Christus leer ons in sy Woord hoe sy kerk geregeer moet word

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-10-18
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 30
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 18 Oktober
2015 AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Sb
47:1

Votum

Seën

Ps 31:12,13

Nagmaalsformulier

Gebed

Ps 116:6

Aan tafel:
Lofverheffing; Ps 116:8,10

Dankgebed

Skriflesing:
1 Timotheüs 3

Teks:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 30

Preek

Sb 49:3,5,6

Gebed

Geloofsbelydenis
van Nicea

Ps 40:4

Kollekte

Ps 40:7,8

Seën

 

 

 

 

Preek: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 30

 

Tema: Christus leer ons in sy
Woord hoe sy kerk geregeer moet word:

-        
deur ‘n geestelike bestuurswyse

-        
deur spesiale ampsdraers aan te
stel

-        
deur duidelike vereistes vir die
spesiale ampsdraers vas te stel

 

1         Deur
‘n geestelike bestuurswyse

Hierdie
artikel, wat terugverwys na die Skrif, begin met die stelling: die kerk moet
met ‘n geestelike bestuurswyse geregeer word.

Hierdie
stelling moet ons verstaan teen die (historiese) agtergrond van hoe die Roomse
kerk geregeer is.

Die
bestuursvorm van die Roomse kerk het ver afgewyk van dit wat in die Nuwe
Testament staan.

Om ‘n
voorbeeld te noem: waar daar in die Nuwe Testament ‘n duidelike onderskeid gemaak
is tussen die geestelike gesagsdraers wat oor die kerk regeer, en die siviele
gesagsdraers wat oor ‘n land regeer, waar daar in die Nuwe Testament ‘n
duidelike onderskeid tussen kerklike en wêreldlike owerheid gemaak is, was dit
in die Roomse kerk nie meer die geval nie.

Ook in die
Ou Testament was daar ‘n duidelike skeiding van magte.

‘n Persoon
mog nooit èn koning èn hoë-priester of priester wees nie.

In die
Heilige Romeinse Ryk in die tyd toe die NGB geskryf is, het die pous eintlik
die hoogste politieke gesag gehad.

Die Heilige
Romeinse Ryk, dit was ‘n gebied wat gestrek het van die Baltiese See ten noorde
van Duitsland, tot die Middellandse See, die suidelikste puntjie van Italië.

Die keisers
het van die pous hulle gesag ontvang.

 

Die
Reformasie het egter teruggekeer na die geestelike bestuurswyse soos dit uit
die Skrif na ons toekom.

Die wyse hoe
die kerk regeer word, is nie ‘n middelmatige saak, waaroor die Skrif geen
uitspraak doen nie.

Die Skrif
gee duidelike instruksies wat betref die posisie van die spesiale ampsdraers.

In die
Roomse kerk het daar ‘n hiërargiese stelsel ontwikkel.

Dit het deur
die eeue so ontwikkel dat die biskop van Rome die mag al hoe meer na homself
toegetrek het.

Daar was
deur die eeue ‘n groot magstryd tussen bepaalde stede.

Mens kan
dink aan die groot magstryd tussen Rome en Konstantinopel, die hedendaagse
Istanbul, die hoofsetel van die Oosterse kerk.

Die Westerse
en Oosterse kerk het in die jaar 1054 geskeur, dus amper ‘n duisend jaar
gelede.

Daar was ‘n
groot magstryd gaande tussen Rome en Konstantinopel.

In die
volgende artikel van die NGB, art. 31, word nader ingegaan op hierdie euwel van
hiërargie wat betref die spesiale ampte.

 

Om terug te
keer na art. 30, die geestelike bestuurwyse hou in dat ampsdraers se gesag
beperk is tot geestelike sake.

Op
verskillende terreine van die lewe het God amspdraers aangestel, op elke
terrein met spesifieke take en verantwoordelikhede.

‘n Ouderling
se gesag is beperk tot die kerklike terrein.

Die owerheid
of polisie se gesag is andersoortig.

‘n Pa en ma
se gesag lê in die gesin, en het ook sy eie aard.

‘n
Onderwyser se gesag is beperk tot die skool, en het ook sy eie aard.

En so kan
mens nog voorbeelde noem.

Op elke
spesifieke terrein van die lewe stel God gesagdraers aan.

Hulle moet
hulleself beperk tot hulle terrein, en mag nie op ander terreine hulle gesag
begin misbruik nie.

Ook moet
hulle hulle gesag uitoefen op ‘n wyse wat pas by daardie spesifieke terrein.

So kan ‘n pa
vir sy kind ‘n pak slaag gee.

Die owerheid
kan iemand in die gevangenis opsluit.

Maar op sy
terrein regeer die ampsdraers, soos die NGB dit noem, met ‘n geestelike
bestuurswyse.

Hulle regeer
nie deur dwang nie, hulle kan byvoorbeeld iemand nie in die tronk toesluit nie.

Maar hulle
regeer deur onderrig, voorligting, vermaning en bemoediging.

Hulle
onderwerp die gemeentelede nie aan hulleself nie, maar aan Christus en sy
Woord.

 

(Tema:
Christus leer ons in sy Woord hoe sy kerk geregeer moet word:

-        
deur ‘n geestelike bestuurswyse)

 

2         Deur
spesiale ampsdraers aan te stel

NGB art. 30
onderskei tussen drie spesiale ampsdraers: predikante, ouderlinge en diakens.

Predikante
word hier genoem bedienaars van die Woord.

Ten eerste
dienaars of herders om die Woord van God te verkondig en die sakramente te
bedien.

 ‘n Predikant word in ‘n spesiale amp aangestel
om hierdie twee hooffunksies te verrig:

bediening
van die Woord en die sakramente.

Hierdie twee
funksies is nou verbonde aan die amp van predikant.

Dit staan
hier in die NGB nie toevallig nie.

Behalwe die
historiese konteks wat ek hierbo genoem het, naamlik die bestuursvorm van die
Roomse kerk, was daar nog ‘n ander historiese konteks, en dit was die
Anabaptiste of Wederdopers in Guido de Brès se tyd.

Die
Wederdopers het nie net van die Gereformeerdes verskil omdat hulle die
kinderdoop verwerp het nie, daar was op ander punte ook groot verskille.

Die
Wederdopers was byvoorbeeld die aanstigters van die beeldestorm, terwyl die
Gereformeerdes sterk daarteen gekant was.

Die NGB is
juis geskryf om aan die owerheid duidelik te maak dat die Gereformeerdes nie
saamgestem het met die aksies van die Wederdopers, soos die beeldestorm, nie.

 

Die
Wederdopers het verder ook heel ander idees gehad oor die regering van die
kerk.

Om die
verskil kortliks te verduidelik:

Ons ken in
die Gereformeerde kerkregering ‘n onderskeid tussen die amp van alle gelowiges
en die spesiale kerklike ampte.

Elke
gelowige is gesalf, dws het ‘n ampsposisie, as profeet, priester en koning.

So bely ons
in Sondag 12 van die Heidelbergse Kategismus.

Dit is die
amp van elke gelowige.

Maar
daarnaas bestaan daar in die kerk ook spesiale ampte.

Dit is nie
iets wat die kerk uitgedink het nie, dit is in navolging van die Skrif.

Dink aan hoe
in die Nuwe Testament die apostels die diakenamp ingestel het (Handelinge 6).

Dink aan hoe
die apostels in alle gemeentes wat hulle geplant het, oudstes of ouderlinge
aangestel het.

Dink aan hoe
die apostels nuwe bedienaars van die Woord opgelei het, mense soos Timotheüs en
Titus.

Vir hierdie
spesiale ampte staan daar ook spesifieke vereistes en instruksies in die Nuwe
Testament.

Die
Wederdopers het egter die onderskeid tussen die amp van alle gelowiges en die
spesiale ampte opgehef.

Hulle het
oorgereageer teen die hiërargie van die Roomse kerk.

Met die
gevolg dat die spesiale ampte as sulks afgeskaf is.

Volgens
hulle was dit nie net die dominee wat die Woord en sakramente mog bedien nie.

Elkeen wat
opreg bekeer was, mog dit doen.

Enigiemand
mog opstaan en beweer dat hy ‘n roeping van God ontvang het.

In die gemeente
mog daar geen gesagsverskille meer wees nie, almal moes gelyk wees.

Hierdie
tendens is vandag nog steeds sigbaar in charismatiese groeperings, waar byvoorbeeld
soiets soos ‘n ouderling dikwels nie voorkom nie, waar bedienaars van die Woord
dikwels geen opleiding hoef te volg nie, of net ‘n baie beperkte opleiding.

 

Maar ‘n
gemeente wat nie spesiale ampsdraers het nie, mis iets.

Hulle is nie
kerk soos Christus dit wou gehad het nie.

Ons lees
byvoorbeeld in Titus 1:5, waar Paulus aan Titus skryf:

“Om hierdie
rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat
oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel
het.”

Daar het dus
nog iets belangriks ontbreek.

Paulus het
op sy sendingsreise kerke begin plant.

Maar ‘n kerk
is nog nie ‘n volwaardige kerk as dit geen spesiale ampsdraers het nie.

Titus moes
daardie werk voltooi.

Dit was ‘n
noodsaaklikheid dat ouderlinge aangestel moes word.

Christus
stel onderherders aan wat moet toesien dat dinge in elke kerk plaasvind in
ooreenstemming met God se Woord.

En om dit te
kan doen, moet daardie ampsdraers aan spesifieke vereistes voldoen.

 

Hoekom is
dit eintlik so dat, soos die NGB hier noem, dat die funksies van prediking en
sakramentsbediening spesifiek aan die predikant toevertrou is?

Gemeente, dit
gaan nie soseer oor die handelinge self nie.

Soos u weet,
gebeur dit ook dat ouderlinge preek lees, en in uitsonderlike gevalle het dit
ook al gebeur dat ‘n ouderling die doop bedien.

Maar oor die
handeling as sulks gaan dit nie.

Dit gaan
veral oor die inhoudelike kant.

‘n Predikant
is iemand wat ‘n deeglike opleiding moes ontvang het, om ‘n preek te kan maak
wat die Woord vanuit die grondteks uitlê en ook verantwoord kan toepas op
vandag se situasie.

‘n Ouderling
kan ‘n preek lees wat deur ‘n predikant gemaak is, maar die ouderling is nie
opgelei om die preek self te gemaak het nie.

Natuurlik is
daar soms uitsonderinge, naamlik ouderlinge wat – behalwe vir hulle dagtaak – spesiale
gawes ontvang het om ook self die Woord te kan verklaar en bedien.

Sulke
ouderlinge kan soms deur die gemeente beroep word om predikant te word,
ooreenkomstig art. 8 van die Kerkorde.

Verder gaan
dit ook nie oor die doophandeling as sulks nie, maar die predikant het die taak
om, vanuit sy opleiding en ervaring, te bepaal wie toegelaat word tot die
sakramente en wie nie.

 

Hierdie is
dus, in kort, waarom die spesiale ampte ingestel is.

Om leiding
aan die gemeente te gee, deur verantwoorde Woordbediening.

Om te waak
oor die gemeente, wie toegelaat word tot die gemeente en wie nie, wie toegelaat
word tot die sakramente en wie nie.

Dit is ‘n
taak wat nie enigiemand kan verrig nie, maar slegs hulle wat, op grond van
bewese Skrifkennis, wysheid, ervaring en persoonlike voorbeeld, deur God geroep
word, met behulp van die gemeente, om hierdie leierposisies in te neem.

 

(Tema:
Christus leer ons in sy Woord hoe sy kerk geregeer moet word:

-        
deur ‘n geestelike bestuurswyse

-        
deur spesiale ampsdraers aan te stel)

 

3         Deur
duidelike vereistes vir die spesiale ampsdraers vas te stel

Gemeente, die
wyse waarop die kerk geregeer word, dit is nie sommer ‘n willekeurige saak nie.

Dit is nie
iets wat ‘n gemeente self mag bepaal volgens hulle eie wense en voorkeure nie.

Die wyse
waarop die kerk geregeer moet word, is in die Skrif aan ons geopenbaar.

Nie alle
details nie, maar wel die basiese fundamentele uitgangspunte.

In hierdie
verband verwys die NGB na 1 Timotheüs 3.

In die kerk
moet alles naamlik behoorlik en ordelik geskied volgens die voorskrif wat die
apostel Paulus in die brief aan Timotheüs daarvoor gee.

In Timotheüs
3 lees ons die voorskrifte oor watter persone gekies moet word om in die ampte
te dien.

Dit is een
van die fundamentele uitgangspunte.

Nie net
enigiemand mag homself as ampsdraer uitroep nie.

Ook mag die
gemeente nie sommer enigiemand as ampsdraers aanstel nie.

Daar is
spesifieke vereistes waaraan daardie persone moet voldoen.

Paulus se
voorskrif aan Timotheüs is nie vir misverstand vatbaar nie.

Nie sommer
enigiemand nie.

Inteendeel,
‘n opsiener moet onberispelik wees.

Die man van
een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig, geen
drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, vriendelik, nie strydlustig,
nie geldgierig, een wat sy eie huis goed regeer, sy kinders met alle waardigheid
in onderdanigheid hou.

As iemand
nie eers sy eie huis goed kan regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God
kan sorg?

 

Al hierdie
vereistes vir ‘n opsiener, die voorskrifte van die apostel Paulus, soos art. 30
dit noem, al hierdie vereistes moet mens natuurlik korrek uitlê.

Neem
bevoorbeeld die vereiste dat ‘n opsiener die man van een vrou moet wees.

Hierdie
vereiste moet uitgelê word in die konteks van die res van Paulus se brief aan
Timotheüs, asook die res van die Skrif.

Die wyse hoe
mens dit uitlê, mag nie op gespanne voet staan met die konteks nie.

Kom ek
probeer dit te verduidelik met ‘n voorbeeld.

Sê nou maar
daar is ‘n broeder wie se vrou oorlede is, en hy het ‘n paar jaar later weer
hertrou.

Is so ‘n
broeder die man van een vrou?

1 Timotheüs
3:2 gee dalk nie uitsluitsel op hierdie vraag nie, maar dit word wel duidelik
as mens hierdie vers in die konteks van die res van die Skrif lees.

Dan begryp
ons dat Paulus in hierdie vers benadruk dat ‘n ampsdraer ‘n voorbeeld van
huwelikstrou moet wees.

‘n Ampsdraer
mag nie getroud wees, en terselfdertyd omgang met ander vroue hê nie.

‘n Ampsdraer
kan ook nie met meer as een vrou getroud wees nie – poligamie.

Maar ‘n
broeder wie se vrou oorlede is, en wat na ‘n paar jaar hertrou, oor hom kan
mens met alle vrymoedigheid sê – in die konteks van die onderrig van die res
van die Skrif – dat hy wel voldoen aan hierdie voorskrif.

Hy is ‘n
voorbeeld van huwelikstrou, hy is ‘n voorbeeld van kuisheid.

Dit geld
trouens net so vir ‘n ampsdraer wat nie of nog nie getroud is nie.

Weer eens,
in die lig van die res van die Skrif kan ons ook konkludeer dat hierdie vers
nie ‘n ongetroude persoon verbied om in die amp te dien nie.

Dis nie die
bedoeling van hierdie vers nie.

 

Ons bely
dus, saam met art. 30 dat die voorskrifte van die apostel Paulus hier in 1
Timotheüs 3, ook vir ons vandag nog as voorskrifte geld.

Hierdie
voorskrifte van Paulus staan natuurlik nie op hulleself nie.

Daar is meer
plekke in die Nuwe Testament wat voorskrifte vir die spesiale ampte bevat.

En behalwe
vir hierdie voorskrifte, is daar ook die voorbeelde in die Nuwe Testament, en
moenie die Ou Testament vergeet nie, van hoe persone in die spesiale ampte
gefunksioneer het.

Die apostel
Paulus se voorskrifte is dus heeltemal in lyn met Christus se onderrig aan sy
dissipels.

Die
twaalftal wie se onderrig die pilare geword het van die Nuwetestamentiese kerk.

 

‘n Man van
een vrou, is dus die voorskrif, en dit geld vandag nog steeds.

Nie dat
almal hulle vandag nog aan hierdie voorskrifte hou nie.

Net soos in
Guido de Brès se tyd daar in die Roomse kerk ook nie aan hierdie voorskrif
gehou is nie.

In die
eerste plek het die Roomse kerk die feit dat ‘n ampsdraer volgens die Skrif
toegelaat word om in die huwelik te tree, afgeskaf.

Hulle het
die selibaat ingestel.

Tot op
vandag mag ‘n priester, biskop, kardinaal of pous nie ‘n vrou hê nie.

Dit druis
lynreg in teen Paulus se voorskrif.

En in die
tweede plek het die pouse en kardinale in die eeu van die Reformasie deurgaans
minnaresse gehad.

Daar is geen
twyfel daaromtrent nie.

Dikwels is
daar in die literatuur verwys na die nefies van die pous, terwyl almal geweet
het dat met die woord nefies eintlik sy seuns bedoel is.

Ook daardie
losbandigheid van die pouse en kardinale het direk teen die Skrif se voorskrif
ingedruis.

 

En soos in
Guido de Brès se tyd, toe hy hierdie art. 30 geskryf het en weer gepleit het
vir die handhawing van die voorskrifte van die Skrif omtrent die spesiale
ampte,

net so het
ons ook vandag die plig om te hou by dit wat die Skrif aan ons voorskryf.

‘n
Ampsdraer: dit is die man van een vrou.

Dis ‘n
voorskrif ook vir ons tyd.

Nie: die man
van een man.

Of: die vrou
van een vrou, soos die sinode van die NG Kerk onlangs die deur na die amp
oopgemaak het vir praktiserende gay-mense nie.

Weer eens:
in die lig van die onderrig van die res van die Skrif is dit onmoontlik om dit
uit hierdie vers, 1 Timotheüs 3:2, af te lei.

So ‘n
besluit, om gay-mense tot die ampte toe te laat, is geneem onder druk van die
samelewing.

As daardie
sinode meer eerbied vir God se Woord gehad het, sou hulle daardie besluit nie
geneem het nie.

Moenie na
hulle mooi vroom woorde luister nie, ook die satan vermom homself soos ‘n engel
van die lig.

Maar toets
hulle dade aan die Skrif.

 

Hierdie
besluit om die spesiale ampte oop te maak vir praktiserende homoseksuele, het
natuurlik nie uit die lug geval nie.

Meer as twee
dekades eerder het dieselfde NG sinode naamlik ook al die Woord van God
geminag, toe hulle die deur oopgemaak het vir die vrou in die amp.

Gay
ampsdraers is maar net ‘n logiese gevolg hierop, en moontlik is dit ook nog nie
die eindstasie nie.

Die
samelewing sal die kerk nog verder druk om die ampte nog meer oop te stel.

Byvoorbeeld
in die Protestantse kerk in Nederland is die kansel al vir ‘n atheïs oopgestel.

 

Is hierdie
artikel van die NGB nog relevant vandag?

As ons om
ons heen kyk, kan ons beslis ‘ja’ daarop antwoord.

Die wyse
waarop die kerk geregeer behoort te word volgens artikel 30 van die NGB, wat maar
net ‘n samevatting gee van dit wat in die Skrif staan, hierdie wyse is nie
algemeen in alle kerklike denominasies nie.

 

Vanaand het
daar voor die diens met die afkondigings ‘n versoek na u gekom.

Naamlik of u
name wil opgee van broeders wat u geskik ag om in die amp te dien.

Verkieslik
met motivering.

Gemeente,
die deur word opgemaak om wat betref die ampsleer te begin dwaal, wanneer ‘n
gemeente passief raak.

Om ‘n
voorbeeld te noem, wanneer die kerkraad nie meer name uit die gemeente ontvang
nie.

Of wanneer
daardie broeders wie se name ontvang is, aandui dat hulle nie beskikbaar is om
in die amp te dien nie.

Of wanneer
al hoe minder broeders in ’n gemeente begin voldoen aan die vereistes in die
Skrif gestel.

In so ‘n
situasie, as daar ‘n mate van passiwiteit begin intree, dan begin praktiese
oorwegings ‘n al hoe swaarder rol speel, en dan begin die Skrif en wat die
Skrif van ons verlang, op die agtergrond te raak.

Dan begin
mense vrae te vra: as daar nie genoeg broeders is nie, hoekom nie ook susters
nie?

Daarom aan u
die oproep: gee gehoor aan die kerkraad se oproep.

Stuur name
vir die kerkraad, moenie dit aan ander oorlaat nie.

En broer, as
jy verkies word, stel jouself beskikbaar.

 

Ja, art. 30
van die NGB is vandag nog baie relevant, omdat die Skrif ook in die 21e nog
relevant is, nog steeds die kompas vir ons lewe is, ons persoonlike lewe, maar
ook die kerklike lewe.

Art. 30
praat maar net die Skrif na.

Ons is
bevoorreg dat ons mag behoort aan ‘n gemeente, en aan ‘n kerkverband, wat
ernstig is oor die Skrif se voorskrifte met betrekking tot die ampte.

Mag die HERE
ons ook in hierdie opsig, in die toekoms, by sy Woord bly vashou.

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)