Christus kom weer om die lewendes en die dooies te oordeel

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-11-26
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 37
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 37

Ds C Kleijn - Sondag 26 November 2006

Lees: Mt 25:31-46; Nederlandse
Geloofsbelydenis, Artikel 37.
Sing: Ps 34:1,2; Ps 38:15,17; Ps 100:2,4; Ps 34:6,7;
Ps 96:5,6; Ps 96:7,8.

Tema: Christus kom weer om die lewendes en die dooies
te oordeel

  1. die verwagting van Christus se oordeel
  2. die werklikheid van Sy oordeel
  3. die grond van Sy oordeel

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange. Dis
hoe ons ons belydenis afsluit. Is dit ook hoe ons dit beleef?
Verwag ons daardie laaste dag werklik met sterk verlange? Dis nie
moeilik om te verstaan waarom Guido de Bres die opsteller van
hierdie belydenis so sy verlange na Christus se wederkoms
uitgespreek het. Sy lewe was voortdurend onveilig en onseker
weens wrede geloofsvervolging. Hy moes hierdie belydenis vanuit
’n skuilplek opstel. En uiteindelik is hy vanweë sy geloof
gevange geneem en opgehang. In sulke omstandighede kan ons indink
dat ’n mens met sterk verlange uitsien na die dag van die
Here.

Ons situasie vandag is egter baie anders. Ondanks alle gevare
in ons land, ervaar ons geen geloofsvervolging nie. Deurgaans
geniet ons van vryheid en betreklike voorspoed. Tog bely ons saam
met Guido de Bres: daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk
verlange. Beleef julle dit werklik so? Hoe sou jy reageer indien
jy sou weet dat Christus môre sou terugkom? Sou jy opgewonde
wees of teleurgestel? Wat dink jy van die uitspraak van ’n
kind wat juis ’n fiets vir sy verjaarsdag gekry het:
“Maar dan kan ek my fiets nie ry nie.” Is dit dalk
’n afspieëling van ons reaksie? Miskien dink jy, nee, liefs
nog nie môre nie, ek is nog nie gereed daarvoor nie. Ek wil
liefs eers dit of dat bereik. Nee, eers my troudag. Eers die
geboorte van ons kind. Eers die verhuising waarna ek so lank
uitgesien het. Eers my promosie by die werk. So sou ons kon
aangaan.

Broer, suster, seun, dogter, hoekom is daar by jou dalk nie
die sterk verlange na die dag van Christus nie? Kan dit wees
omdat jy hierdie lewe oorskat? Hier weet jy wat jy het en geniet
jy van allerlei dinge. Aardse geluk en welvaart is tog maar
lekker. Jy wil dit nie graag verloor nie. Die gesellige speletjie,
die huwelik, die kinders, die promosie by die werk, of aardse
rykdom word dan verhef tot die doel van jou lewe en strewe. Wat
het dan geword van Christus se bevel om eers die koninkryk van
God te soek en sy geregtigheid? (Mt 6:33). Sodra die welvaart jou
in sy greep kry, verdwyn die verlange na Christus se koms.

Is daar dalk by ons ook ’n onderskatting van die
toekomstige lewe? Ek weet wat ek hier het. Maar ek kan my nie
goed indink hoe dit na Christus se koms gaan wees nie. Weet jy
soms nie meer wat God oor die toekoms bekend gemaak het nie?. Of
glo jy Hom nie? Hy het tog gesê dat dit ongelooflik heerlik sal
wees? Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart
van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God berei vir die
wat Hom liefhet (1 Kor 2:9). Die toekoms oortref al jou
voorstellings. Kan jy jou indink wat dit is om in Christus se
onmiddellike nabyheid te lewe? Dit sal so vreugdevol wees dat jou
teenwoordige plesier of rykdom in die niet verdwyn. Die bruilof
van die Lam sal so glansryk wees dat dit jou bruilof hier op
aarde ver oortref.

Of is jy, broer en suster, dalk bang vir daardie dag van die
Here? Die dag beteken immers die laaste oordeel. En is jy gereed
daarvoor? By die doop van Corlia het ons gebid dat sy so hierdie
lewe, wat tog niks anders as ’n voortdurende sterwe is nie,
deur U beloftes getroos mag verlaat en op die laaste dag sonder
verskrikking voor die regterstoel van Christus mag verskyn. Is jy
daar gerus op dat jy sonder verskrikking voor die regterstoel van
Christus sal verskyn?

Gemeente, die opskrif bo die laaste artikel sou die indruk kan
gee dat dit gaan oor ontsagwekkende dinge wat gaan gebeur, die
laaste oordeel, die opstanding en die ewige lewe. Tog is dit nie
daardie dinge wat ons veral verwag nie. Ons verwag eerder ’n
Persoon wat ontsagwekkende dinge gaan doen. Ons verwag dat Jesus
Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom
om die lewendes en die dooies te oordeel. Dit gaan hier oor die
Christus. Die groot vraag is: wat dink jy van Jesus Christus? Wat
beteken Hy vir jou? Staan Hy in die middelpunt van jou lewe? Rig
jy jou werklik op Hom? Wanneer jy Christus gesentreer lewe kan jy
met Paulus praat van die wins van die dood. Paulus sê in Fil 1:21:
Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Hoe kan die
sterwe wins wees? Paulus verklaar dit twee verse later: “ek
het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is
verreweg die beste.”

Jesus Christus is dus die voorwerp van ons verwagting. Jesus
Christus blyk ook die sleutel tot die verlange na daardie dag te
wees. Sonder geloofsband met Hom het ek alle rede om die dag te
vrees. Die dag is dan ’n dag van verskrikking. Maar as ek in
geloof aan Hom verbind is, dan mag ek na die dag uitsien. Dit
blyk as ons die tema van preek verder uitwerk nav Mt 25.

Christus kom weer om die lewendes en die dooies te oordeel

Ons het reeds gelet op

  1. die verwagting van Christus se oordeel.

Ons wil nou nog let op

  1. die werklikheid van sy oordeel
  2. die grond van sy oordeel

In Mt 25 word Jesus as die Regter geteken. Hy word daar die
Seun van die mens genoem. ’n Veelseggende titel. Vanuit die
profesie van Daniel wys dit op die mens wat alle mag en
heerskappy van God ontvang het. Ja, Hy is die Seun van die mens.
Hy het mens geword. Een van ons geword, ons vlees en bloed. Hy is
egter nie net ’n seun van die mens nie, maar die Seun van
die mens. Hy is God met ons. Ons verlosser.

Die naam die Seun van die mens wys ook op Christus se
verhoging. Na sy volkome gehoorsaamheid, nadat Hy vir ons sondes
betaal het, is Hy deur die Vader verhoog. Hy is uit die dood
opgewek, Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand
van die Vader. Alle mag en heerskappy is aan Hom toevertrou. Ook
die bevoegdheid om die lewendes en die dooies te oordeel. Hy word
later in Mt 25 ook die Koning genoem.

So gaan hierdie Seun van die mens in sy verheerlikte menslike
natuur terug kom om te oordeel. Met groot heerlikheid en
majesteit. Dit is ’n heerlikheid wat die sonde van die mens,
selfs sy diepste gedagtes blootlê. Dit is ’n heerlikheid
wat die mense beskaamd maak. Dit is ’n heerlikheid wat die
sonde in die regte perspektief plaas as sonde teen die
allerhoogste majesteit van God. Dis ’n heerlikheid wat alle
maskers wegruk en deurdring benede die oppervlakte wat soos
fineer die verdorwenheid van die hart probeer wegsteek.

Gemeente, hierdie Seun van die mens sal dus in sy heerlikheid
kom en al sy heilige engele saam met Hom. Dan sal Hy op sy
heerlike troon sit en voor Hom sal al die nasies versamel word.
Alle mense, mans, vrouens en kinders, wat geleef het, sal
persoonlik voor Hom verskyn. Hulle sal voor Hom geskei word in
twee groepe. Hy sal hulle van mekaar skei soos die herder die
skape en die bokke skei. Ja voordat enige uitspraak gedoen word,
skei die Here die gelowiges en die ongelowiges reeds van mekaar
voor sy regterstoel. Hy laat die regverdiges regs en die
goddeloses links van Hom staan.

Broers en susters, feitelik het hierdie skeiding reeds eerder
plaasgevind. Tydens hierdie lewe op aarde word deurgaans reeds
openbaar wie werklik in Christus glo en wie nie. Ook al kan ons
die harte nie oordeel nie, en kan daar huigelaars onder die
gelowiges wees, iemand se woorde en dade teken die mens deurgaans
tog as ’n gelowige of ’n ongelowige. Hierdie skeiding
word foutloos voltrek by die dood. As gelowige mag jy dan
onmiddellik in heerlikheid opgeneem word, om by Christus te wees.
Die ongelowiges sal egter onmiddellik by hul dood na die hel gaan.
Hierdie skeiding vind ook plaas tydens Christus se wederkoms. Ons
lees in 1 Thess 4:16,17 dat wanneer Christus uit die hemel
neerdaal, hulle wat in Christus gesterf het as eerste sal opstaan,
waarna die gelowiges wat nog lewe saam met hulle in wolke
weggevoer sal word die Here tegemoet in die lug. Die gelowiges is
dus onmiddellik reeds by Christus se wederkoms geskei van die
ongelowiges. Hulle geniet die voorreg om Christus in die lug te
verwelkom en so altyd by Hom te wees. Dis iets wat die
ongelowiges nie sal beleef nie.

Tog praat die Bybel van die laaste oordeel, wanneer elkeen
voor Christus se troon sal verskyn en die skape en die bokke van
mekaar geskei sal word. Is die oordeel dan nog nodig? Die
skeiding het tog reeds plaasgevind en daarmee is die oordeel tog
reeds gevel? Waarom dan nog ’n laaste oordeel? Dit is tog
reeds gewys wie gered is en wie veroordeel is. Hulle het hul
redding of oordeel reeds ervaar. Waarom dan die laaste oordeel?

Gemeente, die probleem met hierdie vraag is dat ons die laaste
oordeel teveel beoordeel vanuit wat in ons menslike geregshowe
plaasvind. In hofsake hier op aarde moet ’n hele proses
gevolg word om iemand skuldig of onskuldig te bevind. ’n
Noukeurige ondersoek moet plaasvind, alle bewyse moet op tafel
kom en geweeg word om tot ’n oordeel te kan kom. In die
laaste oordeel gaan dit oor die oordeel van Christus. Hy het geen
bewyse of ondersoek nodig nie. Hy weet reeds wie skuldig of
onskuldig is. Hy het dit reeds gewys in die manier waarop Hy sy
gelowiges in heerlikheid ontvang het en die goddeloses in hul
ellende gelos het. Dit gaan hier by die laaste oordeel om ’n
publieke regspraak. Dit moet vir elkeen duidelik word dat
Christus volkome regverdig in sy oordeel is.

So word dan die boeke geopen en die mense volgens hulle werke,
goed of sleg, geoordeel. In Mt 25 word gewys op die werke van
liefde wat mense vir God se kinders gedoen het. Ja, ons lees
selfs in die Skrif dat die mense rekenskap sal moet gee van elke
ligsinnige woord wat hulle gesê het. Word ons dan op grond van
ons goeie of slegte werke geoordeel? En moet ons dan van al ons
woorde en dade rekenskap gee? Sou dit jou nie laat huiwer vir die
laaste oordeel nie? Gaan al my sondes publiek opgehaal word?

Het God al my sondes nie reeds tydens hierdie lewe ver van Hom
verwyder nie. Lees ons nie in Ps 103:12: “Sover as die ooste
verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons.” In Miga 7:19 word selfs benadruk dat God in sy
ontferming ons sondes in die dieptes van die see werp. So troos
God ons in hierdie lewe. In Christus vergewe God ook werklik my
sondes, wis Hy hulle uit, werp Hy hulle ver van Hom weg om hulle
nooit meer teen my te hou nie. So bely ons met Paulus dat daar
geen veroordeling is vir die wat in Christus Jesus is nie (Rom 8:1).

Pas dit dan wel dat elkeen, ook die gelowiges wat reeds
vergewing ontvang het, voor die Regter Jesus Christus moet
verskyn en dat die boeke oopgemaak sal word en dat elkeen van sy
woorde en dade rekenskap sal moet gee? Is dit nie iets waarteen
’n mens sou opsien, pleks om daarna uit te sien?

Maar gemeente, het jy as gelowige enige rede om die oordeel te
vrees? Jy weet tog dat die Regter jou Verlosser Jesus Christus is?
En dat Hy die skuld reeds betaal het? Die meeste gelowiges wat
voor Hom verskyn, het die saligheid reeds geproe. En hulle wat
dit nog nie beleef het nie, weet dat Christus se koms tot troos
vir die gelowiges is. Daar is immers geen veroordeling vir die
wat in Christus Jesus is nie. Sou dan die boeke oopgemaak word om
ons te pla of om ons te laat vrees? Nee, dit kan nie waar wees
nie. So is God nie. Waarom dan wel?

Moenie vergeet dat dit hier oor ’n publieke regspraak
gaan nie. God sê dat ons van al ons woorde en dade rekenskap sal
moet gee. Waarom? Sodat ons uit dank vir die verlossing nougeset
sal lewe. Ook sodat die saak van die gelowiges waaroor mense nou
smalend praat, as die saak van die Seun van God bekend sal word.

Maar hoe moet ek my dit indink? Die skape sal ten aanhore van
die bokke rekenskap gee, eerstens van hul sondige dade. Dit sal
aan die bokke bekend word dat die skape sondige mense was, eweas
hulle. Maar dan sal vir elkeen openbaar word dat die skape hul
vryspraak in die bloed van Christus gesoek het. God se vyande sal
dit moet hoor. . Sodat hulle God niks kan verwyt nie en hul eie
veroordeling sal moet erken. God het niks om weg te steek nie.
Hulle moet weet dat God volkome regverdig in sy oordeel is. Daar
is geen enkele onreg by Hom nie.

Maar gemeente ook die goeie wat die gelowiges deur die Gees
verrig het, kom na vore. Dan sal God se kinders die vraag stel:
Wanneer het ons U honger, dors, siek gesien en u te ete en te
drinke gegee en u besoek:? Dan sal die Koning antwoord: Voorwaar
Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die
geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My
gedoen. Dan word openbaar wat goeie werke is. Dat dit net die
werke is wat uit ’n ware geloof, volgens die wet van God en
tot sy eer gedoen is.

En almal wat so goeie werke as vrugte van dankbaarheid
voortgebring het, sal hul loon ontvang, hul genadeloon. Hulle mag
die nuwe aarde beërwe, gekroon met heerlikheid en eer. Hulle
onskuld word bekend aan die goddeloses wat hulle in hierdie
wêreld dalk getiranniseer, verdruk en gekwel het. Ook aan hulle
wat dalk baie menslik opgetree het, maar wat nooit Christus
daarin gesoek of erken het nie.

Trouens gemeente, sou die rekenskap wat ons van ons woorde en
dade moet gee nie die vreugde van die bruilof verhoog nie? Ons
word herinner aan wie en hoe ons van nature was en wat ons deur
God se genade mog word. Hoe groot is dan ons Verlosser en ons
verlossing.

Wat is dan die grond van die oordeel wat oor ons uitgespreek
word? Is dit ons woorde en dade? So kan dit op die eerste gesig
lyk. Wanneer ons Mt 25 egter nader bekyk dan sien ons tog meer as
dit is.

Let daarop dat die gelowiges skape genoem word. Hoe word jy
’n skaap? Deur jou eie keuse of daad? Jy word dit net deur
God se keuse en dade. In geloof mag ek weet dat God my van
ewigheid af tot sy skaap gekies het. Christus die goeie Herder
het sy lewe vir my, sy skaap gegee. In die tyd het Christus my,
sy skaap, na sy stal gelei deur die verkondiging van sy woord.

Die gelowiges word in Mt 25 ook geseëndes van die Vader
genoem. Dis persone wat God gekies het om te seën. Omdat hulle
beter as die ander was? Die enige rede is God se vrye welbehae en
sy onbegryplike genade.

Die gelowiges word ook regverdiges genoem. Hoe word iemand
’n regverdige? Net deur Christus ons geregtigheid. Ten
slotte word in Mt 25 as erfenis genoem die koninkryk wat vir
julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. God het
daardie erfenis vir sy skape gereed gemaak voordat hulle gebore
is en voordat hulle goed of kwaad gedoen het. Die goeie werke is
dus streng gesproke nie die grond van die oordeel nie. Die
diepste grond is God se ewige liefde.

Tog word hier van werke gepraat. Uit jou werke word jy as
skaap geken, word jy geken as iemand in wie God Sy liefde
uitgestort het. Uit hul werke word ook die goddeloses as
goddeloses geken, as mense wat nie by Christus behoort nie. Hulle
kry dan ook hulle verdiende loon, God se regverdige straf, die
hel, die plek van God verlatenheid. Hulle het mos die Here en sy
kinders verwerp. Ja, die beslissende vraag bly: wat dink jy van
Jesus Christus? Wat beteken Hy vir jou? Glo jy in Hom, leef jy
deur en vir Hom. As jou lewe hier en nou Christus is, dan sal jou
sterwe en die laaste oordeel wins wees. Jy sal dan jou groot
Redder ontmoet om ewig by Hom te wees. Jou redding sal dan
volmaak wees. Dit wat God jou belowe het sal jy dan ten volle
geniet. Ongekende saligheid. Sou jy dan nie met sterk verlange
daarna uitsien nie? Ja, uitsien na Christus se wederkoms.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)