Laat liefde en trou jou nie verlaat nie

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-07-16
Text: 
Spreuke 3
Preek Inhoud: 

Spreuke 3:3,4

Ds C Kleijn - Sondag 16 Julie, 2006
Belydenis van geloof – Anneke Eefting

Lees: Spreuke 3:1-18.
Sing: Ps 118:1,2; Ps 24:2,3; Ps 50:7,8,11; Ps 89:1,3;
Ps 89:6,7 (na belydenis); Ps 116:1,7,9,10.

Tema: Laat liefde en trou jou nie verlaat nie

  1. Wat beteken dit
  2. Wat moet jy daarvoor doen
  3. Wat baat dit jou

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is daar iemand hier wat geen waardering of liefde wens te
ontvang nie? Elkeen wil tog op ’n bepaalde manier aantreklik
wees en waardering ontvang? Jy is uiteindelik nie alleen in
hierdie wêreld. Wat ander oor jou dink beïnvloed jou gevoel van
geluk. As mens wil jy geliefd en gewaardeer wees.

Maar hoe kan jy dit bereik? Spreuke bied ons wyse raad. Laat
liefde en trou jou nie verlaat nie. Dan sal jy guns verwerf nie
net by God nie, maar ook by mense. Niks sier jou meer as liefde
en trou nie. Jy sou in ons korrupte samelewing wens dat meer
mense deur liefde en trou gekenmerk sou wees. En van ’n
Christen mag jy dit tog verwag? Juis daardeur sou ek as Christen
moet opval in hierdie onbetroubare samelewing.

Spreuke gee wyse raad vir alle gebiede van die lewe. In die
daaglikse lewe moet jy dikwels keuses maak. Dikwels is daar die
vraag: wat moet ek doen of sê? Is dit reg om dit of dat te doen?
Is dit nuttig? In die verwarring van ons menslike samelewing moet
ek voortdurend my weg vind. Dis nie maklik nie. Die ou waardes en
gedragswyses word steeds meer verlaat. En daar is baie adviseurs
en beraders wat jou die weg wil wys. Hoe vind jy die regte pad in
hierdie verwarrende wêreld? Daarvoor het jy wysheid nodig.

Gelukkig hoef jy dit nie deur val en opstaan te leer nie. God
gee in die boek Spreuke wyse raad. Hy laat sy lig skyn oor jou
daaglikse lewe, oor jou verhoudings en aktiwiteite, oor jou
liefde en haat, jou werk en ontspanning. Hy spreek die lewe aan
met al sy skoonheid en gebrokenheid. God gee wysheid vir alle
situasies van die lewe. Jy kan daaruit bly leer. Ook wanneer jy
publiek verantwoordelikhede in die kerk aanvaar, wanneer jy as
lewende lidmaat van die kerk jou plek wil inneem.

Ek verkondig vir julle:

Laat liefde en trou jou nie verlaat nie.

  1. Wat beteken dit
  2. Wat moet jy daarvoor doen
  3. Wat baat dit jou

God gee ons raad. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie.
Maak seker dat daardie twee dinge by jou bly. Hou hulle goed vas
sodat jy hulle nooit verloor nie.

Maar waarop wys die woorde liefde en trou? Wat is liefde? Is
dit ’n gevoel van geneentheid? Wil die Here hê dat ons
geneentheid vir mekaar hê? Dit word sekerlik ingesluit. Maar die
woord liefde beteken baie meer as dit. As God net van gevoelens
van geneentheid sou praat, dan sou die situasie nie baie
rooskleurig wees nie. Baie verhoudings, ook binne die kerk, onder
die gemeenskap van die heiliges, het met gevoelens van
geneentheid begin. Die lidmate waarmee jy saam optrek, het
’n besondere plek in jou hart gekry. Dink aan wat soms
genoem word jou wittebroodsdae in die gemeente, die tyd van jou
eerste liefde. Na ’n rukkie kan dit egter gebeur dat daardie
gevoelens taan of verdwyn. So sien jy dat baie verhoudings wat so
mooi begin het, bedreig word of vasloop. Jy het jou met vreugde
by die kerk aangesluit of jou geloof met entoesiasme in die kerk
bely. Maar na ’n rukkie kan spanning of teleurstellings
daardie gevoelens verstik. Die mense is tog nie so hartelik en
liefdevol as jy verwag het nie. Gestel dat jy op daardie
gevoelens van geneentheid gebou het. As daardie gevoelens verdwyn,
dan is daar dan niks oor nie. Watter sin het dit dan nog om die
verhouding aan te hou? Wanneer ek myself deur my gevoelens laat
lei – goeie of slegte gevoelens – dan sal ek
uiteindelik teleurgestel word.

Gemeente, met die woord liefde bedoel die Here God baie meer
as wisselende gevoelens. Die basiese gedagte van die woord is:
dat jy vurig die welsyn van ander begeer. Jy soek hulle geluk.
Dit wys dat die liefde boweal ’n saak van die wil is en nie
van die gevoel nie. Jy kies bewus wat goed vir die ander party is.
Die belangrikste is nie hoe ek voel nie, maar hoe dit met die
ander party gaan, hul welsyn.

So ’n liefde kan bly ook wanneer die gevoelens van
geneentheid taan. Met so ’n keuse van die wil, met so
’n gesindheid kan jy jou vir die ander bly inset, ook al sou
die situasie verander. Gewillig en met vreugde gebruik jy jou
gawes vir die welsyn van die ander. Met so ’n liefde kan jy
blywende verhoudings bou. Jy bou nie net op gevoelens nie, maar
jy bly die vlam van jou gevoelens aanvuur deur die vasberadenheid
van jou wil.

’n Ander saak wat opval in die woord liefde van die teks
is dat dit ’n egte verbondswoord is. Dit verwys na die
manier waarop die partye van ’n verbond hulle teenoor mekaar
behoort te gedra. Liefde is hier ’n verbondseis. Jy skuld
dit teenoor mekaar vanweë die verbondsverhouding. Jy sou die
woord dan ook met lojaliteit kan vertaal. Wees lojaal teenoor die
verhouding waarin God jou geplaas het, teenoor die verhouding wat
jy nou bewus en publiek aanvaar.

Dit verbaas daarom nie dat die woord liefde dikwels met die
woord trou gekombineer word. Laat liefde en trou jou nie verlaat
nie. In die verbond moet ek trou wees. My beloftes nakom. In die
verbond moet ons op mekaar kan staatmaak. Daarom: laat liefde en
trou jou nie verlaat nie. Bly lojaal teenoor die
verbondsverhouding waarin jy lewe. Doen wat van jou verwag mag
word. Kragtens God se keuse, en ook jou keuse in antwoord daarop.
Stel mense nie teleur nie. Ons moet op mekaar kan reken.

Netnou hoop Anneke haar ja woord te gee. Wanneer jy jou geloof
publiek bely, aanvaar jy die verbondsverhouding met God en sy
volk. Jy sê ja tot God en ja tot sy gemeente. Jy belowe om in
die leer van die Woord van God tot die einde van jou lewe
standvastig te verhard, om die verbondsgemeenskap met God te
onderhou, Hom van harte lief te hê en in gehoorsaamheid aan sy
Woord te dien en van die wêreld en sy begeerlikheid af te sien.
Jy belowe om as ’n lewende lidmaat van die kerk die
bediening van Woord en sakramente ywerig te soek, jou gawes
gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede
aan te wend en dat jy jou aan die Christelike vermaning en tug
sal onderwerp.

Daardie aflegging van belydenis van geloof is nie net vir die
sier nie. Nee, jy bevestig feitelik die verbond met God en sy
volk. Jy neem dit op jou om die verbondseise na te kom. Wel, in
hierdie konteks is die woorde van die teks baie toepaslik: laat
liefde en trou jou nie verlaat nie. Doen wat jy belowe te sal
doen. Doen wat van jou verwag mag word op grond van die
verbondsverhouding. Wys ’n onselfsugtige begeerte na die
welsyn van jou medelidmate. Wees lojaal teenoor mekaar.

Broers en susters, tydens hierdie lewe is daar meer
verhoudings waarin ’n mens staan. bv familieverhoudings,
verhoudings met vriende, medestudente, verhoudings by die werk.
Vir al daardie verhoudings geld: laat liefde en trou jou nie
verlaat nie. Laat mense op jou kan staatmaak. Wees liefdevol en
betroubaar. Wys jouself in ons sieke en onbetroubare samelewing
as ’n ware Christen waarin liefde en trou uitstaan.

Die belangrikste verhouding is natuurlik die verhouding met
God. Dit bepaal alle ander verhoudings. Het die Here bo alles
lief. Wees bo alles getrou teenoor Hom. Laat jou liefde en trou
teenoor Hom al jou ander keuses en dade bepaal, bestempel.

Maar hoe kan jy so ’n liefde en trou wys? Hoe kan jy God
se eer bly soek en hoe kan jy getrou jou verbondverpligtings
teenoor Hom nakom?

Jy kan dit net doen wanneer jy jouself aan God se liefde en
trou toevertrou. Dit kom eerste in jou lewe. Dink vir ’n
oomblik na oor sy liefde en trou aan jou sedert jou geboorte. By
jou doop het Hy, so te sê, sy liefde vir jou verklaar. Hy het
met sy beloftes na jou toegekom. Hy het jou stap vir stap in sy
weë gelei. Hy het voortdurend sy liefde en trou gewys. Hy het
steeds na jou terug bly kom ondanks jou sondes. Hy het jou steeds
weer na homself getrek. Daarom sê ons in die inleiding op die
formulier vir die aflegging van belydenis van geloof: “gelei
deur die Gees van God en sy Woord het hierdie suster die kerkraad
gevra om haar geloof hier openlik te bely.” Gelei deur die
Gees van God en sy Woord. Sien hier God se liefde en trou. Jy kan
altyd daarop staatmaak. Jy kan altyd na Hom teruggaan. Sy liefde
en trou stel jou in staat om van jou kant liefde en trou te wys.
Daarom, bly jouself aan Hom toevertrou. Tap van sy liefde en trou.
Beantwoord sy liefde deur liefde te wys. Beantwoord sy trou deur
in alle verhoudings getrou te wees.

Geliefdes, dat die teks ook verwys na liefde en trou teenoor
God is duidelik uit die konteks. Vers 4 praat van genade in die
oë van God en die mense. Die verse 5vv werk die woorde van ons
teks uit. Om liefde en trou te behou beteken onder ander: Vertrou
die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken
Hom in al jou weë (verse 5,6). Waar jy ook al mag wees, wat jy
ook al doen, watter planne jy ook al maak, ken die Here, gaan met
God. Vrees die Here en wyk af van die kwaad. Neem God ernstig op
in alles. Dink nie klein van sy grootheid en goedheid nie. Maar
ook, dink nie klein van sy regverdigheid en toorn nie. Leef bewus
met die Here in die verbond. Laat liefde en trou jou nooit
verlaat nie.

Die woorde van die teks word algemeen geformuleer. Hulle
verwys na die band met God en met mense, ja in die volgorde. Ons
word daarom nie opgeroep tot ’n vae humanistiese tipe van
vriendelikheid nie. Ons word geroep om God se sentraal gebod te
gehoorsaam: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en
met jou hele siel en met jou hele verstand. En jy moet jou naaste
liefhê soos jouself.

Gehoorsaamheid aan hierdie gebod pas ons nie so goed nie. Die
gevaar is daar dat liefde en trou ons wel verlaat. Ons vergeet en
ignoreer hulle maklik. Ons gaan so maklik ons eie pad, sonder om
rekening te hou met die verbonde waarvan ons deel is. Ek bepaal
liewer self wat ek wil. Solank as ek my deel kry. Ek kan tog nie
myself vir die welsyn van ander bly inspan nie?

Liefde en trou wat op ander fokus word deur selfsug en
individualisme ondermyn. Ook binne die verbondsverhouding met God
en met sy volk. Jy kry dan dat lidmate van die kerk elkeen doen
wat goed is in hul eie oë, hul eie ding doen. Asof die kerk geen
verbondsgemeenskap is nie. Onthou, jy het ’n verbond
aangegaan, nie net met God nie, maar ook met God se volk. Jy sê
ja teenoor die Here en teenoor sy volk. Dit is waaroor dit gaan
as jy die belydenis van jou geloof aflê. Jy aanvaar dan die
afsprake van die verbond – beloftes en eise. Jy verplig
jouself tot liefde en trou.

Geliefdes, omdat liefde en trou maklik vergeet kan word,
vervolg die teks: bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel
van jou hart. Om liefde en trou vas te hou, moet jy iets doen.
Bind dit om jou hals. In die Midde Ooste het selfs manne daarvan
gehou om sierade te dra. Dis nie ongewoon vir manne om
halskettings te dra nie. So moet dan liefde en trou gewaardeer
word en as ’n sieraad gedra word. Bind dit om jou hals, soos
’n halssieraad. Neem dit saam met jou, waar jy ook al gaan,
wat jy ook al doen. Jy kan dit ook vergelyk met die seëlring wat
mense aan ’n ketting om hul hals gedra het. Die seëlring
was van groot waarde. Vir al die amptelike transaksies was die
seëlring nodig. Op ’n vergelykbare manier moet jy liefde en
trou as ’n skat bewaar. As jy hul waarde uit die oog verloor,
dan is jy verlore. Vergeet nooit om hulle saam te neem nie.

Baie mense dra vandag halskettings as ’n blywende
herinnering, ’n herinnering wat jy altyd by jou wil hê.
Dink ook aan die funksie van ringe wat mense dra, die
vriendskapsring, die verlowingsring of trouring. Jy gee mekaar so
’n ring. Waarom? Om te dien as ’n blywende herinnering
aan die band wat jy met mekaar het. Waar jy ook gaan, jy dra
hierdie simbool van liefde en trou van jou maat saam. Daardeur
word jy herinner aan mekaar ook wanneer jou maat ver weg is. Met
die trouring op jou vinger gaan jy deur die lewe as ’n
getroude man of vrou, as ’n persoon wat in ’n
verbondsverhouding lewe, met regte en pligte. Wel, op ’n
vergelykbare manier word ons aangespoor om liefde en trou saam
met ons te dra.

Spreuke benadruk dit nog verder wanneer vervolg word: skryf
dit op die tafel van jou hart. Bind dit nie net as ’n
sieraad en herinnering om jou hals nie. Laat dit op jou hart
gegraveer wees. Met ander woorde: laat dit nie net ’n
uiterlike saak wees nie, maar ’n saak van jou hart en lewe.
Laat die Heilige Gees die wet van liefde op die tafel van jou
hart skrywe. Sodat jou hart en lewe daardeur beheers word.

In Spr 4:23 lees ons: “Bewaak die hart meer as alles wat
bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”
As jy goeie dinge in jou hart bewaar, sal jou woorde en dade goed
wees. “Want uit die oorvloed van die hart, praat die mond.”
(Mt 12:34). As liefde en trou in jou hart gegraveer is, dan sal
jou woorde en dade daardeur bepaal word. Dan sal jou hele houding
en lewe deur liefde en trou gekenmerk word.

Maar, broers en susters, beperk dit jou nie baie nie? Wanneer
jy altyd en orals trou aan God en jou naaste moet wees, verhinder
jy daardeur nie jou eie ontwikkeling nie? Om altyd op God en
ander mense te fokus, om hul welsyn te dien, laat dit wel ruimte
vir jouself oor. Ja, sê spreuke. As jy lojaal aan jou
verpligtings teenoor God en jou naaste is, dan sal jy guns
verwerf en byval vind by God en mens. Jy sal self ook daarby baat
vind. Dis die geheim van die liefde. Deur om te gee, ontvang jy.

Wil jy waardering ontvang in die lewe? Wil jy deur God geëer
word? Wel, fokus op God. Wees lojaal teenoor jou
verbondsverhouding met Hom. Vertrou op die Here met jou hele hart.
Ken Hom in al jou weë. En jy sal daarby baat vind. Ja, juis op
daardie manier sal jy jou persoonlike ontwikkeling dien. Dis die
manier waarop jy weer ware mens word, soos God dit bedoel het.

Hier ontdek jy die wonderlik misterie: eers is daar God se
liefde en trou. Dit roep jou liefde en trou op. En dan as gevolg
van jou liefde en trou geniet jy van God se guns en byval. Wie
wil nie die guns en byval van die Here ervaar nie? Dis die
grootste ding wat ’n mens kan ontvang. Aardse voorspoed of
rykdom is tydelik, gaan verby, maar so ’n hemelse skat bly.
Waardering van mense is ook tydelik. Mense kom en gaan. Maar
waardering by God is ewig. Daarom is daar niks ryker as dit nie.

Nee, dit beteken nie dat die guns van mense waardeloos is nie.
Wanneer mense jou waardeer, dan doen dit jou goed. Dit gee jou
groot bemoediging. Jy wil tog deur jou medemense, medegelowiges
gewaardeer word? Hoe kan jy dit bereik? Nie deur jou eie regte te
benadruk nie, nie deur dit te eis nie. Net deur te gee, deur
onselfsugtig te gee. Juis deur jouself vir die welsyn van ander
in te span, ontvang jy baie terug. Deur jouself te verloën en op
ander te fokus, sal jy jou potensiaal bereik. Jou liefde en trou
word in die reël met liefde en trou beantwoord. Jy ontvang
liefde omdat jy self liefhet.

Wel, broers en susters, luister goed na God se wyse raad: Laat
liefde en trou jou nie verlaat nie. Wees lojaal teenoor elke
verbondsverhouding waarin jy staan. Maak jou beloftes waar.
Bewaar die liefde en trou as skat. Neem dit saam met jou. Graveer
dit op jou hart. Laat dit werklik deel van jou lewe wees. Dan sal
jy guns verwerf en byval vind by God en mens.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)