Jes 53 :8-10 In die graf eindig Christus se vernedering en begin sy verhoging

Minister: 
Ander
Church: 
Maranata
Date: 
2013-06-09
Text: 
Jesaja 53
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
9 Junie 2013 AD, 17:30 (nagmaal)

Ds PG Boon

 

Votum

Seën

Sing: Ps 145:1,2

Nagmaalsformulier

Geloofsbelydenis (sing terwyl tafel in gereedheid gebring
word)

Nagmaalsviering

Skriflesing: Jesaja 53

Sing: Sb 7:6,7,8

Teks: Jesaja 53:8-10

Preek

Amenlied: Sb 6:1,2,4,6,7

Gebed

Kollekte

Slotlied: Ps 145:3,12

Seën

 

 


Preek:
Jesaja 53:8-10

 

Het jy al ooit daaroor nagedink waar jy eendag begrawe
wil word?

Miskien is daar sommiges onder ons wat alreeds ’n graf
gekoop het.

Laat ek die vraag so stel:

Maak dit vir jou saak waar jy eendag begrawe word?

Sal jy dit verkies om tussen ryk mense begrawe te word?

Of sal jy nie omgee om maar net begrawe te word op ’n ou
slordige begraafplaas, tussen al die arm mense?

In die Bybelse tyd was daar al verskille in hoe mense
begrawe is.

Dit het gevarieer van baie rykes wat ’n groot familie
grafkelder gehad het,

tot die allerarmstes wat glad nie begrawe is nie.

Hulle is op die ashoop buite Jerusalem gegooi, waar die
aasvoëls rondgesirkel het.

’n Eselsbegrafnis, soos dit genoem word.

 

Tema:
In die graf eindig Christus se vernedering en begin sy verhoging

 

Die nagmaalsformulier wat ons nounet gelees het, bestaan
uit twee dele.

Die eerste deel het ons aangespoor om ons lewe te
ondersoek.

Die tweede deel fokus op dit wat Christus gedoen het.

Ons gedenk dit
wat Hy vir ons gedoen het.

In hierdie preek fokus ons op een moment uit Christus se
lyde.

Die tyd toe Hy in die graf gelê het.

Die teks kom uit die Ou Testament, maar tog het dit alles
met die Here Jesus te make.

 

Hoewel die profeet Jesaja self nog nie geweet het oor wie
hy besig was om te profeteer nie, weet ons vandag met sekerheid dat hy veral
oor die Here Jesus geprofeteer het, die Messias.

Vanaand let ons op een episode uit sy lydensgeskiedenis.

Naamlik toe Jesus, nadat Hy gesterf het, deur die soldate
van die kruis afgehaal is om sy lyk weg te bring,

Maar hoe ’n persoon, Josef van Arimatea, tussenbeide
gekom het om Jesus in sy nuut uitgekapte graftombe te lê.

As ons die teks goed wil verstaan, is dit noodsaaklik om
te weet hoe daar in die ou Israel onderskeid gemaak is tussen twee maniere om
begrawe te word.

Jy kon ’n eervolle of ’n eerlose begrafnis ontvang.

’n Eervolle begrafnis was as jy gelê is in die
familiegraf.

Dikwels het die meer gegoede mense in Israel ’n graftombe
gehad, ’n uitgekapte grot in ’n berg met daarbinne almal nisse waar mense
bygelê kon word.

Dit was dus ’n eervolle begrafnis.

’n Eerlose begrafnis was as jy eintlik glad geen
begrafnis ontvang het nie.

As jy byvoorbeeld op die slagveld te sterwe gekom het, of
dink aan Isebel, wat dood op die straat neergegooi is, waar die honde haar
opgevreet het.

 

As ons nou Jesaja 53 lees vanuit die vervulling in Jesus,
word een en ander duidelik.

Eers nog net twee opmerkings oor die vertaling.

As ons by v8 begin lees, dan kan ons pleks van die
vertaling uit die druk en uit die
strafgerig is Hy weggeneem

eerder lees: Hy is
weggeneem uit beskerming en reg.

Dan dink ons veral aan Christus se verhore voor die
Joodse raad, voor Herodes en vervolgens voor Pilatus.

Daar is alle regte aan Hom ontneem.

Hoewel onskuldig, is Hy volkome weerloos uitgelewer aan
die magte van die kwaad.

Vervolgens sê Jesaja: en toe Hy te sterwe kom, was dit
nie vanweë sy eie skuld nie, maar agv die oortreding van die volk.

En dan lees ons in v9:

hulle
het hom sy graf by die goddelose gegee, en by ’n ryke was hy in sy dood.

Nou maak hierdie opmerking nie sin nie.

Jou graf by die goddelose – dit beteken ’n eerlose
begrafnis, dat jy nie begrawe word nie, maar dat jou lyk hoogstens op die
ashoop van Jerusalem gegooi word vir die honde en aasvoëls.

Maar by ’n ryke wees in jou dood – dit dui juis op ’n eervolle
begrafnis.

Hierdie is dus eintlik ’n teenstelling.

Nou het ons vertaling die woordjie en gebruik.

hulle
het hom sy graf by die goddelose gegee, en by ’n ryke was hy in sy dood.

Maar die oorspronklike Hebreeuse woord wat hier gebruik
word kan mens ook met maar vertaal.

As mens dit doen, dan maak dit sin.

Kom ons luister weer:

hulle
het hom sy graf by die goddelose gegee, maar by ’n ryke was hy in sy
dood.

Maar dui
’n teenstelling aan.

En dit laat mens direk dink aan wat met die Here Jesus
gebeur het.

Hulle het hom ’n graf by die goddeloses gegee... – Hy is
aan ’n kruis gehang.

En toe dit aand geword het, het die soldate gekom om die
liggame van die kruis af te haal.

Van diegene wat nog nie oorlede was nie, is die bene
gebreek.

Vervolgens is die lyke op ’n wa gelê en afgevoer na die
dal Hinnom.

Dit was waar die ashoop van Jerusalem was.

Daar is die lyke gegooi vir die honde en aasvoëls.

Dit sou dus na sy kruisiging ook met Jesus gebeur het.

Maar in die Evangelie sien ons dan ’n wending.

God in die hemel maak ’n gedagte wakker by Josef van
Arimatea.

Hy gaan na Pilatus en vra toestemming om Jesus se liggaam
te begrawe.

En vervolgens plaas Hy Jesus se liggaam in ’n nuwe
graftombe.

Josef van Arimatea wat ’n ryk man en hy het alreeds vir
homself ’n grafkelder, ’n hele ruimte in die rots laat uitkap.

 

Christus word dus koninklik begrawe.

So kom sy vernedering tot ’n einde.

Hy, wat geen onreg gedoen het en in wie se mond geen
bedrog was nie.

Hy wat na die mens gesien voorbestem was om ’n graf by
die goddeloses te kry – ’n gekruisigde, verstotene deur die aarde en die hemel,

Sy bestemming was – soos dit genoem word – ’n eselsbegrafnis.

Maar nou kom die Vader in die hemel in aksie!

Sy Seun het genoeg gely.

Die hemelse Vader stuur Josef van Arimatea na die toneel.

Sy nuut uitgekapte grafkelder stel hy ter beskikking.

Hierdie grafkelder sal die eerste getuie word van die
wonder van die opstanding uit die dood!

Hierdie nuut uitgekapte graf word die voorportaal van die
nuwe wêreld!

Aan die herskepping van die aarde maak God op paasfees ’n
grootse begin.

In die grafkelder eindig die vernedering van Christus

– sy vernedering twv ons  –

en begin sy verhoging, om HEER te word oor die heelal.

Die beslissende wending vind plaas in hierdie graf.

Die beslissende wending vir die wêreldgeskiedenis.

Die beslissende wending vir die kerk.

Die beslissende wending ook vir jou persoonlike lewe.

 

As jy dalk al vir jare lank kerklid is, ’n daar ’n gevaar
dat die boodskap van Christus se lyde en sterwe vir jou gewoon word.

Kom ons benut die geleentheid, vanaand, om regtig weer
daaraan te dink dat Jesus Christus vir jou persoonlik gesterf het.

Die meeste van ons weet hoe erg die dood is.

As jy dink hoe finaal die dood ’n pa of ma, ’n man of
vrou, ’n kind, by jou kan afvat.

Die dood bly ons aartsvyand.

En as jy daaraan dink dat die dood in die wêreld gekom
het as straf op jou sonde.

As jy vervolgens daaraan dink dat Jesus die ewige dood in
jou plek gesterf het,

sodat ons vandag by ’n begrafnis kan sê:

Die dood is ’n deurgang tot die ewige lewe.

Dit is tog iets om elke keer weer voor dankbaar te wees –

Elke keer as jy daaraan dink – elke keer as jy dit opnuut
besef!

Verwondering wat dan die oorhand kry.

Dat ons so ’n Heiland het!

Dit maak my gees van eerbied stil.

 

Dit was eers in die grafkelder waar Jesus die behandeling
begin ontvang het waarop Hy reg gehad het.

Eers toe het die Vader sy gebed verhoor.

Die Vader het die beker van gramskap nie aan sy Seun laat
verbygaan nie.

Maar toe die regte oomblik aangebreek het, het Hy sy Seun
begin verhoog.

Hy wat uit beskerming en reg weggeneem is.

Hy wat verbrysel is, volgens die wil van sy Vader,

Hy wat Homself as ’n skuldoffer aangebied het,

Hy ontvang nou die beloning vir sy Middelaarswerk.

 

As Middelaar was Hy bereid om die starf te dra vir ’n
ander.

Self het Hy geen onreg gedoen nie.

Wat Jesaja hier sê, kan ons beaam.

Dink maar net aan die Here Jesus se lewe hier op aarde.

Mens onder die mense, in alles aan ons gelyk, maar sonder
sonde.

Daar was geen bedrog in sy mond nie.

Nie net in dade nie, maar ook in woorde was Jesus sonder
sonde.

En selfs nog meer, nie eers in sy gedagtes nie.

Dit alles in teenstelling tot die misdadigers, by wie Hy
gereken is.

 

In v10 word die beslissende wending van v9 voortgesit.

En net soos v9, is v10 ook onlogies, as mens nie besef
dat dit hier oor ’n plaasvervanger, ’n middelaar, gaan nie.

Anders maak die gedagtegang nie sin nie.

Mens straf tog nie iemand baie hard, om hom vervolgens
direk daarna te beloon nie.

Normaalweg doen mens een van beide.

Iemand wat iets verkeerd gedoen het, kry straf.

Iemand wat iets goed gedoen het, kry beloning.

Maar as daar iemand is wat optree as ’n plaasvervanger,
dan kom beide kante by mekaar.

Aan die een kant lê die profeet baie klem op die onskuld
van hierdie Man.

Die feit dat Hy moet ly lê nie aan Homself nie, maar
omdat dit die HERE behaag om Hom te verbrysel.

God se welbehae het teen Hom gekeer.

Nie dat die Vader die die hemel willekeurig is nie.

Hy het skynbaar ’n duidelike doel op die oog.

Hierdie Man moet Homself as ’n skuldoffer aanbied.

Die profeet Jesaja sluit hier aan by die OT’e gebruik van
’n sondebok.

Enersyds is so ’n dier geslag, sy bloed het gevloei.

Hierdeur is aan die skuld voldoen.

Verder het die hoëpriester nog ’n dier geneem, sy hand op
die kop van die dier gelê, en sodoende al die sonde van die volk op die dier
oorgedra.

Daarna is die dier die woestyn ingestuur.

Dit was ’n teken dat God die sondes van die volk wegdoen.

Nou pas Jesaja hierdie gebruik toe op ’n mens!

Geen sondebok, maar ’n – wat hy noem – ‘n man van smarte.

Die mense in die OT het natuurlik besef dat ’n sondebok
eintlik net ’n simbool was.

Dierebloed, en die sondes op die kop van ’n dier, dit was
nie werklik skulddelging nie.

Jesaja profeteer hier van ’n mens in die toekoms, wat
hierdie taak op hom sal neem.

’n Mens wat, belaai met skuld, nie net simbolies nie,
maar ook werklik die skuld wegneem.

En so maak dit sin dat die HERE iemand, wat Hy eers gaan
verbrysel, daarna vervolgens ’n groot beloning gee.

Dit is die essensie van v10.

Iemand wat HOMSELF as skuldoffer beskikbaar stel.

’n Skuldoffer wat die HERE vervolgens ook aanvaar.

Kyk maar na die pragtige woorde in v12:

Daarom
sal Ek Hom ’n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel;
omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel
was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.

Ons praat hier dus oor ’n plaasvervanger, ’n middelaar.

 

Jesaja profeteer hieroor op ’n skitterende wyse.

Hy
sal ’n nakroos sien...

Dink by hierdie opmerking aan die uitspraak van Paulus:

Christus is die EERSTELING wat die erfenis van die ewige
lewe ontvang.

Eersteling betekend dat daar nog baie sal volg!

Hy
sal ’n nakroos sien,

En
Hy sal die dae verleng...

Dws: Hy kry ’n ewige lewe.

En die voorneme van die HERE sal deur sy hand voortgang
hê.

Wat is hierdie voorneme van die HERE?

Ons mag hier terugdink aan die allereerste belofte van
God in die Bybel.

Daaruit blyk sy voorneme om die sondeval weer ongedaan te
maak.

Die allereerste, dit was die moederbelofte, Gen 3.15.

God sal daarvoor sorg dat die kop van die slang vermorsel
word.

En hier, in Jesaja 53, lees ons ’n nadere toespitsing van
hierdie ou belofte.

God sal dus self daarvoor sorg, Hy sal ’n Kneg aanstel,
wat die straf sal dra.

God sal self die straf op die sonde – die dood – ongedaan
maak.

Ons weet dat met die opstanding van Christus hierdie
belofte werklikheid begin word het.

Ook u en ek, elkeen wat op Jesus vertrou, mag hierin
deel.

Ons sterwe is nie meer ’n straf op ons sondige lewe nie,
want Christus het die straf gedra.

Ons sterwe is ’n poort na die paradys.

Teen elkeen wat Jesus aanroep in sy sterwensnood, sê die
Heiland:

Vandag
sal jy saam met My in die paradys wees.

En die tweede fase sal ook volg.

Wanneer die liggaamlike dood ook teniet gedoen sal word.

Ook my lyk sal opstaan, sê Jesaja in hfst 26:19.

Dan sal vreugde vergoed terugkeer op aarde, as die
Messias vir goed terugkom.

 

In die graf eindig Christus se vernedering, en begin sy
verhoging.

Dit is die geskiedenis soos ons dit in elkeen van die 4
evangelies kan lees, en soos Jesaja al daaroor geprofeteer het.

Hierdie geskiedenis veroorsaak by ons ’n gevoel van
verwondering.

Dit spoor jou aan tot ’n lewenswyse van aanbidding.

Ons aanbid, maar deurgrond dit nie,

Dat so die liefde van God geskied.

Vandag se nagmaalsviering bepaal ons weer hierby:

’n lewenshouding van aanbidding.

Kom ons skenk opnuut hieraan aandag.

’n Lewenshouding van aanbidding.

’n Lewenshouding van verootmoediging.

’n Lewenshouding van gehoorsaamheid aan Christus.

Want aanbidding veroorsaak ’n brandende begeerte, om nie
net volgens sommige, maar volgens al die gebooie van God te lewe.

Laat jou karakter hierdeur gestempel word.

Aanbidding, verootmoediging, gehoorsaamheid.

Dis hoekom ons nagmaal vier.

Om – ook al is ons al vir dekades lank Christene,
kerklede – om ons weer op ons knieë te bring.

Aanbidding, verootmoediging, gehoorsaamheid.

Dankbaarheid vir so ’n Heiland en Saligmaker.

In die graf het sy vernedering opgehou, en sy verhoging
begin.

Nou sit Hy in die hemel, nou regeer Hy oor alles, tot in
ewigheid.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)