Die versoening deur Christus.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-07-23
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 21
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 21

Ds C Kleijn - Sondag 23 Julie 2006

Lees: Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel
21; Levítikus 4:27-31; Jesaja 52: 13-53:12; 2 Korinthiërs 5:11-21.
Sing: Ps 65:1,2; Ps 65:3; SB 7:4,5; SB 8:1,2; SB
8:4,5.

Tema: Die versoening deur Christus.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Gestel dat iemand aan moord skuldig bevind word. Hy word tot
lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Maar dan verskyn daar
skielik ’n vreemdeling in die hof. Hy pleit by die regter:
Laat die moordenaar maar vry, ek sal die gevangenisstraf vir hom
uitsit. Laat die moordenaar maar rustig huis toe gaan. Kan jy jou
voorstel dat die regter so iets sou toelaat, dat die skuldige
vryuit huis toegaan terwyl ’n onskuldige sy vonnis uitdien?
Indien die regter dit wel sou doen, hoe sou jy daaroor voel? Sou
dit regverdig wees?

Om ’n ander voorbeeld te gebruik: gestel dat ’n seun
kattekwaad aangerig het. As straf gee sy ouers hom sekere take om
te doen en verbied hulle hom om tydens die naweek by sy vriende
te kuier. Sy boetie bied aan om die straf vir sy skuldige broer
te dra. Sou die ouers dit toelaat? Kan jy dit voorstel dat hulle
dit sal toelaat dat die onskuldige seun die straf sal dra terwyl
die skuldige deugniet rustig weer by sy vriende partytjie vier?
Sou dit regverdig wees?

Gemeente, laas Sondag het ons die regverdigheid van God
benadruk. God is reg in al sy weg en werk. Hy doen wat Hy sê. Hy
vervul sy beloftes maar ook sy dreigings. Hy gee aan elkeen sy
verdiende loon. Maar pas die evangelie van versoening deur Jesus
Christus (wat ons in art 21 NGB bely) wel by hierdie evangelie
van God se regverdigheid? Is dit regverdig van God om die strawwe
wat ons verdien het, deur iemand anders, deur Jesus Christus, te
laat oorneem? Dis tog ook nie regverdig om ’n onskuldige
vreemdeling die lewenslange vonnis van die moordenaar uit te laat
sit nie? Dis tog ook nie regverdig om die onskuldige seun die
straf van die skuldige deugniet te laat dra nie?

Broers en susters, dis een van die redes waarom sommiges die
evangelie van versoening deur Christus ontken. Die Sosiniane uit
die 16de eeu het die moderne liberale teoloë daarin voorgegaan.
Volgens hulle sou Jesus nooit ons strawwe kon oorneem nie. Hulle
verwerp die gedagte van Jesus as plaasvervanger. Dit sou
onregverdig wees. Bowendien sou volgens hulle die God van liefde
onmoontlik so ’n straf kon eis. Christus se dood aan die
kruis sou eerder net ’n gevolg en bewys van sy konsekwente
liefde vir ons wees. Maar dit was volgens hulle beslis geen
betaling vir die sondes nie.

Wat moet ons met hierdie besware? Wat sê die Skrif hieroor?
Uiteindelik is die Skrif beslissend en nie ons
regverdigheidsgevoel nie.

Gemeente, God het vanaf die begin gewerk met die gedagte van
een persoon wat ander verteenwoordig. Dis hoe God dit in die
verbond, wat Hy met die mens gesluit het, beskik het. Dit bly
fundamenteel vir die verstaan van die verbond. Adam het ’n
unieke posisie ingeneem wat geen ander mens ingeneem het nie,
behalwe die laaste Adam, Jesus Christus. Adam was aangestel as
die Hoof van die menslike geslag. Soos Adam die hoof van die ou
mensdom is, is Christus die hoof van die nuwe mensdom.

God het besluit dat Adam namens die hele mensdom sou optree.
Sy gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid sou aan almal wat hy
verteenwoordig, toegereken word. Vergelyk dit met ’n koning
of president wat die bevoegdheid het om namens ’n land
oorlog te verklaar. Hierdie een man verteenwoordig sy volk. Sy
verklaring van oorlog beteken dat die hele nasie oorlog voer. So
het God Adam aangestel om die menslike geslag amptelik te
verteenwoordig. Toe hy in sonde geval het, het hy namens almal
wat uit hom sou gebore word, opgetree.

Nou, gemeente, as hierdie idee van verteenwoordiging
kenmerkend vir die verbond is en dus kragtens God se beskikking
volkome legitiem en reg is, waarom sou Christus, die tweede Adam,
ons dan nie mag verteenwoordig nie? As ons deur Adam almal
skuldig en sondig geword het, waarom sou Christus dan nie namens
ons die skuld mag wegdra nie? Binne die verbond tussen die Here
en sy volk is dit volkome legitiem. Lees maar Romeine 5:12-21
waar die betekenis van Adam en Christus vergelyk word. Ek lees
net vers 19:”Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een
mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die
gehoorsaamheid van die Een baie tot regverdiges gestel word.”

Buite die gedagte van verteenwoordiging, praat die Bybel ook
baie van die oordrag van die skuld en van plaasvervanging.
Hierdie gedagte is kenmerkend vir die Ou Testamentiese offerdiens.
Ons het bv daarvan gelees in Lev 4. Daar gaan dit oor die
sondoffer, spesifiek vir die geval dat iemand sonder opset sondig.
Jy het dan iets gedoen sonder om daarvan bewus te wees dat dit
verkeerd was. As jy dit vantevore geweet het , sou jy dit nooit
gedoen het nie. Iemand bring dit onder jou aandag. Ons sou
moontlik ons skouers daaroor ophaal en dit verder ignoreer. Maar
God dink anders daaroor. Selfs die minste of geringste wat van sy
wil afwyk, moet herstel word. Die Here gee die opdrag: Neem dan
’n bokooi sonder liggaamsgebrek as offer vir die sonde wat
jy begaan het. Sit dan jou hand op die offerdier se kop en slag
dit Waarom moet die persoon sy hand op die kop van die offerdier
sit? Daardeur word sy skuld simbolies aan die dier oorgedra.
Vervolgens sterf die dier dan in die plek van die sondaar. God
het in Genesis 2 bepaal dat die straf op die sonde die dood sou
wees. Regtens behoort die sondaar dus te sterwe. Maar die
offerdier word in sy plek gedood, omdat die sonde simbolies van
die sondaar na die dier toe oorgedra is. Hier sien jy God se
regverdigheid. Die sonde moet deur die dood gestraf word, daarom
sterf die dier. Hier sien jy ook God se genade. God het die
sondaar toegelaat om sy sonde aan die offerdier oor te dra en die
dier het in die plek van die sondaar gesterwe. Nadat die sonde
oorgedra was, het die dier die sondaar se plaasvervanger geword.

Is dit nou nie erg teenoor die arme dier nie? Die dier kan mos
niks aan jou oortreding doen nie? En dan nog wel iets wat eintlik
meer lyk op ’n klein foutjie, ’n vergissing. Is die
diere dan nie belangrik vir God nie? Ja seker. Maar dit wys
eerder hoe erg God dit vind wanneer ons mensekinders ook maar op
die kleinste manier teenoor Hom oortree. Hy neem dit doodernstig
op. Dit is vir Hom so belangrik om die verhouding tussen ons en
Hom weer te herstel, dat Hy selfs bereid is om ’n dier
daarvoor op te offer. Daar moet bloed vloei, dit kos ’n lewe
om te herstel wat ons aangevang het. So het God sy kinders geleer
om die sonde ernstig op te neem. Selfs onopsetlike sonde het
’n sondoffer geëis. Dit sal ’n mens versigtiger maak.
Jy sal dan bewuster nadink voordat jy iets sê of doen, uit vrees
dat jy daarin sou sondig en daarvoor ’n offerdier sal moet
slag.

Geliefdes, naas al die offers wat daagliks gebring moes word,
was daar ook ’n besondere versoendag. Jy sou die groot
versoendag kan vergelyk met ’n groot skoonmaak. Dit gaan nou
nie net oor onopsetlike sonde nie, maar oor alle sonde. Alles
moet skoongemaak en opgeruim word wat dalk nog oorgebly het van
’n jaar van menslike samelewing. God gee die opdrag om twee
bokke te neem, een vir die Here en een vir Asasel. Die eerste bok
moet geslag word en sy bloed moet tot binne in die allerheiligste
gebring word, op die versoendeksel. Van die ander bok, die vir
Asasel word uitdruklik gesê dat Aäron sy twee hande op die kop
van die bok moet lê en oor hom belydenis doen van al die
ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge,
wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet die op die kop van
die bok lê en hom deur ’n man wat gereed staan, na die
woestyn toe stuur. So word die sondes aan die sondebok oorgedra
en weggedra.

Deur die hele Ou Testament loop ’n breë bloedspoor.
Daardie bloed kon egter nie werklik die sondes versoen nie. Dit
het vooruit gewys na die bloed van Jesus Christus. Dit was
’n teken van sy soenoffer. Ware versoening kon alleen
bewerkstellig word deur die Priester wat nie soos die Ou
Testamentiese priesters met vreemde bloed na die altaar gegaan
het nie, maar met sy eie bloed. Die Priester moet dus gelyktydig
offer wees, priester én lam. Hierdie menslike lam word reeds
uitdruklik aangekondig in Jes 53. Hier word nie langer van
’n offerdier gepraat nie, maar van ’n mens, die lydende
kneg van die Here. Wil jy ’n duidelike beskrywing van
Christus se lyding en sterwe ontvang? Daarvoor is jy nie net op
die Nuwe Testament aangewese nie. Jesaja 53 gee ’n so
duidelike tekening daarvan dat ’n mens nie kan verstaan dat
ortodokse Jode wat die Ou Testament so ernstig wil opneem, nie by
die Christus uitkom nie. Wat in Jesaja 53 van hom opgeteken staan,
het presies so gebeur.

Ons lees daar uitdruklik van sy plaasvervangende lyding en
sterwe. Ons lees van die oordrag van die sonde. Soos die Here sy
volk opgedra het om hul sondes op die bok te lê, so het God ons
sondes geneem en dit op Jesus Christus gelê. Die komende
Christus word in Jesaja 53 geteken as een wat in die plek van die
sondaars ly en sterwe, as ons plaasvervanger. Wat ook opval is
dat hierdie kneg van die Here vrywillig die plek van ons sondaars
inneem. Die Ou Testamentiese bokke en bulle het geen keuse gehad
nie. Maar hierdie offerlam kies self daarvoor om die sondes van
ander op hom te neem. Hy neem dit vrywillig op Homself en God lê
dit op Hom. Luister maar: ”Nogtans het Hy ons krankhede op
Hom geneem, en ons smarte – die het Hy gedra ... Maar Hy is
ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons
ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede
aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing
gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie
pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op
Hom laat neerkom.” Hy het hom gewillig aan sy lyding
onderwerp. Soos ’n lam wat na die slagting gelei word.
Hoewel hy self onskuldig was (vers 9: Hy het geen onreg gedoen
nie en daar was geen bedrog in sy mond gewees nie) het Hy ons
skuld gedra. Hier het jy die groot en wonderlike ruil waarvan
Paulus praat in 2 Korinthiërs 5:21: “Want Hy het Hom wat
geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan
word geregtigheid van God in Hom.” Terwyl ons sonde was en
Christus geregtigheid van God, het God dit omgeruil. Hy het ons
sonde en skuld van ons weggeneem en op Christus gelê. God het sy
Seun vir ons tot sonde gemaak. Hy is letterlik onder die skuld en
sonde van die mensheid begrawe. Hy het sy toorn oor sy Seun laat
kom vir al die sondes wat op Hom was. So het God die skuld
uitgedelg voor sy aangesig en was dit Hy wat die wêreld weer met
Homself versoen het. So kan ons sondaars geregtigheid van God
wees in Hom. Mense wat vrygespreek is, onskuldig verklaar word.

So het Johannes die Doper Jesus as die Lam van God aangewys:
“Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem” (Joh 1:29). ’n Raak tipering van Jesus
Christus. Daardeur word die eintlike van sy optrede in enkele
woorde getipeer. Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem.

Vandag is daar allerlei Jesus beelde, voorstellings wat mense
van Jesus maak. Hy is die groot held, die groot voorbeeld van
konsekwente liefde wat daardeur aan die kruis beland het. Hy sou
die groot revolusionêr wees, wat gedurf het om die gevestigde
orde aan te vat. Hy sou die groot bevryder wees wat vir die armes
en onderdruktes opgekom het, ens, ens. Al hierdie kwalifikasies
raak nie die eintlike van Jesus se optrede nie en beteken daarom
’n verarming. So raak ’n mens Jesus soos Hy in
werklikheid is, kwyt. En daarmee raak jy God en jou eie saligheid
kwyt. Jesus Christus is inderdaad ’n volmaakte mens, profeet,
martelaar, priester, koning, en nog baie meer. Maar in dit alles
is Hy die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit
is volstrek uitsonderlik en onherhaalbaar. Daar is net een Mens
van wie dit met reg gesê kan word. En wanneer God die geheim van
Jesus se roeping in hierdie wêreld bekendmaak, wee my as ek daar
geen ag op gee nie en dit beter wil weet. En as Jesus Homself so
aan die wêreld laat voorstel, laat ek dan in aanbidding voor Hom
neerval. As ek Hom nie as Lam van God sien nie, dan verstaan ek
niks van Jesus nie. As ek Hom nie as Lam van God volg nie, dan
gaan sy heil aan my verby.

Broer, suster, probeer jou in te dink wat dit vir Jesus aan
die begin van sy publieke optrede moet beteken het. Hy is vanaf
die begin van sy optrede op pad na die dood toe, na sy
doodsvonnis as Lam wat vir die sonde geslag moet word. ’n
Vervloekte, belaai met die sonde en skuld van sy volk. Dit moet
aangrypend gewees het om so te moet optree, om so getipeer te
word. Maar Christus bied Homself vrywillig as lam aan. Wat
’n selfverloëning!

Die Paasfees was nie direk ’n fees vir die lammetjies,
wat geslag is, nie. Maar wel vir die volk wat versoen word. Die
omstanders moet wel verbaas gekyk het, toe Joh die Doper Jesus as
Lam van God voorgestel het. Is hierdie mens die Lam wat die sonde
wegneem? Die aandag word nou nie gevestig op die lammetjies wat
daagliks geslag word nie, nog op die jaarlikse paaslam, maar op
’n Mens. Sou Jesaja 53 deur hul gedagtes gegaan het? Ons
weet nie. Niemand gaan daar blykbaar verder op in nie. Hulle is
tevrede met die lammertjies wat daagliks geslag word.

Gemeente, as God Jesus as Lam van God aanwys wee my as ek dit
ontken. As God die sonde as die eintlike nood van die wêreld
aanwys, wee my as ek dit kleineer of goedpraat. As God sê dat
die sonde van die wêreld net deur Christus, sy Lam, weggeneem
word, wee my as ek in selfoorskatting dink dat ek myself wel kan
red. As God sê: Ek vind die sonde so verskriklik dat Ek my Seun
daarvoor op Golgota laat sterf het, dan moet ons nie maak asof
die sonde net vergeeflike swakheid is nie. Dis nie belangrik
watter gewig ek aan die sonde toeken nie, maar watter gewig die
heilige God daaraan toeken. Die erns van ons sonde word nêrens
so duidelik gewys nie as daar waar God in die Lam Jesus Christus
met die sonde afreken.

’n Dwaas evangelie, aanstootlik, vernederend vir die mens.
Daarom is daar die teenstand teen hierdie evangelie, die
verloëning van Christus se offer tot versoening van ons sondes.
Wie egter hierdie vernedering aanvaar, word deur God verhoog.
Maar wie homself bly verhef, sal deur God verneder word.

Ja, hierdie evangelie klink maar snaaks. Wie sou so iets ooit
uitgedink het? Dat Jesus Christus die sonde van die wêreld
wegdra? Dis ongehoord. Uitsonderlik. Omdat dit die evangelie van
God is. Die lammetjies wat mense slag, spreek meer aan. Daarin
kan jy jou eie vroomheid uitleef. Daarin kan jy self iets vir God
aanbied. Iets waarvoor God jou moet bedank. Ons wil liewer
godsdienstige mense wees, as sondaars wat van die soenoffer van
Christus afhanklik is. Die lam van God is die radikale oordeel
oor alle lammetjies, alle offergawes, alle goeie werker wat ons
mense wil aanbied. Daar gaan ons hoogmoed. Net die Lam van God
kan my red.

Maar in die weg van totale vernedering breek die volle
evangelie baan. Ek kan en mag al my sondes op Jesus Christus lê.
Die Lam van God is sterk en liefdevol genoeg om al my sondes weg
te neem. Die sonde is daar nie meer nie. Dis weer reg met God
deur Jesus Christus.

Daarom eindig ons artikel ook met ’n loflied op Christus.
“Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons
met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en wel oor Hom
as gekruisigde; dat ons alles as waardeloos beskou, want om
Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde; dat ons
volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander
middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie
as slegs hierdie offerande wat net een maal gebring is, waardeur
die gelowiges vir altyd volmaak word.” Pragtige woorde vir
elkeen wat glo.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)