As Christen is jy gelyktydig sondig en regverdig

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2010-05-09
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 23
Preek Inhoud: 

Sondag 23

Johannesburg, 9 Mei 2010

Lees: Rom. 4:1-12; 8:29-39

Sing: SB 27; Ps 130:1,2,4 (2de beryming); SB 10; Ps 32:1,4,6

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

 

Dalk ken julle die slagspreuk: Christene is nie volmaak nie, net vergewe.  Wat dink julle van die slagspreuk?  Is dit reg?  “Christene is nie volmaak nie” is reg, indien ons daarmee bedoel dat Christene nog sondig is.  Ons is as Christene nog onvolmaak in ons lewe vir die Here.  Ons beste werke is met sonde bevlek.  Kan ons egter sê dat ons net vergewe is?  Dat net die vergewing ons onderskei van ongelowiges?  Daar is ’n sin waarin Christene volmaak is.  Die volkome geregtigheid van Christus word immers aan Christene toegereken.  Ons lees in Hebreërs 10:14: “Want deur een offer het Hy (Christus) vir altyd volmaak die wat geheilig word.” Deur sy offer het Christus ons dus vir altyd volmaak.  Daar is dus ’n sin waarin ons kan sê: Christene is volmaak.  Dit is ons nuwe posisie in Christus.  In Christus is ons volmaak.  Ongelukkig is ons nog nie volmaak in die praktyk van ons lewe nie, daarom praat die Bybel ook daaroor dat ons die volmaaktheid moet najaag.  Die slagspreuk: “Christene is nie volmaak nie, net vergewe” is dus reg en verkeerd.

Die waarheid is dat Christene in hierdie lewe sowel sondig as regverdig is.  Die Reformatore het hierdie waarheid opnuut aan die lig gebring.  Dit beteken dat jy selfs tydens jou beste dae, selfs in jou mooiste Sondagse klere, nog sondig. Maar dis juis op hierdie punt dat jy as Christen jou mag verbly.  Jy mag immers weet dat God jou reeds vrygespreek het en jou op grond van Christus se volbragte werk regverdig verklaar het.  Christene is nie net vergewe nie.  Hulle is ook nie net sondaars nie.  Hulle is geregverdigde sondaars, sondaars wat regverdig verklaar is.  Sondaars oor wie God gunstig oordeel.  En dit maak ’n hemelsbreë verskil.  ’n Mens kan gesond of ryk wees.  ’n Mens kan geniet van allerlei aardse gawes.  Maar as die Here teen jou is, jou veroordeel, wat bly daar dan oor van al daardie geluk?  Jy is dan ewig verlore.  Jy is eers werklik gelukkig as God vir jou is.  As sy oordeel oor jou gunstig is. As God vir jou is, wie kan dan teen jou wees?  Dan is jy ’n erfgenaam van die ewige lewe.  Dan kan niks jou skei van God se liefde nie.  Die leer van die regverdiging beteken dus baie vir ons Christelike geloof en lewe.  Daarin laat God weet hoe Hy ook jou dink.  En sy oordeel is beslissend.

 

Ek verkondig vir julle: As Christen is jy gelyktydig sondig en regverdig

Ons erken: ons is sondaars van nature en in wat ons doen.  Ja, dis juis omdat ons sondaars is, dat ons elke dag sondig.  As gevolg daarvan is niemand regverdig nie.  Daar is niemand wat goed doen nie (Rom 3).  Selfs nie die persoon wat hom daarop roem dat hy godsdienstiger as ander is nie.  Selfs dit wat vir ons goed lyk, is in God se oë net ’n besoedelde kleed (Jes 64:6).  Ja, niemand gaan vryuit nie, want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23).  Almal val onder die vloek, omdat niemand die regverdige eise van God se wet volmaak nagekom het nie.  Moenie jou misgis nie: ons is vervloekte sondaars deur Adam se ongehoorsaamheid en deurdat ons self elke dag sonde bly doen.

Tog eis die volmaakte heilige en regverdige God dat jy nie net sondeloos moet wees nie, maar ook volkome regverdig.  Jy moet heilig wees soos God heilig is, volmaak wees soos God volmaak is.  Maar hoe kan jy ooit volkome heilig wees soos ons heilige God?  Hoe kan jy ooit sondeloos wees, aangesien jy reeds gesondig het en nog steeds tot alle kwaad geneig is?  Hoe kan jy ooit volmaak regverdig wees as jy van nature ’n sondaar is?  Kortliks: hoe kan jy ooit reg voor God wees? 

Is dit onmoontlik?  Die dissipels het ’n keer (ook al was dit in ’n ander konteks) in radeloosheid gevra: “Maar wie kan dan gered word?”  Christus het hulle toe getroos.  Hoe?  Deur hulle fokus te verander.  Pleks om op die mens te fokus, moet jy op God fokus.  Pleks om te let op wat die mens moet doen om gered te word, moet jy kyk na wat God vir die mens doen.  Volgens Christus is redding by mense onmoontlik, maar by God wel moontlik.  Met ander woorde: om gered te word moet jy by God wees.  Van begin tot end is die redding van God alleen.  Soos iemand dit verwoord het: ons kan niks bydra aan ons redding nie, behalwe die sonde waarvan ons gered word.  Hoe kan jy dan reg voor die volkome regverdige God wees?  Wat bedoel die Skrif wanneer hy sê dat ons geregverdig is?

Om geregverdig te wees beteken in die Ou Testament om die reg aan jou kant te hê.  Dis veral ’n juridiese term wat iemand se posisie in die oë van die wet aangee.  Jy is regverdig of geregverdig wanneer jy die wet nakom en verkeerd of veroordeel wanneer jy die wet oortree.  In Deut 25:1 lees ons bv dat die regters “die regverdige regverdig verklaar en die skuldige skuldig verklaar”.  Die regters maak die mense nie regverdig of skuldig nie.  Hulle verklaar eenvoudig dat die persoon wat volgens die wet gehandel het, reg is en dat die persoon wat die wet oortree het, skuldig, verkeerd is.

Wanneer die Nuwe Testament oor regverdiging praat, gebruik dit ewe-eens juridiese terme om aan te dui dat iemand regverdig verklaar word.  Christus het eens vir die Fariseërs gesê: “dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte” (Lk 16:15).  Die Fariseërs het graag gemaak asof hulle voor God se wet regverdig was, maar feitelik was hulle glad nie regverdig nie.  Hulle het God met hul lippe gedien, maar hul harte was ver van Hom.

Die woord “regverdiging” het dus duidelik ’n juridiese klank.  Dis ’n regterlike daad van God waardeur hy my sondes vryspreek en my regverdig verklaar.  Wanneer God my, ’n sondaar, regverdig, dan verklaar Hy regterlik dat al die eise van die wet wat op my betrekking het, tevrede gestel is.  Regverdiging is dus iets wat God vir my doen, nie iets wat Hy in my doen nie.  Dit wat God in my doen, noem ons heiligmaking.  Hy vernuwe my hart en lewe sodat ek ook innerlik regverdig word.  Ons regverdiging en ons heiligmaking staan nie los van mekaar nie.  Sonder regverdiging sal jy nooit geheilig en verheerlik word nie.  En as jy werklik geregverdig is, sal jy ook geheilig en verheerlik word.  God sal immers hulle wat Hy geregverdig het, ook verheerlik.  God voltooi die werk wat Hy begin het.

Die regverdiging wys egter nie op die innerlike verandering nie.  Die regverdiging is ’n objektiewe werklikheid wat buite ons plaasvind.  Dis ’n publieke verklaring van God wat Hy oor jou uitspreek.  Hy spreek my, ’n sondaar, nie net vry nie, maar Hy doen wat geen aardse regter kan doen nie: Hy verklaar dat ek regverdig is, reg voor die wet.  Daarom kan Paulus ook skryf: “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?  God is dit wat regverdig maak”.  Dit gaan daaroor dat God se uitverkorenes nie veroordeel kan word nie, omdat hulle reeds regverdig verklaar is.  Die volgende vers maak dit duidelik: “Wie is dit wat veroordeel?  Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree”.  As jy regverdig verklaar is, kan jy nie daarna nog veroordeel word nie (Rom 8:1).  Dit onderstreep die juridiese karakter van ons regverdiging.

Ons kan wys op Abraham.  Toe Abraham God geglo het, is dit hom tot geregtigheid gereken.  Let op die woorde: tot geregtigheid gereken.  As Abraham reeds uit homself regverdig was, sou God sy geregtigheid nie aan Abraham hoef toereken nie.  Inteendeel, God reken dit hom toe juis omdat hy dit nog nie besit nie.  En soos God sy volmaakte geregtigheid Abraham toegereken het, so kon Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken, sonder werke.  Die woord toerekening wys op iets wat jy uit jouself nie besit nie.

Maar, gemeente, hoe kan God ’n sondaar soos ek is, regverdig verklaar?  Sê God self nie in Spreuke 17:15 dat hy wat die goddelose regverdig verklaar, vir die Here ’n gruwel is nie?  Hoe kan ons dit rym met God se volmaakte reg?  Hoe kan God gelyktydig regverdig wees en skuldige sondaars regverdig verklaar?

Die antwoord lê natuurlik in die grond van ons regverdiging.  Aangesien God net sondeloosheid en volmaakte geregtigheid sal aanvaar, kan dit nie van ons kom nie.  Dit moet kom van die enigste wat ooit sondeloos en volkome regverdig was: ons Here Jesus. 

Ons moet dit so sien: Sonder Christus is ek totaal bankrot.  Op die regte tyd het Christus egter in my plek kom staan, my skuld op hom geneem en dit vir my afbetaal.  Ons skuld is op Hom gelê en sy eindelose rykdom is op ons rekening oorgeplaas.  Paulus het hierdie transaksie in gedagte wanneer hy in 2 Kor 5 skryf dat God Christus wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak het, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.  Ons word geregverdig op grond van hierdie groot ruiling.

Waarom was dit vir Christus nodig om ons sondes op hom te neem en om ons sy geregtigheid toe te reken?  Christus moes dit doen om aan die dubbele eis van die wet vir ons sondaars te voldoen.  Eerstens die eis dat alle voorskrifte van die wet volmaak gehoorsaam moet word.  Tweedens die eis dat die straf vir die oortreding van die wet ten volle betaal moet word.  Aan onsself oorgelaat sou ons nooit aan die dubbele eis kan voldoen nie.  Ons kon nooit die wet volmaak gehoorsaam nie, nog die straf vir oortreding volledig betaal nie.  Die goeie nuus van die evangelie is egter dat Christus namens ons reeds aan die dubbele eie van die wet voldaan het.  God skenk nou die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus.  Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het.  God behandel en beskou my asof ek Christus self is.  Toe Christus gesterf het, het Hy vir my gesterf, maar ons kan ook sê: toe het ek saam met Hom gesterwe.  So het ek feitelik aan die dubbele eis van die wet voldaan.

Wat ’n geweldige waarheid.  Ons sondes kan ons verskriklik pla.  Wat is ek tog ’n hopelose sondaar.  Dit kan ’n mens wanhopig maak.  Maar vanweë wat Christus in sy lewe en dood vir ons gedoen het, kan ons saam met Jesaja sê dat ons volle geregtigheid en sterkte alleen in die Here is.  In Hom alleen sal die hele geslag van Israel, die kerk, geregverdig word (Jes 45:24,25).  So praat Jeremia van die Here ons geregtigheid.  So noem Paulus Christus ons geregtigheid, heiligmaking en verlossing (1 Kor 1:30).

Soos Adam en sy vrou na die sondeval, het ons ook naak gestaan in ons skande, skuld en sonde.  Maar soos Adam en Eva, het God ons geklee.  Alleen hierdie keer met iets baie mooier en beter as die rokke van vel.  Hierdie keer het Hy ons sy eie klere gegee: die klere van heil.  Hy het ons in die mantel van geregtigheid gewikkel (Jes 61:10).

God het ons besoedelde kleed van ons weggeneem, ja Hy het ons skuld weggeneem en ons met feesklere beklee (Sag 3:4).  Daarom is ons regverdiging gegrond op wat Christus vir ons gedoen het, nie op wat ons self gedoen het nie.  Dit maak sin.  Want ons regverdiging kon nie op grond van ons geregtigheid gegrond wees nie.  Selfs al sou ek nooit weer sondig nie, my geregtigheid sal nooit voldoen aan die volmaakte eise van die goddelike reg vir sondes wat ek in die verlede gedoen het nie.  En selfs my beste geregtigheid is, soos ons eerder gesien het, in God se oë ’n besoedelde kleed.  Dit sal tydens hierdie lewe nooit volmaak wees nie en kan daarom ook nooit voldoen aan die volmaakte geregtigheid wat God van ons eis nie.  Ek word uit genade gered, nie op grond van werke nie.  Dis ’n vrye en onverdiende guns van God.  Van begin tot end is my regverdiging gegrond buite myself in die drie-enige God.  Die Vader regverdig ons, op grond van die werk wat sy Seun volbring het, deur sy Gees.  Daarom, God alleen regverdig;  Hy verklaar dat daar vir my reeds aan die eise van die wet voldaan is en dat ek reg op die ewige lewe het.

Soos reeds genoem, kan jy jou regverdiging nooit as jou werk beskou nie.  Dit is nie afhanklik van iets wat in of deur jou gedoen is nie, selfs nie jou geloof nie.  Jy word immers nie uit die geloof deur genade geregverdig nie.  Inteendeel, jy  word geregverdig uit genade deur die geloof.  Om meer presies te wees: jy word geregverdig deur God wat genadiglik jou die geloof gee wat nodig is om sy genade aan te neem.  Die geloof is eenvoudig die instrument waardeur jy geregverdig is, die leë hand wat God jou gee om sy vrye gawe aan jou in Christus te ontvang.

Jou geloof is nie die basis of grond van jou regverdiging nie, dit is Christus.  Daarom sê die Skrif ook nooit dat jy geregverdig is vanweë jou geloof self nie, maar dat jy geregverdig is deur geloof in wat Christus reeds vir jou gedoen het.  Die geloof is net die instrument in ons regverdiging, wat jou na Christus wys, na Christus wat die voorwerp van ons geloof is en die basis van ons regverdiging.  Jou geloof bind jou aan Christus.  Daarin vertrou jy jouself heeltemal toe aan Christus en sy volbragte werk.

Wanneer jy jouself heeltemal op Christus verlaat in geloof, dan neem jy ook afstand van alle eie inspanning om daarmee God se guns te wen.  Om te glo is nie om jou bes te doen en dan in spanning afwag of God jou sal aanneem nie.  Om te glo is om Christus te omhels en seker te weet dat God jou aangeneem het.  Om seker te wees van God se liefde en dat niks jou van sy liefde kan skei nie.  Om seker te weet dat God vir jou is en dat niemand jou meer kan veroordeel nie.  Want Christus is ons geregtigheid.  Waarom sê ons dan dat ons deur die geloof geregverdig word?  Omdat die spesifieke eienskap van die geloof is om alles in Christus en sy geregtigheid te vind.

Na alles wat genoem is, kan ek net in verwondering God aanbid en dank.  Hom dank dat Hy my genadiglik die geloof gegee het om te ontvang wat Christus vir my gedoen het.  Die wet het in sekere sin gekom om my te terroriseer en te veroordeel in my sonde en skuld.  Maar Christus het gekom om sy eise aan ons te vervul.  In my plek het hy ten volle my vonnis vir die oortreding van die wet uitgedien.  In my plek het Hy volmaak elke voorskrif van die wet gehoorsaam.  My enigste hoop is Jesus Christus.  My inspanning, ywer en trane kan nie doen wat Hy reeds vir my gedoen het nie.  Ek was naak, maar Hy het my aangetrek.  Ek was hulpeloos, maar Hy het my gered, vuil, maar Hy het my gewas.  Hy het my met sy geregtigheid beklee.  Daarom jaag die wet geen angs meer aan nie.  Christus het voldaan.  Ja, ek is hier en nou nog ’n sondaar.  Maar ek gelyktydig regverdig.  Reg in God se oë, reg in die oë van die wet.  En een dag sal ek Christus my geregtigheid ontmoet en soos Hom wees, sondeloos en verheerlik.

Liturgie: 

(kyk in preek)