisig is en dat Hy daarna uit die graf opgestaan het, dit vind ons in al
vier evangelies.
Dit was duidelik die
belangrikste.
Maar ook hierdie gebeurtenis met
die klein kindertjies het dus ‘n belangrike plek in die Bybel gekry.
Dit het uiteraard daarmee te make
dat Jesus ‘n belangrike element van sy onderrig daaraan verbind het.
“Voorwaar Ek sê vir julle” – hoor
ons Jesus praat – “elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang
nie, sal daar nooit ingaan nie.” (vers 15)
So het Jesus se onderrig aan sy
dissipels dikwels gewerk.
Hy sluit aan by praktiese
omstandighede, by toevallige gebeurtenisse – wat is toevallig eintlik?
Uiteindelik is hierdie
gebeurtenis glad nie toevallig nie.
Uit hierdie soort gebeurtenisse
laat Hy sy dissipels lering trek.
Hy vestig hulle aandag daarop.
Dit is ‘n baie belangrike
leermoment vir die dissipels, en daarmee ook vir elke mens.
Daarom dat dit so ‘n prominente
plek in die Bybel gekry het.
Daarvoor het die Heilige Gees
gesorg.
Volwasse mense moet soos kinders
word, as hulle die koninkryk sal wil binnegaan.
Hierdie gebeurtenis met die
baba’s en hulle pa’s was aanleiding vir nog verdere onderrig van Jesus aan sy
dissipels.
Ons het daardie onderwys ook
gelees vanoggend.
Dink aan die ryk jongman, hoe hy die koninkryk sal moet binnegaan.
Dink ook aan die gedeelte oor die
beloning vir die volg van Jesus.
Al hierdie onderrig draai rondom
die vraag: wie gaan binne?
Wie deel in die hemelryk?
Hierdie vrae koppel Jesus
eksplisiet aan hierdie aksie van die pa’s, dat hulle na Jesus toe gekom het.
Jesus is as’t ware die deur na
die hemelryk.
Dink aan die gelykenis waar Jesus
Homself vergelyk het met die deur van die skaapskraal.
Wie soos ‘n kind na Jesus kom,
sal vind dat die poort na die hemelryk oop staan.
En ouers wat saam met hulle
kinders na Jesus kom, sal deur Hom ook die hemelryk binnegaan.
Wie durf hulle dan nog teen te
hou?
Hier lê ‘n duidelike verband met
vandag.
Wanneer ouers die doop vir hulle
kind aanvra, dan doen hulle eintlik dieselfde as die pa’s waarvan ons in die
teks gelees het.
Hulle bring hulle baba na Jesus.
So het Johan & Liné hulle
seun gebring om Jesus se seën te ontvang, die teken en seël dat Hy ook met
hierdie kind ‘n verbond gesluit het.
Die kindertjies ontvang Jesus se
seën.
En daarmee ontvang hulle in
beginsel die hemelryk.
Jesus vereenselwig dit met
mekaar.
In vers 14 sê hy: want aan sulkes
behoort die koninkryk van God.
En so is dit ook met die doop:
Deur die doop ontvang Lihan
toegang tot God se koninkryk.
Dit is die kragtige
onvoorwaardelike belofte van Jesus.
Mog dit gebeur, en ons hoop en
bid dat dit die laaste is wat sal gebeur, dat Lihan as baba te sterwe kom, dat
bestaan daar volstrekte sekerheid, dat hy die koninkryk van God ontvang het.
En hierdie sekerheid, wat vandag
met sy doop aan hom gegee word, bly sy lewe lank, hoe oud hy ook mag word.
Van God se kant is dit vas en
betroubaar, ja en amen.
Voorwaar – die woordjie voorwaar
in ons teks is ‘amen’ in die oorspronklike teks.
Seker, waaragtig, betroubaar.
Van God se kant verander daar
niks nie.
Die belofte van die verbond staan
vas.
Slegs wanneer die verbond van die
ander kant, dus van die mens se kant, geminag word;
as dit by herhaling en
volharding, ja verharding, verwerp word;
as ‘n verbondskind sy God, wie se
naam oor hom uitgespreek is by sy doop, verloën, dan maak daardie persoon deur
sy eie optrede die belofte ongedaan.
Dan gee hy die belofte wat hy
ontvang HET van God, by wyse van spreke, weer terug aan God, uit
ondankbaarheid, uit volgehoue verharding.
Maar so word hier dus, aan die
begin van die lewens van hierdie kleintjies, en ook aan die begin van Lihan se
lewe, die poort van die hemelryk vir hom oopgemaak.
Aan sulkes behoort die koninkryk van God.
Aan kinders en grootmense wat kom
om alles vir hulle toekoms uit Jesus se hand te ontvang.
Aan sulkes, en ook slegs aan sulkes, behoort dit.
As die dissipels meen dat hulle
en Jesus te besig is, te besig met voorbereidings vir die koninkryk, te besig
om aan kinders aandag te gee, dan het hulle nog nie begryp dat mense nie die
koninkryk hoef voor te berei nie, maar dat ook hulle moet leer leef uit genade,
in die hoedanigheid van ‘n kind.
Van slegs in so ‘n hoedanigheid
kan jy die ryk van Jesus Christus in ontvangs neem.
Om te bid: laat u koninkryk kom.
En om Jesus in alles te volg, dit
is om die hemelryk te ontvang.
Om Jesus in alles te volg, dit is
om mee te werk aan die koms van die koninkryk.
Om sy wil te doen.
Al jou talente, tyd en geld te
gee in diens van Hom.
Neem byvoorbeeld die ryk jongman.
Jesus se oproep aan hom was baie
eenvoudig.
Dit is nie genoeg om jouself
keurig aan die gebooie te hou nie.
Verkoop alles wat jy besit en
volg My!
Jesus wil nr. 1 wees in jou lewe.
Hy is die deur na die hemelryk.
Jy moet Hom soos ‘n kind leer
volg.
‘n Klein kind vra nie by alles –
hoekom? – nie.
‘n Klein kind vertrou sy ouers.
‘n Paar jaar gelede, toe my
kinders nog klein was, was ons ‘n keer op ‘n kampeerterrein.
Daar was ‘n parkie met swaaie.
Ek het toe op een van die swaaie
gaan sit.
My seun, ek dink hy was so drie
jaar oud, het op die swaai langsaan gaan sit.
Daar was egter iets verkeerd met
die swaai waarop ek gesit het, met die gevolg dat ek skielik agteroor getuimel
het.
Onder die swaai was ‘n plas
water, en ek het in die modder beland.
Toe my seun dit sien, het hy
seker gedink dit hoort so.
Dus toe tuimel hy ook agteroor in
die modder.
So is ‘n kind.
Hy glo en hy volg sy ouers.
As pa van ‘n gebou afspring, sal
hy dit ook doen.
Wys jy hoe ‘n groot
verantwoordelikheid jy as ouer het.
Dit is baie belangrik dat julle
as doopouers hiervan deurdronge is.
Julle het die taak om julle
seuntjie by Jesus te bring.
Nou, met die doop, maar ook die
volgende jare met die opvoeding.
Julle het beloof: ons sal hom
opvoed en laat opvoed in hierdie leer.
Met die bedoeling dat, as Lihan
eendag volwasse is, hy uit eie beweging die Here Jesus sal volg, omdat hy –
danksy sy opvoeding – Hom werklik leer vertrou het.
En dat hy nie by alles – hoekom
dit, hoekom dat? – sal vra nie, maar homself vrywillig aan die leiding en raad
van God sal oorgee.
Dit sien ons so duidelik by die
dissipels, by die ryk jongman, en dit geld ook vir ons.
Om sonder reserwes die Here Jesus
te volg, dit kry mens net reg as jy kinderlik op Hom vertrou.
As jy – al is jy volwasse – die
nederigheid van ‘n kind gehou het.
Want ‘n kind weet dat hy uit
homself weinig kan, maar dat sy pa en ma alles kan doen.
En so leer Jesus sy dissipels om hulle
eie eersug en geldingsdrang te laat vaar.
Op die pad na die koninkryk moet
ons ons Heiland volg.
En dinge aanneem op sy gesag,
sonder om steeds – hoekom? – te vra.
Dit was ‘n geweldig belangrike
les vir die dissipels.
Geen wonder dat hierdie teks so ‘n
prominente plek in die Bybel gekry het nie.
En ook vir ons is dit ‘n geweldig
belangrike les.
Laat ons dit dan ook saamneem
huis toe uit hierdie erediens.
Jesus maak die poort van die koninkryk
wyd oop vir hierdie kind.
Hierdie poort bly oopstaan, solank
hierdie kind, al het hy volwasse geword, sy kinderlike gesindheid hou: om sy
Heiland in alles te vertrou en na te volg.
So mag ons ook terugdink aan ons
eie doop.
Toe het die deur van die koninkryk
ook vir ons oopgegaan.
En ook vir ons bly die deur oop,
solank as wat ons hierdie gesindheid van ‘n kind bly vashou.
Amen.
(kyk in preek)