Indien
u die preek wil gebruik kontak asseblief ds PG Boon.
Kopiereg
voorbehou.
Liturgie:
Votum: sing Ps 121:1
Seën
Ps 22:1,3
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 27:11-56
Ps 22:4,5,6
Teks: HK sondag 15
Preek
Amenlied: Ps 22.8-11
Geloofsbelydenis (sing)
Gebed
Kollekte
Slotlied: Sb 6:1,2,4,5,6
Seën
Preek:
Wat is lyding?
Baie van u weet wat dit is.
Om ondraaglike fisiese pyn te ly.
Of om sielkundig of emosioneel broos en kwesbaar te
wees.
As jy bedreig voel deur ander mense, in die steek
gelaat.
Lyding is ook as jy sien hoe jou geliefdes swaarkry.
Mense kan op verskillende manier baie swaar ly.
Wat het Christus se lyde ingehou?
Hoe erg het Christus gely?
As ons dink aan die laaste week van sy lewe – hoe erg was
sy lyding toe? Ongetwyfeld het ons Here
Jesus Christus psigies gely.
Hy is verwerp deur sy eie volk, sy eie mense wou niks
meer met hom te make hê nie.
Hulle was heeltemal gewillig om hom oor te lewer aan die Romeine.
Hulle het hom liefs so gou as moontlik dood gesien.
En sy dissipels, sy vriende?
Die laat hom uiteindelik ook in die steek.
Dink aan Judas wat hom verraai en oor laat lewer aan die
soldate.
En die ergste van alles, Petrus, die rots, die leier van
die dissipels wat tot drie keer toe maak asof hy Chrisus nie ken nie.
Hoe het Christus inderdaad nie gely nie?
En dan praat ons nog nie eens van sy liggaamlike lyding
nie.
Hoe Hy geslaan is, gemartel, hoe hulle hom gegesel het,
hoe Hy net soos Barabbas die moordenaar behandel is,
hoe Hy ‘n doringkroon moes dra,
hoe hulle Hom gespot het,
en hoe hy gebloei het.
Daarna moes Hy sy kruis dra, meer presies, die
horisontale balk van sy kruis moes Hy dra, al die pad bergopwaarts na Golgota
waar die vertikale balk al gereed gestaan het waaraan Hy opgehang sou word.
Hoe die spykers deur sy hande en voete skeur, hoe Hy daar
hang tussen hemel en aarde, hoe Hy stadig maar seker versmoor het.
Want dit is wat gebeur met mense wat aan ‘n kruis
opgehang word.
Vanweë die onnatuurlike posisie waarin jy hang word jou
lugweë toegeknyp en word jy benoud.
Maar as jy jouself probeer opdruk om asem te skep dan
voel jy die verskriklike pyn deur jou hande en voete des te meer, daar waar die
spykers ingekap is.
En so beswyk Christus uiteindelik aan sy pyn, aan benoudheid
en uitputting.
Christus het inderdaad baie swaar gely, dit is wel
duidelik.
Veral die laaste week van sy lewe was ‘n marteling wat
uitgeloop het op die dood.
Nou sou mens jouself kon afvra: het Christus swaarder
gely as ander mense?
Was sy lyding erger as die van ander mense wat ook ‘n
marteldood moet sterf? Dink aan mense
wat in oorlogstyd doodgemartel is, of aan mense met ‘n lang sterfbed en hewige
pyne.
Dat die lyding van Christus onmenslik was is
duidelik.
Maar sê ons nou dat Christus se lyding noodwendig
swaarder was as die van alle ander mense?
Sou mens nie ook kon sê:
Juis omdat Jesus gely het soos soveel ander mense in
hierdie wêreld, daarom kan Hy met ons medelye hê.
Hy kan met ons identifiseer en ons met Hom.
Maar sê nou maar Jesus se lyding sou veel swaarder gewees
het, kan mens dan nog wel met jou eie swaarkry, pyn en verdriet na Hom toe
gaan?
Sou ons dan miskien nie kan verwag dat Jesus sou sê:
Hou tog op, so erg is dit ook nie, wat Ek gely het was
soveel erger as wat jy deurmaak, en Ek het ook daardeur gekom.
Sal Jesus dan nog wel met ons medelye kan hê as sy lyde
soveel erger was?
Hierdie is alles vrae wat by ons opkom as ons Sondag 15
lees.
Wat is eintlik die aard en intensiteit van die lyde van
Christus? Wat hou sy luding en sterwe
vir ons in?
Daarby wil ons vanaand stil staan as ek aan u die
evangelie mag verkondig onder die tema:
Tema:
Die Godverlatenheid in die lyde en sterwe van Christus
Voordat ons hierop inhoudelik verder ingaan eers nog
dit:
Het Jesus gely onder Pontius Pilatus soos daar in die
Apostoliese geloofsbelydenis staan, of is hy gekruisig onder Pontius Pilatus,
soos daar in die geloofsbelydenis van Nicea staan?
Soms lees ons die Apostoliese geloofsbelydenis so: “Wat
gely het, onder Pontius Pilatus gekruisig is...” pleks van “Wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is...”. As ons dit so lees dan stem dit ooreen met die
geloofsbelydenis van Nicea: “Onder
Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig, Hy het gely is begrawe...”.
Die vraag is, waar kom die komma in die Apostoliese
geloofsbelydenis? Na “gely het” of na “Pilatus”?
Offisieël staan die komma in ons psalmboek na “Pilatus”.
Maar watter een is nou reg?
Dis natuurlik nie so vreeslik belangrik nie.
Die komma kan maar op albei plekke staan: Christus is
inderdaad gekruisig onder Pontius Pilatus.
Maar Christus het inderdaad ook gely onder Pontius
Pilatus.
As ons maar in gedagte hou dat Christus sy hele lewe op
aarde gely het, nie net onder Pilatus nie.
Waar moet die komma staan?
Waarskynlik is dit verkeerd soos dit nou staan. Hierdie fout is al baie lang gelede gemaak,
maar omdat dit nie so baie verskil in betekenis nie veroorsaak nie, is dit deur
die eeue nie nodig geag om te verander nie.
Hoe het hierdie fout gekom?
Wel, in die tyd toe hierdie geloofsbelydenis geskryf is,
baie lang gelede dus is in die tyd van die vroeë Christelike Kerk, het die
mense ander skryfgewoontes gehad as vandag.
Alle woorde is vas aan mekaar geskryf, sonder
spasies.
Hulle het ook geen leestekens gebruik nie.
Dit is, net soos die geval is met die Nuwe Testament,
eers later bygevoeg.
Maar goed, dit is wel duidelik: Jesus is gekruisig onder
Pontius Pilatus, en Hy het ook gely onder Pontius Pilatus.
Maar wat word eintlik daarmee bedoel as ons sê “Jesus het gely onder Pontius Pilatus”.
Wat beteken die “onder”?
Vandag, as ons wil sê wanneer iets gebeur het, dan
gebruik ons ‘n jaartal. Byvoorbeeld kan
mens sê: my pa is in 1945 gebore.
Vroeër het hulle dit nie so gedoen nie.
Hulle het nie jaartalle genoem nie.
Die gewoonte was om te verwys na die regeringsperiode van
‘n bepaalde koning, Byvoorbeeld: in die dae van koning Josia, of in die
sterfjaar van koning Ussia, of in die 15e jaar van keiser Tiberius.
En so het Christus gely en het hy gesterf tydens die
regeringsperiode van Pilatus.
Dit is dus wat met die woordjie ‘onder’ bedoel word.
Dit is ‘n tydsaanduiding.
Maar daar is meer.
Toe Jesus as aangeklaagde voor Pilatus gestaan het, het Hy
nie sommer voor enigiemand gestaan nie, maar voor ‘n regter.
En wie voor ‘n regter staan, staan voor God!
Regters is plaasvervangers vir God op aarde.
So het Pilatus die taak gehad om God se reg te handhaaf,
ook toe Jesus voor hom verskyn.
Jesus erken self hierdie bevoegdheid van Pilatus.
Ons lees in Johannes 19:10 & 11:
“En Pilatus sê vir Hom:
Praat U nie met my nie? Weet U nie dat
ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as
dit u nie van bo gegee was nie.”
Daarom het Pilatus groteliks gesondig deurdat hy die Here
Jesus veroordeel het uit vrees vir die Jode.
Hy het selfs tot vyf keer toe getuig dat Jesus onskuldig
is.
En so het die wettige regter heel duidelik gemaak dat
Jesus nie vir sy eie oortredinge sterf nie.
Hy sterf vir ons s’n.
Om God se toorn van ons weg te neem.
God se toorn wat soos ‘n dreigende wolk steeds bo die
aarde hang.
Daarom kan u en ek nou die dag van die wederkoms van
Christus met ‘n geruste en skoon gewete tegemoet gaan.
Mens hoor deesdae soms dat mense praat van
Godsverduistering.
Dit beteken dan iets soos dat mense hulle sig op God
verloor, die sig op God is verduister.
So kom dit dat mense nie meer die Bybel, as die Woord van
God, as riglyn vir hulle lewe aanvaar nie.
Hulle kan nie meer glo dat die Bybel van God af kom nie,
dis bloot ‘n menselike boek oor God.
Maar gemeente, dit sou eintlik meer korrek wees om nie
van Godsverduistering te praat nie, maar eerder van mensverduistering.
Want die oë van mense is verduister, met die gevolg dat
hulle God nie meer sien nie.
Mense verloor hulle sig op God, mense word blind vir die
hand van God in hulle lewens.
Blind vir die hand van God in die skepping, blind vir dit
wat God deur Jesus vir die wêreld gedoen het,
blind vir wat die Heilige Gees aan ons openbaar in die
Bybel.
Mensverduistering, nie Godsverduistering nie.
Godsverduistering... dit maak ons gelukkig nie mee
nie.
Egte Godsverduistering, dat God die mens nie meer sien
nie, of nie meer wil sien nie, dit is iets verskrikliks.
Egte Godsverduistering, dit sou beteken dat dit heeltemal
donker sal word rondom jou.
Ons het daaroor gelees in Mattheüs 27.
Jesus word aan die kruis gehang, en bo aan skryf hulle
die ironiese opskrif:
“Dit is Jesus, die
koning van die Jode”.
Hy word saam met 2 rowers gekruisig, asof Hy self ook een
was.
Die wat daar verby kom spot met hom, skud hulle kop en
sê:
“U wat die tempel
afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van
die kruis!”.
En: “Ander het Hy
verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.
As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons
sal in Hom glo.
Hy
het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het
gesê: Ek is die Seun van God.”
Steeds moet Jesus ly onder die spot en smaad van mense,
maar dit was nog nie die ergste nie, gemeente, nee.
Hierna gebeur dit, soos
Johannes skryf “En van die sesde
uur af [in ons tyd is dit omtrent 12 uur die middag, dus as die son op sy
hoogste is] het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe [dis
3 uur die middag]; en omtrent die negende
uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My
verlaat?”
In aramees, Jesus se moedertaal: “Eli, Eli, lama sabagtáni?”
Dit was die ergste.
Toe dit 3 uur lang pikdonker word.
Dít was die Godsverduistering.
Ons, mense, kan dit nie verklaar nie, maar so het dit
gebeur.
Toe God sy Seun, ons Here Jesus, nie meer wou sien nie,
toe word dit donker.
Hier gebeur dinge wat vir ons onverklaarbaar is, maar in
die volgende 3 uur woed daar ‘n geweldige stryd.
Jesus word deur sy Vader verstoot.
Jesus, belaai met die sonde van ons almal.
Daar aan die kruis, in daardie 3 ure, gebeur die mees
ingrypende ding in die geskiedenis van die wêreld.
God keer sy Seun die rug toe.
Jy kon dit nie mis nie.
Dis donker, pikdonker.
En aan die einde van die 3 ure sterf Jesus.
Op daardie oomblik wat Hy sterf, skeur die voorhangsel
van bo na onder in twee stukke.
Die gordyn wat in die Ou Testament simbolies die skeiding
gemaak het tussen sondig en sondeloos.
Tussen God en die mens.
Daardie gordyn skeur God nou veelbetekenend in twee
stukke.
Daar was ook ‘n aardbewing.
Rotse skeur en grafte gaan oop.
Grafte in daardie tyd was meestal in die vorm van ‘n
grot, ‘n spelonk in ‘n berg, met ‘n groot rots voor die opening gerol.
Baie van hierdie spelonke dan toe oopgegaan, en sommige
mense het teruggekeer uit die dood, net soos die geval was met Lasarus, kort
daarvoor.
Dit alles wat hier gebeur het, maak ‘n geweldige
indruk.
Die Romeinse hoofman en die soldate wat dit alles sien
word baie bang, doodsbeangs, en sê: “Waarlik, Hy was die Seun van God”.
Godsverduistering.
Dit ervaar ons gelukkig vandag nie meer nie.
As dit sou gebeur, as God sou herhaal wat Hy toe gedoen
het, dan sou dit vandag ook letterlik baie donker word.
Nee, Godsverduistering hoef ons gelukkig nie mee te maak
nie.
As mense God nie meer sien nie, beteken dit nog nie dat
hulle deur God verlaat is nie.
Maar hierdie Godverlatenheid, dit het Jesus wel
meegemaak.
En daarom, broers en susters, daarom was Jesus se lyde swaarder
as enige lyde wat ooit deur mense ervaar is.
In sy sterwensuur wou Hy op God vertrou, maar God was nie
daar nie. Godverlatenheid, dit is die
ergste wat daar is.
Geen mens kan ‘n voorstelling daarvan maak nie.
Godverlatenheid, dit is presies dieselfde as, om ‘n ander
woord te gebruik: die hel.
Die hel is ‘n Godverlate plek.
Die Bybel sê nie presies of die hel ‘n plek is, ‘n plek
onder die aarde of êrens in die ruimte of waar ook al nie.
Wat die Bybel wel sê oor die hel, is dat God daar nie is
nie.
En dit is die ergste wat ‘n mens kan oorkom, dat Hy sy
rug op jou draai.
Dit is iets wat van geen enkele mens gesê kan word
nie.
Die blote feit dat ‘n mens leef, beteken dat God in sy
lewe teenwoordig is, of die mens dit nou wil insien of nie.
Die diepte van Christus se lyding kan ons nie verstaan
nie.
Maar dit bring ons wel onder die indruk.
Dat dit alles moes gebeur sodat daar vir ons mense weer ‘n
toekoms is.
As ons dit so aanhoor, dan word ons aan die een kant
beskaamd, en aan die ander kant onsettend dankbaar.
Hoe groot is God nie?!
Hoe goed is Hy nie vir ons nie?!
Hy stuur Sy Seun om ons vry te maak.
Wat ‘n onvoorstelbare offer.
En hierdie liefde van God vir ons dra baie vrug.
Nie alleen ontvang God Sy eie Seun by Hom terug as
oorwinnaar oor die dood nie. Christus
vat ons ook saam met Hom.
Terug na ons Skepper en hemelse Vader.
Gaan u deur ‘n dal van lyding in hierdie lewe?
Liggaamlike pyn?
Voel u dat die ouderdom toeslaan?
Is u bang?
Ervaar u psigiese pyn?
Depressie?
Ervaar u verlatenheid, eensaamheid?
Ervaar u gemis?
Voel dit vir jou of God nie daar is nie?
Of God nie vir jou omgee nie.
Voel dit asof God jou in die steek gelaat het?
Geliefdes, die feite is anders.
Selfs die grootste krimineel op aarde is nog nie deur God
in die steek gelaat nie. Selfs so ‘n
persoon word nog die daglig van God se aangesig gegun.
En vir elkeen wat aan Jesus Christus behoort geld hierdie
boodskap:
In lewe, en selfs in my sterwe, sal God my nie verlaat
nie.
Danksy Sy versoeningswerk.
Danksy die feit dat Hy deur Pontius Pilatus veroordeel
is.
Danksy die feit dat Hy gely het, sy hele lewe op aarde maar
veral aan die einde daarvan.
Toe Hy aan die kruis gehang is.
Toe Hy die kruisdood gesterf het, wat deur God vervloek
is,
teken dat Hy verwerp is deur hemel en deur aarde.
Danksy die feit dat Hy aan die kruis deur God verlaat is,
soos dit sigbaar geword het deur die donkerste duisternis.
Danksy Sy versoeningswerk kan ons vandag in die lig
lewe.
Ook as jy vandag jou eie kruis moet dra, doen jy dit in
die lig, en word dit nooit weer so donker soos toe nie.
Amen.
(kyk in preek)