In sy liefde soek God die verlore mens weer op

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-05-28
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 17
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 17

Ds C Kleijn - Sondag 28
Mei 2006

Lees: Genesis 3:1-19; Nederlandse
Geloofsbelydenis, Artikel 17.
Sing: Ps 100:1,3; Ps 103:4,5; Ps 100:2,4 (na
doop); Ps 103:6,7; Ps 32:1,4; Ps 32:5,6.

Tema: In sy liefde soek God die verlore mens weer op

  1. terwyl hy vir Hom vlug
  2. om hom te red

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Netnou was ons getuies van die doop van Henri Meyer. Uit die
verlore mensemassa het God Henri gesoek en by name genoem. God
het Homself aan hom verbind en feitelik gesê: Ek wil met jou
omgaan in ’n verhouding van wedersydse liefde. Jy mag my
kind wees en Ek wil vir jou ’n Vader wees. Broers en susters,
besef ons nog wel wat dit beteken, hoe groot ’n wonder dit
is? N.a.v. ons belydenis wil ek hierdie wonder van genade vir
julle verkondig onder die tema:

In sy liefde soek God die verlore mens weer op

  1. terwyl hy vir Hom vlug
  2. om hom te red

Gemeente, in die begin skep God die mens goed en na sy beeld.
God verhef die mens bo alle ander skepsels. Net vir die mens sê
God: jy is my kind met wie Ek in liefde wil omgaan. Jy is nie net
’n skepsel waaroor Ek beskik en wat van my afhanklik is nie.
Nee, jy is my kind met wie Ek ’n besondere verhouding het,
met wie Ek in wederkerige liefde wil optrek.

God maak die mens ook tot sy onderkoning op aarde. Die mens
mag namens God heers oor alles wat God geskep het. In sy
verhouding tot God is die mens dus kind, terwyl hy in die
verhouding tot die medeskepsels koning is. Alles in die skepping
is daarop gerig. God het die aarde tot woonplek vir die mens
gereed gemaak. Hy het vir hom ’n hof gemaak, ’n
pragtige park, waarin alles wat die mens nodig het, voorhande is.
Die mens ontvang die opdrag om die hele aarde tot een groot
lushof vir die Here te maak. Daartoe sier God die mens met die
nodige gawes. Met verstand en kennis, met ’n reine wil en
’n suiwer hart en met allerlei skone gawes, wat die mens tot
mens maak.

Dit het die hoogheilige God dus behaag om op die mees intieme
manier met die geskape mens om te gaan in ’n verhouding van
wederkerige liefde. Sien hier die verbond wat reeds in die
paradys ’n werklikheid was. ’n Onbeskryflike
heerlikheid.

Maar dan kom daar die sondeval. ’n Ongelooflike dwaasheid.
’n Growwe misdaad waarvoor daar geen verontskuldiging
bestaan nie. Opstand teen God se liefde, wysheid, goedheid en reg.
Ontevredenheid en hoogmoed. Die mens is nie daarmee tevrede om
kind van God en koning oor die aarde te wees nie. Hoewel dit tog
die hoogste en ook die heerlikste is wat die mens kan bereik. Die
mens begeer om soos God te wees en wil self bepaal wat goed en
kwaad is. Hy wil sy eie Heer en Meester wees.

Gemeente, in die begin van Genesis 3 hoor ons hoe die mens van
sy kant die liefdeband tussen die Here en homself verbreek. Nou
is die groot vraag: wat gaan God in reaksie hierop doen? Die Here
het vantevore gesê dat die mens op die dag as hy van die verbode
vrug eet, sekerlik sal sterwe. Die mens het van die verbode vrug
geëet. Wat kan hy dan anders as die dood verwag? Die dood wat
alle bande deursny, waarmee God van sy kant alle gemeenskap
verbreek?

Wat doen nou die Here God? Laat God die mens aan sy lot oor?
Onttrek God Hom heeltemal aan die mens? Keur hy die mens wat Hom
die rug toegedraai het, geen blik of woord meer waardig? Laat Hy
die mens nou wegsink in die ewige duisternis van godverlatenheid?
Jaag Hy die mens van sy aangesig weg? Verwyder Hy onmiddellik die
mens van die aarde weg om die aarde vir homself te behou? Breek
die weerlig en donder van God se toorn teen die mens los? Dit sou
die mens mog verwag het.

Maar daar gebeur iets heeltemal anders. Die eerste wat die
mens na sy opstand en ongehoorsaamheid van God verneem is die
geluid van die Here terwyl Hy in die tuin in die aandwindjie
wandel. Geen donder van God se toorn nie. Geen harde en skerp
woorde van God tot veroordeling nie. Dis nie die eerste wat hulle
van God verneem nie. Die eerste wat hulle van God verneem is sy
geluid terwyl Hy teen die aand in die tuin wandel.

Gemeente, uit die manier waarop dit genoem word, blyk dit dat
dit nie ongewoon was nie. Die mens en sy vrou was daaraan gewoond
dat die Here so teen die aand in die tuin gewandel het en hulle
kom opsoek het. Dit was deel van die liefdesomgang tussen God en
die mens. Na die sondeval set die Here dit voort. Die Here laat
blyk dat Hy van sy kant die band nie verbreek nie. Hy soek sy
kind op soos Hy dit altyd gedoen het. Die breuk het van die mens
se kant gekom, nie van sy kant nie. Dit laat God duidelik sien en
voel.

En die mens voel dit ook so aan. Hy verberg hom saam met sy
vrou vir die Here tussen die bome van die tuin. Voorheen sou die
mens, sodra hy die geluid van die Here in die hof gehoor het,
onmiddellik na die Here toegegaan het, bly en dankbaar dat hul
hemelse Vader daar weer is. Soos ’n kind na sy pa, vir wie
hy lief is, hardloop wanneer hy tuiskom. Maar nou is dit
heeltemal anders. Die mens draai sy rug na God toe en vlug van
hom weg. Hy wil God nie sien nie. Weg wees, God kom daaraan. Hoe
verder van God weg, hoe beter. En God moet hom maar uitlos. Hy
wil niks met die Here te doen hê nie. God mag hom nie vind nie.
Laat God hom maar in die hemel terugtrek en die aarde aan die
mens oorlaat.

Gemeente, hoe verskriklik is hier die lot van die mens wat hom
vir die Here probeer verberg. Hy het geen band met sy hemelse
Vader meer nie. ’n Mens sou hulle jammer kan kry. Maar
onthou, dis die mens se eie skuld. Dis sy eie keuse en daad. Ons
belydenis benadruk dit ook wanneer dit die mens se lot beskryf as
iets wat hy homself aangedoen het. Ons bely mos: “Ons glo
dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens
weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die
liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig
gemaak en al bewende van Hom weggevlug het.” Die mens het
homself aan die liggaamlik en geestelike dood oorgelewer.
Vervreemd van God wat die Lewe self is. Hy het mos sy band met
die lewende God verbreek. En buite die lewende God is daar die
dood. Die mens is dood, nie in staat nie en onwillig om na God te
soek, om by hom hulp en redding te vra nie.

En hierdie liggaamlike en geestelike dood is nie net iets
waarin die mens hom bevind nie. Nee, die mens het homself daarin
gewerp en geheel en al ellendig gemaak. Dis ons eie skuld. Ons
het onsself in daardie ellende gestort. Ons het onsself
afstootlik vir God gemaak, bankrot, met niks wat ons God kan
aanbied nie. Daarom vlug die mens al bewende van God weg. Hy wil
God nie onder oë sien nie.

Hoe verdrietig moet dit vir God die Vader gewees het. Wat
’n belediging van sy goddelike liefde. Wat ’n verdriet
om so sy kind te verloor, om te sien dat sy kind die band met hom
verbreek.

En, broer, suster, dit geld vandag nog steeds so, wanneer
verbondskinders God die rug toedraai. Jy wil dan jou eie ding
doen, sonder om met God rekening te hou. Jy wil liewer nie vir
God sien nie. Laat Hy maar wegbly. Tenminste vir nou, terwyl jy
geniet van dinge waarvan jy weet dat Hy nie bly daarmee sal wees
nie, terwyl jy keuses maak en dinge doen wat nie sy koninkryk
bevorder nie, maar jou eie koninkrykie. Jy kan en wil God nou
liewer nie sien nie. Hy sou vir jou gevoel net ’n spelbreker
wees. Dan kan jy nie meer doen wat jy lus is om te doen nie. So
dring ons, bewus of onbewus, God dikwels uit ons lewe weg. Wat
’n verdriet moet dit die Vader gee. Wat ’n belediging
van sy liefde.

Maar God bly tog doen wat Hy onmiddellik na die sondeval
gedoen het. Hy laat die mens nie aan sy lot oor nie. Hy bly die
mens opsoek. Keer op keer. In sy Seun het Hy die gevalle mensdom
opgesoek. Hy het in die wêreld gekom, na sy eiendom gekom, en sy
eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh 1:11). Desondanks, bly
God die mens soek. Hy laat hom nie verjaag nie. Dit kan wees dat
die mens die ontmoeting met Hom wil ontwyk, God bly die
ontmoeting met die mens soek. Die Here wil sy kinders terug hê.
Vader wag op sy verlore seun en sien na hom uit.

Dis vir ons ongelooflik dat God die afvallige mens bly opsoek.
Soos hy dit toe gedoen het en vandag nog doen. Ook al versmaad
die mens sy liefde. Hier sien jy God se liefde en ontferming. Ons
kan net Hom aanbid en dank. In skaamte oor ons sonde. In
verwondering oor sy liefde. Hy soek die redding van opstandige en
verlore sondaars.

Dis die tweede gedagte. God soek in liefde die verlore mens op
om hom te red.

Wanneer die Here daar in die hof verskyn, en die mens vir hom
probeer wegkruip, dan gaan die Here vir die mens soek en roep die
Here hom toe: waar is jy? Kom tog vorentoe. Ons sou ons kan
indink dat God na al die moeite wat Hy gedoen het om die mens
weer te ontmoet, die mens tog aan sy lot sou oorgelaat het. As
die mens dit nie wil nie en die ontmoeting ontvlug, wat moet die
Here verder maak? Dan moet die mens homself maar red. Dan moet hy
maar sien wat van hom word. Ek het gedoen wat ek kon, maar die
mens wil nie. Ons sou so ’n reaksie kan voorstel. So gebeur
dit dikwels onder ons mense. Iemand staan teen jou op, loop van
jou weg. Jy doen wat jy kan om toenadering te soek. Maar die
persoon weier enige toenadering om tot versoening te kom. Dan is
dit vir jou klaar. Jy wil niks meer met die persoon te doen hê
nie.

Maar so is die Here gelukkig nie. Hy gaan agter die mens aan.
Hoeseer die mens hom ook beledig het. Hy sê nie: die mens moet
eers maar na my terugkeer nie en sy skuld teenoor my bely nie.
Die mens moet eers maar bewys dat hy tot hernude kontak bereid is.
Nee, God soek die mens op. Hy rus nie totdat Hy van die mens
antwoord ontvang nie. Waar is jy? Kom tog te voorskyn. Ek soek
jou weer terug in my arms. Ek wil jou weer omsluit met my liefde.
In hierdie vraag sit iets dringends. God sal sy kind nie laat
gaan nie. Sy kind mag dink: ek wil die Here nie ontmoet nie, wat
my betref is die band tussen my en die Here verbreek, maar God
aanvaar dit nie. God bly roep totdat Hy antwoord kry. God besef
dat sy kind nie homself kan red nie. God sien dat die mens
homself in die dood gewerp het en homself geheel en al ellendig
gemaak het. God wil hierdie opstandige en ongehoorsame kind red.

Die Here sorg self daarvoor dat die gesprek weer aan die gang
kom. Wat die mens self betref, begin dit teleurstellend. Die mens
kom nie met ’n opregte skuldbelydenis nie, in die besef dat
hy teen die allerhoogse majesteit van God gesondig het nie. Nee,
die mens begin om homself te verskoon: die vrou wat U gegee het
om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.
Eintlik is dit God se skuld omdat Hy hom ’n verleidster as
vrou gegee het. En die vrou self werp die blaam op die slang. Wat
’n geduld en liefde van God dat Hy nie asnog die mens los
nie. Hy is vasbeslote om die mens te red. Ook al verdien die mens
dit allermins, ook al dra die mens niks daartoe by nie.

Luister maar na die vervolg in Genesis 3. Luister maar na wat
die Here vir die slang en dus vir Satan sê: “Ek sal
vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar
saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen
byt.” Met die woorde van ons belydenis: “God troos
daarin die mens met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom
salig te maak – sy Seun, wat uit ’n vrou gebore sou
word om die kop van die slang te vermorsel.”

Gemeente, daardie teks, wat ons die moederbelofte noem, begin
met die woord vyandskap. God sê nadruklik: Vyandskap sal ek stel
tussen jou en die vrou. Wat ’n verrassing! Die vrou en Satan
het mekaar gevind in hul opstand teen die Here. Hulle het
bondgenote geword. Vriende. Nou verklaar God egter vyandskap
tussen die twee. God dryf hulle uitmekaar. Die mens en die duiwel
kom weer teenoor mekaar te staan.

Die vyandskap kom nie vanself tot stand nie. Dit ontstaan nie
deur ’n groeiende afkeer tussen die twee partye nie. Soos
twee vriende uit mekaar kan groei en selfs teenoor mekaar kan kom
te staan. Daar is geen sprake van berou van die mens nie, of dat
die mens op sy afskuwelike desersie terugkom.

Let daarop dat God in ons teks die mens nie adviseer of beveel
om teen die duiwel op te staan nie. Daarmee sou die mens dinge
moet doen wat hy nie uit homself kan doen nie. Waarom nie? Omdat
die mens homself in sonde en ellende gestort het, ja, in die
geestelike dood gestort het. En iemand wat dood is kan onmoontlik
kies om na God terug te keer of om God te gehoorsaam. Hy het geen
lewe en krag daartoe nie.

Pleks van so ’n advies of bevel om Satan los te laat,
vertel God wat Hy self gaan doen. “Ek sal vyandskap
stel”, sê Hy. In daardie eenvoudige woorde sien ons God se
onbegryplike liefde en genade. God neem die inisiatief. Want as
ons mense verlos wil word, dan moet Hy die inisiatief neem. As
God dit nie doen nie, is daar vir ons geen hoop nie. Die
vyandskap is uitsluitend God se daad. God ruk Satan en ons uit
mekaar uit. God red ons uit sy mag.

Dis ’n ongelooflike weldaad. Deur bondgenoot van Satan te
word het ons die verbondsgemeenskap met God verbreek. Die
vriendskap met die duiwel het niks as ellende en dood opgelewer
nie. God verbreek die vriendskap en neem ons weer op in sy
gemeenskap, by Hom die lewende God. God herstel die
verbondsgemeenskap. God gee ons nie onmiddellik ons verdiende
straf nie. In sy uitnemende wysheid bedink God onmiddellik
’n plan om ons te red. In Christus soek Hy ons weer op om
ons te red van die sonde en die dood.

Gemeente, sonder hierdie soekende en aanhoudende liefde van
God, sou alles vir die mens verlore gewees het. Dan sou ons en
ons kinders vir ewig verlore gewees het. Dan sou daar ook
vanoggend geen doop gewees het nie. Dan sou ons kinders aan die
ewige oordeel onderworpe gebly het, sonder God en sonder hoop in
hierdie wêreld. Maar in sy liefde het God die verlore mens weer
opgesoek en geroep. En so soek en roep Hy ons vandag nog. Uit
louter genade. Daarom die doop: “Arend Hendrik, ek doop jou
in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees.
Ek verbind myself aan jou. Jy mag my kind wees. Ek wil jou Vader
wees. Ek wil dat ons met mekaar omgang in wedersydse liefde.

En dan gebeur dit nog dikwels dat verbondskinders, jonk en oud,
die band met die Here nie werklik waardeer nie. Jy probeer dit by
tye te ignoreer. Jy wil jou eie ding doen. Sonder om met Vader
rekening te hou. Maar dan is daar jou pa of ma wat jou aanspreek
en terugroep. Of jou onderwyser by die skool. Of jou broer of
suster in die gemeente, of jou ouderling of predikant. Dan is
daar ook die Sondagse eredienste waarin God jou in liefde soek:
waar is jy? Dit word nie altyd gewaardeer nie. By tye hoor jy die
roepstem van God liewer nie. Laat God my maar uitlos. Maar broer,
suster, seun, dogter God los jou nie uit nie. Gelukkig nie. Hy
bly jou soek en roep. Nie om jou te pla nie, maar om jou te red.
Wat doen jy met God se soekende liefde in jou lewe en met die
roepstem wat steeds weer na jou toekom? As jy hierdie roepstem
van die Here weier, dan teken jy jou eie doodsvonnis. As sy bly
weier om uit die skuilhoeke van die sonde te voorskyn te kom, dan
roep jy God se vloek oor jou uit.

Wat ’n genade om die roepstem van God steeds weer te hoor:
waar is jy? Kom na My toe. Ek wil met jou omgaan in wederkerige
liefde. In Christus bly God ons soek. Om te red. Hy wil nie hê
dat jy in die ellende van godverlatenheid lewe en sterwe nie.
Christus is deur God verlate sodat ons nooit meer deur hom
verlate sou word nie. Dis die evangelie wat ons reeds in Genesis
3 hoor, wanneer God die verlore mens weer opsoek en roep: waar is
jy? God soek jou redding. Herken tog sy soekende liefde vir ons
verlore sondaars. Luister na sy roepstem. En stap vorentoe in die
lig. In verwondering en liefde: Dank u Here vir so ’n
ongelooflik wonder dat ek ’n sondaar met u die hoogheilige
God mag omgaan!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)