Sonder die Here is ons menslike inspanning tevergeefs

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-09-03
Text: 
Psalms 127
Preek Inhoud: 

Psalm 127:1,2

Ds C Kleijn - Sondag 03 September 2006

Lees: Psalm 127.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 26:1,2; Ps 36:2; Ps 127:1,2;
Ps 37:2-5.

Tema: Sonder die Here is ons menslike inspanning
tevergeefs.

  1. Die Here bou en bewaar, wees daarom nederig.
  2. Die Here skakel jou in, wees daarom getrou.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons wil weer bid vir gewas en arbeid. Ons wil ons op God rig,
alles uit sy hande los bid. In ons samelewing kom die mens steeds
meer sentraal te staan. Die mens moet sy toekoms maak. Jy moet
jou eie toekoms waarborg. So word jy groot gemaak. Om vooruit te
kom in die wêreld moet jy hard studeer en hard werk. Jy moet
presteer. Dit word ons kinders ingeprent. In ons land geld dit
des te meer vir blanke seuns en manne. Jy kry nie sommer goeie
werk of bevordering nie. Daarvoor moet jy wel eers iets wys. So
lyk dit asof die mens self die hef in hande het. Jy kan jou
toekoms maak of breek. En as ’n mens goed vooruit kom in die
lewe, dan word dit dikwels gesien as iets wat jy verdien het, as
jou reg. Jy het mos hard daarvoor gewerk? Asof armes en minder
bevoorregtes nie hard werk nie.

’n Ander saak wat in ons land baie aandag kry, is ons
veiligheid of eerder die gebrek daaraan. Deur die media word ons
daagliks oorspoel deur berigte oor geweld en misdaad. Ja, hoeveel
van ons was self nie ’n slagoffer van misdaad of geweld nie
of het dit nie in hul vriende en familie kring ervaar nie? Dis
werklik een van die groot probleme in ons land. Hoeveel
sekuriteitsmaatreëls moet die mens vandag nie neem nie. Hoë
heinings rondom die huis blyk dikwels nie afdoende te wees nie.
’n Ratslot en ’n immobliseerder blyk vir die meeste
karre ook nie voldoende te wees nie. Hoe ver moet jy teenwoordig
gaan? Hoe slimmer jou veiligheidsmaatreëls, hoe slimmer word die
rower bendes.

In hierdie situasie is dit goed om te let op die relatiewe
waarde van al ons inspanning en ons op God te rig. Ons teks gee
ons daarin rigting.

Ek vat die boodskap saam onder die tema: sonder die Here is
ons menslike inspanning tevergeefs.

  1. Die Here bou en bewaar, wees daarom nederig
  2. Die Here skakel jou in, wees daarom getrou.

Die twee punte kan ons ook weergegee met die woorde: bid en
werk.

Wanneer die pelgrims opgaan na die tempelstad Jerusalem, dan
sing hulle hierdie Psalm. Om die heilige stad te sien, maak hulle
opgewonde. Dis die stad van die Here, waar Hy onder sy volk wil
woon. Jerusalem is mooi gebou op ’n berg.. Dit gee ’n
gevoel van vastheid en veiligheid. Geen wonder dat die pelgrims
wanneer hulle die stad nader, hierdie lied sing nie. Wie sou nie
die Here prys nie vir hierdie pragtige tempelstad en vir sy
beskerming daarvan?.

Salomo het dit reeds gedoen. Hy is die digter van die Psalm.
Hy is ook die bouer van die tempel. Maar die werklike bouer is
die Here self. Dit is God se ontwerp.

So sing die pelgrims: "As die Here die huis nie bou
nie…" Dis nie nodig om dit tot die tempel te beperk nie.
Die reël van die teks geld mos vir elke huis wat gebou word, of
dit in Jerusalem is of op ’n ander plek. Ons kan hierby dink
aan enigiets wat die mens opbou. Aan jou studie, loopbaan,
besigheid of boerebedryf. Ons kan selfs dink aan ’n
huisgesin. Om ’n gesin te stig is ook iets wat die Here moet
doen. Sien vers 3: "Kyk, seuns is ’n erfdeel van die
Here; die vrug van die moederskoot ’n beloning."

"As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die
wat daaraan bou." Die pelgrims het dit reeds gesing. Ons
sing dit vandag. Maar is dit nie in stryd met die werklikheid
soos ons dit ervaar nie? Mense is almal baie besig om te bou. Om
te bou is ’n tipies menslike aktiwiteit. Mense bedink hoe
hulle dit wil hê. Mense teken die planne. Mense maak hulle
berekenings. Mense voer die planne uit. Baie mense werk daaraan
en die huis of gebou word voltooi. Om te bou is ’n egte
menslike aktiwiteit. Jy sien die produk voor jou. Eers was daar
niks nie, aan die einde het jy ’n huis waarin mense kan woon.
Die bouers is trots op hul werk. So is dit ook met ’n mens
se studie, loopbaan en besigheid. Jy maak allerlei planne,
berekenings. Jy werk hard daaraan en aan die einde van die dag
mag jy trots kyk na wat jy behaal het.

Kan ons dan wel sê: "As die Here die huis nie bou nie,
tevergeefs werk die wat daaraan bou"? Is daar nie baie mense
wat met sukses huise bou en besighede oprig, sonder om aan die
Here te dink nie? Hoeveel stede, huise, besighede het nie
ontstaan sonder dat die betrokke persone die Here erken het nie.

Hierdie vrae dwing ons om noukeurig te let op wat die teks sê.
Wat sê die Psalmis? Sê hy: as jy die Here nie erken nie, sal
jou werk tevergeefs wees? Nee, Hy verwys nie na die houding van
die bouers teenoor die Here nie. Wat hy sê is: as die Here nie
bou nie, is al jou inspanning tevergeefs. Met ander woorde: as
die Here self dit nie doen nie, dan kan jy al jou werk wel
vergeet. Dis dan sinloos, tevergeefs.

Beslissend is wat God doen en nie wat ek as man of vrou, seun
of dogter doen nie. Beslissend is die aktiwiteit van die Skepper
en nie dit van die skepsel nie.

God die Skepper laat die wêreld nie aan ander oor nie, soos
’n bouer dit op ’n seker oomblik aan die nuwe eienaars
oordra. God bly die eienaar van alle dinge. Hy bly in beheer. In
sy voorsienigheid onderhou en regeer Hy alle dinge. Die Here
sluimer of slaap nie. Hy is die lewende God wat aktief betrokke
bly.

Sonder God se aktiwiteit sal geen menslike aktiwiteit
suksesvol wees nie. God dra nie net by aan menslike aktiwiteit
nie. Sy aktiwiteit is ’n voorwaarde vir alle menslike
aktiwiteit. Want Hy gee aan alle mense lewe en asem en alles (Hand
17:23). As die Here hul asem wegneem dan sterf hulle en is dit
met hul planne gedaan.

Dit wys, geliefdes, op ons volkome afhanklikheid van God.
Sonder Hom is al ons inspanning tevergeefs. As Hy nie die
moontlikhede, die middele en geleenthede gee nie, en as Hy dit
nie seën nie, vergeet dit maar. Alle goeie gawes kom van Hom.

Die Psalmis wys ons ons nederige posisie. Sê nie in jou hart:
ek sal myself van ’n toekoms verseker. Ek sal ’n sukses
daarvan maak. Roem nie in jou eie prestasies nie. Sonder God kan
jy niks doen nie, het jy geen asem of lewe nie. Gee aan God die
eer. Hy is die eienaar van almal en alles, ons groot Skepper en
onderhouer. Hy is die groot Bouer. Sodra Hy hom terugtrek, is dit
met al my planne gedaan.

Hy is ook die groot Bewaarder. "As die Here die stad nie
bewaar nie, tevergeefs waak die wagter." Die stad het
wagters nodig wat vir moontlike gevaar op die uitkyk is. Jy kan
dink dat alles goed gereël is. Niks kan verkeerd gaan nie. Maar
as die Here nie bewaar nie, is jy nie veilig nie. Dan is al jou
veiligheidsmaatreëls tevergeefs. Dink aan die ou stad Jerusalem.
Mooi en sterk. Tog is dit verskeie kere ingeneem en uiteindelik
verwoes. Die mense het die Here verlaat en hulle tot die afgode
gekeer. Die wagters kan hul taak getrou vervul. Hulle kan waarsku
teen dreigende gevare. As die Here dit nie bewaar nie, is dit
alles egter tevergeefs. Maak nie saak hoe sterk Jerusalem, die
kerk, of jy as persoon of gesin volgens menslike maatstawwe is
nie, as God Hom terugtrek, beteken dit niks nie. Net wanneer God
bewaar en beskerm, is daar veiligheid en vrede.

Die Psalmis vervolg: "Tevergeefs dat julle vroeg opstaan,
laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Hy dit
aan sy beminde in die slaap." Jy kan dag en nag met iets
besig wees, jouself geen rus gun nie, sonder die Here is dit
tevergeefs, jy mors jou tyd en energie.

As jy dink dat jy dit moet doen, lei dit tot spanning en
rusteloosheid. Die vraag kan jou dan pla: sal ek dit kan bereik,
sal ek dit red? Ons sien mos dat baie dit nie red nie? Dat baie
huisgesinne en besighede in die moeilikheid kom en stukkend gaan.
Sal ek dit dan wel red? Die las is te swaar vir jou. Die Here,
jou Verbondsgod, wil die las vir jou dra. Laat dit aan die Here
oor. Los dit in sy bekwame en vertroude hande. Soos Ps 37:5 dit
so mooi sê: "Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op
Hom, en Hy sal dit uitvoer." Dit bevry jou van onrus en
gespannenheid. Dit gee vrede en rus. Jy weet dat jou lewe en
toekoms, jou werk en gesin in God se vertroude hande is. Hy is
jou bouer en bewaarder.

Geliefdes, die Here beskerm ons hier ook teen werkoholisme,
dat jy ’n slaaf van jou studie en werk sou wees. Hy gee
daardie dinge (voorspoed en veiligheid) net so goed aan sy
beminde in die slaap. God wil nie hê dat jy jouself doodwerk nie.
Dit behoort by die lewe van die heidene wat dink dat hulle hul
eie toekoms en die toekoms van die wêreld moet waarborg. As jy
egter weet dat alles in God se hande is, kan jy geniet van
gesonde nagrus en van die Sondag as rusdag van die gemeente. Jy
kan jou tyd dan so indeel dat jy jouself die nodige rus gun. Jy
is nie meer slaaf van jou werk nie. Jy ken jou nederige en
afhanklike posisie teenoor die Here. Jy kan al die dinge nie self
presteer nie. God doen dit. Hy gee dit net so goed aan sy beminde
in die slaap.

Nou die tweede gedagte: Jy moet nie net nederig wees nie,
omdat die Here bou en bewaar. Jy moet ook - en dis die tweede
gedagte – getrou wees omdat die Here jou inskakel.

As die Here die bouer is en voorspoed net so goed aan sy
beminde in die slaap gee, kan ons dan nie beter ophou met al ons
inspanning en aktiwiteite nie? Die Here is mos diegene wat bou en
bewaar. Skep sulke gedagtes nie lui en passiewe Christene nie?

Geliefdes, as dit so was, sou die Psalmis sy woorde anders
moes geformuleer het. Let daarop dat Hy nie sê: as die Here die
huis bou, hoef geen mens meer daaraan te werk nie. Of: as die
Here die stad bewaar, is die wagter nie meer nodig nie. Nee, die
teks wys dat ’n menslike bouer en wagter nog vereis is.
Menslike inspanning is waardevol en nodig, alleen dit kan nie
sonder die Here nie. As die Here dit nie doen nie, is al jou
inspanning tevergeefs. Ons menslike inspanning bly dus nodig.

Ons het ’n taak ontvang om te bou en te bewaar, die
bekende kultuurmandaat. Die punt waaroor dit gaan is: hoe bou en
bewaar ek? Doen ek dit in die oortuiging dat die Here die
werklike bouer en bewaarder is? Doen ek dit in biddende
afhanklikheid van Hom? Sonder Hom is al my inspanning tevergeefs.
As ek eenmaal God sy eerste en beslissende plek gegee het, word
my inspanning des te belangriker. God se aksie roep my aksie op,
sit my aan die werk.

Daarom kan jy nie gaan sit en wag totdat God alle dinge doen
nie. Jy moet ywerig en getrou in jou werk wees. Doen wat jou
hande vind om te doen, ja wat God vir jou gee om te doen. Doen
dit na die beste van jou vermoë. Dit sal by tye lange dae en
harde werk beteken. So lank as jy dit maar in onderworpenheid aan
God, in ootmoed en vertroue op Hom doen. Dan bou en werk jy nie
soos dit jou pas nie, volgens jou eie idees en planne nie. Dan
doen jy dit volgens God se planne met jou. En volgens die reëls
wat Hy daarvoor gegee het. Jy soek eers sy koninkryk en sy
geregtigheid en jy verwag die resultate van Hom, jou versorging
en veiligheid. Jy volg sy wil in alles wat jy onderneem. Jy werk
soos jy weet dat Hy wil hê dat jy sal werk. Jy ontwikkel jou
loopbaan en bedryf jou besigheid soos jy weet God jou besig sou
wil sien. Jy ontwikkel en gebruik jou gawes soos Hy dit wil hê.
Tot eer van Hom jou Skepper en Verlosser, jou Opdraggewer.

Gemeente, God wil inderdaad sorg dra vir jou lewe, ook vir jou
kerklike lewe. Maar Hy wil dit deur middel van getroue menslike
diens doen. Daarom word jy geroep om aan die werk te spring, om
te werk solank as dit dag is. As jy kos en klere wil hê, werk na
vermoë daarvoor. As jy werkloos is, sal werk nie outomaties in
jou skoot val nie. Jy sal iets daarvoor moet doen om werk te kry.
As jy siek is, bevry God jou nie vanself van siekte en pyn nie.
Dikwels sal medisyne of terapie nodig wees. As jy nie wil hê dat
in jou huis ingebreek word nie, sal jy tog sekere
veiligheidsmaatreëls moet tref. Om in God te vertrou dat Hy dit
sal doen, maak jou eie inspanning nie oorbodig nie. Inteendeel,
dit stimuleer jou juis om jou in te span.

Alleen die inspanning kan dan baie meer ontspanne wees. Jy
weet dat alles in God se hande is, ook die voortgang en
voltooiing van jou eerbare planne. Daar is geen rede om
paniekerig of gespanne te wees nie. Die Here het alles in sy hand.
Al wat ek hoef te doen is om Hom te volg op die pad waarop Hy my
in sy wysheid lei. My inspanning is nie die beslissende faktor
nie, maar God se inspanning. My diens is nie meer as ’n
uitdrukking van dank tot eer van Hom wat my wil inskakel.

Die werklike sorg is in God se hande. Hy wil vir my sorg.
Daarom kan ek op ’n ontspanne manier doen wat my hand vind
om te doen. In die wete dat God sorg en dat Hy nooit faal nie.
Ook al is die resultaat dalk anders as wat ek in gedagte gehad
het. Dit is, broers en susters, die bevrydende boodskap van ons
teks. ’n Las val van jou skouers af. Onsekerheid en
rusteloosheid kan verdwyn. Jy hoef die uiteindelike
verantwoordelikheid nie self te dra nie. Durf dit aan die Here
oor te laat. Dit gee vrede en vreugde. Dit is ook die beste
aansporing om die take aan te vat wat voorlê, om te doen wat jy
kan in sy diens.

In die verlede het God Homself bewys as die Bouer en Bewaarder.
Die pelgrims het daarvan gesing. Hul kinders het dit ervaar. Dink
aan die terugkeer uit ballingskap. Tempel en stad het weer verrys.
Maar toe die volk opgehou het om op die Here te vertrou en hul
toekoms weer in eie hande begin neem het, was hul aktiwiteite
tevergeefs. Die stad en tempel is uiteindelik weer verwoes.

Maar die Here het sy kerk bly bou en bewaar. Langs ’n
ander pad. Deur die apostels. Deur onaansienlike mense. Deur
ampsdraers. Die wêreldwye kerk het verrys. Monumentale
kerkgeboue. Maar dis nie wat die Here soek nie. Hy bou as dit
nodig is sonder prag en praal. Hy beskerm en bewaar. Teen alle
soorte vyande. Hy is ’n muur rondom sy Nuwe Testamentiese
kerk.

’n Wonder: as die Here die huis nie bou nie, tevergeefs
werk die wat daaraan bou. Paulus, die bouer, ’n swak man wat
nie kan kompeteer met die groot wysgere van sy dag. Maar hy volg
die Here en God bou deur Hom. Kerke, godshuise verrys oor die
hele

Romeinse ryk. So bly die Here bou. Hy bou sy kerk in Suid
Afrika en daarbuite. Hy bewaar sy kerk en kinders oor die hele
wêreld. Wanneer dit nodig is gee Hy manne wat die gedeformeerde
kerk tot reformasie oproep. Swak en sondige mense. Tog
waardevolle instrumente van God. Deur wie Hy sy krag toon.

So gaan die Here ook vandag nog aan om sy kerk te bou en te
bewaar. Ook hier in Pretoria. En Hy wil elkeen van julle in
daardie projek inskakel. Met jou eie gawes en talente, elkeen in
sy eie plek. Hy soek ’n geestelike huis, ’n heilige
priesterskap. Volg hom daarin. Soek sy koninkryk en sy
geregtigheid.

En in daardie konteks doen wat jou hand vind om te doen,
ywerig en getrou, in jou studie en in jou werk, in jou huwelik en
in jou gesin, in kerk en samelewing. Nie as ’n doel in
homself nie. Maar as ’n middel om God se koninkryk te
bevorder.

Besef jou nederige posisie. Sonder die Here kan jy niks bereik
nie. Sy aktiwiteit is beslissend. Probeer dan ook nie om Hom voor
die voete te loop nie met al jou inisiatiewe nie. Volg sy
inisiatiewe. Werk in sy diens. Uit dankbaarheid. Laat Hom dit
doen deur sy instruksies op te volg, deur sy wil te doen op alle
terreine van die lewe. Net dan sal jy die toets deurstaan en te
voorskyn kom as oorwinnaars, deur Hom wat julle liefgehad het.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)