Die enigste duursame troos

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2007-01-28
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 1
Preek Inhoud: 

Sondag 1

Ds C Kleijn - Sondag 28 Januarie 2007

Lees: Psalm 73; Sondag 1.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 16:4,5;
Ps 73:10-12; SB 24:6,7.

Tema: Die enigste duursame troos

  1. Elkeen het die troos nodig
  2. Die troos is werklik uniek

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en
susters, seuns en dogters,

Sou jy op hierdie somerse dag nie jaloers wees op mense wat
die Here nie ken en dien nie? Hulle kan doen wat hulle wens. Lewe
die vryheid en plesier. Hulle kan uitgaan en plesier maak. Terwyl
jy hier nou in ’n warm geboutjie sit om na ’n preek te
luister. Seun, dogter, as jy eerlik is, wat sou jy liewer doen:
hier in die kerk sit of gaan speel of kuier? Jou bure mag nou van
alles doen, terwyl jy hier ’n volle uur rustig moet sit. Sou
jy nie jaloers op hulle wees nie? Is hulle nie beter af nie?
Trouens broers en susters, as ons kyk na die breër lewe, is die
ongelowiges dikwels nie beter af as ons nie? Hulle kan doen en
laat wat hulle wil, terwyl jy vanweë jou geloof allerlei dinge
moet doen of nalaat. Om Christen en kerklidmaat te wees kos ook
baie tyd en geld. Dit verhinder jou om jouself op onwettige wyse
te verryk. Ens ens. Is die ongelowiges nie beter af nie? En
benadeel die geloof ons nie dikwels nie?

Kom ons luister na sondag 1 van ons Kategismus: die enigste
duursame troos.

Ons let op:

  1. Elkeen het die troos nodig
  2. Die troos is werklik uniek

Die kat begin met ’n baie persoonlike vraag: Wat is jou
enigste troos in lewe en in sterwe? Die vraag gaan daarvan uit
dat ek en jy troos nodig het.

As jy let op die tyd waarin die kat opgestel is, dan kan jy
jou indink dat mense toe die troos gesoek het en oor die troos
gepraat het. In daardie tyd was daar immers vervolginge vanweë
die geloof. Dit was ’n tyd van brandstapels en martelinge.
Ons kan ons goed voorstel dat die HK met sy inset oor die troos
vir die Christene van daardie dae ’n geliefde boekie geword
het.

Maar ons leef vandag in ’n ander tyd! Ons word as
gelowiges nie vervolg of gemartel nie. Ons leef in vryheid en
baie van ons is welvarend. Maak dit dan wel sin om nou te praat
van ons enigste troos? Het elkeen dan troos nodig? Ons kan
verstaan dat mense wat verdriet of moeite ondervind troos nodig
het. Maar geld dit ook vir my as ek gesond, bly en welvarend lewe?

Tog gaan die kat daarvan uit dat elkeen troos nodig het.
Waarom? Dis vanweë die nood van die sonde dat elkeen die troos
nodig het. Nee, die nood is nie altyd ewe skerp waarneembaar nie.
Selfs Asaf het dit aanvanklik vergeet. Die nood word ook nie deur
elkeen erken nie. Dink aan die voorspoedige ongelowiges waarvan
Ps 73 spreek. Hulle leef onbesorg. Hulle hou geen rekening met
God nie. Hulle kan hulleself wel red, tenminste so lyk dit. Dink
jy aan nood as jy gesond en welvarend is? Maar wag maar tot
moeilikhede of rampe jou tref of tot die dood intree. Dan staan
jy skielik voor allerlei vrae. Dan verdwyn die sekerhede. So is
daar in Suid Afrika ook baie onsekerheid.

Dinge wat jy nie hoop sal gebeur nie, kan sommerso gebeur:
iemand uit jou familie of vriende kring word plotseling ernstig
siek, verongeluk, of word vermoor. Die stad van die mens word
plotseling deur ’n terreuraanval tot stilstand gebring. Die
welvaart en florerende besighede word skielik deur ’n
ekonomiese krisis getref. Ongehoopte en onverwagte gebeurtenisse
dwing die mens om êrens houvas te soek.

Na die opstand teen God, probeer die mens om eie
verganklikheid en onsekerheid te verdoesel deur houvas te soek in
aardse magte en kragte. So gaan mense afgode dien, eie bedenksels.
So gaan die mens vertrou op die menslike gees, op die menslike
verstand, op die menslike vermoëns, op aardse besittings ens. By
al hierdie strewe kom dit daarop neer dat troos by die mens self
gesoek word.

Maar, gemeente, wat moet jy maak as die sekerhede skielik uit
jou hande geruk word, as die dood intree? Dan blyk hoe onseker
alles in feite is. Die mens wat God die rug toedraai, wat op puur
menslike sekerhede vertrou, kom uiteindelik bedroë uit. Niks is
blywend nie. Alle aardse sekerhede gee net tydelike verligting,
geen blywende redding nie. Dit red nie van God se vloek en toorn
as gevolg van die sonde nie. Luister wat Ps 73 sê van mense wat
op hul eie mag en rykdom vertrou: “U, Here, stel hulle op
gladde plekke; U laat hulle in puin val. Hoe word hulle in
’n oomblik ’n voorwerp van verbasing, vergaan hulle,
raak hulle tot niet deur verskrikkinge!” Durf ek nog sê dat
sommige mense geen troos nodig het nie? Ongelukkig besef baie
mense nie dat hulle op ’n doodloop pad verkeer nie, op pad
na hul ewige ongeluk. Durf ek nog jaloers te wees op hulle wat
God nie ken en dien nie?

Dan word persoonlik vir my gevra: wat is jou enigste troos in
lewe en in sterwe? Die vraag is baie persoonlik. As daar gevra
was na "die" enigste troos, dan sou ek nog daarop kon
antwoord sonder self betrokke te wees. Maar hier word nie gevra
na die enigste troos nie, maar na jou enigste troos. En die vraag
maak geen uitsonderings nie. Dit word gevra aan die ryke wat
rustig geniet van sy welvarende lewe maar ook aan die arme wat
voortdurend finansiële sorge ken. Dit word gevra aan die
bejaarde, wat so te sê al met een voet in die graf staan en aan
die jong mense wat nog aan die begin van die lewe staan. Dit word
gevra aan die siekes en aan die gesondes.

Niemand word uitgesonder nie. Waarom nie? Want elkeen het met
die groot nood in die lewe te make: ons sonde en ellende. Daarom
ook die groot nood van die dood. Die lewe is uiteindelik ’n
voortdurend sterwe. Of ek dit wil erken of nie: van nature
verkeer ek in ’n ellendige toestand. Deur ons opstand teen
God, reeds in die paradys en steeds weer daarna, is daar die
vervreemding van God, die vervreemding van die egte lewe. En dit
beteken in feite die dood. Sonder die troos is alles gerig op die
dood en is alles ’n vloek.

Maar, broer, suster, seun, dogter, dan kom die persoonlike
vraag na jou toe: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Die vraag moet nou beantwoord word. Dit duld geen uitstel nie. As
jy dit tydens jou lewe, nou, nie weet nie, sal jy dit wel by jou
sterwe weet, wanneer God jou plotseling uit hierdie lewe wegruk?
Jy het nou reeds troos nodig. Elkeen van julle word dus
persoonlik aangespreek en opgeroep om ’n antwoord te gee.
Die antwoord van die geloof.

Uit die dal van doodskaduwee mag ek in geloof bely: my enigste
troos is dat ek met liggaam en siel in lewe en sterwe nie aan
myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Dit is tog ook jou belydenis? Dit is die enigste troos, heeltemal
uniek. Dit bring ons by die tweede gedagte van die preek: die
troos is werklik uniek.

Buite God is jy op jouself aangewys, op jou selfgemaakte
steunpilare, afgode. Dit blyk uiters onseker te wees. In geloof
mag ek egter sing van ’n onwankelbare sekerheid in lewe en
sterwe. Dit is ’n keuse tussen die onsekere, verbygaande
lewe by die afgode of die sekere, duursame lewe by God. Alleen by
God is daar egte troos.

Waarom? Omdat God geen dooie afgod is nie, maar die lewende
God. Hy is die altyd aktief aanwesige God, die Almagtige wat gaan
oor lewe en dood. Die God wat ook die sonde en die vloek
aanspreek. Daarom kan Hy alleen troos. Ook al vergaan hierdie
lewe met sy lugkastele, Hy bly dieselfde, die God van alle
vertroosting en verlossing.

Hy gee die enigste troos. Die verwoede pogings van mense blyk
ydelheid te wees. Jy kan dus nooit sê dat die gelowige ’n
eie troos het net soos die ongelowiges hul eie troos het nie.
Daar is maar een troos, die troos van die lewende, verlossende
God. Daarbuite is geen troos nie. Jy kan wel dink dat jy êrens
anders vastigheid gevind het, maar een magswoord van hierdie
lewende God en die skynbare sekerhede verdwyn soos sneeu voor die
son.

Gemeente, ek bely as my enigste troos dat ek nie aan myself
nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Is dit geen vreemde troos nie? Is dit nie dwaas om bly te wees
met die feit dat ek nie meer die beskikking oor myself het nie,
maar dat ’n ander, Jesus Christus, die beskikking oor my
gekry het? Is dit nie ’n baie groter eer om eie heer en
meester te wees nie? Dikwels word daar gesê: jy moet durf om
jouself te wees. Jy moet durf om jou los te maak van alle
knellende bande. Dit sou getuig van moed. Vryheid en blyheid is
die devies van baie mense. Jy moet vry wees, werklik jouself wees.
Eet, drink en wees vrolik. Pluk die dag.

Maar, broers en susters, is die vrye mense werklik so gelukkig?
U weet beter. Die mense is sigbaar in hul armoede. Hoekom armoede?
Hulle verafgod hulself, hul liggaam. Daarmee verlaag hulle
hulself tot slegs liggaamlike wesens. Alle aandag word op hul
uiterlike verskyning, hul liggaam gerig – hul liggaam moet
gaaf, slank en goed gebruin wees. Alles is gerig op die
bevrediging van hul liggaamlike behoeftes, rekreasie, ete, drank
en seks. Hulle maak asof hulle geen siel het nie. Hulle egte lewe,
die lewe voor God, het hulle uit hul gesigsveld gedryf. Hulle is
liggaamlike wesens en as hul liggaam verval, dan is dit met hulle
gedaan. Dan is hulle daar nie meer nie. Wat ’n armoede!
Herken jy hulle ook in hul armoede? Hul uiterlike gedrag verraai
hul innerlike leegte. En vergeet nie dit kan ook onder ons
voorkom. Watter boodskap gaan van jou uit? Jou uiterlike gedrag
verraai tog nie ’n innerlike leegte nie?

Hier kom nog iets by. Is die mense van die vryheid en blyheid
wel so vry? Hoe is dit sedert die sondeval? Satan het heer en
meester geword. Die mense het hulself aan hom uitgelewer. Die
mens wat homself tot heer en meester uitroep, is in werklikheid
eerder slaaf as heer. Dink aan wat Petrus oor die valse leraars,
propagandiste van die vryheid, skryf: "Hulle belowe vryheid,
terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar
’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf
geword." (2 Pt 2:19). As jy net jou eie baas wil wees, en
net wil doen waarvoor jy lus is, dan is jy feitelik ’n vyand
van jouself. Want jy is dan slaaf van die sonde, slaaf van die
duiwel, onderworpe aan die toorn van God. Jy kan dan dink dat jy
besig is met die ontplooiing van jouself, maar jy is in feite
besig met selfmoord, ewige selfmoord.

Broers en susters, ooreenkomstig die evangelie mag ek roem in
die bevryding van myself. Dit lyk dalk vreemd – wie gaan nou
roem in die feit dat hy die beskikking oor homself verloor het
– maar uit die evangelie weet ek: ek kan pas myself wees,
werklik mens wees, as ek van myself bevry word, as ek aan die
Verlosser Jesus Christus behoort.

Daarom kan jy, seun, dogter, bly wees dat jy hier in die kerk
sit en dat jy nie vry is om te doen en te laat wat jy wil nie. Jy
mag Jesus Christus as Verlosser ken. Buiten Hom sou jy slaaf van
die sonde wees, slaaf van die duiwel, op pad na die ewige verderf.

Wat het Christus dan gedoen? Hy het met sy kosbare bloed vir
al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die
duiwel verlos. Hy het my skuld, waarvoor ek vir ewig moes sterf,
betaal. Hy het my verlos uit die mag van die duiwel. Sou ek dan
nie bly wees met so ’n Heer en Meester nie? Hy is my meer
werd as alle aardse skatte of vryhede.

Daarom roem ek in my getroue Verlosser Jesus Christus, in wat
Hy gedoen het en nog steeds doen. Hy het die oorsaak van alle
nood, naamlik die sonde weggeneem. So gee Hy egte en blywende
troos.

My liggaam is deur die sonde geskonde, dit het baie te verduur.
As Christus nie eerder terugkom nie, dan sal dit selfs tot
ontbinding kom. My siel word voortdurend bestry. Maar met beide
liggaam en siel het ek die wettige eiendom van Christus geword.
Ek is duur gekoop deur sy bloed. In Hom is ek ewig veilig,
geborge. So besit ek ’n troos wat oor die graf uitstrek.
Beide in lewe en in sterwe behoort ek aan Christus, my Verlosser.

Ek het weer vaste grond onder my voete. In ’n wêreld vol
ydele troos en skyn-sekerhede mag ek, mag jy, die enigste, die
unieke troos in lewe en in sterwe besit. Daarmee kan ek weer
verder in die lewe, met al sy onsekerhede. Daarmee durf ek ook
die dood in die oë te kyk, hoe verskriklik die dood ook is. Want
in die dood weet ek dat ek aan Christus behoort, dat ek sy
onvervreemdbare besit is.

Asaf het in Ps 73 reeds van hierdie enige en ewige troos
gesing. Toe die lig weer by hom deurgebreek het, het hy in amper
Nuwe Testamentiese woorde gesing van sy troos in lewe en sterwe.
Kom ons lees saam die verse 23-28.

Alle troos buiten God is waardeloos. Wat het ek aan ’n
troos wat die son in die lewe bring, maar my by my sterwe eensaam
laat staan? Wat het ek aan al die aardse sekerhede, as ek dit nie
met my kan saamneem tot oor die graf heen nie? Hulle het slegs
betreklike, tydelike waarde, geen blywende waarde nie.
Uiteindelik geld die woorde van Ps 73:27: “Want kyk, die wat
hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U
afhoereer.

In die bergrede het die Here Jesus gewys op die verganklikheid
van aardse geluk, in teenstelling tot die onverganklike erfenis
wat vir die gelowiges weggelê is

"Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemele.

Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.

Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.

Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en
valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly
en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele."
Mt 5:3-5, 11,12.

Die teenoorgestelde word gesê van hulle wat op hul rykdom
vertrou: "Wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.
Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou
lag, want julle sal treur en ween" (Lk 6:24,25). As jy op
jou aardse geluk en rykdom vertrou en daarvoor leef, dan het jy
reeds jou troos ontvang. Jy hoef dan nie op die ewige
vertroosting van God staat te maak nie.

Broers, suster, seun, dogter, van harte gelukgewens, met die
enigste troos in lewe en in sterwe. Jy vat dit tog? Jy vlieg tog
in opwinding Jesus Christus om die hals, dankbaar en bly? Of laat
jy die enigste troos staan? Of laat jy Hom, Jesus Christus, staan?
In geloof mag jy die troos reeds hier en nou belewe. Hoe?
Daarvoor het jy kennis nodig. Geloofskennis. Hoe kan ek immers
geniet van skatte as hy nie eens weet wat die skatte is nie.
Daarom, om die troos te kan ervaar, moet ek voortdurend luister
na God se evangelie, soos Asaf eers in God se tempel moes kyk en
luister om die troos weer te ervaar. Die offers in die tempel het
hom sy sonde en ellende weer leer sien, soos die evangelie my my
sonde en ellende laat ken. Ek hoor tewens wat Christus daarvoor
gedoen het om my daaruit te verlos, soos Asaf dit reeds in die
offers gesien het. Wat ’n wonder van genade en verlossing!
Ek kan nie anders as dankbaar wees nie. Ek wil die Here my dank
toon. Dit leer die evangelie my ook. Ek hoor hoe ek aan my dank
uiting kan gee.

So vorm die evangelie wat praat van ellende, verlossing en
dankbaarheid ’n pragtige geheel. Ek raak nooit daarop
uitgekyk nie. Hoe meer ek daarvan hoor, hoe meer ek daarvan
verstaan, hoe gelukkiger sal ek my voel met so ’n Verlosser
Jesus Christus.

As ek aan Christus behoort, dan is ek ook dierbaar vir die
Vader. Sou die Vader so ’n kosbare besit van sy Seun,
waarvoor Hy sy lewe gegee het, ignoreer, in die kou laat staan,
of laat val? As eiendom van Christus ervaar ek inteendeel
daagliks die goeie sorg van Vader. En ook vir die toekoms mag ek
van sy sorg verseker wees.

Daar is nog meer. As ek aan Jesus Christus behoort dan ontvang
ek ook sy Heilige Gees. Verlostes word selfs tempels van die Gees.
Die Gees vernuwe my hart en lewe en maak dit ryk. Die Gees laat
die verlostes ryk lewe en sterwe.

Broer, suster, seun, dogter, wat is jou enigste troos, jou
enigste houvas, in lewe en sterwe? Waaraan klou jy jou vas?
Waarop sit jy jou vertroue? Sien op jou Verlosser Jesus Christus.
Vertrou op Hom. Met liggaam en siel mag ek aan Hom behoort. Ek is
sy kosbare besit. En so ook kosbaar in die oë van die ewige
Vader. Mooier en ryker kan dit nie wees nie.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)