Markus 10:13-16
Johannesburg, 18 Januarie 2009
Lees: Matthéüs 18:1-6; Markus 10:13-16.
Sing: Ps
93:1,2; Ps 93:3,4; Ps 105:5; Ps 131; SB 15; Ps 115:7,8.
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Waaroor gaan dit in ons teks? Gaan dit net oor die kindertjies, dat Jesus
hulle seën? Blykens vers 15 gaan dit oor meer as dit. Dit gaan oor die toegang
tot die koninkryk van God, oor die ontvang van daardie koninkryk uit genade.
Daarom vat ek die teks soos volg saam: Die koninkryk van God word uit
genade ontvang deur kinders en volwassenes.
Daarom, eerstens: laat die kindertjies tot my kom
En tweedens: wees soos die kindertjies.
Kan jy dit voorstel? Op ’n Sondag oggend gaan jy kerk toe met jou kinders.
Daar staan mense by die ingang van die kerk wat jou kinders terughou en
wegstuur. Hoe sou jy voel? Sou jy nie ontsteld wees nie?. Wie stuur nou kinders
weg van die Here weg? Hoe durf hulle om so iets te doen? Wat besiel hulle?
Tog, gemeente, iets dergeliks gebeur in ons teks. Dit word gedoen deur
niemand minder as die dissipels van die Here Jesus nie. Ouers bring hul
kindertjies na Jesus. Die dissipels voel ongelukkig daaroor. Hulle bestraf die
ouers. Wat gee die ouers die reg om Jesus se aandag vir hul kinders op te eis?
Jesus het meer om te doen, dinge wat baie belangriker is. Hy moet die koninkryk
van God oprig. Hy het sy tyd nodig vir prediking en onderrig. Hoe durf die
ouers Jesus met hul kinders ophou.
Kan jy dit voorstel? Dat ouers met hul kinders weggestuur word? Die
benadering van die dissipels is beïnvloed deur die denkwyse van die Fariseërs.
Julle ken dalk die belangrikste stelling van die Fariseërs. Hulle het geleer:
in jou lewe met God moet jy leer om te doen wat goed is. Jou verhouding met God
kan slegs reg wees indien jy doen wat goed is. Jy moet goeie werke doen, jy
moet self iets presteer, jou eie heil verdien.
Met die oog daarop het die leraars in Israel ’n uitvoerige lys van moets en
moenies opgestel. Dit was om jou so naby as moontlik by die wet van God te hou.
Allerlei besonderhede moes gereël word, sodat jy geen risiko sou loop nie, en
jy presies sou weet wat van jou verwag word. As jy jou aan die voorskrifte, die
wette, hou, dan is jy veilig. Slegs dan sou dit reg tussen God en jou wees.
In so ’n klimaat tel ’n kind amper nie. Solank jy nog ’n kind is, moet jy
agter bly, op die agtergrond. Jy ken nog nie al die reëls nie. Jy moet hulle
nog leer onderskei. Eers dan kan jy begin om op die pad van die wet te wandel.
Maar daarvoor, aan die begin van jou lewe is dit onmoontlik. Jy kan nog nie
loop nie. Laat staan dat jy in die wet sou uitmunt.
Jy begin eers te tel wanneer jy heelwat ouer is, en, as ’n seun of dogter
van die wet, die kennis het. Eers na talryke lesse word jy binne die gemeenskap
toegelaat. Dan bereik jy die vlak waarin die lewe hom afspeel.
Gemeente, ons tref ’n vergelykbare denkwyse in ons huidige samelewing.
Dikwels tel jy slegs werklik mee wanneer jy produktief kan wees, wanneer jy
self iets kan presteer. Jong kinders word soms as duur gesien. Hulle kos baie
geld en bring geen geld in nie. Dit is waarom die werkloses dikwels so sleg
voel oor hul situasie. Hulle kry die gevoel dat hulle nutteloos is, nie meer
meetel nie. Hulle is immers onproduktief in ’n samelewing waar alles om geld
draai.
Op die geestelik vlak tref ons ook iets dergeliks. ’n Groot aantal moderne
Christene wys die kinderdoop af. Waarom? Omdat hulle dink dat die persoon wat
gedoop word eers sy eie keuse moet maak. Jy moet eers iets van jouself aan die
Here aanbied. Jy moet eers wys dat jy geloof het. Tot daardie oomblik behoort
jy nie by die verbond nie. Ja, jy mag wel kerk toe gaan, maar jy behoort nie
wesenlik by God en sy gemeente nie. Jy tel nog nie werklik nie.
Wel, broers en susters, die Here Jesus wys hierdie denkwyse af. Hy wag nie
tot die kinders grootgeword het nie. Tot hulle self iets kan presteer nie. Hy
gee baie eerder aandag aan die kinders. Hy het groot belangstelling vir die
kinders. Hy bestraf sy dissipels omdat hulle die kinders verhinder het. Hulle moet
die kinders toelaat om na Hom te kom. En Jesus slaan sy arms om hulle. Hy laat
hulle deel in sy gemeenskap en seën hulle.
Die Here leer sy dissipels ’n belangrike les. Jesus wil omgang met die
kinders hê. Hy wil hulle, wat na menslike maatstawwe nog nie daarvoor gereed is
nie, sy seën gee, deel gee aan die weldade van sy koninkryk. Wie gee nou sy
liefde vir hulle wat nog niks van hul kant kan aanbied nie?
Met verbasing sien die dissipels wat Jesus doen. Hy wag nie totdat die
mense, op hul eie inisiatief, na Hom kom nie. Hy wag nie totdat mense iets aan
Hom kan aanbied nie. Hy neem self die inisiatiewe en gee sy liefde en seën aan
die klein kinders wat die ouers na Hom bring. Ja, Hy gee sy liefde en seën aan
hulle wat dit nog nie kan verstaan of daarop kan reageer nie.
Gemeente, in julle lewe met God kom alles van God se kant. Dis hoe dit
begin. God gryp in in ons lewe wat anders in sonde verlore sou wees. God kom na
ons en ons kinders toe met die beloftes van vergewing van sondes en ewige lewe.
Daarom vind die doop plaas aan die begin van my lewe met God. Die doop is ’n
eensydige sakrament. Ek word gedoop. Marcel is netnou gedoop. Dis nie iets wat
hy vir homself gedoen het nie. Dit is aan hom verrig. By die doop is ek self
passief. Die Here is die aktiewe party. Hy kom my lewe binne met sy liefde en
seën. Alles kom van God se kant.
Ouers bring hul kinders by Jesus. Hulle het hoë agting vir Jesus. Hulle het
groot verwagtings van Hom. Hulle verwag die toekoms van hul kinders van Jesus.
Dit gaan hulle oor die lewe en toekoms van hul kinders, hul geestelike welsyn.
En hulle verwag dat Jesus die seën van die koninkryk kan gee. Hulle begeer die
seën vir hul kinders. Die seën van die Here, die Verbondsgod. Hulle wil hê dat
Jesus die kinders aanraak en vir hulle bid. Dit sou baie vir hulle lewe en
toekoms beteken. Christus se reaksie wys dat Hy dit in die ouers waardeer.
In ons teks word die weg na Jesus se seën toe op ’n verrassende manier
gelykgestel met die weg na die koninkryk toe. Jesus vergelyk die ontvang van sy
seën met die ingaan in die ryk. Jesus verbind die twee deur te praat van die
ontvang van die koninkryk. Hoe kan die gaan na Jesus gelykgestel word met die
gaan na die koninkryk van God? Dit is moontlik omdat daar ’n onlosmaaklike
samehang is tussen Jesus en die hemelryk. Jesus is die poort, die weg, die
toegang tot die ryk. Baie meer as wat die ouers dit besef het, lê die toekoms
van die kinders in Jesus se seënende hande.
Broers en susters, daardie ouers het nie Jesus geken soos julle Hom vandag
ken nie. Julle mag Jesus nou baie beter ken as die Redder van die wêreld. Julle
weet nou hoe Jesus, na hierdie geskiedenis met die kinders, aan die kruis
gesterf het om vir jonk en oud die seëninge van die verbond te verwerf, die
vergewing van sondes en die ewige lewe. In die lig van daardie meerdere kennis,
sou jy dan nie des te meer rede hê om Jesus Christus vir jou kinders te soek
nie? Sou jy nie des te meer jou kinders na Christus toe lei nie? Dis langs die
weg van aanvaarding van die beloftes in geloof dat die kinders kan geniet van
daardie weldade van Christus, dat hulle kan geniet van die vergewing van sondes
en die vernuwing van hul lewe. Daarom wil jy alles in jou vermoë doen om hulle
te lei na die geloof toe. Daarom wil jy jou kinders oor die Here Jesus leer. Jy
onderrig hulle in die leer van die Skrifte en laat hulle daarin onderrig word.
Daarom lees jy die Bybel vir hulle, die woord waardeur Christus na hulle
toekom. Jy neem hulle saam kerk toe, waar Jesus Christus deur sy Gees en Woord
teenwoordig is, waar Hy sy seën gee. Die seën van die Here is die grootste
geskenk wat jou kinders kan ontvang.
Hieruit blyk, geliefdes, dat die laaste vraag van die doopsformulier baie
belangrik is, die vraag naamlik: “Belowe julle en neem julle dit op julle om
hierdie kind van wie julle die vader en moeder is, wanneer hy dit kan verstaan,
in die genoemde leer na jul vermoë te onderrig en te laat onderrig?” God maak
gebruik van ouers om sy seën aan die kinders mee te deel. Hy maak gebruik van
jul monde en hande om vir hul geestelike welsyn te sorg sodat hulle Hom leer
ken en van die weldade van sy koninkryk geniet. Gewoonlik sou die kinders,
sonder daardie betrokkenheid van Christelike ouers, sonder God en sonder sy
seën grootword.
Gemeente, laat ons nie ligtelik oor God se seën vir ons kinders dink nie.
Laat ons dit soek en fasiliteer. Lei die kinders na die Here Jesus toe, vanaf
die begin, sodra hulle dit kan verstaan. Christus wil sulke kinders in sy
koninkryk ontvang. Hy verwelkom hulle. Die kinders is vir hom belangrik,
dierbaar. Want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
Die dissipels het gedink dat daar belangriker dinge was om te doen as om
kinders te verwelkom. God se koninkryk sou ander prioriteite stel. Dis die
gewoonte in die wêreld om die grotes en sterkes te dien. Maar Christus leer dat
sy volgelinge die wêreld se kleintjies moet ontvang en verwelkom. “Elkeen wat
een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang my.” Wat ’n pragtige en
belangrike taak is dit dan om kinders in God se koninkryk te verwelkom. Laat
ons deur ons woorde en dade wys dat ons hulle verwelkom. Ook in ons versorging
en opvoeding van ons kinders. Om vir kinders te sorg en te lei is een van die
mees wonderlike take wat bestaan. Dis belangrik werk in God se koninkryk. Laat
ons dit nie onderskat nie. Christus gebruik sterk taal teenoor hulle wat teen
die belange van die kinders handel. Hy sê: “elkeen wat een van hierdie
kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen
aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.”
Om een van hierdie kleintjies te laat struikel is ’n ernstige saak. Dit kan
op allerlei maniere gebeur. Deur ’n slegte voorbeeld of deur verwaarlosing.
Wanneer jou gedrag nie met jou belydenis ooreenstem nie. Dit belemmer die kinders
op hul pad na God toe. Laat elkeen dus ernstig wees om die kinders na God te
lei, om hulle in sy weë te lei, weg van die sonde weg. Laat ons dit deur woord
en daad doen.
Geliefdes, kindertjies moet nie net verwelkom word nie. Christus hou hulle
ook aan ons voor as voorbeelde: wees soos die kindertjies. Christus sê: “aan
sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die
koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
Die groot vraag is: wat kenmerk die kinders en hoe is hulle ’n voorbeeld
vir ons? Dit tref ons dat kindertjies geen pretensies het nie. Hulle maak nie
aanspraak op allerlei dinge nie. Hulle ontvang net. Hulle neem dinge sonder
meer aan.
So moet ook ons geloofshouding teenoor God wees, wanneer ons die heil
ontvang. God se koninkryk met al sy weldade word net uit genade ontvang. As
sondige mense kan ons geen reg of aanspraak laat geld nie. Sonder enige
pretensies, met leë hande, moet ek voor God verskyn, klein en nederig, dankbaar
en vol verwondering dat God my tot so iets groots, tot sy heerlike koninkryk
wil roep.
Gemeente, die teenstelling van hierdie kinderlike houding sien ons
byvoorbeeld by die dissipels, wanneer hulle onder mekaar twis oor wie van hulle
die grootste in die koninkryk is. Dis die konteks van Mt 18. In daardie konteks
roep Jesus ’n kindjie na Hom en laat hom in hul midde staan en sê: “Voorwaar Ek
sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle
nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie” (Mt 18:2,3).
Die feit dat die dissipels twis oor wie die grootste is, wys dat hulle nog
geen idee het waaroor dit in die koninkryk van die hemele gaan nie. Jesus leer
hulle dat die maatstawwe in God se koninkryk heeltemal anders as die maatstawwe
in aardse koninkryke is. In die wêreld is jy groot wanneer jy groot mag en
invloed, rykdom en eer het, wanneer jy jouself kan laat geld. Gewoonlik hou
volwassenes daarvan om hulleself te laat geld en te vertrou op hul eie krag en
wysheid. Nou, hierdie houding is onmoontlik vir hulle wat die koninkryk wil
ingaan.
Om hierdie punt te illustreer plaas Jesus ’n kind voor sy gehoor. Die
koninkryk van die hemele is nie vir mense wat groot is volgens menslike
maatstawwe nie. Dis vir kleintjies. Jy is groot in God se koninkryk wanneer jy
klein is, wanneer jy soos die klein kinders is. Die kleintjies is groot in God
se koninkryk.
Christus wys hoe dwaas die dissipel se vraag is. Nie hulle wat groot is
nie, maar hulle wat weet dat hulle klein is, gaan in in God se koninkryk.
“Elkeen wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk
van die hemele.” As jy in God se kerk en koninkryk groot wil wees, verneder
jouself soos ’n klein kind, wys dat jy ’n nederige kneg is. Soos Christus dit
ook in Mk 9:35 sê: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal
en almal se dienaar wees.”
Wanneer jy die koninkryk ingaan, skryf jy jou nie in vir ’n wedstryd vir
die top posisie nie. Jy skryf in vir nederige diens, jy word almal se dienaar.
Om dit te kan doen, moet jy leer van die klein kinders, soos die kinders word.
Christus dink hier volgens Mt 18 veral aan nederigheid. “Elkeen wat homself
verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die
hemele.” Christus het homself gewys as sagmoedig en nederig van hart. Dis
kwaliteite wat Hy nou by sy volgelinge soek. Dis nie deugde wat maklik en
vanself opkom. Ons moet dit in geloof ontvang.
Die kleinheid van kinders het hulle nederige burgers gemaak. Hulle is swak,
kwesbaar en heeltemal afhanklik. ’n Kind kom nie met eie prestasies nie. ’n
Klein kind het geen pretensies nie. So is ’n klein kind ’n groot voorbeeld vir
ons volwassenes. Ek moet soos die kindjie word in God se koninkryk. Waarom moet
ek die koninkryk soos ’n kind ontvang? Waarom is daar vir ons volwassenes geen
hoop nie, tensy ons soos die kindertjies word? Dis vanweë ons sondes. Ek kan
net die koninkryk deur Jesus Christus ingaan. Hy is die deur, die weg, die
toegang. Ek kan nooit op my eie daar ingaan nie. Ek is heeltemal van Hom
afhanklik. Ek kan nie vertrou op my eie krag en wysheid nie. Ek het Jesus
Christus nodig, as my enige en volkome verlosser. Daarom, strek jou hande na
Hom uit. Soek jou heil buite jouself in Christus. Wees soos ’n kindjie. Soos ’n
nederige smekeling: O Here, wees my sondaar genadig. Leef uit genade. God se
koninkryk word immers net uit genade ontvang deur kinders en volwassenes.
Daarom: laat die kinders tot my kom en wees soos die kinders.
AMEN
(kyk in preek)