As opgestane Herder lei Jesus Christus Maria op die regte pad

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-04-16
Text: 
Johannes 20
Preek Inhoud: 

Johannes 20:17

Ds C Kleyn - Sondag 16 April 2006

Lees: Johannes 20:1-18.
Sing: Ps 118:7,8; Ps 118:11,12; Ps 111:1,2,6; Ps
96:1,2; Ps 118:13,14.

Tema: As opgestane Herder lei Jesus Christus Maria op
die regte pad

  1. Hy wys op die voortgang van sy werk
  2. Hy wys op die gemeenskap van sy kerk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Op die Paasdag gebeur daar ongelooflike dinge. Jesus Christus
die gekruisigde verlaat soewerein die graf en verskyn as ons
lewende Vors. Geen wonder dat die mense moeite het om van die
Paasfeite deurdronge te raak. Daar moet baie gebeur voordat selfs
Christus se volgelinge ten volle besef wat plaasgevind het. Dit
geld ook vir Maria Magdalena.

Joh gee besondere aandag aan Maria Magdalena. Douvoordag gaan
Maria na die graf van haar Meester. Sy wil hom die laaste eer
bewys. Tot haar skrik ontdek sy egter dat die steen van die graf
weggeneem is. Sy dink onmiddellik dat grafskenders die liggaam
van haar Meester weggeneem het. Nadat sy die dissipels Petrus en
Joh daarby gehaal het, bly sy alleen by die graf agter. Joh het
die doeke gesien en die doek wat op Jesus se hoof was eenkant en
hy het begin om te glo. By Maria breek die geloof nog nie deur
nie. Sy ken net droefheid. Sy kan net huil. Tot 4 maal toe word
dit in hierdie gedeelte genoem. By haar ontbreek alle uitsig of
verwagting. Die feit dat sy die engele in die graf sien, sit haar
nie eers aan die dink nie. Ook nie hul vraag van verwondering:
waarom ween jy? Geloof in die Paasfeite wil maar nie deurbreek
nie. Daardeur herken sy Jesus, wanneer sy hom sien, nie eers nie.
Sy dink dat dit die tuinopsigter moet wees. Sy dink net aan een
ding: die dooie liggaam van haar Meester. ’n Opgestane
Christus is nog vir haar ’n onmoontlikheid. Ongeloof
verblind haar. Daarom antwoord sy Christus se vrae ook met die
woorde: “Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u
Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” Dit bly vir haar
vasstaan dat Jesus nog dood is en dat sy liggaam weggeneem is.
Ondanks alles wat sy reeds gesien en gehoor het, bly ’n
opstanding buite haar gesigsveld. Totdat Christus haar blinde
ongeloof verbreek. Die Here doen dit met net een woord, deur haar
naam te noem: Maria. Die goeie herder roep sy verdwaalde skaap by
haar noem. Maria, en die skaap herken sy stem: Rabboeni.

Gemeente vandag wil ons nader let op wat Christus vir haar sê.

Ek vat die teks so saam: As opgestane Herder lei Jesus
Christus Maria op die regte pad.

  1. Hy wys op die voortgang van sy werk
  2. Hy wys op die gemeenskap van sy kerk

Wanneer Maria Jesus herken, is sy onmiddellik weer vol
entoesiasme. Rabboeni roep sy uit, my Meester. Sy gebruik nie die
gebruiklike aanspraak, rabbi nie. Sy gebruik die meer persoonlik
en verhewe vorm Rabboeni Hy is haar grootste en enigste Meester.

Maria is vol liefde vir haar Meester. Nadat Christus daardie 7
bose geeste by haar uitgedryf het, laat sy hom nie los nie. Sy
het hom op sy reise van Galilea gevolg om hom te dien. Sy kon nie
sonder hom nie. Dit het sy sedert Goeie Vrydag gemerk. Sy kan hom
nie mis nie. Terwyl dit nog donker is, gaan sy graf toe. Sy het
nie meer ’n lewende Jesus, dink sy, maar by die graf is daar
die lewende herinnering aan hom, sy dooie liggaam. Daarom is sy
so geskok wanneer sy ontdek dat Jesus se liggaam nie meer daar is
nie. Sy wil haar meester dien en eer. Tenminste in sover dit nog
kan, noudat hy gestorwe is. Sy soek sy liggaam terug. Daarom:
Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het,
en ek sal Hom daar gaan haal.

As sy dan Christus lewend voor haar sien, is dit begryplik dat
sy voor hom neerval en hom vasgryp. Sy het haar Meester terug,
die Meester wat alles vir haar beteken.

Hoe reageer die Here dan op haar entoesiasme? Hy sê: raak my
nie aan nie of beter vertaal: Moet My nie vashou nie. Is hierdie
reaksie nie baie koud en teleurstellend nie? Jy sou dink: Maria
het ’n voorbeeldige toewyding aan Jesus getoon. Wie van
julle ken so ’n groot toewyding en liefde vir die Here? Wie
van julle kan Jesus geen oomblik mis nie? En, gemeente, is die
persoonlike verhouding met Christus nie die belangrikste nie?
Waar die verhouding met Christus verslap, daar verskraal die
Christelike lewe. Dieselfde geld vir die Christelike kerk.
’n Lewende verhouding met Christus is inderdaad onmisbaar.
Vergeet dit maar om ’n Christen of kerk te wees sonder
’n lewende verhouding met die Here Christus.

Tog gaan sommige mense nog ’n stap verder. Hulle sê, die
persoonlike verhouding met Christus is so belangrik dat jy wel
kan vergeet van die leer van Christus. Al die gepraat oor die
leer sou net die belewing van die Heer in die pad staan. Nie die
leer oor Jesus is belangrik nie, maar die belewing van Jesus. Wil
jy ’n voorbeeld hiervan? Kyk maar na wat ’n sinode van
die GKN (sinodaal) met beswaarskrifte van die kant van
verontrustes gedoen het. Die sinode het gewys op die
geloofsbelewing. Die sinode het gesê: “Verontruste en
progressiewe Christene moet mekaar kan vind in ’n
geloofsbelewing wat nie gegrond is op ’n leer oor Jesus nie,
maar op die Persoon van Jesus.” Nie die leer oor Jesus nie,
maar die Persoon van Jesus, daaroor sou dit volgens die sinode
gaan. Die Persoon word hier teen die leer uitgespeel.

Nou, gemeente, as dit inderdaad net sou gaan oor die belewing
van die Persoon van Jesus, dan kan niemand Maria ewenaar nie. Ook
nie as dit gaan oor die persoonlike band met Jesus nie.

Tog blyk Maria se houding nie reg te wees nie. Christus
korrigeer haar: Moenie my vashou nie.

Waarom doen Christus dit? In haar entoesiasme het Maria die
Here vasgegryp. So in die gees van: ek het u nou terug en ek laat
u nooit weer los nie. U moet hier altyd by ons bly. Dit moet weer
wees soos dit voor Goeie Vrydag was, toe U steeds onder ons
verkeer het. Die geskiedenis van die kruis, die dood en die graf
moet maar so vinnig moontlik vergeet word, soos ’n bange
droom. Maria wil dat alles weer soos vroeër moet voortgaan.

Asof Goeie Vrydag en Pase daar nie gewees was nie! Asof daar
geen voortgang in Christus se werk was nie!

Geliefdes, uit Maria se houding is dit duidelik dat sy nog
niks van Christus se dood en opstanding begryp nie. Hier is die
leer oor Christus in geding en daarom is haar belewing van
Christus nie reg nie. Maria is al lank bly as sy Christus terug
het soos Hy vroeër was. Dan is haar grootste wens vervul. Maar
dit is nie moontlik nie en dit mag ook nie meer nie. Daardie drie
dae was nie net ’n droewige intermezzo of bange droom nie.
Nee, Goddank, daardie drie dae beteken juis ’n geweldig
voortgang in Christus se verlossingswerk. Daar is vaart in die
saak van God se koninkryk. Die versoening vir die sondes het
plaasgevind. En Christus het opgestaan om die versoening na ons
toe te bring.

Maria, moenie my vashou nie. Moenie by die verlede bly
stilstaan nie. Ek het verder gekom. En Ek moet nog verder aangaan
met my werk. Hou my nie teen nie. Ek moet na die Vader toe opvaar.

Christus se pad is dus nie die pad terug nie, maar die pad
vorentoe, bo toe. Die pad wat na die hemel lei, na die
heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld was.
Dis die pad van sy verhoging, sodat Hy aan die regterhand van die
Vader sy werk kan voortsit en voltooi. Sodat Hy sy Gees kan
uitstort en sy apostels in die volle waarheid kan lei. Sodat die
apostels die wêreld kan ingaan en die algemene Christelike kerk
vergader kan word.

Gemeente, hoe beperk is Maria haar horison. Sy sien nie die
een voortgaande lyn in Christus se werk nie. Die een lyn wat loop
van Golgota na Pase en dan verder na die hemelvaart, Pinksterfees
en Wederkoms toe.

Maria bly by die verlede staan. Sy wil gemeenskap met Christus
hou soos dit tydens sy omwandeling was. Maar Christus korrigeer
haar. Hy lei haar terug op die regte pad. Hy wys haar die pad na
die ware en blywende gemeenskap met Hom. Sy wil die persoonlike
omgang met Christus hier op aarde. Maar Christus sê: omgang met
My word eers goed moontlik as ek opgevaar het hemel toe. Maria,
moet My nie vashou nie want dit is nog nie die tyd vir die volle
gemeenskap tussen My en die Myne nie. Ek het nog nie na die Vader
toe opgevaar nie.

Is dit nie vreemd nie? Christus stel die volle omgang met Hom
uit tot na sy hemelvaart. ’n Mens sou dink: wanneer Christus
hemel toegaan, hou die omgang met hom vir ons op aarde juis op.
Tog is dit nie so nie. Christus het vroeër reeds duidelik gemaak
hoe hy na die hemelvaart gemeenskap moet ons sal onderhou. Hy sal
dit doen deur die Trooster vir ons te stuur, die Heilige Gees.
Die Gees sal die band tussen Christus en die gelowiges onderhou.
Daarom beteken omgang met Christus voortaan: omgang deur sy Gees.

En geliefdes, dit is absoluut geen agteruitgang nie in
vergelyking met die omgang met Christus tydens sy bediening op
aarde nie. Soms kan daar by ons die verlange wees om Christus
hier op aarde fisies te sien en te ervaar. Was Hy maar hier in
ons midde, sigbaar vir elkeen, soos tydens sy werk op aarde. Ons
kan dan jaloers wees op die apostels en op die vroue wat Jesus in
lewende lywe gesien en ervaar het. Die sigbare teenwoordigheid
van ons Here lyk baie ryker as die Paaspreek vandag.

Maar, gemeente, met sulke gedagtes val ons in dieselfde
slaggat as Maria. Jy verlang dan stilstand, agteruitgang. Jy wil
dit dan hê soos dit in die verlede was. En dit beteken dat jy
wens dat Christus hier op aarde sou gebly het en nie met sy werk
sou voortgegaan het nie, en dat daar dus geen hemelvaart en
Pinksterfees sou gewees het nie. Maar wat sou die kerk sonder
Pinksterfees wees?

Christus sê vir ons: moet my nie vashou nie. Ek het opgevaar.
Ek moes opvaar. Terwille van jou verlossing. Jy is nou baie ryker
as Maria in daardie tyd. Wees dankbaar dat jy nie by my graf
staan nie, maar in die kerk sit en luister. Ek het opgevaar na
die hemel. Ek het my Gees uitgestort en Ek praat nou met jou deur
die Pinksterpreek, deur my woord. Dit is meer as wat Maria met
haar oë gesien het. Deur my Gees is die band met My baie ryker
en voller.

Geliefdes, nadat Christus op die voortgang van sy werk gewys
het, wys hy ook op die gemeenskap van sy kerk. Dis die tweede
gedagte.

Maria moet Jesus loslaat en na die apostels gaan. “Maar
gaan na my broeders...” Maria moet na die gemeenskap gaan
wat Christus met sy bloed gekoop het. Die broeders moet Christus
se Paasboodskap hoor en Maria moet die Paasfees saam met hulle
vier.

Tydens hierdie Paasoggend lyk dit asof Maria baie min aandag
vir die gemeenskap van die heiliges het. In haar verlange na haar
heer, sonder sy haarself van die ander af. Sy sien haar
verhouding met die Here op ’n individualistiese manier. Let
maar op haar optrede daardie oggend. Wanneer die vroue graf
toegaan loop Maria afsonderlik voorop. Sodra sy sien dat die
steen van die graf weggerol is, gaan sy terug Jerusalem toe,
alleen, om die hulp van Petrus en Joh in te roep. En as Petrus en
Joh van die graf terugkeer Jer toe, bly sy alleen by die graf
agter. Sy wil Jesus op haar eie gaan soek. Sy praat ook
voortdurend van ek en my. Teenoor die engele sê sy: “Hulle
het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het
nie.” en teenoor Jesus self sê sy: “Meneer, as u Hom
weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom
wegneem.” En wanneer sy Jesus herken gryp sy Hom vas asof Hy
by haar moet bly. Het Maria nog oog vir die gemeenskap wat
Christus deur sy bloed gekoop het?

Daarom, Maria, moet My nie vashou nie, maar gaan na my
broeders. Gaan na die gemeenskap van my kerk. Vertel hulle: Ek
vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God. Jesus
praat hier nadruklik in die meervoud: julle Vader. My Vader is
die Vader van elkeen van julle. Wat ’n pragtige boodskap.
Julle Vader. Julle het die reg ontvang om kinders van God te wees.
Julle word God se seuns en dogters genoem. En so ook my broers en
susters. Deur my lyding en dood het ek daardie reg vir julle
verwerf. Julle is weer kinders van God. Hy is julle Vader en
julle God.

Gemeente, Christus is daar nie net vir Maria nie, maar vir sy
hele gemeente, vir die groot Gesin van God se kinders. Hy het
opgestaan en Hy gaan opvaar tot heil van al sy broers en susters,
tot heil van almal wat die Vader vir hom gegee het. Hy gaan sy
werk voltooi terwille van die groot menigte wat geen mens kan tel
nie uit alle volke en tale.

Maria moet nie op haar eie bly, stry en feesvier nie. Sy hoort
tuis onder die huisgenote van God, as deel van sy groot familie.
Daarom moet sy haar voeg by die gemeenskap van die kerk, sy
eenheid onderhou. Gaan na my broers toe. Vertel hulle van die
Paasfeite en vier saam met hulle die Paasfees.

Broers en susters, so gee Christus Maria haar eie plek in die
gemeenskap van die kerk. Haar belangrike plek. As sy boodskapper.
Wat sy gehoor en gesien het, moet sy aan die apostels deurgee.
Deur haar mond soek Christus die harte van sy apostels. Hy wil
hulle daardeur in beweging bring as toekomstige getuies. Sodat
die groot skare deur hul getuienis geroep en vergader kan word in
die eenheid van die geloof.

Jesus se woorde vir Maria is ook vir ons vandag belangrik. Ons
tyd word meer en meer deur individualisme gekenmerk –
“elkeen vir homself.” Dit werk ook deur onder ons
Christene. Die gemeenskap van die broers en susters wat waarlik
in Christus glo, word nie so belangrik geag nie. Solank as ek
maar ’n persoonlike band met Christus het. Die leer sou ook
nie so belangrik wees nie, solank as ek maar my geloof beleef.
Hoe ek die belewing wil invul moet elke individu maar self bepaal.
Tipies individualisme.

As opgestane Herder, lei Christus Maria terug op die regte pad.
Hy wil ook ons op die regte pad lei. Moet My nie vashou nie, gaan
na my broers toe. Jou verhouding met my moet nooit
individualisties wees nie. Dis nie ’n kwessie van ’n
persoonlik band tussen die individuele siel en My nie, sonder
band met die ander broers en susters nie. Nee, sluit jou aan by
die gemeenskap van die kerk, onderhou sy eenheid. Ek het nie net
vir jou gesterf en opgestaan nie. Ek het dit vir my hele kerk
gedoen. Julle is kinders van een Vader, my Vader en julle Vader.
Daarom is julle my broers en susters en broers en susters van
mekaar.

Geliefdes, moenie jou persoonlike verhouding met Christus
uitspeel teen die gemeenskap van die kerk nie. As jou band met
Christus werklik en lewend is, dan sal jy daardie gemeenskap soek
en onderhou. Julle is saam ryk. Daarom is elke beklemtoning van
die verhouding met Christus ten koste van die gemeenskap van die
heiliges verkeerd.

En, geliefdes, moenie die persoonlike band met Christus
uitspeel teen die leer van Christus nie. Christus wys op die
Paasdag en daarna dat die leer oor Hom terdeë belangrik is. Jy
moet eers die feite ken. Net dan kan jy werklik en op die regte
manier gemeenskap met hom hê. Hoe oefen Christus gemeenskap met
sy volk? Tog deur sy Gees en Woord? Maria moes wag op die volle
gemeenskap met hom tot na Christus se hemelvaart. Christus moes
eers sy Gees, die Trooster, stuur. Hy moes eers sy apostels in
die volle waarheid lei, sodat deur hul woord die skare uit alle
volke tot geloof gebring sou word.

So is daar na Pinkster – dus ook vandag – geen
gemeenskap met Christus moontlik sonder die apostoliese woord nie.
Jy kan net ’n ware en persoonlike verhouding met Christus
hê deur die leer van Christus te aanvaar in gemeenskap met die
kerk van alle tye.

Geliefdes, laat die evangelie van Pase julle lei en bewaar op
die regte pad. Tot eer van julle opgestane Here en tot jou eie
heil.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)