Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 18,19
Ds C Kleijn - Sondag 11 Junie 2006
Lees: Johannes 1:1-14; Filippense 2:1-11;
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 18,19.
Sing: Ps 72:1,2; Ps 2:4,6; SB 27; Ps 72:10,11.
Tema: Jesus Christus is waarlik God en mens in een
Persoon.
- Die kind wat in Betlehem gebore is, was God
- Die kind wat in Betlehem gebore is, was God wat mens
geword het
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Na die sondeval het God onmiddellik met sy verlossingsplan
gekom. Hy het ons wat onsself in die ellende en dood gestort het,
kom opsoek en ons sy Seun belowe om ons te red. In die artikels
van vanaand sien ons die vervulling van daardie belofte. God
stuur sy Seun na die wêreld en laat Hom mens word. n
Tweede Adam. n Nuwe verteenwoordiger van die nuwe mensdom.
Daar is verskeie dinge in die lewe en werk van Jesus Christus
wat mense moeilik vind om te glo. Dink aan sy maagdelike geboorte.
Is dit biologies nie onmoontlik nie? Wat van al sy tekens en
wonders? Kan jy glo dat Jesus sommer oor die meer kon loop sonder
om te sink, dat Hy sommer 5000 mense in een keer kon voed met net
vyf brode en twee visse, dat Hy dooies opwek? Dink ook aan sy
opstanding. Hoe kan n mens glo dat Hy op die derde dag
fisies uit die dood opgestaan het en fisies aan die mense verskyn
het? Die moderne mens ervaar hierdie dinge as struikelblokke
waardeur hulle die getuienis van die Bybel oor Jesus nie sommer
as waarheid kan aanvaar nie. Dit lyk so ongeloofwaardig.
Maar, gemeente, die grootste wonder van die evangelie is nie
Jesus se maagdelike geboorte, sy tekens en sy opstanding nie. Die
grootste misterie van Jesus is feitelik sy menswording. Kan enige
mens dit voorstel dat Jesus van Nasaret God was, wat mens geword
het? Dat Hy wat God was ook volkome mens geword het en so in een
persoon ware God en ware mens is en bly? Wie kan dit glo? Dit is
feitelik die groot struikelblok in die Christelike geloof,
waardeur al die ander probleme ontstaan. As jy egter eenmaal
hierdie misterie van Jesus Christus in geloof aanvaar, dan
verdwyn al die ander struikelblokke soos sneeu voor die son. As
die Here Jesus dieselfde Persoon is as die ewige Woord van God,
deur wie die Vader alle dinge gemaak het, dan hoef dit ons tog
nie te verbaas dat sy koms en werk op aarde met nuwe
skeppingsdade gepaard gaan nie? Is dit vreemd dat Hy, die Skepper
van die lewe, self uit die dood opstaan? As Hy waarlik God die
Seun is, dan is dit baie meer verrassend dat hy sou sterwe as dat
Hy uit die dood sou opstaan.
Vanaand wil ek dan hierdie grootste wonder van Jesus Christus
vir julle verkondig onder die tema: Jesus Christus is waarlik God
en mens in een Persoon.
- Die kind wat in Betlehem gebore is, was God
- Die kind wat in Betlehem gebore is, was God wat mens
geword het.
Kan jy jou dit voorstel dat die kind wat in Betlehem gebore is,
God was? In die krip in die stal in Betlehem sien jy net n
hulpelose baba. n Baba wat net lê en slaap, vreemde
geluidjies maak, wat op tyd gevoed en verskoon moet word en wat
soos alle ander kinders nog moet leer om te praat. Is hierdie
kind God? n Mens kan dit nie indink nie. Tog is dit hoe die
Skrif daaroor praat. Daardie persoon word die Seun van God genoem.
Of die eniggebore Seun van God. Daarom bely ons saam met die
Christelike kerk: ek glo in God die Vader en in Jesus Christus sy
eniggebore Seun, ons Here.
Gemeente, in die geskiedenis het die uitdrukking Seun
van God allerlei vrae opgewerp. Beteken die erkenning van
Jesus as die Seun van God dat daar dan eintlik twee gode is, soos
die Jode en Moslems beweer? Of beteken dit dat Jesus, hoewel hy
n volkome unieke skepsel is, tog maar net n skepsel
is en dus nie werklik God is soos die Vader God is nie? Verskeie
ketters het dit geleer. Die Nuwe Testament laat geen twyfel
daaroor bestaan hoe hierdie vrae beantwoord moet word nie.
Johannes gee reeds n duidelike antwoord daarop in die
proloog van sy evangelie. Johannes skryf vir Joodse en Griekse
lesers. Die doel van sy skrywe is dat julle kan glo dat
Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo
die lewe kan hê in sy Naam. (Johannes 20:31). In die
evangelie stel hy die Seun van God aan ons voor.
Johannes weet dat die uitdrukking Seun van God by
sy lesers verkeerde gedagtes kan opwek. Die Jode het hierdie
titel gebruik vir die menslike messias wat hulle verwag het. Die
Griekse mitologie het ook gepraat van seuns van God, supermense
wat gebore is uit die gemeenskap tussen n god en n
vroumens. In albei die gevalle het die uitdrukking nie verwys na
n goddelike persoon nie. Johannes wil seker maak dat
wanneer hy oor Jesus as die Seun van God praat, dit nie
misverstaan word nie. Johannes maak daarom vanaf die begin
duidelik dat Jesus se seunskap van God n goddelike
persoonlikheid impliseer. Nêrens word die betekenis van Jesus se
goddelike seunskap duideliker uiteengesit as in Johannes se
proloog.
Johannes gebruik nie onmiddellik die titel Seun nie. Hy praat
eers van die Woord. Hierdie titel kan nie misverstaan word nie.
In die lig van die Ou Testament is hierdie verwysing onmiddellik
duidelik. God se woord is in die Ou Testament sy skeppende
aktiwiteit, sy mag in aksie om dinge wat God bedink het, tot
stand te bring. Die Ou Testament teken God se woord, die uiting
van sy gedagtes, as iets wat dinge tot stand bring. Ons lees
herhaaldelik in Genesis 1 En God het gesê: laat daar ...
wees! En daar was .... Ps 33 vat dit saam met die woorde:
Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak ... want
Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.
Die Woord van God is dus God in aksie, God se gedagtes wat in
dade omgesit word, wat werklikheid word.
Johannes werk die beeld verder uit en noem verskeie dinge van
hierdie goddelike Woord.
In die begin was die Woord (vers 1). Hier het jy die Woord se
ewigheid. Hy was daar voor die skepping. Toe ander dinge begin
het, was Hy. Self het hy geen begin gehad nie. Die Woord is
ongeskape. Hy het aan alles voorafgegaan.
En die Woord was by God. Hier het jy die Woord se
persoonlikheid. Die krag wat God se gedagtes tot uitdrukking
bring en tot stand bring, is die krag van n selfstandige
persoonlike wese. Hy het n eie, ewige bestaanswyse naas God.
Tegelyk is Hy ten nouste met God verbind. Hy staan in God se
onmiddellike nabyheid, sodat daar n persoonlike verhouding
en direkte kommunikasie is. Omdat die twee van nature by mekaar
behoort en met mekaar verbind is, bly hulle ook van ouds in
mekaar se teenwoordigheid.
Aan die een kant is die Woord van God onderskei. Hy is n
selfstandige persoonlikheid. Aan die ander kant is die Woord
gelyk aan God. En die Woord was God, lees ons verder. Hier het jy
die Woord se goddelikheid. Hoewel van God die Vader onderskei, is
Hy geen skepsel nie. Hy is God, soos die Vader God is. Naas die
bekende God, was daar die Woord wat ook God was. Hier staan ons
voor die misterie van die onderskeie persone binne die een
goddelike wese
Vers 2 herhaal: Hy was in die begin by God. Die Woord wat self
God was het van ouds by God verkeer. Selfs by die allereerste
begin was God nie alleen nie. Toe al het Hy in die geselskap van
die Woord verkeer. Vandaar dat die Woord by die skepping so
n aktiewe rol kon speel.
So vervolg Johannes: Alle dinge is deur Hom ontstaan (vers 3).
Hier het jy die skeppende Woord. Hy was die Persoon deur wie die
Vader alle dinge gemaak het. Niks wat jy in die skepping sien,
het sonder Hom tot stand gekom nie. Alle dinge is deur Hom
ontstaan. Het n mens nog meer bewyse nodig dat Hy die
skeppende woord nie tot die kategorie van die skepsels behoort
nie?
In Hom was lewe (vers 4). Hy is die goddelike lewensbron,
sodat alle lewe van Hom afkomstig is of deur Hom onderhou word.
Die skepping en die skepsels het nie lewe in hulleself nie, maar
leef deur die Woord, die tweede Persoon van die Godheid. Die
skeppende Woord daarenteen het die lewe in homself en is daarom
ongeskape.
En die lewe was die lig van die mense. Hier sien jy die
uitstraling van die Woord. Hy is die groot Ligbron. Met dat Hy
die lewe skenk, skenk Hy ook lig. Sonder Hom is daar geen
lewenslig of lewenskrag nie. Die feit dat ek hier op aarde nog
lewe is n bewys van die bestaan van die ewige Woord.
Die Woord het vlees geword (vers 14). Hier het jy die Woord
wat vlees geword het. Die kind in die krip in Betlehem was
niemand anders as die ewige Woord van God nie.
Gemeente, nadat Johannes ons gewys het wie en wat die Woord is,
n goddelike Persoon, skepper van alle dinge, identifiseer
Hy Hom. Die Woord sê hy het deur sy menswording as God se Seun
openbaar geword. Ons het sy heerlikheid aanskou, n
heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom.
(vers 14). Hierdie identifikasie word in vers 18 bevestig:
Die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is.
Johannes het nou duidelik gemaak wat bedoel word, wanneer
Jesus die Seun van God genoem word. Die Seun van God is die Woord
van God. Hy is n goddelike persoon, ewig en almagtig. Is
dit nie verbasend nie: die kind wat in Betlehem gebore is, was
God.
Maar dit is net die helfte van die verhaal. Hy was God wat
mens geword het. Dis die tweede gedagte.
Die woord het vlees geword: n ware menslike
baba, wat geslaap en gehuil het, wat gevoed moes word en verskoon
moes word, wat moes leer om te loop en te praat ens. Hy het
daarmee nie opgehou om God te wees nie. Hy was nie minder God as
daarvoor nie, maar Hy het begin om mens te wees. Hy was nie vanaf
daardie oomblik God minus enkele goddelike eienskappe nie, maar
God plus alle menslike eienskappe. Die ewige Woord het n
sterflike mens geword. Hy wat die mens geskep het, het nou ons
menslike natuur aangeneem en so geleer hoe dit voel om soos die
mens te wees. Hy wat die engele, inklusief die duiwel geskep het,
kon nou self deur Satan versoek word. Die brief aan die Hebreërs
vertroos ons daarmee deur te sê: Daarom moes Hy in alle
opsigte aan sy broeders gelyk word. ... Want deurdat Hy self
onder versoeking gely het, kan Hy die help wat versoek word. ...
Want ons het nie n hoëpriester wat nie met ons swakhede
medelyde kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net
soos ons, maar sonder sonde. Laat ons daarom dan met
vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons
barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd
gehelp te word. (Hebr 2:17v; 4:15vv).
Die misterie van die menswording is ondeurgrondelik. Niemand
kan dit verklaar nie. Ons kan dit net bely. Dalk is die
formulering van die Geloofsbelydenis van Atanasius tot nou toe
die beste: Ons Here Jesus Christus, die Seun van God, is
tegelyk God en mens. ... volkome God en volkome mens. ... En
alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een
Christus. Hy is een nie deur verandering van die Godheid in die
vlees nie, maar deur die aanneming van die mensheid in God.
Hoe moet ons hierdie menswording verstaan? Die Nuwe Testament
spoor ons nie aan om al die probleme hieromtrent te probeer
uitpluis nie, maar om God te aanbid vir die liefde wat Hy daarin
gewys het. Want dit was n groot daad van selfopoffering.
Soos ons lees in Filippense 2: Hy wat in die gestalte van
God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
maar het homself ontledig deur die gestalte van n dienskneg
aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind
as n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word
tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. En onthou,
dit was alles terwille van jou verlossing. Ons kan God die Vader
en God die Seun net in verwondering aanbid vir hul ongelooflike,
selfopofferende liefde vir ons sondaars. Wat n wonder van
genade.
Christus was dus in die gestalte van God. Hy was aan God gelyk.
Hy was God. Hy het voor sy menswording volkome heerlikheid by die
Vader besit. Hy kon Homself as God laat geld. Maar wat doen Hy?
Hy neem die gestalte van n slaaf aan. Hy het dit geen roof
geag om aan God gelyk te wees nie. Hy het sy goddelike
heerlikheid nie krampagtig vir Homself vasgehou en uitgebuit nie.
Maar Hy het Homself ontledig, leeg gemaak. Hy het Homself
volledig vir ons mense beskikbaar gestel. Hy het sy goddelike
verskyningsvorm vir jou en my ingeruil vir die van n slaaf.
Pleks van Homself as God te laat geld, het Hy gekies vir die
gestalte van n slaaf. As God kon Hy alle teenstanders
onmiddellik vernietig het. Maar wat doen Hy? Hy kies om Homself
te verneder, om Homself te laat slaan en te laat doodmaak asof hy
net n slaaf in die mag van mense was. So was Hy gehoorsaam
tot die dood van die kruis toe. Hy het hom onderwerp aan Vader se
plan van verlossing. Hoewel dit sy lewe sou kos, ja helse angs en
pyn aan die kruis. Sien daar sy ongelooflike liefde.
Gemeente, hierdie ontlediging en selfopoffering van Christus
beteken nie dat Hy sy Godheid en alle goddelike heerlikheid
afgelê het nie. God die Seun kan immers nie ophou om God te wees
nie. Op grond van die getuienis van Johannes die Doper en op
grond van Jesus se eie werke het die dissipels leer bely: U is
die Christus, die Seun van die lewende God. Mense kon nie daaraan
verby kyk nie: Hierdie man wat siekes genees en sondes vergewe,
wat duiwels uitwerp en dooies opwek, is werklik God in ons midde.
So kan n mens baie voorbeelde noem waaruit blyk dat
Christus Homself nie net as mens op aarde vertoon het nie, maar
ook as God. Hy blyk n bonatuurlike kennis te hê. Voordat
die Samaritaanse vrou iets van haarself vertel, ken Christus haar
duistere verlede (Johannes 4). Wanneer Petrus gaan visvang, weet
Christus dat die eerste vis wat Hy sal vang n silwer
muntstuk in sy bek sal hê (Mt 17:27). Voordat Hy enige berig
ontvang, weet Christus dat Lasarus dood is (Johannes 11).
Ons kry uit die evangelies nie die indruk dat Jesus beroof was
van alle goddelike kennis en mag nie. Hy het periodiek daarop
n beroep gedoen. Daarom kan Johannes ook sê: Ons het
sy heerlikheid aanskou, n heerlikheid soos van die
Eniggeborene wat van die Vader kom vol van genade en
waarheid. Christus het sy goddelike gestalte wel laat sien,
maar Hy het dit nie vir Homself opgeëis nie. Terwille van ons
heil het Hy die voorkeur aan die gestalte van n slaaf gegee.
Hy het gekom om die wil van die Vader te doen. Hy was aan Vader
gehoorsaam tot aan die dood van die kruis. Daarom het Hy homself
nie as God laat geld nie, ook al was Hy God. Hy het Homself
eerder as die lydende kneg van die Here aangebied, om as die Lam
van God die sonde van die wêreld weg te neem. So sien ons die
Seun van God wat Homself ontledig het. Wat sy mag en heerlikheid
prysgegee het. Wat vrywillig ontbering, misverstand, mishandeling,
vyandskap en uiteindelik die dood aanvaar het. n Dood wat
baie pynlik was, geestelik en liggaamlik. Dink aan sy bloed-sweet
in Getsemane en aan sy uitroep aan die kruis: my God, my
God waarom het U my verlaat?
Broers en susters, dit alles moet verklaar word in die lig van
2 Korintiërs 8:9: Want julle ken die genade van onse Here
Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle
arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.
Christus se menswording is nie net n wonder van die natuur
nie, maar veral n wonder van genade. So moet julle dit ook
bly sien. Wat n liefde vir liefdelose mense, sodat ons deur
sy armoede ryk sou word. Die boodskap van Christus se menswording
is dat daar hoop vir n verlore mensdom is. Hoop op
vergifnis van sonde en skuld, hoop op vrede met God, hoop op
heerlikheid. Omdat volgens Vader se wil Jesus Christus arm geword
het, in n stal gebore is om dertig jaar later aan n
kruis te hang. Dis die mees wonderlike boodskap wat die wêreld
ooit gehoor het of sal hoor. Sou ons God nie daarvoor aanbid nie?
Wat n liefde van die Vader wat sy eniggebore Seun vir ons
oorgegee het. Wat n liefde van God die Seun wat Homself
vrywillig vir ons verlossing opgeoffer het. Hierdie boodskap kan
n mens nie koud laat nie. Dat in die krip van Betlehem God
se Seun gelê het! Woorde kan die diepte van hierdie wonder nie
omskryf nie. Ons kan net in aanbidding God daarvoor loof en dank.
AMEN
Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.
(kyk in preek)