Openbaring 2:18-29
Johannesburg, 16 Mei 2010
Lees: Openbaring 2:18-29.
Sing: Ps. 67:1; SB 26:10,11; Ps. 67:2,3; SB. 41; Ps. 97:6,7
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
"Dit sê die Seun van God wat oë het soos ’n vuurvlam en sy voete is soos blink koper." Ons Here Jesus het oë soos ’n vuurvlam. Hy sien alles, ook wat in die verborge dieptes van ons hart en lewe aangaan. Jy kan niks vir Hom wegsteek nie. Sy oë verteer alles wat sy heiligheid nie kan verdra nie. Hy het ook voete soos blink koper. Hy is in staat om die magtigste vyand te verpletter. Niemand kan met Hom ’n speletjie speel nie. Hy is die alwetende en almagtige Koning.
So stel die Here Jesus homself voor aan die gemeente van Thiatire. Dis hoe hy kerkvisitasie kom bring. En wat is sy belangrikste boodskap?
Ek vat dit soos volg saam: Geestelike warmte, dis pragtig, maar hou net vas aan my Woord. Ons let op
1. die situasie van die gemeente
2. die verleiding van Isebel
3. die belofte vir die getroues
Ook in hierdie brief begin Christus met ’n blyk van waardering. Dit val des te meer op wanneer jy bedink hoe ernstig Christus die gemeente moet aanspreek. Tog soos in die ander briewe, eers waardering vir dit wat goed is. Eers daarna kritiek. Dis iets waarvan ons kan leer. Hoe gaan die dikwels wanneer ons krities is oor ’n bepaalde saak of persoon? Binne korte tyd het ons niks anders as kritiek nie. Die goeie dinge word nie meer raakgesien nie. Ons kan slegs kritiseer. Om waardering uit te spreek lyk by tye baie moeilik of onmoontlik te wees. Met as gevolg dat ons die persoon of gemeenskap net ontmoedig.
Hoe anders is die benadering van ons groot Leermeester Jesus Christus. Hy leer ons die pastorale benadering. Ondanks al die kritiek, vergeet Hy nie die goeie dinge wat daar nog is nie. Ondanks sy besware vergeet Hy nie om sy waardering eers uit te spreek nie. Sodat die hoorders nie ontmoedig nie, maar juis bemoedig word om voort te gaan met dit wat goed is.
Christus begin om mooi eienskappe te noem. Ek ken jou werke, naamlik jou liefde en diens en geloof en lydsaamheid. Hierdie deugde hang nou saam. Hul liefde vir God en sy koninkryk word in diens gewys. Hulle is bereid om mekaar te dien. As iemand ly of in nood verkeer, dan is hulle daar om te help en te ondersteun. Liefde is sigbaar in woord en daad. Die lidmate soek nie eers hul eie belange nie, maar die van hul mede broeders en susters.
Naas die liefde en diens noem Christus ook hul geloof wat hom wys in lydsaamheid. Hulle moes vir hul geloof in Jesus Christus ly. Laster en teenstand verdra. Maar hulle het volhard. In ’n samelewing waarin mense dit dwaas ag om Jesus Christus te dien, hou hulle vas aan hulle geloof.
Dis skitterende eienskappe. Sou jy nie jaloers op so ’n gemeente wees nie? Wie sou nie verlang na so ’n entoesiaste gemeente nie wat deur liefde, diensvaardigheid, geloof en volharding gekenmerk word nie? So ’n gemeente waarin liefde in woord en daad sigbaar is en waarin mense volhard in hul geloof ondanks die druk van de samelewing. Ja, wie sou nie verlang na ’n gemeente wat geestelik groei nie? Want dit is wat Christus ook in die gemeente sien. Hy noem dat die laaste werke meer is as die eerste. Daar is dus ’n groei in liefde, diens, geloof en volharding. Is dit nie die soort gemeente wat jy soek nie?
Maar geliefdes, daar is ook ’n ander kant van die saak. Die Here het ook iets teen die gemeente, ’n baie ernstige saak. "Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei." Die gemeente tolereer dwaalleer wat blykbaar ook ingang in die gemeente vind.
Op die eerste gesig sou mens kan dink dat die Thiatire gemeente gelyk is aan die gemeente van Pergamum. Beide gemeentes is lewende gemeentes wat egter valse profete tolereer. Wat is dan die spesifieke kenmerk van die gemeente van Thiatire? Is dit net dat sy nalatig is in die beoefening van die tug?
As ons nader let op die gemeente, dan sien ons ’n duidelik kontras met die gemeente van Efese. Julle herinner miskien nog dat die gemeente van Efese suiwer in die leer en in die tug was. Dit was no 1. Hulle het skerp onderskei tussen waar en vals. Die valse leraars is ontmasker en uitgeban. Maar Christus het teen hulle dat hulle hul eerste liefde verlaat het. Dit het koud en hard in die kerk geword. Die lidmate het nie langer die dinge uit liefde gedoen soos voorheen nie.
In Thiatire sien ons die teenoorgestelde. In Thiatire is die liefde no 1. Let daarop dat Christus die liefde as eerste noem. Ek ken jou werke, naamlik jou liefde en diens. Liefde in woord en daad staan hoog aangeskryf. Dis ’n warme en aktiewe gemeente. En dit neem toe, pleks om af te neem, soos in Efese gebeur het.
Hier is hulle egter in onderskeid met die Efese gemeente, nalatig in die tug. Hulle tolereer ’n valse profetes. Hulle laat haar begaan. Die vraag kan gestel word of hulle wel in staat is om die geeste goed te onderskei. ’n Deel van die gemeente laat hulle deur Isebel mislei. Vers 22 praat van hulle wat met haar owerspel bedryf, in teenstelling tot die ander wat hierdie leer nie het nie (vers 24).
Lidmate is blykbaar beïndruk deur hierdie profetes Isebel. Hoekom tolereer hulle lidmate Isebel en val hulle vir haar leer? Ondanks hul liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding? Miskien is dit juis vanweë hul liefde. Ons het reeds genoem dat hul liefde oorheersend is. Die liefde is no 1, die liefde soos dit in diensvaardigheid gewys word. En as jy die liefde te veel benadruk, kan die suiwerheid in die leer maklik na die agtergrond skuif. Dan neig jy om te fokus op die ervaring ten koste van die suiwere kennis van die Skrifte. Jy laat jou meer lei deur jou gevoel pleks van deur die waarheid.
’n Mens sien dit in die geskiedenis van die kerk. Uit reaksie teen dooie ortodoksie met sy oorbeklemtoning van die leer, sien jy dikwels groepe of sektes opkom wat juis die ervaring oorbeklemtoon. Wanneer in die kerke liefde en entoesiasme ontbreek, dan soek mense dit dikwels in die entoesiaste beweging, ook al mag daar die leer minder suiwer wees. Dink maar aan die aantrekkingskrag van die charismatiese en Pinkster beweging.
So ’n liefde en entoesiasme is op sig pragtig, prysenswaardig. Ons kan nog baie daarvan leer. Maar as die waarheid van God se woord nie goed bewaak en onderskei word nie, is dit lewensgevaarlik. Dit kan die probleem van die Thiatire gemeente gewees het. Geloofservaring, liefde, diensvaardigheid is pragtig, ja selfs onmisbaar. Maar die geloofservaring moet wel aan die toets van die Skrif onderworpe bly. Daarom word met nadruk opgeroep: Hou maar net vas wat julle het. Hou net vas aan die Woord van God wat julle ontvang het. Laat jou daardeur lei. As jy dit nie doen nie, word jy ontvanklik vir allerlei subjektiewe ervarings wat as profesie voorgestel word. Dis wat gebeur het in Thiatire. Met hul beklemtoning van liefde en diens het hulle ontvanklik geword vir Isebel se valse profesie. "Isebel slaag daarin om my diensknegte te verlei", sê Christus, “om te hoereer en afgodsoffers te eet”.
Broeders en susters, Hoe kan sulke dinge in die gemeente getolereer word? Dis tog duidelik dat seksuele losbandigheid en afgodery deur God verbied is? Ons kan ons moeilik voorstel dat lidmate sou glo dat Isebel ’n profetes is en dat hulle haar leer ernstig sou opneem nie.
Geliefdes, om dit te verstaan moet ons kyk na die samelewing waarin hierdie mense geleef het. Anders as die vorige stede was Thiatire geen stad wat bekend gestaan het vir sy tempels en kultuur nie. Thiatire was by uitstek ’n nywerheidstad, ’n stad van handel. Dit was een van die grootste sentrums waar tekstielware gemaak is. Linne, allerhande geweefde materiaal, kledingstowwe, gordyne en matte is hier geproduseer. Daar was ook groot fabrieke vir metaalwerke, o.a. yster en koper. Wat in die samelewing ’n groot rol gespeel het was die verskillende vakbonde. Elke ambag het sy eie vakbond gehad. As jy êrens gewerk het, was jy outomaties ingedeel in een van die vakbonde of gildes. As jy nie aan die kant gesit wou word, dan moes jy by een van die vakbonde behoort. Sou jy dit weier, dan sou jy jou werk of kliënte kan verloor.
In Thiatire het die christene te make met ’n sosiaal ekonomiese probleem. Die groot vraag waarmee hulle daagliks moes worstel was of hulle lid van sulke vakbonde kon bly. Mag jy saamdoen of nie? Waarom is dit so ’n probleem? Hulle moet tog leef en werk in die samelewing, binne die bestaande sosiale strukture? En is dit nie ’n mooi geleentheid om as christene in die organisasies te getuig nie?
Maar, broeders en susters, die saak is nie so onskuldig as dit lyk nie. Die vakbonde het ’n duidelike godsdienstige karakter gehad. Wat dit betref was die ongelowiges uit daardie tyd baie eerliker as die ongelowiges vandag. Vandag benadruk ongelowiges neutraliteit. Die ongelowiges uit die verlede het eerlik erken dan niks neutraal kan wees nie. Hulle het erken dat alles wat hulle gedoen het deur hul godsdiens bepaal is. Hulle het erken dat hul hele lewe deur die gode beheers was. Daarom was die vakbonde meestal aan ’n sekere god gewy, ’n god wat as die beskermer van die vakbond aanbid is.
Bowendien, die vakbonde het hul maaltye en feeste gehad waarin allerlei heidense rituele in ag geneem is. Die kos wat geëet is, was eers aan die afgod gewy. Die feeste het ook dikwels gelei tot oormatige drankgebruik en seksuele losbandigheid. Dit was dus nie ’n onverskillige saak of jy by die vakbonde behoort het of nie. As jy daarvan lid wou bly, moet jy deelneem aan die aktiwiteite, waaronder die aanbidding van die beskermgod.
Broeders en susters, julle moet besef dat die praktyke van ontug en die eet van afgodeoffers in daardie tyd en samelewing gewoon by die lewe behoort het. Seksuele omgang voor of buite die huwelik is as normaal beskou. Ons is vandag terug in die situasie. Ons huidige samelewing vertoon hierin opnuut die kenmerke van die heidendom.
Die vraag is: moet jy as christen jou heeltemal onthou van sulke algemeen aanvaarde praktyke? Dieselfde geld vir die eet van kos wat aan die afgode geoffer is. Dit was in daardie tyd ook gewoon deel van daardie lewe. Jy het daarmee te doen gehad in die vakbonde, maar ook in jou kontakte met familie en vriende. Die meeste van die familie feeste was soos die vakbond feeste georganiseer. Sou jy jou daaraan onttrek, dan het dit ’n radikale breuk met jou omgewing beteken. Dit het beteken dat jy die bande met jou familie, vriende, kollegas verbreek het. Jy kom aan die kant te staan. Jy kan jou werk verloor, jy word van allerlei dinge uitgesluit, jy ly armoede.
Nou, in Thiatire was daar ’n vrou wat met ’n oplossing vir daardie probleem gekom het. In die gees van die Nikolaïete het sy geleer: bly gerus lid van die heidense organisasies. Die praktyk van die lewe vereis dit. En die Here verbied dit nie. Die vrou bied haar leer dus aan as die Woord van God, as profesie. Sy beweer dat sy ’n profetes is. Dat sy openbaring van God ontvang het. En die gemeente vind dit blykbaar moeilik om haar af te wys. Sy sê dat sy die Gees van God het. Hoe moet jy weet of dit waar of vals is? Waarom kan sy nie ’n openbaring van God ontvang het nie? ’n Deel van die gemeente volg haar.
Onder die dekmantel van profesie kom hierdie vrou met ’n nuwe teologie. Sy stel die aanpassing aan die heidense wêreld voor as iets wat teologies korrek is. Sy skyn selfs so ver te gaan dat sy die losbandigheid van die heidense feeste verdedig. Dis vir christene nie verkeerd om by sulke feeste aan die vlees toe te gee nie. So leer jy die dieptes van satan ken. Moontlik het sy soos volg geredeneer: as jy wil weet hoe groot God se genade is, dan moet jy eers daal na die dieptes van satan. Om genade te waardeer moet jy weet wat in die wêreld aangaan en moet jy dit proe. Dit klink vroom. Jy gee jou oor aan die sondige begeertes van die vlees om die volgende oggend naar op te staan. Maar dit is juis goed vir jou sodat jy des te meer in die genade van God kan roem. So weet jy wat genade werklik beteken. En onthou, jou vlees is nie meer jouself nie. Dit behoort by die lae orde wat sal verdwyn. Wat belangrik is, is die hoë orde: jou nuwe lewe in Christus.
Dis ’n briljante teologie. Briljant omdat dit loon. Nou kan jy jou besigheid bedryf soos die ander burgers sonder om bang te wees dat jy jou kliënte sal verloor. Jy word volkome aanvaar. Jy kan handel bedryf sonder verhindering. En jy kan jou christelike gewete sus.
Geliefdes, Christus ontmasker die huigelary. Hy wat oë het soos ’n vuurvlam ontmasker elke valsheid. Hy noem die vrou Isebel. ’n Veelseggende naam. Wat het die berugte vrou van Koning Agab gekenmerk? Dit, dat sy alles in haar vermoë gedoen het om God se volk te verlei om die Baäls te dien. Sy het die sintese gepropageer, dat jy die diens aan die Here moet vermeng met die diens aan die heidense afgode. Die sintese wat feitelik beteken het dat die ware diens aan God alleen verdwyn. So is die vrou in Thiatire besig om die lidmate te verlei om die afgode te dien pleks van die enige ware God.
Christus vel sy vonnis teen Isebel en haar volgelinge. Nou die gemeente nalaat om op te tree, sal Christus in eie persoon optree. Hy sal Isebel met siekte tref, haar kinders sal sterf. Haar volgelinge, hulle wat die nuwe aanpassings teologie aanhang, sal deur God in groot verdrukking gebring word, as hulle hul nie bekeer nie. Wat ’n ontnugtering. Hulle – en dit geld ook vir ons moderne samelewing – hulle het die nuwe teologie, die nuwe vryheid gekies omdat dit vir hulle voordeel sou bring. Omdat dit hulle van verdrukking sou bevry. Maar nou gebeur die teenoorgestelde. Vanweë hul nuwe teologie sal hulle juis groot verdrukking ly. Jy sou dit ook kan vergelyk met die situasie vandag: Vanweë hul seksuele losbandigheid word baie vandag deur geslagsiektes getref of deur vigs. Mense wil vry wees om hul begeertes uit te leef. Christus laat hulle voel dat daardie vryheid ’n mens uiteindelik verwoes.
Hierdie oordeel van die Here sal vir elke gemeente ’n les wees: "en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek" sê Christus. Die kerke sal weet dat sy oë soos ’n vuurvlam deur al die godsdienstige maskers deurdring, die maskers waaragter valse leraars probeer skuil. Niemand kan iets vir Christus wegsteek nie. En Hy sal niemand toelaat om met sy diens te speel nie. Met sy voete soos blink koper sal Hy sy oordeel voltrek. Isebel en haar volgelinge mag dink dat dit geen skade kan doen om die sonde te proe nie. Maar, sê Christus. Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke. Ek sal die sedeloos gedrag straf. Jou werke het dan rampsalige gevolge.
Ten slotte het Christus nog ’n boodskap vir die getroues. Dis die derde gedagte.
"En Ek sê vir julle en die ander wat in Thiatire is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom." Die enige las wat Christus op sy kerk lê is die las wat Hy eerder in Handelinge 15 deur die apostels beskryf het. Christene moet hulle onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery. Daar is absoluut geen ruimte vir die sintese nie. Die diens van die Here sluit alle afgodediens uit. Jy kan geen gemeenskap met die Here hê en met die afgode nie. Die twee kan nie saamgaan nie. Selfs nie wanneer jou sosiaal ekonomiese situasie jou daartoe sou dring nie. Jy kan nie God dien én bv die god van die vakbonde: die mammon, die geldgod nie. Jy kan nie God dien én die seksgodin nie. Jy kan nie God dien én die sportgod nie. Jy kan nie God dien én die gode wat in ons samelewing hul aanbidding opeis nie.
Deur ’n radikale standpunt in te neem kom jy miskien aan die kant te staan. Allerlei moontlikhede word jou miskien ontneem. Dit kan beteken dat jy afgedank word, uitgesluit word. Die heidendom kan spelbrekers nie gebruik nie. Hulle wat nie bereid is om hulle heeltemal aan die groep aan te pas, word gediskwalifiseer, geboikot.
Christus laat egter die groot prentjie sien. Die posisies sal eendag omgekeer word. Die gelowiges wat volhard teenoor die oormag van ’n heidense samelewing, ontvang die belofte dat hulle mag oor die nasies sal hê. Vandag word jy verneder, maar jy sal gaan heers. Die vervolgdes sal regeer. Jy sal deel in die oorwinning van Christus. Jy sal saam met Christus oor die nasies regeer met ’n ysterstaf. Jy sal hulle soos erdegoed verbrysel. Hulle wat nou soveel invloed en mag het, sal dan blyk nikswerd te wees. En jy as gelowige sal die simbool van mag ontvang, die morester, die teken van die nuwe dag.
Geliefdes, ons verkeer nou nog midde in die stryd. God vra een ding van ons: om sy Woord vas te hou en jou daaraan te onderwerp. Dit impliseer: om jou te onthou van alle ou en moderne afgodery. Dit kan jou baie kos: jou sosiale kontakte, jou werk, jou kontrakte. Hoe massaler die afgodery, hoe minder tolerant sal mense wees. En die verleiding is groot om maar net ’n klein bietjie saam te doen om jou posisie en besigheid te red. Om ’n klein bietjie toe te gee sodat jy nie heeltemal uitgesluit word nie.
Vandag is daar ook mense wat met ’n teologiese oplossing probeer kom. Dis tog nie so sleg nie. God verbied dit nie. God is mos ’n God van liefde. Solank as jy ander nie daarmee skaad nie.
Maar as jy eenmaal gehoor het wat die Gees aan die gemeentes sê, dan hou jy vol: nooit. Nooit wil ek my stort in die dieptes van satan nie. Ek sal nie toegee aan sedeloosheid en afgodery nie. Jesus Christus het my van die afgryslike slawerny juis verlos. Ek mag vry wees. Deur Hom is ek profeet, priester en koning. Daarom bid ons:
Lei ons nie in die donker land,
die wêreld van versoeking , want
ons is so swak. Verlos ons van
die Bose as hy sy vangnet span
Want U kom toe die majesteit
En krag en eer in ewigheid.
(SB 28:4)
AMEN
Net ’n herinnering: Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn
(kyk in preek)