Sagaria se gesig van die nuwe kerkstad Jerusalem

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-11-26
Text: 
Sagaría 2
Preek Inhoud: 

Sagaria 2:4,5

Ds C Kleijn - Sondag 26 November 2006

Lees: Sagaria 2; Openbaring 7:9-17.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 87; SB 27; Ps 84:6.

Tema: Sagaria se gesig van die nuwe kerkstad Jerusalem

  1. Sy grootheid – hy is onmeetbaar
  2. Sy veiligheid – God is sy muur
  3. Sy heerlikheid – God is binne-in hom

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

By hierdie geleentheid wil ek julle opnuut wys op die
grootheid van julle God en die grootheid van sy werk. Dis wat ek
die afgelope 8 ½ jare voortdurend geprobeer het om te doen.
Sonder om God en sy werk raak te sien, kan ons onmoontlik as
Christene en as ’n Christelike kerk getrou lewe en werk.
Sonder Hom kan ons onmoontlik volhou en vrugbaar wees in diens
van Hom. Daarom wil ek vir die laaste keer as jul predikant julle
aandag vestig op die grootheid van jul God en die grootheid van
sy werk.

Elke gemeente wil graag kan getuig van groei in getalle. Deur
emigrasie en verhuising het ons die laaste 8 jare baie lidmate
verloor. Deur nuwe geboortes en deur nuwe lidmate wat hulle by
die gemeente gevoeg het, kon ons egter steeds ongeveer dieselfde
aantal lidmate behou. Tans is ons egter besig om as gemeente iets
kleiner te word. Hoe verwerk ons dit as gemeente? Kyk ons net na
die belange van ons plaaslike gemeente of sien ons ook die groot
prentjie, die wêreldwye kerk waarvan ons deel mag wees?

Elke gemeente staan ook voor groot uitdagings. Ons leef en
werk in ’n samelewing wat steeds meer wêrelds en
onchristelik word. Is ons daarteen opgewasse? Is ons sterk genoeg
om aan die Here en sy Woord getrou te bly? Hoe kan ons en ons
jong mense die verleidings weerstaan, standvastig bly en veilig
wees?

Elke gemeente wil ook graag aantreklik wees. Jy wil graag hê
dat daar ’n positiewe getuienis van jou uitgaan. Dat daar
van jou ’n aantrekkingskrag uitgaan. Hoe kan die kerk dan
mooi en aantreklik wees, ’n krag in die samelewing wees?

Gemeente ek verkondig vir julle die woord van die teks:

Sagaria se gesig van die nuwe kerkstad Jerusalem

  1. Sy grootheid – hy is onmeetbaar
  2. Sy veiligheid – God is sy muur
  3. Sy heerlikheid – God is binne-in hom

Sagaria sien ’n man met ’n meetsnoer in sy hand. Wat
wil hy daarmee doen? Hy wil Jerusalem opmeet, om te sien hoe
breed en hoe lank hy is. Hy wil ’n reeds bestaande stad
opmeet. Dit gaan hier nie oor die stad Jerusalem van daardie dae
nie. Die stad is op daardie stadium nog nie herbou nie. Dit gaan
in hierdie gesig oor die stad van die groot toekoms. Hierdie
jongman wil nagaan hoe uitgestrek die toekomstige kerkstad is.

Die stad sal daar wees. Anders sou die man nie met sy
meetsnoer hoef te verskyn nie. Daar is ’n stad waarvan hy
die lengte en breedte wil meet. Dit is reeds ’n ryke troos
vir die tempelbouende volk van God. Die heilige stad lê nog in
puin. Wat gaan word van die werk van God, ja, is daar wel ’n
toekoms vir die volk van God? Die Here laat egter weet: die
kerkstad sal daar wees. Daar bly ’n volk van God. God gaan
rustig voort met sy bouwerk. Sy bouplanne lê gereed. Dit sal
volgens sy bestek uitgevoer word.

Daar is dus iets om te meet: die kerkstad bestaan. Maar ons
mense kan dit vanweë sy grootte nie meet nie. Skielik kom twee
engele vorentoe. Eers die engel wat vir Sagaria die gesig moet
uitlê. Daarna ’n ander engel wat na die eerste engel toekom.
Daardie tweede engel kry die opdrag: “Loop gou, spreek met
die jongman: Jerusalem sal lê soos ’n oop land weens die
menigte van mense en vee daar binne-in.”

Die jongman is die man met die meetsnoer. Die engel moet hom
onmiddellik van God se plan inlig. Daar is spoed by die saak. Die
ywerige jongman moet die goeie nuus hoor. Hy is op pad om die
kerkstad te meet. Hy dink dat hy die breedte en lengte van die
stad kan opneem. Maar dis ’n onmoontlike taak. Die goeie
nuus is immers: Jerusalem sal lê soos ’n oop land weens die
menigte van mense en vee daar binne-in. Vriend, bêre gerus jou
meetsnoer. Dis onbegonne werk, dis eenvoudig onmoontlik om te
meet. Die bevolking van Jerusalem sal immers so groot wees dat
hulle nie binne ’n stad met menslike mate geakkommodeer kan
word nie. Elke grens wat ’n mens trek, gee ’n beperking.
Maar hierdie kerkstad sal voortdurend groei, uitbrei. Die mate
word steeds groter en gaan ons menslike mate te bo.

Ons hoef net te dink aan die stede in ons eie land wat steeds
uitbrei. Vroeër, toe daar nog min inwoners was, kon jy die mense
nog huisves binne die ou grense van die stad. Maar nou die getal
inwoners baie groot is, is dit ondoenlik. So het daar steeds weer
nuwe wyke bygekom. Steeds nuwe gebiede word ontwikkel vanweë die
snelle groei en die enorme uitbreiding. Stede soos Pretoria (of
Tshwane) het so te sê oop stede geword.

So sal Jerusalem soos ’n oop land lê vanweë die menigte
van mense en diere daar binne-in.

Wat ’n bemoediging vir die kerk van daardie dae, vir die
klompie teruggekeerdes uit die ballingskap. Jerusalem lê nog
verwoes, ’n puinhoop. Nie indrukwekkend nie. Wat kan daardie
klompie Jode begin in die groot en harde wêreld om hulle heen?
Maar God maak duidelik: Jerusalem sal herbou word. Ja, die
toekoms sal die stoutste verwagtings oortref: Jerusalem sal
oorloop van mense en diere. Jerusalem sal onmeetbaar groot word.

Broers en susters, moenie dink dat hierdie boodskap net vir
die Jode na die ballingskap is nie. Dit strek baie verder as dit.
Dit blyk reeds uit die nadere toeligting wat ons in vers 11
ontvang. Daar lees ons: “En baie nasies sal hulle in die dag
by die Here aansluit, en hulle sal My tot ’n volk wees; en
Ek sal in jou midde woon.”

Hier ontvang ons wêreldwye perspektiewe. En dit in ’n
taal wat vir die volk van Israel in daardie dae volkome duidelik
was. So spreek die Here oor die bou van sy wêreldkerk en die
oprigting van sy koninkryk. Heidene sal kom en hul aansluit by
die Here, die God van Israel.

Die muur wat tussen Israel en die volke skeiding gemaak het,
word deur Christus afgebreek. “Want Hy is ons vrede, Hy wat
albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek
het” (Ef 2:14). Na Pinkster vergader God vir homself ’n
volk uit alle volke en tale. Dit word ’n universele
wêreldstad, die algemene, dws wêreldwye Christelike kerk. En
die einde van alles sal wees: die groot menigte wat niemand kan
tel nie wat voor die troon van God en van die Lam staan.

So gaan hierdie profesie in vervulling, nie in die aardse
Jerusalem met sy mure van klip nie, maar in die stad van die
lewende God, die hemelse Jerusalem wat Johannes op Patmos uit die
hemel sien neerdaal het. Johannes het geen ongrypbare werklikheid
wat buite ons belewingswêreld staan, gesien nie. Nee, dit is die
nuwe Jerusalem wat elke dag besig is om van God uit die hemel
neer te daal. Wat neerdaal, van bo na onder, wat hier op aarde
ook ’n vaste vorm aanneem en daagliks groei en uitbrei.

Jy sien die vervulling van hierdie profesie wanneer jy daarop
let hoe Christus sy gemeente vergader ook in ons land. Mense van
allerlei agtergronde, rasse, kulture en tale voeg hulle by die
Here. Die nuwe Jerusalem, die nuwe kerkstad blyk ’n oop stad
te wees. Daar sit voortdurend beweging in. Die mate verander
steeds. So ook die aantal lidmate van die plaaslike gemeentes.
Maar ons weet dat ons deel is van ’n massiewe kerkbouprojek
wat die hele wêreld en alle eeue omspan. Die Here werk sy planne
uit. Alles dryf na die stad van God, na die groot menigte wat
geen mens kan tel nie.

Daarby word ook alle lewensterreine geheilig. God se ryk omvat
die hele lewe, die hele geskape werklikheid. Moenie oor die hoof
sien dat die teks ook praat van vee nie. Binne-in Jerusalem sal
daar nie net mense wees nie, maar ook vee. Die hele skepping word
gered. Die genade staan nie vyandig teenoor die natuur nie. Die
genade hef die natuur nie op nie. God bly trou aan Homself. Hy
gee sy skepping nie prys nie. Hy soek juis die heiliging van sy
skepping. Hy wil die skepping bevry van die verwoestende mag van
die sonde. Daarom haal hy ons nie weg uit die samelewing nie. Die
Skepper wil ons sy skepsels hier en nou besig sien. Daarvoor het
Hy ons geskape. So sal die boer in Jerusalem sy werk doen. So sal
God se kinders op alle terreine van die lewe besig wees met hul
daaglikse arbeid en beroep. God wil sy heerskappy orals tot
gelding bring. Die heerlikheid van Jerusalem sal in die hele lewe
ingedra word. Die evangelie sal as ’n reddende krag die hele
samelewing opeis.

Gemeente, Jerusalem sal soos ’n oop land lê weens die
menigte van mense en vee daar binne-in. ’n Oop gebied,
sonder mure en torings. Vroeër het hulle sterk mure rondom
’n stad gebou. Om te beskerm teen vyande. Word dit dan nie
gevaarlik vir hierdie oop kerkstad nie? Word Jerusalem dan nie
weerloos teenoor die mag van vyande nie?

Geensins. In hierdie oop kerkstad is dit volkome veilig.
Jerusalem, die volk van God staan onvoorstelbaar sterk en magtig.
So kom ons by die tweede gedagte van die preek: Jerusalem se
veiligheid – God is sy muur.

Hoor wat God sê: “Ek sal vir hom wees, speek die Here,
’n vurige muur rondom.” ’n Geweldige gedagte: die
Here self is die muur, selfs ’n vurige muur rondom sy kerk.

Die angs vir die grenselose ruimte, vir die openheid dwing
mense daartoe om die beslotenheid binne vier mure te soek. Dan
voel die klein mens hom veilig, binne die mure. Die wêreld is te
groot en te dreigend. Maar die Here begeer die openheid. Hy plaas
ons nie in ’n knus, beskut hoekie nie. Hy plaas ons ook nie
op ’n eie eiland nie. Hy plaas ons ook nie in ’n eie
kolonie nie. Nee, God plaas ons in die ruimte, in die grootheid
en breedheid van die wêreld. Ons staan midde in die wêreld, in
die breë samelewing.

En nou is dit die geweldige: die Here beskerm sy volk in
hierdie wêreld. Waar jy as volk van God ook al woon of werk, jy
mag weet dat jy veilig en beskut is binne hierdie vurige muur
rondom. Jy is veilig binne die beslotenheid van die gemeenskap
met God.

Volkome veiligheid is gewaarborg. Dit is immers geen muur van
klip wat ons moet beskerm nie. Bolwerke kan oormeester word. Mure
kan afgebreek word. Is daar vandag nog mure wat werklik bestand
is teen die moderne wapentuig? Maar deur hierdie vurige muur kan
niks deurdring nie. Selfs die poorte van die doderyk sal die kerk
nie oorweldig nie. Wie van buite hierdie kerkstad wil binnedring,
word deur die verskriklike majesteit van God teengehou. ’n
Vurige muur omdat God ’n verterende vuur is. Wie die muur
aandurf, word deur die vuur verteer en vernietig.

Hoe geweldig is dit dan dat ons nie deur daardie vuur verteer
word nie, maar dat ons daardeur ingesluit en beskerm word. Dit is
asof ons in die paradys verkeer. Daar in die hof van Eden het die
Here God met die mens gewandel. Daar het die lig van sy aangesig
die mens omstraal. Deur die sondeval het die paradyslig egter
uitgegaan. Die mens kon die lig nie meer verdra nie. Sou die lig
tog verskyn, dan sou hy verteer word.

Ons lees egter dat die nuwe kerkstad deur de vuur van God se
teenwoordigheid omsluit word, sonder om verteer te word. God se
volk mag in die lig woon. Rondom ons is daar ’n vuur van
glinsterend lig. God se lig omstraal ons. Ons mag in die woning
van die groot God verkeer. Veiliger kan jy nie wees nie.
Daarbinne is dit volkome veilig.

Tegelyk is dit binne hierdie kerkstad heerlik. Want die Here
self woon daar binne-in. Dis die derde gedagte: Jerusalem se
heerlikheid – God is binne-in hom.

In vers 10 lees ons: “Jubel, en wees bly, o dogter van
Sion! Want kyk Ek kom om in jou midde te woon, spreek die Here.”
Die Here kom sy intrek neem in die stad van die toekoms. Hy kom
as ’n bruidegom tot sy bruid. Daarom die aanspraak: o dogter
van Sion. Terwyl Haggai profeteer van die koms van die Here in
die tempel, profeteer Sagaria van die koms van die Here in sy
stad. Nie die tempel nie, maar die kerkstad self is sy woning.
Die heerlikheid van hierdie stad lê in die teenwoordigheid van
God self. Hy self is daar. ’n Bron van lig en heerlikheid.

Hier het julle profesie van Christus se koms op aarde.
“Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon en ons
het sy heerlikheid aanskou” (Joh 1:14). Dis ook profesie van
Pinkster: die kerk word ’n woning van God in die Gees genoem
(Ef 2:22).

Christus se kerk word deur die wêreld gesmaad en verag. En
ons, lidmate van die kerk, ontsier die kerk dikwels deur ons
gebrek aan geloof en liefde, deur ons wêreldgelykvormigheid.
Maar waarin bestaan die heerlikheid van die kerkstad? Waarin
bestaan jul heerlikheid as kerk van Christus, as gemeente van
Pretoria? In jul eie grootheid, in jul rykdom en mag? Bestaan dit
in jul eie heiligheid en vroomheid, in dit wat julle vermag het,
in jul identiteit, jul tradisies, jul knusheid? Nee tog. Die
heerlikheid van die kerk – as jy tenminste werklik kerk
genoem wil word – lê in die heerlikheid van sy God. Hoe
klein, verag en onaansienlik ons ook al mag wees, in God self mag
ons ’n ongekende luister besit. Hy lê sy heerlikheid op die
inwoners van sy kerkstad. Sy glans oorstraal ons en ons kinders.
So mag ons hier reeds die begin van die ewige vreugde besit. Die
heerlikheid en vreugde van die paradys mag in beginsel reeds
ervaar word in die oop stad van God, soos hy hom wys in hierdie
wêreld.

Na hierdie lewe en by Christus se wederkoms mag ons dan
volkome heerlikheid besit. Johannes op Patmos sien ’n nuwe
hemel en ’n nuwe aarde. En hy hoor ’n groot stem uit
die hemel sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy
sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by
hulle wees as hulle God.” Openb 21:3. Johannes sien die
voltooide Jerusalem. In die stad is geen tempel nie, want die
Here God, die Almagtige is sy tempel en die Lam. En die stad het
die son of maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die
heerlikheid van God het hom verlig en die Lam is sy lamp.

Gemeente, sien tog jul werk en lewe van vandag in die lig van
daardie toekoms. Daartoe roep die teks ons op. God gee breë
perspektiewe. Terwyl ons dikwels kyk na ons eie kleinheid en
onmag - wat kan ons in hierdie groot wêreld begin - gee God
’n ruim blik. Ons haal die meetsnoer te voorskyn. Ons gaan
tel. Ons maak ons berekenings. Maar die Here van die leërskare
laat weet: al jul berekenings is net menslik. Julle sien net
’n baie klein deel van my massiewe werk van kerkbou wat alle
eeue en alle volke omspan. Julle kan die nuwe kerkstad nie
oorsien nie. Hy is onmeetbaar weens sy grootheid. Hy vorm ’n
oop land weens die menigte van mense en vee. Daar kom ’n
menigte wat niemand kan tel nie.

Laat ons die belofte glo. Laat ons reken met die onbegrensde
moontlikhede van God. Dan trek jy jou nie terug in jou knus
hoekie nie, waar dit gerieflik en veilig voel. Dan gooi jy nie
tou op nie. Ook al is daar baie dinge wat teleurstel. Al vorm ons
maar ’n relatief klein gemeenskap in ’n verwêreldlikte
omgewing. God open breë perspektiewe.

En in die oop kerkstad is die volkome veilig. God self is vir
ons ’n vurige muur rondom. So mag ons onvoorstelbaar sterk
en magtig wees, waar ons ook al woon en werk in hierdie wye
wêreld.

En die kerkstad besit ’n ongekende heerlikheid. God self
is sy heerlikheid. Deur sy aanwesigheid gee Hy glans aan sy volk,
laat Hy ’n krag van ons uitgaan.

Laat ons daarom die heerlikheid van God se werk bly raaksien.
Sy planne is onmeetbaar groter as ons planne. Dink daarom breed.
Christus vergader sy kerk uit alle rasse en tale, onder allerlei
mense, op allerlei plekke waar ons dit dalk nie sou verwag het
nie. Dink hoog. Vanuit die hemel bly Christus sy kerk vergader en
beskerm, bly Hy besig om sy kerk sterk en mooi te maak, Dink ook
vorentoe. In die verskiet lê die groot menigte wat niemand kan
tel nie voor die troon van God.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)