Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds PG Boon
Kopiereg voorbehou.
Votum
Seën
S: Ps 62:1
Gebed
Viering nagmaal (lees kort formulier)
Aan tafel: Skriflesing: 1 Johannes 5
S: Ps 62:4,5,6
Teks: HK Sondag 11
Preek
Amenlied: Ps 32:1,6
Gebed
Geloofsbelydenis (Nicea)
S: Sb 1:1 (Maria sing oor die naam wat sy ontvang het om vir haar Kind, die
Saligmaker te gee)
Kollekte
Slotlied: Ps 145:10,11,12
Seën
Preek
Het dit u al opgeval dat mense wat die lotto gewen het, altyd anoniem wil
bly?
Mens sou dink dat iemand wat iets besonders ontvang het, dit graag met
ander mense sou wou deel, dit ook vir ander mense wou wys.
Dis natuurlik ook verstaanbaar dat iemand wat ‘n lotery wen graag anoniem
wil bly.
Al is dit baie geld, sal dit gou op wees as jy aan al jou familie en
vriende moet uitdeel.
En natuurlik lê diewe en skelms ook op die loer.
Mens wonder of so ‘n persoon nou verlos is van al sy geldelike sorge, of
miskien juis nie.
Die groot verskil met hierdie gebeure en dit waar ons vanmiddag oor praat
lê hierin: iemand wat ‘n nuwe lewe van Jesus Christus ontvang, wat redding uit
sy sondes ontvang, hoef nie anoniem te bly nie.
Inteendeel, met die pryse wat Jesus uitdeel is daar geen gevaar dat dit
weer gou op is nie.
Jesus is ‘n bron van lewende water wat nooit opdroog nie.
Sy naam mag deur die hele land weerklink, en elkeen wat deur Jesus verlos
is, kan dit sonder skroom aan Jan en alleman vertel.
Tema: Jesus is ons Verlosser – Hy
heeltemal, en Hy alleen
‘n Naam met
‘n betekenis
Kortliks iets oor Jesus se naam: Die
eerste persoon wat mog weet wat God se Seun se naam op
aarde sou wees was Maria.
Die engel Gabriël het haar vertel.
Die tweede om dit te hoor was Josef, met wie Maria verloof was, hy hoor dit
ook van Gabriël.
Later toe hulle met mekaar praat vind hulle uit dat albei die naam by die
engel gehoor het.
Die naam was vir beide die bewys dat die ander die waarheid praat oor die
baba en die engel se verskyning.
Die engel het ook laat weet hoekom die baba se naam Jesus sou wees:
Matt 1:21 “want dit is Hy wat sy volk
van hulle sondes sal verlos”.
Aan die een kant was Jesus destyds ‘n heel gewone naam.
Ons weet van baie seuns onder die Jode wat die naam Jesus gehad het
destyds.
In Hand 13:6 lees ons van iemand met die naam Bar Jesus, en in Kol 4:11
lees ons van iemand met die naam Jesus wat die bynaam Justus het.
Aan die ander kant was dit ook ‘n baie besondere naam, want in die naam lê
‘n opdrag opgesluit.
Die betekenis van hierdie naam was iets wat Jesus, die seun van God, op Hom
sou neem om dit waar te maak: Jesus – Redder
uit ons sonde.
Stellige
uitsprake
Wat nou opval in Sondag 11 van die HK, is dat daar baie stellige uitsprake
in staan.
Byvoorbeeld: Jesus verlos ons van al ons sondes,
En
“Slegs een van twee dinge is
moontlik: of Jesus is nie ’n volkome Verlosser nie, of...”.
Ons vind ook sulke stellige uitsprake in die gedeelte wat ons gelees het
uit 1 Joh 5, byvoorbeeld:
“Elkeen wat glo dat Jesus die
Christus is, is uit God gebore”;
en
“Wie anders is dit wat die wêreld
oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”;
en
“Hy wat die Seun het, het die lewe;
wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”
Hierdie uitsprake onderstreep elkeen die punt waaroor dit nou gaan: Jesus
is ons Verlosser – heeltemal.
Nou kan jy jou afvra – hoekom doen die Bybel so moeilik hieroor.
As ons nou weer die lotery as voorbeeld neem – iemand wat die lotto wen is
nie verplig om voortaan net van daardie geld te leef nie.
As so ‘n persoon nog steeds wil aanhou werk en ekstra geld verdien, daar’s
mos niks op teen nie?
Hy kan mos sy geld op die bank sit en gewoon aanhou werk.
Jesus plus
...
Hoekom is dit met die Here Jesus nie so nie?
As iemand nou sou sê: Here Jesus, baie dankie dat U al my sondes wil
vergewe, dis mooi dat U so veel aan my wil skenk, maar dis ok, dit hoef nie
alles vir my nie. Ek sal self ook betaal
vir sommige van my sondes, en daar is ander wat my daarby kan help ook.
Dis wonderlik om die groot geskenk van vergewing te kan ontvang, maar ek
het dit nie heeltemal so nodig nie.
Ek kan vir ‘n gedeelte my self red.
Sou die Here Jesus nie bly met so reaksie wees nie?
Gelukkig, dink die Here miskien, hy/sy is nie so veeleisend nie, kom sommer
self reg.
Hoekom is die Here nie so nie, gemeente?
Hoekom doen die Bybel so moeilik oor dit?
Daar is slegs een Redder, Jesus verlos ons van al ons sondes en niemand
anders kan ons red nie.
Nêrens is nie Bybel lees ons van hulp-saligmakers nie, nee, slegs een.
Oor die eksklusiwiteit van Jesus en sy reddingsdaad het daar selfs in die
Bybelse tyd al groot onenigheid bestaan.
Die kerk het op ’n tyd bestaan uit twee duidelike groepe mense:
Christene van Joodse afkoms en Christene van heidense afkoms.
Die Christene van Joodse afkoms het gereken dis nodig dat Christene van
heidense afkoms ook besny word (Hand 15).
Wat sit agter so ‘n gedagte, broers en susters?
Wel, die Jode wou Jesus nie as hulle enigste Redder aanvaar nie.
Om die wette van Moses te hou het vir hulle dieselfde waarde gehad.
Iemand wat byvoorbeeld in Jesus geglo het, maar nie besny was nie, kon
volgens hulle nie gered word nie.
Verstaan u dat mens dan die besnydenis verhef tot ‘n afgod, naas
Jesus?
Redding = geloof in Jesus + besnydenis + dit en + dat en so voorts.
In die Bybel word heel indringend gewaarsku teen so ‘n instelling.
Byvoorbeeld Gal 5 v4: “Julle wat
geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die
genade verval”.
Hierdie dwaalleer is in die tyd Judaïsme genoem.
Judaïste met hulle oënskynlike godsdiendstige erns was baie gevaarlik.
En dieselfde sien ons in Sondag 11.
So iemand verloën met die daad die enigste Verlosser.
Want een van twee dinge: of Hy is nie ‘n volkome Verlosser nie, of Hy bied
redding vir 100%.
Wie ‘n bietjie op Jesus vertrou, maar nie heeltemal nie, het dan ook
heeltemal geen deel aan Hom nie.
Roomse leer
en Judaïsme
Sondag 11 is veral gerig teen die leer en die praktyk van die Roomse
kerk.
En baie daarvan kom nogal ooreen met die Judaïsme.
Redding ontvang is ‘n optelsom: ‘n
bietjie van die werk van Christus, ‘n bietjie goeie werke self doen, miskien
nog goeie werke leen by die heiliges.
Destyds was sondes verdeel in twee klasse: ‘doodsonde’ en ‘vergeeflike
sonde’. Wie ‘n doodsonde begaan het,
byvoorbeeld moord of egbreuk, het daarvoor redding van Christus nodig
gehad.
Maar vir vergeeflike sondes kon mens self boete doen, in hierdie lewe deur
goeie werke, en na hierdie lewe in die sogenaamde vagevuur.
Sondag 11 meld in vraag 30 dat mense deels hulle heil by ander heiliges sou
soek.
Dit was deel van die Roomse praktyk.
Die opvatting was so dat daar heilige mense was wat so baie goeie werke
gedoen het dat daar as’t ware oorgebly het.
Hierdie oorskot aan goeie werke is die “skat van die kerk” genoem, en die
pous het beskikking daaroor gehad.
Die pous kon iemand wat nie self genoeg goeie werke gedoen het, deel laat
kry aan hierdie oortollige goeie werke deur middel van ‘n aflaat.
En so soek jy jou heiligheid deels by Christus, deels by jouself, en deels
by ander mense.
En net soos by die Judaïste, lyk hierdie Roomse godsdienstige praktyke baie
vroom en ernstig.
Die mense vereer en aanbid die Here Jesus.
Huise is versier met kruise en beelde.
Hulle is baie ywerig in goeie werke, en dit moet ook wel want die gevaar
bestaan altyd dat jy nie genoeg gedoen het nie – slaafse goeie werk kan mens
dit noem.
Jy bid ook tot die heiliges, elke stad het sy beskermheilige, selfs vir elke
beroepsgroep is daar heiliges.
Sint Theobaldus vir die boere, sint Onesimus vir die bediendes, st. Blasius
vir die dokters, st. Barbara vir begrafnisondernemers, st. Agatha vir
juweliers, st. Farnciscus vir joernaliste, st. Matthias vir bouers, st. Severus
vir die polisie, en selfs prostitute vind ‘n beskermheilige in st. Margareta.
Dit klink dalk aantreklik – so ‘n persoon wat spesiaal vir jou omgee, wat
jy ook al is.
Maar feit is wel dat dit aandag van Christus aftrek, van die vertroue
alleen op Hom.
Verder is daar ook baie vroom gebruike, daar is die wywater wat beskerming
verleen, die slaan van die kruisteken, en natuurlik die relikwïee – dit was
oorblyfselfs van ‘n oorlede heilige, soos byvoorbeeld ‘n haarlok of ‘n mantel,
of selfs ‘n skedel.
En so is daar 101 vroom gebruike om jou saligheid veilig te stel – alles
tot jou beswil want anders moet jy langer in die vagevuur ly.
So was dit ook, in ‘n effens ander vorm, by die Judaïste.
Die Judaïste was baie ywerig in hulle geloof,
Paulus skryf in Rom 10 v2: “Want ek
getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis”.
En v3: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie
geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie
onderwerp nie”.
“Omdat hulle hul eie geregtigheid
probeer oprig...”, daardie opvatting dat jy volmaaktheid kan bereik deur pynlik
noukeurig volgens die wet te leef.
Paulus sê daarteen in Kol 2 v10: “en
julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag”,
julle het die volheid in Christus, sê hy, selfs nog voor jy begin om werk te
maak van die wet gehoorsaam.
Wie Jesus om vergewing van sy sondes vra, het het reeds die volheid
ontvang, die volle som word hom geskenk, hy is volmaak.
Ons lees in die Bybel dat God slegs met ons iets te make wil hê ter wille
van Christus, en dat ons slegs tot God kan bid in die naam van Jesus (Joh 16
v23), en dat ‘n gebed tot iemand of iets anders in sy wese nie ‘n gebed is nie.
Judaïste, Roomses, hulle maak almal dieselfde fout. Jesus plus nog iets.
En ons ...?
En ons, gemeente, ons is nie Judaïste, ons is nie Rooms nie.
Hoe word ons gered?
Ja, deur Christus, en ... – sê ons dan – deur kerk toe te gaan, en ‘n meelewende
kerklidmaat te wees.
Sekere sondes moet nie gedoen het nie want dan is jy sekerlik jou status as
goeie kerlidmaat kwyt.
En so is die duiwel vandag nog net so listig as vroeër, en daarom is dit so
belangrik omdat dit keer op keer weer te lees en te hoor – deur Jesus alleen.
En daarom is dit so goed dat daar sulke stellige uitdrukkings in die Kategismus
staan:
Slegs een van twee dinge is moontlik: of
Jesus is nie ’n volkome Verlosser nie, of...”.
Hierdie listige streep van die duiwel is natuurlik al so oud soos die
mensheid self. Is dit nie die duiwel wat
vir Adam en Eva oortuig het dat nie nodig was om na God alleen te luister
nie?
En deur al die eeue heen het die duiwel haarfyn aangevoel watter behoefte
daar in elke mens skuil:
om self bietjie seggensskap te hê, nie in alles van God afhanklik te wees
nie,
op sekere gebiede self die baas te wees en jou nie sonder meer heeltemal
aan jou Skepper toe te vertrou nie.
Op hierdie behoefte speel die duiwel in, en hy doen dit op ‘n baie subtiele
manier. Hy doen dit nie net by mense
buite die kerk nie.
Nee, hy doen dit juis by kerkmense, en hy doen dit so geleidelik, sonder
dat ons dit merk,
dikwels agter vroom praatjies, vroom voorstelle, dring hy die kerklike lewe
binne.
Ons het dit gesien by die Judaïste, ons het dit gesien by die Roomse, en
ons sien dit ook by onsself.
As ons eie lewens, en ons kerklike lewe, nie meer alleen op Jesus gebou
word nie, nie meer slegs op sy verlossingswerk nie, maar ook vir ‘n gedeelte op
ons eie vrome en ywerige dade.
‘n Bietjie op ons eie inset, ‘n bietjie op ons kerklike tradisie, soos dit
altyd gegaan het in die kerk, so moet dit steeds gaan want dit bied ons houvas,
houvas naas Jesus.
Let wel, kerklike tradisie is goed, maar dit mag geen houvas bied naas
Jesus nie.
Wat is die
onderskeid?
As jy jouself gaan onderskei van ongelowiges omdat jy volgens God se wet
leef, en hulle nie, as jy jou daaraan vashou, as dit in die eerste plek jou
idenititeit vorm, my lewensstyl volgens die gebooie van God, hulle lewensstyl
sonder die gebooie van God, as jy jou in die eerste plek daarop gaan onderskei
dan maak jy ‘n enorme fout.
Dis nou presies daardie skelmstreek van die duiwel om jou van Christus af
weg te trek.
Dit is Jesus heeltemal, en Jesus alleen.
Dit moet jy elke dag weer vir jouself sê: ek is nie verskillend van my
ongelowige buurman omdat ek volgens die wet leef en hy nie.
Dit het niks daarmee uit te make nie.
Ek is anders omdat ek geniet van Christus se vergewing, en my buurman wys
tot op hierdie oomblik daardie aanbod van Jesus nog van die hand.
Dit is die verskil.
Nee, ons is nie beter omdat ons kerk toe gaan, of omdat ons gereformeerd is
nie, of gereformeerde onderwys vir ons kinders soek nie, of omdat ons die
gebooie onderhou nie, omdat ons nie dobbel nie en nie lotto kaartjies koop nie
en nie op Sondag koop nie.
Ons is net so doemwaardig as enigiemand.
Maar ons is volmaak, broers en susters, in Jesus.
My lewe is Jesus.
Wie die Seun het, het die lewe.
Jesus heeltemal, en Jesus alleen.
Dit is die boodskap van Sondag 11, en dit is die boodskap van 1 Joh 5.
Of Jesus is geen volkome Verlosser nie, of hy wat Jesus as Verlosser
aanneem met ‘n ware geloof het in Jesus alles wat vir sy behoud nodig is.
God gee jou die ewige lewe, en hierdie lewe is in sy Seun.
Wie die Seun het , het die lewe, en wie die Seun nie het nie, het nie die
lewe nie. Hand 4:12 “En die saligheid is in niemand anders nie,
want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is,
waardeur ons gered moet word nie”.
“...en die bloed van Jesus
Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde”, 1 Joh 1:7.
Beteken dit dan dat jy net in Jesus hoef te glo en dat verder niks saak
maak nie? As jy in Jesus glo, as jy hom
liefhet dan is alles OK, dan maak dit nie saak hoe jy leef nie?
Kerk toe gaan is opsioneel, jou aan die gebooie hou is opsioneel, lotto
speel, ag hoekom sou jy jou opwen oor sulke goed, koop op Sondag, wat maak dit
saak?
As jy Jesus maar het!
Jy het tog jou vryheid in Jesus.
Is dit so?
Gemeente, in 1 Joh 5 staan ook “Want
dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie
swaar nie. Want alles wat uit God gebore
is, oorwin die wêreld”.
Haal ons nou tog weer by die agterdeur die gebooie weer binne?
Begin ons nou tog weer self verdien?
Trap ons nou weer in dieselfde ou slaggat van die duiwel?
Inteendeel.
Wie die Seun het, het die lewe.
Punt!
Ons word slegs, alleen in Christus geregverdig.
Daar begin dit, en daar hou dit op.
In Christus kry ons ‘n nuwe lewe.
Ons is gered, danksy Hom.
Gegryp deur
Jesus
En in daardie nuwe lewe kom ons weer die gebooie teë.
Maar nou het hulle ‘n heel ander funksie.
In die nuwe lewe verdien jy niks met die gebooie nie, maar, soos dit so mooi
gestel word, is die gebooie riglyne vir jou dankbaarheid.
In hierdie konteks staan v3 van 1 Joh 5.
“sy gebooie is nie swaar nie”.
Dit is vir my ‘n vreudge om volgens sy gebooie te leef.
Wie uit God gebore is, oorwin die sondige wêreld. Sien u?
Wie deur Jesus gegryp is, hy kan nie anders as om die goeie te wil doen
nie.
Wie deur Jesus gegryp is, het sy gebooie lief.
Ek gaan graag kerk toe, want daar hoor ek meer van Jesus, daar kan ek vir
hom sing.
Ek het gewoon geen behoefte om die lotto te speel nie, want dit maak my net
ondankbaar vir dit wat ek van God ontvang het.
Ek kies bewus daarvoor om nie op Sondag ‘n roomys te gaan koop nie, nie dat
Sondag nie ‘n feesdag is nie, nee, ek koop sommer ekstra roomys op Saterdag
sodat ek op Sondag sommer baie roomys kan eet.
Maar ek gun die ander sy rus op Sondag, veral die arm werkneemster agter
die til in die supermark wat geen regte in ons land het nie.
As ek vir myself nou êrens ‘n streep wil gaan trek van wat ek nou wel of
nie op Sondag doen, dan trek ek die streep op die regte plek.
Ek koop geen huis op Sondag, ek gaan kyk ook nie na wat die agente te koop
aanbied nie,
ek gaan nie saam met die wêreld wat rustig op Sondag handel dryf nie,
sodat al daardie mense agter die kasregister moet sit, of in die
restaurante moet werk nie.
Sien u, gemeente, as mens so daarna kyk dan is sy gebooie nie swaar nie,
dan doen jy dit graag, dan rig jy graag jou lewe so in.
Want Jesus wil dit so hê, en dit bring jou nader aan Hom.
Dit is die belangrikste in jou lewe, om naby Hom te leef.
En dit maak jou lewe mooi en aangenaam.
Amen.
(kyk in preek)