Christus vaar op na die hemel terwyl Hy sy volgelinge seën

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-05-21
Text: 
Lukas 24
Preek Inhoud: 

Lukas 24:50,51

Ds C Kleijn - Sondag 21 Mei 2006

Lees: Hebreërs 7:11-8:2; Lukas 24:44-53.
Sing: Ps 47:1,2; Ps 47:3,4; SB 11; Ps 121; Ps
134:1-3.

Tema: Christus vaar op na die hemel terwyl Hy sy
volgelinge seën.

  1. Sy seën is die vervulling van die OT-iese priesterlike
    seën
  2. Sy seën bly beskikbaar vir die NT-iese kerk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hemelvaartsdag, is dit regtig ’n dag om te vier? Hoe gaan
dit in die lewe? Daar is iemand wat baie vir jou beteken. Skielik
verdwyn hy uit jou lewe uit. Jy sal die dag nooit vergeet nie.
Dis pynlik om afskeid te moet neem, dit maak ’n mens
verdrietig. Wie ken dit nie uit ervaring nie? Hoe sal dit dan vir
die dissipels gewees het op die dag van Christus se hemelvaart?
Drie jare lank het hulle met mekaar opgetrek. ’n Wolk kom
tussen hulle in en Hy is weg. Nie net vir ’n kort rukkie nie,
maar vir ’n lange periode, die hele NT-iese periode.

Hoe reageer die dissipels? Ons lees nie van trane nie.
Inteendeel, ons lees dat hulle na Jerusalem teruggaan met groot
blydskap en dat hulle gedurig in die tempel is en God prys en
dank. Na die afskeid is hulle wat agterbly, bly en dankbaar. Hoe
kan dit?

’n Mens kan so ’n blydskap met Christus se koms op
aarde verwag. Christus se geboorte spreek mense oor die algemeen
meer aan as sy hemelvaart en word meer entoesias gevier. Het die
engel by Jesus se geboorte nie gepraat van ’n goeie tyding
van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees nie? Ons kan
hierdie blydskap rondom Christus se koms verstaan. Maar groot
blydskap rondom sy vertrek, dit verwag jy nie. Waarom veroorsaak
hierdie afskeid geen groot verdriet nie? Waarom is die dissipels
bly na Christus se hemelvaart? Waarom is hemelvaartsdag ’n
dag om gevier te word, selfs meer as die dag van Jesus se
geboorte?

Geliefdes, dit het alles te make met die manier waarop ons
Here Jesus na die hemel opgevaar het. Christus het van hulle
geskei terwyl Hy hulle seën, lees ons. Die teks lui mos:
“En Hy het hulle uitgelei tot by Betanie. En Hy het sy hande
opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van
hulle geskei en is in die hemel opgeneem.”

Ek wil die woord van die teks vir julle verkondig onder die
tema: Christus vaar op na die hemel terwyl Hy sy volgelinge seën.

  1. sy seën is die vervulling van die OT-iese priesterlike
    seën
  2. sy seën bly beskikbaar vir die NT-iese kerk

Die teks vertel ons dat Jesus sy hande opgehef het. Daardie
uitdrukking is min of meer ’n vaste uitdrukking vir ’n
priesterlike gebaar. Daardie priesterlike gebaar word gevolg deur
die priesterlike handeling: hy seën hulle.

Hier sien ons Christus dus in aksie as priester. Hy hef sy
hande op en seën sy dissipels. Dis iets wat net priesters mog
doen. Tydens Israel se reis deur die woestyn het die Here bepaal
dat die priesters, die seuns van Aäron die volk sou seën. Hulle
het die bevoegdheid ontvang om die volk in die Naam van die Here
te seën. Na die bekende priesterlike seën van Numeri 6 lees ons:
“So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê, en
Ek sal hulle seën.”

In die seën gee die Here, so te sê, Homself aan sy volk. Hy
laat sy heerlike naam op sy volk lê. Dit beteken: die Here wil
self met sy volk saamgaan as hul God en Verlosser. So kan jy as
kind van God sterk staan in hierdie wêreld. Strome van krag
vloei na jou toe. God almagtig gee Homself mos aan jou en gaan
met jou saam.

Deur so ’n seën, word God se kinders ook self ’n
bron van krag. Jy word toegerus vir jou groot taak in diens van
die Here.

Broers en susters, dit spreek nog sterker as jy besef op
watter tydstip die priester gewoonlik die volk geseën het.
Wanneer het die priester die seën gegee? Aan die einde van die
tempel liturgie. Die priester het die seën gegee net nadat Hy
die reukoffer gebring het en die bloed gesprinkel het. Die bloed
van versoening het dus reeds gevloei. Vrede tussen die Here en sy
volk was reeds tot stand gebring. Net daarna het die priester uit
die heiligdom uitgegaan. Nie met leë hande nie, maar met
seënende hande. As laaste woord mog hy God se genade en vrede
verkondig. In die seën het alles van die erediens saamgekom.
Daarom kan jy die seën die bediening van die versoening in die
mees gekonsentreerde vorm noem. In die seën word die versoening
op ’n kort en kragtige manier uitgedeel. Die hele tempel
liturgie lei daarnatoe en ontvang daarin sy klimaks. God neem
afskeid van sy volk deur nog eenmaal sy belofte vir hulle te gee,
kort en kragtig. Jy mag as volk van God huis toe gaan,versterk.
God se genade en krag gaan met jou saam.

Wel, gemeente, tydens Jesus se bediening op aarde het die
priesterlike seën sy plek in die tempel liturgie gehad. Ons lees
daarvan aan die begin van Lukas se evangelie. Daar ontmoet ons
Sagaria in die tempel. Terwyl hy met die reukoffer besig is,
verskyn ’n engel van die Here aan hom en kondig die geboorte
van sy seun Joh aan. Ondertussen wag die volk buite om nog die
seën te ontvang. Wanneer Joh eindelik buite kom, kan hy egter
nie praat nie.

Dis opvallend dat Lukas sy evangelie begin en eindig met
’n verwysing na priesterlike handelinge. Sy evangelie is, so
te sê, omsluit deur die berigte van die twee priesters.

Let egter op die verskil tussen begin en einde. Daardie
onderskeid is baie belangrik. Net as jy die verskil tussen die
diens van Sagaria en die diens van Jesus Christus sien, kan jy
deur die teks getroos wees.

Sagaria is ’n priester uit die huis van Aäron, uit die
stam van Levi. Deur geboorte is hy bevoeg om die priesterlike
diens te vervul. Die priesterskap is immers aan ’n spesiale
geslag gebind. Sagaria is ’n priester volgens die OT-iese
orde van Aäron.

Aan die einde van Lukas se evangelie sien ons Jesus Christus
as priester optree. Hy is nie verbind aan die amptelike
priesterlike lyn nie. Hy is gebore uit die koninklike stam van
Juda. Tog gee Hy die seën. Hier het ons ’n koning wat
’n priesterlike diens vervul. Netnou sal Hy ook as koning sy
hemelse troon bestyg.

Broers en susters, julle weet wat in die OT met konings, wat
priesterlike take wou vervul, gebeur het. Koning Saul is daardeur
afgewys. En koning Ussiah is deur melaatsheid getref. Maar nou
Koning Jesus as priester optree, gebeur niks nie. Hy word nie
deur God afgewys nie. Inteendeel. God verwelkom Hom in die hemel.

Jesus Christus is priester volgens die orde van Melgisedek. Sy
priesterskap is nie verbind aan die afkoms uit Aäron nie. Hy is
priester uit die krag van die onvernietigbare lewe, sê Hebr 7
vir ons. Met ’n eed het God bepaal dat Hy hoëpriester sou
wees. Ons lees in Ps 110: “Die Here het gesweer, en dit sal
Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van
Melgisedek.” Sy priesterskap beteken dat die beperking tot
’n spesiale geslag opgehef is. Ja, sy priesterskap beteken
die vervulling van die OT-iese Aäronietiese priesterskap. Die OT-iese
priesterlike seën lei na Christus se priesterlike seën en vind
daarin sy vervulling, sy klimaks.

Dis ook duidelik wanneer jy let op die plek en tyd waarin
Christus sy seën gee. Sagaria, uit die die huis van Aäron, het
sy priesterlike diens op heilige grond vervul, in die tempel. Die
seën was aan ’n sekere plek gebind. Dit mog net daar gegee
word. Maar waar gee Jesus Christus die seën? Hy verrig sy
priesterlike taak buite die tempel, op die Olyfberg. Die binding
aan die tempel is verby. Daar is geen onderskeid meer tussen
heilige tempel grond en ongewyde grond nie. Christus wil sy seën
op elke plek gee. Daar is geen spesiale plek meer nie. Het
Christus nie vir die Samaritaanse vrou gesê: daar kom ’n
uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die
Vader sal aanbid nie. Die tyd het nou aangebreek dat mense God
orals kan dien en dat hulle orals sy seën kan ontvang.

Christus se seën is ook nie aan ’n spesifieke tyd gebind
nie. Hy seën sy dissipels op sy tyd en uur, buite die vaste tye
in die tempel. En die uur wat Hy daarvoor kies is van groot
betekenis. As jy daarop let dan word dit duidelik hoe sy seën
’n vervulling van die OT-iese priesterlike seën kan wees.
Tussen die begin van Lukas se evangelie met Sagaria die priester
volgens die orde van Aäron en die einde van Lukas se evangelie
met die priester volgens die orde van Melgisedek, het jy die
woord en veral die werk van Jesus Christus. Al Christus se werk
lei na die seën toe, vind daarin sy bekroning. Daar het jy
’n samevatting en konsentrasie van Christus se
versoeningswerk.

Onthou julle wanneer die priesters vir die volk die seën
gegee het? Hulle het dit gedoen nadat die bloed gevloei het en
nadat die vrede tussen God en sy volk herstel was. Die tempel
liturgie het daarmee geëindig en daarin sy klimaks ontvang. Die
versoening is bondig saamgevat en die volk op die hart gedruk.
Mense kan met nuwe moed en kragte huis toe gaan.

Wel, Jesus Christus gee sy seën nadat sy eie bloed gevloei
het, nadat versoening tot stand gebring is. Nou dat sy
versoeningswerk gedoen is, mag Hy die plek van die priesters
inneem – hul taak is verby – en mag Hy sy hande ophef
en sy volgelinge seën. Die dissipels ontvang die bediening van
die versoening in gekonsentreerde vorm. Alles wat Christus vir
hulle gedoen het, word in hierdie een handeling saamgevat en word
nadruklik op hul hart gedruk.

Geliefdes, dis hoe Christus afskeid van sy dissipels neem.
Hulle kan teruggaan na Jerusalem toe, bemoedig, versterk.
Christus se genade en krag gaan saam met hulle.

Nou die tweede gedagte: Christus se seën bly beskikbaar vir
de NT-iese kerk.

Wie ontvang die seën van die Here? Nie hulle wat buite die
tempel vergader is nie. Nee, Christus rig Hom tot sy dissipels,
die verteenwoordigers van die NT-iese Christelike kerk. Christus
rig Hom nie tot die OT-iese volk van Israel nie, maar tot die NT-iese
volk van God, die NT-iese kerk, wat rondom die dissipels uit Jode
en heidene vergader gaan word. So rig Christus hom ook tot julle
broers en susters. En dit op ’n kragtige manier.

Om dit te verstaan moet julle daarop let dat Jesus van hulle
geskei het, terwyl Hy hulle seën. Die OT-iese priesters het
altyd hul hande laat sak sodra hulle die seën uitgespreek het.
Julle sien dieselfde wanneer jul voorganger die seën oplê.
Wanneer hy klaar is, sien jy dat hy sy opgehewe hande weer laat
sak. So het dit in die tempel gegaan. Die mense het gesien hoe
die priester sy hande laat sak het, nadat hy die seën opgelê
het. Hy was daarmee klaar. Hy kon homself in die tempel terugtrek
en die mense kon huis toe gaan.

Dis egter opvallend dat Jesus sy dissipels verlaat terwyl Hy
nog besig is om hulle te seën. Die dissipels sien nie dat Hy sy
hande laat sak nie. Hy is nie klaar daarmee nie. Nee, terwyl Hy
hulle seën verlaat Hy hulle. Solank as die dissipels Hom sien,
sien hulle sy opgehewe hande. Hy bly hulle, so te sê, seën. Op
hierdie manier wys Christus dat sy seën blywend is. Dit bly
beskikbaar. As NT-iese kerk mag julle voortdurend onder die
priesterlike seën van Christus lewe.

Geliefdes, deur sy laaste gebaar en laaste woorde op aarde wys
die Here Jesus hoe sy verhouding met sy kerk is. Hy laat ons sy
kerk nie sommer agter nie. Nee, met sy seën, met sy genade en
Gees, bly Hy by ons. Christus bevestig dit met Pinkster, wanneer
Hy sy Gees oor sy kerk uitstort. Hy bly jou seën met alle
geestelike seëninge. Hierdie priester volgens die orde van
Melgisedek het sy offerdiens vir goed vervul. Nou mag Hy bly
seën. Hy gaan in die hemelse heiligdom in, om van daaruit sy
seëninge te bly uitdeel. Dis hoe jou lewe ’n hemelse
luister ontvang. Jy ontvang voortdurend nuwe krag en vreugde.

Broers en susters julle weet hoe dit na die skepping gegaan
het. God het die mens na sy beeld geskep en hulle geseën. Dit
was ’n heerlike begin. Die mens het onder God se seën
geleef. God het strome van krag na die mens laat toevloei, sodat
hy sy taak as God se medewerker hier op aarde met vreugde kan
vervul.

Deur die sondeval het daar egter pleks van die seën, die
vloek gekom. Dis waar, God het onmiddellik weer met sy seën
gekom. Danksy die beloofde saad van die vrou sou daar op aarde
weer behalwe die vloek, ook die seën wees. Die hele geskiedenis
het ’n geskiedenis van seën of vloek geword.

God het die syne van die vloek bevry en hulle weer onder sy
seën geplaas. So het God Abram gekies en hom geseën. God het
vir homself ’n volk gekies wat Hy wou seën. Hy het genade
en vrede belowe. En Hy het dit ook gegee vir elkeen wat in Hom
glo.

Dit was so te sê egter net ’n voorskot op die seën wat
sou kom, ’n voorafskaduwing, ’n profesie. Die wettige
grondslag vir die seën moes nog gelê word. Dit verklaar die
vermoeiende en repeterende OT-iese offerdiens.

Maar nou sien ons in ons teks dat die grond vir die seën daar
is. Die seën blyk nou immers ’n permanente saak te wees.
Deur sy dood en bloedstorting het Christus die nuwe en ewige
verbond bevestig en daarmee ook die seën van die verbond. Die
heerlike begin in paradys is in beginsel herstel. Die nuwe
skepping, God se volk, mag weer onder sy permanente seën leef.
Daar is geen rede om daaraan te twyfel nie. Jesus Christus die
Seun van God het na die hemel gevaar terwyl Hy seën.

Die dissipels het daarom na Jerusalem teruggekeer met groot
blydskap om God daar gedurig te prys en dank. Handelinge 1 vertel
ons dat hulle daarvoor eers die hulp van ’n engel nodig
gehad het. Maar wanneer hulle eenmaal verstaan wat gebeur het en
glo, leef hulle op en wys hulle groot blydskap.

Behoort jy, broer, suster, ook nie vol blydskap te wees
wanneer jy daardie seënende hande van Jesus sien nie? Vanuit die
hemel bly Christus sy seën oor ons sy kinders uitgiet. Ons wat,
met die oog op ons heerlike toekoms, gevul moet word, sodat God
weer werklik alles in almal sal wees.

Christus se seën is nie beperk tot ’n sekere plek, tot
die tempel of tot hierdie gebou nie. Sy seënende hande strek
hulle uit oor die hele aarde. Sy seën bereik jou by jou werk,
waar die vloek soms so duidelik herkenbaar is. Hy gee krag om
opnuut sy medewerker te wees. Sodat jou lewe kan bloei in diens
van Hom en die naaste. Sy seën gaan ook oor jou uit wanneer jy
by die huis is. Hy wil jou gelukkig maak deur vir jou sy genade
en Gees te skenk sodat jy jou goddelike roeping kan vervul. Sy
seënende hande is ook daar by die skool of universiteit of
kollege. Hy wil jou krag en wysheid gee om Hom en die naaste met
jou gawes te dien, ook al sou jy moontlik nie bereik wat jy graag
sou wil bereik nie. In hierdie lewe gaan dit immers nie in die
eerste plek oor wat ek wil bereik nie, maar oor wat God deur my
wil bereik: die verheerliking van sy naam in ’n wêreld
waarin die vloek nog so duidelik sigbaar is.

So sien jy, broer, suster, Christus se seën jou lewe bestraal,
waar jy ook al mag wees, en hoe jou omstandighede ook al mag wees.
Sy hande bly so te sê opgehef. Hy is daarmee nie klaar nie, tot
alles volgemaak is, volmaak is.

Sou ons in die lig van hierdie evangelie nie elkeen weer aan
die werk spring en ons gawes met vreugde gebruik nie? Die taak
van die begin gaan weer vir ons skitter. Die seën van die Here
wat vrugbaar maak, verlig ons. Dit gee hemelse luister aan al die
klein en groot take in ons lewe. God ontvang weer die eer van ons
harte, monde en hande. Hy gee wat daarvoor nodig is. Hoe geweldig
is dan daardie lewe onder Christus se herskeppende krag.

Aan die ander kant, hoe verskriklik is die vloek in die lewe
van hulle wat die seën afwys. Dit word ’n mees vreeslike
saak wanneer die bediening van die versoening in gekonsentreerde
vorm geweier word. Wanneer die kragte van bo verag word en jy
kies om voort te gaan in eie kragte, wanneer jy feitelik die
vloek, wat onvrugbaar maak, kies bo die seën wat vrugbaar maak.

Geliefdes, julle is daarom baie bevoorreg, maar ook onder
groot verpligting wanneer julle aan die einde van hierdie
erediens die seën in die naam van die Here ontvang. Die Here wil
jou sterk maak, jou vir jou dienswerk toerus en jou aanspoor op
pad na die groot dag van Christus se wederkoms. Die dag van die
voltooiing van alle dinge. Wanneer God opnuut alles in almal sal
wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)