Filippense 3:10,11
Ds C Kleijn - Sondag 22 April 2007
Lees: Filippense 3:1-14.
Sing: Ps 63:2,3; Ps 19:4 (na wet); Ps 16:1,5; Ps
68:2,9 (SB 27); Ps 63:4,6.
Tema: Om Christen te wees beteken om Christus te ken
Dit beteken
- om die krag van Christus se opstanding te ken;
- om die gemeenskap aan Christus se lyding te ken;
- om die opstanding uit die dode te verwag.
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Wat is dit om n Christen te wees? Is dit n kwessie
van baie pligte nakom? Dat jy reëlmatig bid, Bybel lees, kerk
toegaan, jou kerklike bydraes betaal ens, ens. Is Christen wees
n kwessie van n ordentlike lewe lei? Dat jy n
ordentlike mens is? Dat jy nie lieg of steel nie, en dat jy
eerlik met mense is en hulle ordentlik behandel? Dat jy altyd
trou is binne die verhoudings waarin jy leef?
n Ander vraag wat gestel kan word is: Is daar eintlik
wel so n groot verskil tussen n Christen en n
nie-christen? Wat is die verskil tussen n Christen en
n ordentlike nie-christen? Is die nie-christen soms nie
juis n beskamende voorbeeld vir die Christen nie? Maak dit
dan werklik so n groot verskil om Christen te wees?
Paulus verkondig Jesus Christus as die lewe. Alles draai om
Jesus Christus. Christus is die sentrum van sy prediking.
Christus is die sentrum van sy lewe. Buite die band met Christus
is daar geen lewe nie. Die hele brief aan die Filippense getuig
daarvan dat die apostel vol van sy Heiland is. Sy lewe is:
Christus. Hy ken net een verlange: dat Christus grootgemaak word.
As Christus maar verkondig word is alles goed. Hy is die Here in
wie daar altyd rede is om bly te wees.
Die brief aan die Filippense staan bekend as die brief van die
blydskap. Selfs terwyl Paulus in die tronk sit, verbly hy hom en
roep hy ons op om ons te verbly in die Here. So het die
Skrifgedeelte wat ons gelees het ook begin met die woorde:
Verder, my broeders, verbly julle in die Here. In
hierdie gedeelte bemoedig Paulus ons om as Christene in ons
geloof te volhard en om in Christus al ons vreugde te vind. In
sekere sin was die Christelike geloof in die eerste tyd n
kaal geloof, sonder tempels. Hulle kon hulle nie
beroem in groot, indrukwekkende tempels nie. Soos vandag die
Christelike geloof ook maar kaal en saai is in
vergelyking met die groot stadia en vermaaklikheidssentra vir die
moderne afgode sport en genot. Ons het niks indrukwekkends om te
wys nie. Om in Christus te glo is oënskynlik baie eenvoudig,
selfs dwaas. Tog beteken dit alles vir hulle wat Christus leer
ken het.
Teenoor die vreugde in die Here stel Paulus in Fil 3 die
negatiewe realiteit van die vertroue op die vlees. Paulus waarsku
teen die Judaiste wat ook in die letterlike sin van die woord op
die vlees vertrou. Hulle is immers besny? Hulle dra mos die teken
van God se verbond in hul vlees. Dan is hulle tog veilig? Niks
kan met hulle gebeur nie, so dink hulle. Om op die vlees te
vertrou is in die breë sin van die woord: dat jy dit van jou
goeie werke verwag. Dat jy dink dat jy voor God geregverdig word
deur n ordentlike lewe te lei volgens die letter van die
wet. Jy vertrou dan op jou afkoms, posisie of prestasies. So kan
dit ook vandag gebeur dat ons op die vlees vertrou. Ek is tog
gedoop? Ek behoort tog by die verbond? Wat kan dan nog verkeerd
gaan? Of: Ek is tog n ordentlike mens. Ook op n ander
manier kan jy op die vlees vertrou. Dis heerlik om uit n
goeie, ordentlike huisgesin te kom. Dit gee geborgenheid, n
gevoel van veiligheid, selfvertroue. Dit kan ook lekker wees om
aan n welvarende gesin te behoort, waarvan die ouers hoog
in aansien staan. Dit kan jou help om n positiewe kyk op
die lewe te hê, ook n positiewe kyk op verhoudings. Selfs
op jou verhouding met die Here. Maar dit kan ook maklik skeef
groei. Daarvoor is net n bietjie trots nodig. By ons gaan
dit goed. Niks kan ons oorkom nie. En so ontstaan die vertroue op
die vlees. Op iets van jouself. Soos ek is, sal God my nie
verlaat nie.
Paulus ken n totaal ander lewe en strewe. Dit gaan hom
om Christus te ken. Dis die mees tiperende van n Christen.
Nie dat jy jou ordentlik gedra nie, hoe belangrik dit ook al is.
Maar dat jy Christus ken. Wat hou dit dan in om Christus te ken?
In ons teks werk Paulus dit uit.
So verkondig ek vir julle: om Christen te wees beteken om
Christus te ken
Dit beteken eerstens om die krag van Christus se opstanding te
ken;
Tweedens om die gemeenskap aan Christus se lyding te ken;
Derdens om die opstanding uit die dode te verwag.
Om Christus te ken tipeer die Christen. Maar wat word met die
kennis van Christus bedoel? Daar is verskillende soorte kennis in
die lewe. Daar is allereers die verstandelike kennis wat jy deur
studie jou eie maak. Dan is daar die kennis wat jy deur die
praktyk van die lewe opdoen, deur praktiese ondervinding.
Laastens is daar die kennis wat uit die liefde ontspruit. Dis die
kennis wat jy opdoen in n baie persoonlike verhouding met
iemand, liefdeskennis. Watter soort kennis praat Paulus van? Dis
duidelik dat hy nie net dink aan verstandelike kennis nie. Jy kan
met jou verstand allerlei dinge oor Christus weet. Soos jy met
jou verstand allerlei mense kan leer ken sonder om werklik
daardeur geraak te word, sonder om enige band met die persone te
hê. Is dit waaroor die gaan by die kennis van Christus? Dis
duidelik dat dit hier nie gaan oor oppervlakkig verstandelike
kennis nie. Op daardie manier ken ook Satan vir die Here Christus.
Paulus wil nie net allerlei dinge oor Christus weet nie. Hy
wil veral saam met Christus lewe, aan hom verbonde wees. Steeds
meer in sy lewe ervaar wat dit beteken dat Christus in hom leef.
Dit is n kennis van die geloof en van die liefde. In vers 8
praat Paulus van Christus as wins verkry. Om Christus as wins te
verkry beteken dat Hy aan jou kant staan. Dat Hy dit vir jou
opneem. Dat jy op Hom kan staatmaak. In alle omstandighede, in
lewe en sterwe. Om Christus te ken dui op intieme kennis, liefde
kennis, kennis met jou verstand en gevoel, ja met jou hele wese.
Dit wys op n liefdesband, n persoonlike verhouding
met die Here.
So het Jesus Christus Paulus se persoonlike Heer geword.
Christus het vir Paulus alles geword. Die gaan Paulus om die
persoonlike verbondenheid met Christus, wat uit liefde op aarde
gekom het. Dink aan wat ons lees in Fil 2: 5-8. Christus was in
die gestalte van God. Hy het die luister van God gehad. Hy het
homself ontledig en die gestalte van n dienskneg aangeneem.
Jy, Hy het homself verneder en is gehoorsaam geword tot die dood
aan die kruis. n Smartlike en smadelike dood. Paulus wil
Christus meer en meer ken in die betekenis van sy lyding en dood.
Ook in die krag van sy opstanding. Paulus noem hier nadruklik ook
die opstanding. Sonder die opstanding sou Christus se lyding en
dood vir ons van geen waarde hê nie. Deur sy opstanding kan die
vrug van Christus se lyding aan ons uitgedeel word. Daarom
verlang Paulus om Christus te ken en die krag van sy opstanding.
Deur die krag van sy opstanding maak Christus sy verlossingswerk
effektief in ons lewe.
Deur Christus so te ken raak jou as Christen. Om te dink dat
Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Dat jy deur
Hom voor God regverdig is, net deur in Hom te glo. Dit raak jou.
Dit vervul jou. Dit oorweldig jou. Jy kom daar nie los van nie.
As Christus so jou lewe binnegekom het, dan het Hy alles vir jou
geword. Dan wil jy Hom steeds meer leer ken, met jou verstand,
uit ervaring en in liefde. Dan wil jy steeds meer in Hom groei.
Dan verlang jy daarna dat die krag van sy opstanding jou lewe
deurdring, jou vervul. So dat jy steeds meer een met Hom word.
Dat Christus gestalte in jou kry. Dat jy Hom in alles volg, dat
jou lewe aan Hom toegewy is en dat jy met Hom saamgaan op pad na
die groot dag van die herstel van alle dinge.
Dit is totaal anders as wat Paulus aanvanklik beoog het toe hy
vanuit Jerusalem na Damaskus gegaan het. Toe het hy net aan harde
werk gedink. Hy wou homself bewys in sy ywer vir God. Daar was
nie baie mense wat hom kon verbysteek nie. Hy was n
ordentlike en hardwerkende mens wat alles vir sy godsdiens wou
doen, self Christene vervolg. Hy kon ook roem op sy afkoms en
status. n Rasegte Jood, n model Fariseër wat
noukeurig die wet nageleef het. Hy het werklik iets gehad om vir
God en die mense te wys. Kyk maar na sy prestasies. God mog
dankbaar wees vir so n kneg. Wie Christus nie ken nie, is
nie bewus van sy armoede nie. Hy dink meestal dat alles OK is.
Maar dan verskyn Christus aan Paulus op die pad na Damaskus.
Christus verblind hom met sy hemelse lig. En wys hom op die
fiasko van alles waarop hy vertrou het. Paulus het gedink dat hy
n groot rekening by God kon presenteer. Maar die ontmoeting
met die opgestane Christus het hom leer insien dat al die poste
in rooi geskryf was. Dit was voor God ontoereikend. Dit was nie
wat die Here gevra het nie. Dit was feitelik selfaanbidding. Hy
het self in die middelpunt gestaan. Hy moes en sou homself bewys.
Van liefde en barmhartigheid het hy nie geweet nie. Sy lewe was
n kwessie van presteer en verdien.
So kom Paulus tot die belydenis: Maar wat vir my wins
was, dit het ek om Christus wil skade geag. Dit het my juis
in die pad gestaan. Om by Christus uit te kom en Hom te dien,
moes Paulus afsien van eie voortreflikheid. In die lig van die
alles oortreffende kennis van Christus is die lewe wat vertrou op
afkoms, die wet en prestasies nie net vrugteloos nie, maar
skadelik. Dit staan jou verhouding met die Here in die pad.
Paulus wil net Christus as wins verkry. Hy wil in Christus gevind
word, nie met sy geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met
die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit
God is, deur die geloof.
Paulus het onder die heerskappy van Jesus Christus gekom. Die
krag van Christus se opstanding beteken bekering tot Christus.
Verandering van hart en lewe. n Opstanding uit die dood.
Daarmee verander die middelpunt van jou lewe radikaal. Pleks om
self die middelpunt van jou lewe te wees, word Christus die
middelpunt. Jy leef nie langer selfgesentreer nie, maar Christus
gesentreer. Jy leer om die vertroue op jou eie afkoms, posisie of
prestasies prys te gee. Jy leer jouself weer sien as bedelaar
voor God, wie se hande met die geregtigheid van Christus gevul
moet word. So leer jy om uit genade te lewe. So kom jy in die
kragveld van die opgestane Christus. Jou lewe verander daardeur
radikaal en totaal. Ook in vergelyking met hulle wat ordentlike
lewens lei. Deur jou geloof het Christus alles vir jou geword.
Christus het die sentrum, die bron en die doel van jou lewe
geword. Dit kan jy nie sê van enigiemand wat n ordentlike
lewe lei nie. Draai alles werklik om Christus in jou lewe? Om
Christen te wees is om Christus te ken, om persoonlik en in
liefde aan Christus verbind te wees, om Hom met jou verstand en
uit ervaring te ken as jou Redder en Here. Ja, om die krag van sy
opstanding te ken.
Die teks praat ook van die gemeenskap aan Christus se lyding.
Moenie dink dat die lewe van n Christen gemaklike is nie.
Paulus praat oor gemeenskap aan die lyding van Christus. Dit is
nie die lyding van Christus aan die kruis nie. Dit is volbring.
Daardie offer is eers en vir altyd gebring. Paulus praat hier van
die lyding wat Christus in hierdie wêreld aangedoen word: sy
saak word weerstaan. Sy boodskap word geloën. Sy naam word
gehoon.
Paulus verbind sy eie lyding as gevangene aan die lyding van
Christus. Christus het tydens sy lewe op aarde gely. Maar daar is
ook n lyding wat Christus in sy volgelinge ly. Daarmee sê
ons nie dat Christus in die hemel nog steeds n lydende
Heiland is nie. Maar wel dat die lyding van sy volgelinge op
aarde hom raak. Hul lyding is sy lyding. Wanneer Christus aan
Paulus op die pad na Damaskus verskyn, roep Hy vir hom: Saul,
Saul, waarom vervolg jy My? Christus identifiseer homself met die
vervolging van die Christene. Wie die gelowiges vervolg, vervolg
Christus. Soos Christus vir Paulus duidelik gemaak het: Ek is
Jesus wat jy vervolg.
As jy n Christen is dan kan jy minagting, spot en
teëstand verwag. Die kneg is nie meer as sy Meester nie. As jy
die saak van Jesus Christus dien, sal jy ook in sy smaad moet
deel. Paulus het dit op allerlei maniere meegemaak. Vir hom is
die lyding n onderdeel van die kennis van Christus. Die
lyding oorkom Paulus nie as iets vreemds nie. Hy sê duidelik:
dit hoort daarby. Dit kan beteken dat jy alleen kom te staan. Dat
jy teen die stroom moet oproei. Dat mense vir jou sê dat jy nie
goed in die groep pas nie. Omdat jy nie luister na wat ander vir
jou sê nie, maar na wat Christus vra. Omdat jy die meerderheid
nie in die kwaad volg nie.
Ons skrik maklik terug vir die lyding. Ons wys die lyding af.
Ons kan daardeur in vertwyfeling verval. Maar onthou: hierdie
lyding pas by die kennis van Christus. Daarmee het jy gemeenskap
aan Christus se lyding. Dit word selfs n eer vir die
Christen genoem. Want dit is n bewys dat jy by Christus
behoort. Deur jou lyding mag jy ook Christus in die hart kyk. Jy
begin n bietjie te verstaan wat sy uiterste gehoorsaamheid
Hom gekos het. En wat het jy Hom dan lief.
Daarom kan Paulus ook so bly wees. Selfs al sit hy in die
tronk. Selfs al ondervind hy van sy eie broers afguns en
teëkanting. Selfs al sien hy dat sommiges net hul eiebelang soek.
Want in die moeite sien hy: ek behoort aan Christus. Ek mag Hom
ken. En dit gaan my oor Hom.
Dit beteken nie dat jy die lyding moet soek nie. Ewemin dat jy
in n tyd van vervolging die marteldood moet soek. Die maat
en die grens van die gemeenskap aan Christus se lyding bepaal God
self. Maar die lyding hoort wesenlik by die lewe van n
Christen. Laat jou nie daardeur afskrik nie, of jou daardeur in
vertwyfeling bring nie. Moenie verbaas wees nie asof iets vreemds
jou oorkom nie. Om n ware Christen te wees beteken ook om
gemeenskap met Christus se lyding te hê.
Paulus voeg daar nog aan toe: terwyl ek aan Christus se dood
gelykvormig word. Baie mense verklaar dit as die afsterwing van
die ou mens, as n afsterwing van die sonde, soos ons
daarvan lees in Romeine 6. Elke dag weer is daar sonde wat moet
sterf. De ou mens wat aan die kruis moet. Tog lyk dit daarop dat
ons teks iets anders bedoel. Wat het Christus se dood getipeer?
Dit was gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid tot die dood toe. Om
gelykvormig aan sy dood te word, sien dan op n dood wat (net
soos by Christus) in die teken van gehoorsaamheid staan. Dit is
Paulus se wens dat Christus in sy liggaam grootgemaak word of dit
deur die lewe of deur die dood is (Fil 1:20). Die apostel hoop
tot en met die dood in diens van sy Heer te staan. Hy wil hom
navolg in sy gesindheid en gehoorsaamheid. Dit kan beteken om as
martelaar te sterf, maar dit beteken in ieder geval om in
Christus majesteit se diens te sterf.
Paulus sluit sy betoog oor die ken van Christus af deur te
praat van die opstanding uit die dode. Vers 11: of ek
miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Sommiges
verklaar ook hierdie woorde as deel van die daaglikse bekering,
naamlik as die opstanding van die nuwe mens. Tog lyk dit asof
Paulus hier praat van sy eie liggaamlike opstanding op die laaste
dag. In Christus ontvang jy as Christen nie net jou regverdiging,
die vergewing van sondes deur Christus se dood, nie. Ook nie net
jou heiligmaking, die vernuwing van jou hart en lewe nie. Nee, in
Christus ontvang jy ook jou verheerliking. Dit is die heerlike
klimaks van Christus se verlossingswerk. Waarna elke Christen mag
uitsien. Wat elke Christen mag verwag.
Dit feit dat Paulus praat van of ek miskien dit kan
bereik maak hierdie gebeure nie onseker nie. Met die woorde
of ek miskien gee Paulus uitdrukking aan sy
verwondering en ootmoedige erkenning dat hy dit nie werd is nie,
maar ook aan die inspanning waarmee hy daarna jaag. Om tot die
wederopstanding te kom, is nie outomaties nie, dit gaan nie
vanself nie, dit spreek nie vanself nie. Dit is werklik iets
groots waarna n mens mag jaag en wat n Christen uit
genade mag verwag.
Nou terug na die begin van die preek: Wat is dit om n
Christen te wees. Maak dit werklik so n groot verskil om
Christen te wees wanneer ons dink aan baie nie-christene wat
n ordentlike en voorbeeldige lewe lei? Paulus maak duidelik:
dit gaan oor die vraag: wie is die middelpunt van jou lewe?
Christus of jyself? As jy Christus as middelpunt het, dan wil jy
Hom steeds meer ken. In gemeenskap met Hom lewe en stry. Om
Christen te wees is om Christus te ken. Dit impliseer dat jy die
krag van sy opstanding ken. Dat jy gemeenskap aan sy lyding het
en dat jy die opstanding uit die dode mag verwag.
AMEN
Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.
(kyk in preek)