Lukas 15:11-32
Ds C Kleijn - Sondag 4 Maart 2007
Lees: Lukas 15:11-32.
Sing: Ps 103:1,2; Ps 38:1,15; Ps 103:5,7; SB 33
(na preek), SB 24:1,2,3.
Tema: Vader se liefde vir sy twee afvallige seuns.
- die eerste afvallige seun
- die tweede afvallige seun
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Die gelykenis van ons teks is baie bekend en geliefd. Maar
waaroor gaan dit in die gelykenis? Oor die verlore seun? Maar wie
is die verlore seun? Die jongste of die oudste seun? Die teks
praat letterlik van die jongste seun as verlore, maar dit voeg
daar ook aan toe dat hy gevind is. Hy was dood en het weer lewend
geword. Maar hoe loop dit af met die oudste seun? Is hy ook
gevind? Die teks sê niks daarvan nie. Wat die teks wel laat sien
is dat hy ook feitelik verlore is. As jy dit die gelykenis van
die verlore seun wil noem, dan kan jy beter praat van die verlore
seuns in die meervoud.
Maar is dit die belangrikste boodskap van die gelykenis? Die
verhaal beklemtoon die liefde en deernis van die pa. God se
liefde vir sondaars, dis waaroor dit gaan. En nie net sy liefde
vir die jongste deugniet nie. As dit die geval was, dan sou die
verhaal by vers 24 kon geëindig het. Op daardie punt was pa se
deernis vir sy jongste seun duidelik genoeg. Maar Jesus kies om
die gelykenis nie daar te stop nie, maar om ook te praat van die
jaloesie en wrok van die selfvoldane oudste seun.
Christus wil Vader se liefde teken vir beide die jongste
afvallige en die oudste een. Daarom preek ek vir julle: Vader se
liefde vir sy twee afvallige seuns.
- die eerste afvallige seun
- die tweede afvallige seun.
Dit was n gelukkige gesin. Dit het met die familie
bedryf goed gegaan. Pa het ook twee seuns wat met die
familiebedryf sal kan aangaan. Maar dan is daar n seun wat
van die gesin losbreek. Hy eis sy deel van die boedel en vertrek
na n ver land.
Gemeente, die drie gelykenisse van Lukas 15 die
gelykenis van die afgedwaalde skaap, van die verlore penning en
van die verlore seuns hou elkeen verband met wat ons lees in
Lukas 15 vers 1,2. Daar lees ons: En al die tollenaars en
sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te
luister. En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie
gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam
met hulle. Die klag van die Fariseërs dat Jesus hom meng
met tollenaars en sondaars was die aanleiding tot hierdie
gelykenisse. Die gesin van ons gelykenis blyk God se volk te wees.
Die jongste seun wat die gesin verlaat, wys na die tollenaars en
sondaars.
Die jongste seun wys geen respek vir sy pa se liefde nie. Hy
gaan na n ver land om sover moontlik van die waaksame oog
van sy pa te wees. Hy wil lewe soos hy lus is, sonder beperkings.
Hy wil heeltemal vry wees.
Hy gaan weg en verkwis al sy geld aan n losbandig lewe,
n slaaf van die sonde. Alles moet sy selfsugtige begeertes
bevredig. Waar loop dit op uit? In ellende. Hy het geluk gesoek
maar ongelukkigheid, leegheid en armoede gevind. Om die sake nog
erger te maak: God laat n groot hongersnood oor die land
kom. God haal hom in.
Ten einde raad, terwyl hy byna doodgaan van die honger,
aanvaar hy die mees vernederende en weersinwekkende werk wat
n Jood kan bedink: om op onreine varke te pas. Ja, feitelik
is die varke beter af as hy: hulle kry tenminste hul kos.
Broer, suster, seun, dogter sien jy God se spieël wat Hy voor
jou hou? God het my en jou so n groot liefde gewys deur ons
in sy gesin op te neem. Dink aan julle doop. God het jou en my
n liggaam en n verstand gegee, fisiese en
verstandelike vermoëns, krag en welvaart. Wat het ek en jy met
al die gawes gedoen? Soek ek nie dikwels eers myself met al
daardie gawes nie? Die bevrediging van my eie begeertes? Dis
dieselfde as afval van God, verloëning van sy liefde en genade.
God het my verstandelike en fisiese vermoëns gegee sodat ek Hom
daarmee sou verheerlik en so ware geluk in gemeenskap met Hom sou
ervaar. Is dit wat ek ervaar?
Heeltemal ontnugter deur die ongelukkige gevolge van sy
selfsugtige lewe besef die jongste seun hoe dwaas dit was om sy
ouerlike huis te verlaat. Hy kom tot sy sinne. As dinge in die
lewe nog goed gaan, dink jy nie maklik na oor jou gedrag nie. In
die opgewondenheid van n besige en voorspoedige lewe vra jy
nie so gou die ernstige vrae van die lewe nie. Die jongste seun
kom net tot sy sinne wanneer hy in n verknorsing sit. Dan
dink hy weer aan sy pa en besluit hy om weer na sy pa terug te
keer. Op vergelykbare manier roep ook ons hemelse Vader ons by
tye tot n halt sodat ons Hom weer sou raaksien en na Hom
sou terugkeer. Vergelyk n gesin met n seun wat as
tiener die rug op die Here gedraai het. Toe die seun ongeveer 30
jare oud was het hy n ernstig ongeluk gehad. Daar is vir sy
lewe gevrees. Hy het daar deurheen gekom. God het hierdie ongeluk
gebruik om hom weer tot die geloof en tot die kerk terug te bring.
Geliefdes, dit mag n maklike uitweg lyk vir n man
wat in die verknorsing is om na sy pa terug te keer. Hierdie seun
besef inderdaad nie ten volle pa se liefde nie wanneer hy besluit
om terug te keer huis toe. Hy wil daar werk kry soos een van pa
se gehuurde werkers. Hy wys dat hy nie verstaan dat pa nie
verlang na gehuurde werkers of slawe nie. Pa kan sulke werkers by
die markplein kry soveel as hy wil. Hy is ryk genoeg daarvoor. Pa
wil egter sy seun terughê as seun. Jy kan nie n seun koop
of huur nie. Tussen n pa en n seun is daar n
liefdesband en nie n werkkontrak nie. Tussen pa en seun is
daar n tere toegeneentheid en nie n verhouding van
baas en kneg nie. Pa wil sy kind as kind terughê.
Tegelyk is dit tog geweldig dat die jongste seun weer aan sy
pa dink. Hy verval nie in moedeloosheid of selfbeklag nie. Dinge
waarin jy maklik kan verval wanneer jy in so n hopelose
situasie teregkom. Jy kan jouself jammer gaan kry en neerslagtig
word. Of ook te trots wees om terug te keer. Hierdie jongste seun
gaan egter terug na sy pa.
Let ook op sy berou. Hy betreur nie net sy nood wat n
groot teenstelling vorm met die situasie van sy pa se werkers nie.
Nee, bo al betreur hy sy diepe skuld. Hy kom met n
onvoorwaardelike belydenis van skuld: Vader, ek het
gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u
seun genoem te word nie. Terwyl hy voorheen in selfvoldane
hoogmoed sy deel van die boedel geëis het, is hy nou bereid om
nederig die laagste plek in te neem en sy pa se opdragte uit te
voer. Sy woorde is goed gekies. Hy redeneer nie: laat ek na my pa
gaan, dan sal alles weer reg kom soos vroeër. Nee hy werk aan sy
belydenis van skuld. Hoe is dit met jou? Gaan ons dikwels nie te
maklik en te vinnig na die Vader toe om vir vergewing te vra. Gee
ons aandag aan ons belydenis van skuld?
Ware berou is nodig en n onvoorwaardelike belydenis van
sonde. As n verlore sondaar moet ek besef dat ek uit myself
geen reg het om n plek by God te eis nie. As ek begeer om
na God te gaan, terwyl ek vertrou op my eie waardigheid of terwyl
ek verskonings soek, dan is ek nie gereed vir die vergewing nie.
n Gebroke en verslae hart sal God egter nie verag nie (Ps
51:19).
Ons sien in die gelykenis vervolgens vader se liefde. Kyk wat
hy doen sodra hy sy seun sien kom. Blykbaar het hy voortdurend op
die uitkyk gestaan, het hy op sy seun gewag om terug te keer. Sy
hart gaan uit na sy seun, ook terwyl sy seun nie meer aan hom
dink nie. So was en is die Here God dikwels aktief met jou besig
om jou na Hom te trek selfs voordat jy ware belangstelling toon.
Sodra die afvallige seun na sy pa terugkeer, hardloop pa na
hom toe, omhels hom en soen hom. Hy doen dit selfs voordat sy
seun iets vir hom kan sê. Wanneer sy seun uiteindelik wel praat,
laat pa hom nie eers uitpraat nie. Hy gee onmiddellik opdrag om
die mooiste mantel te bring en dit vir hom aan te trek, om hom
n ring vir sy vinger te bring en sandale vir sy voete. Die
seun moet onmiddellik in sy posisie as seun herstel word. Elkeen
moet hom weer as seun herken.
Broers en susters, wat dink julle van so n pa? Wat sy
seun gedoen het was verskriklik. Hy het sy pa diep beledig,
seergemaak. Pa se liefde verag. Tog aanvaar pa hom onmiddellik
weer as sy seun en herstel hom in daardie posisie. Wat n pa!
Geliefdes, wanneer ek as sondaar na my hemelse Vader terugkeer,
maak Hy geen verwyte en wys Hy my nie af nie. Hy verneder my nie,
maar Hy verwelkom my as sy geliefde kind in Christus.
Tollenaars en sondaars soos ek en jy van nature is, word
vrygespreek. Ons word aangetrek met rein en blink fyn linne. Ons
word gewas deur Christus se bloed en Gees.
Maar dis nog nie alles nie. Onmiddellik word n groot
fees georganiseer. Die terugkeer van die seun moet gevier word.
As dit vandag sou gebeur, sou mense kon redeneer: laat ons dit
beskeie hou, nie te veel ophef daaroor maak nie, dit herinner ons
net aan n swart bladsy in ons familie geskiedenis. Hierdie
pa maak egter n groot fees daarvan. En hy noem openlik die
rede vir die fees: Want hierdie seun van my was dood en het
weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. Hy is
nie verleë daarmee nie, bevrees oor wat mense sal sê nie. Hy
steek geen feite weg nie. Elkeen moet weet hoe diep sy seun geval
het maar ook hoe hoog hy weer verhef is. Ja, hy was vir pa dood
en verlore. Pa kon nie sy liefde en sorg aan hom kwyt nie. Maar
nou hy terug is, kan pa weer in die praktyk n pa vir hom
wees. Hy kan hom weer in sy liefde laat deel.
Broers en susters, jul hemelse Vader trek julle nie net wit
klere aan nie. Hy berei ook n feesmaal vir julle, om te
vier dat julle verlore was en weer gevind is. By elke Heilige
Nagmaal is daar so n fees. Aan die tafel steek ons nie die
werklikheid van ons sondes weg nie. Nee, ons verklaar daar aan
die tafel dat ons in onsself dood is. Ons bely dat ons ons lewe
buite onsself in Jesus Christus soek. n Mens sou kan dink:
Wie maak nou so? Wie gaan nou jouself en ander aan jou sonde en
skuld herinner, aan jou diepe val. Ons bly liewer stil oor
daardie soort dinge. Maar Vader wys dat daar n rede is om
te vier. Jy was dood, maar jy het weer lewend geword. Jy was
verlore maar jy is gevind.
Wat n liefdevolle vader. Hy is bly om sondaars, bekeerde
sondaars aan sy tafel te ontvang. Ja, veral vir hulle het Hy
daardie feestelike maaltyd georganiseer. Hy verwelkom elkeen van
julle, maak nie saak hoe diep jy geval het nie. Hy verwelkom
julle as broers en susters aan sy tafel.
Maar nou die tweede deel van die gelykenis. Nie elkeen wil aan
die fees deelneem nie. Die oudste seun het ernstige besware. Dis
die tweede gedagte: die tweede afvallige seun en vader se liefde
vir hom.
In die houding van die oudste seun gee Jesus n duidelik
prentjie van die houding van die Fariseërs en skrifgeleerdes.
Die Fariseërs en skrifgeleerdes het beswaar gemaak dat Christus
met tollenaars en sondaars omgegaan het. Hulle het hulle vererg
dat Jesus so maklik daardie sondaars aanvaar het. Volgens die
Fariseërs verdien die sondaars dit om geïgnoreer te word. Jy
moet hulle laat voel dat hulle apart staan vanweë hul sondige
lewe. Wanneer Jesus kontak met hulle soek, dink die Fariseërs
dat hy te ver gaan. Ja, hulle glo wel in die vergewing van sondes,
maar dan moet n tollenaar bv eers wel n lang pad van
berou volg. Vanweë hul strenge voorskrifte het hulle die
bekering van sulke sondaars as amper onmoontlik beskou. Daarom
kan hulle dit nie verdra dat Jesus sulke sondaars so maklik weer
aanvaar nie.
n Mens herken hul moeite by die oudste seun. n
Mens kan sy gevoelens enigsins verstaan: hoe kan jy so n
afvallige seun wat sy vader se boedel verkwis het en so n
wilde lewe gelei het, aanvaar? Jy moet hom tog eers goed laat
voel dat dit baie erg is wat hy gedoen het? Laat hom eers maar
wys dat hy dit werd is om seun te wees. Jy het altyd jou bes
gedoen, n ordentlike lewe gelei, allerlei wêreldse vermaak
vermy, jouself voortdurend dinge ontsê, ook al was die dinge
aantreklik, terwyl hierdie afvallige seun gedoen het wat hy lus
was om te doen, n wilde lewe gelei het en sy sondige
begeertes uitgeleef het. Moet so n broer dieselfde plek as
jy aan die tafel ontvang?
Dis opvallend dat die pa ook na die oudste broer uitgaan om
hom te nooi. Hy is nie partydig nie, maar behandel albei die
seuns met dieselfde teerheid en liefde. Hy het volmaakte liefde
vir die oudste broer sowel as vir die jongste. So soek die Here
God die bekering van sowel die tollenaars en sondaars as die
Fariseërs sodat hulle na Hom sou kom en sy liefde vir die
verlorenes sou deel. Uit die woorde van die oudste seun is dit
duidelik dat hy innerlik van sy pa afgeval het. Hy was ook
verlore. Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u
gebod oortree nie.
Die jongste seun het teruggekom met die versoek om as een van
Vader se gehuurde werkers aanvaar te word. Nou wys die oudste
seun dat hy sy posisie as dit van n gehuurde werker beskou
het. Hy sien nie sy vader se liefde raak nie. Hy sien homself nie
as n seun nie. Hy het uit pligsgevoel gewerk, nie spontaan
uit liefde nie. Dis hoe die Fariseërs geleef het. Hulle het nie
soos vrye seuns geleef nie, maar soos knegte. Hul gehoorsaamheid
aan die wet van God was nie uit liefde en dank aan die Here nie,
maar omdat hulle dit moes doen. Daarom het hulle hul loon
opgeëis soos gehuurde werkers dit doen.
Die oudste seun wys ook sy eiedunk deur te sê dat hy nooit
Vader se gebod oortree het nie. Hy het homself beskou as n
volmaakte seun, n voorbeeldig kind. Daarom kyk hy neer op
sy broer wat die teendeel sou wees. In sy eie oë verdien hy alle
eer terwyl sy broer geen enkele regte meer sou hê op wat aan sy
vader behoort nie.
Die oudste seun is gebore en getoë in die kerk. Hy het nooit
enige opvallende sondes gedoen nie. Hy het getrou gedoen wat van
hom verwag is. Hy het so te sê seker gekwalifiseer as ouderling
of diaken in die kerk en staan hoog aangeskrewe.
Hy moet hom egter ook bekeer. Fariseërs en skrifgeleerdes
hoef hulle nie van presies dieselfde sondes as die tollenaars en
sondaars te bekeer nie. Tog moet hulle hul bekeer van hul eie
sondes, hul eiegeregtigheid. Hulle is ook vervreemd van Vader
deur te dink dat hulle waardig is om geëer te word vanweë hul
prestasies.
Broers en susters, die probleem van eie geregtigheid is dat
dit byna onmoontlik lyk om dit in onsself te herken. Ons is
bereid om byna enige sonde te bely behalwe die sonde van
eiegeregtigheid. As ons egter die houding het, ontneem ons
onsself die vreugde van die lewe uit die genade van God. Genade
is immers net vir sondaars.
Wat sê die pa vir sy oudste seun? Liefdevol herinner hy hom
aan sy posisie as seun en erfgenaam. Kind, jy is altyd by
my, en al wat myne is, is joune. Alles is tot jou
beskikking. Waarom kla jy? Jy is tog goed af, jy is tog
onvoorstelbaar ryk? En dit alles word vir jou gegee as erfgenaam,
kosteloos. As ek nie hierdie bedryf sou gehad het nie, sou jy
niks gehad het nie. Alles word jou kosteloos gegee.
Ja gemeente, dit is wat die Fariseër in die kerk, wat ek en
jy, steeds weer moet leer om raak te sien, dat alles genade is.
Jou vermoëns, jou ywer, jou kennis is genadegawes van God.
Genade is nie net nodig vir tollenaars en ander berugte sondaars
nie. Elkeen van julle het genade nodig. Immers, selfs jou beste
werke is met sonde bevlek. Genade is elke dag weer nodig. En God
wil die genade gee. Dan ontvang jy weer vreugde in jou daaglikse
diens aan God. God wil jou in sy teenwoordigheid hê, nie omdat
jy uit jouself so goed is nie, maar vanweë sy liefde in Jesus
Christus.
Dit maak jou nederig en dankbaar. Jy mag in Vader se huis
verkeer, as erfgenaam van sy beloftes, ja, as erfgenaam van die
wêreld.
Sal die Fariseërs dit sien? Die gelykenis het n oop
einde. Ons word nie vertel of die oudste broer na die feesmaaltyd
gegaan het en dit saam met die ander gevier het nie. Ons word ook
nie vertel hoe die jongste broer daarna geleef het nie.
Christus doen n dringende beroep op elkeen om na Hom te
gaan en om so te deel in sy hemelse vreugde. Daar wag n
hartlike en heerlike ontvangs vir elke sondaar wat hom bekeer.
Laat die Fariseër die tollenaar omhels as n medesondaar,
wat uit genade gered is. As jy die vader liefhet, sal jy ook jou
broer of suster liefhê, maak nie saak hoe sleg hy of sy was nie.
As broers en susters moet ons bly met mekaar wees omdat God ons
aanvaar het as sy kinders in Christus Jesus. Aan die HN mag ons
elke keer weer saam ons gemeenskaplike verlossingsfees vier.
AMEN
Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.
(kyk in preek)