Die hoëpriester Kajafas profeteer van Christus se plaasvervangende sterwe

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-03-19
Text: 
Johannes 11
Preek Inhoud: 

Johannes 11:47-53

Ds C Kleyn - Sondag 19 Maart 2006

Lees: Johannes 10:11-18; 11:45-57.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 96:5,6; Ps 40:3,4; SB 8:1,2;
Ps 40:8.

Tema: Die hoëpriester Kajafas profeteer van Christus
se plaasvervangende sterwe

  1. die aanleiding tot die profesie: bedreiging van eie
    posisie
  2. die bedoeling van die profesie: selfbehoud
  3. die verklaring van die profesie: plaasbekleding

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Voordat Christus op die kruis teregkom, onthul God die geheim
van daardie kruis. Ons lees in ons teks hoe dit in die Joodse
Hoë Raad gebeur. Die kerklike leiers vergader. Hulle moet hul
besin oor die groeiende invloed van Jesus. Die beslissende woord
oor Jesus van Nasaret word van hulle verwag. Is dit nie hulle
roeping om die reg, die wil van die Here bekend te maak nie? Die
Priesters is die leidende groep van die Sanhedrin. Van hulle sê
die profeet Maleagi: “Want die lippe van ’n priester
moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy
is ’n boodskapper van die Here van die leërskare” (Mal
2:7). Die priester, en met name die hoëpriester, is aan die een
kant die mondstuk van die volk om die saak van die volk by God te
bepleit. Hy is egter ook die mondstuk van die Here om sy raad en
wil bekend te maak. Van Sion sal die wet uitgaan. Daar te
Jerusalem staan die stoele vir die gereg.

Gemeente, wanneer die hoëpriester as voorsitter van die
Sanhedrin die beslissende uitspraak oor Jesus Christus doen, wys
God op die amptelike karakter van sy spreke. Dit het hy nie uit
homself gesê nie, lees ons, maar omdat hy daardie jaar
hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou
sterwe. Kajafas sê hierdie woorde dus in sy hoedanigheid as
hoëpriester, as ampsdraer. Ook al is hy op daardie oomblik nie
van sy hoë roeping bewus nie en verstaan hy self nie mooi wat hy
ten diepste sê nie. Die Here wil hierdie laaste wettige
hoëpriester uit die huis van Aaron gebruik om amptelik sy wil
aangaande die Christus bekend te maak. So verkondig hierdie
hoëpriester ondanks homself die reg van die Here.

Ek verkondig vir julle: die hoëpriester Kajafas profeteer van
Christus se plaasvervangende sterwe

  1. die aanleiding tot die profesie: bedreiging van eie
    posisie
  2. die bedoeling van die profesie: selfbehoud
  3. die verklaring van die profesie: plaasbekleding

Die Sanhedrin kan nie langer swyg nie. Hy moet hom nou oor
Jesus uitspreek. Verder uitstel is nie meer moontlik nie.

Waarom is hierdie saak so urgent? Ons lees daarvan in die
voorafgaande gedeelte van ons hoofstuk. Dis ’n gevolg van
die gerugmakende opwekking van Lasarus. Israel word daardeur in
beroering gebring. Vlak by Jerusalem het die Here Jesus die dood
oorwin. Dis waar, Christus het reeds eerder iets dergeliks gedoen.
In Kapernaum het hy die dogtertjie van Jaïrus opgewek en in Nain
die seun van ’n weduwee. Maar dit was ver weg en die twee
was toe pas gestorwe. Maar nou wek Christus ’n dooie op naby
Jerusalem, die godsdienstige en nasionale sentrum van die Joodse
volk, en Lasarus is reeds vier dae in die graf. Daar is reeds
tekens van ontbinding. Tog roep die Here Lasarus uit die dood,
terug tot die lewe. Hy triomfeer oor die dood. ’n Pragtige,
veelseggende laaste teken van Jesus voor sy eie dood. Hy het mag
oor die dood. So ’n oorwinning kan nie verborge bly nie. Dit
moet wel indruk maak. Die mense word daardeur dan ook in beweging
gebring. En baie het in Jesus geglo, lees ons. Christus se laaste
kragtige appel op die volk bly nie sonder vrug nie.

Die geestelike leiers moet nou wel ’n uitspraak doen.
Hulle kan dit nie ontwyk nie. Wat in Betanië gebeur het vra om
hul oordeel. As hulle nie uit hulleself daartoe kom nie, dwing
die sommiges wat nie glo nie hulle wel tot ’n beslissing.
Ons lees mos dat sommige van hulle na die Fariseërs gegaan het
en hulle vertel het wat Jesus gedoen het. Hulle moet maar vinnig
uitsluitsel oor hierdie saak gee.

Gemeente, in werklikheid is dit die Here God self wat hier die
leiding het. Nasies en tiranne, smee verniet hul planne, in die
vlam van haat. Maar dit wat uiteindelik geskied, is God se raad.
God wil nou ’n uitspraak hê. Want die einde van Christus se
pad op aarde kom nader. Israel moet nou kies. Hul leiers moet nou
kies. Hulle moet die verlossende, profetiese woord spreek.

Wat doen die Joodse raad? Wat mag ’n mens van hulle
verwag? Ja, wat moet ampsdraers doen as ’n sekere beweging
in die kerk die mense meesleep? Dan behoort die kerkraad volgens
die Skrifte in te gryp. Om te toets of die beweging uit God is of
uit die mense. En vervolgens sal die ampsdraers moet profeteer om
God se volk op sy weë te bewaar. Maar wat doen die Joodse Raad?
Maak hulle die Skrifte oop? Vergelyk hulle Jesus se leer en werk
met wat in die O Testamentiese geskrifte geskrywe is?

Hulle erken dat hierdie man – daarin klink diepe
veragting – baie tekens doen. Maar gaan hulle na of die
tekens met die profesie ooreenstem? Beoordeel hulle dit tekens in
die lig van die Skrifte, soos van ampsdraers mag verwag word. Nee,
niks van dit alles nie. Hulle is met Jesus verleë. Wat sal ons
doen? Jesus gaan rustig sy gang. Hy doen allerlei tekens en
wonders. Die volk loop agter hom aan. Maar wat doen ons? Om
Christus te aanbid wil hulle nie. Om hom dood te maak durf hulle
nie. Tog moet daar ingegryp word. Want, as ons hom laat begaan,
sal almal in hom glo, sê hulle, en die Romeine sal kom en ons
land en ons nasie albei afneem. Met hierdie woorde wys hulle wie
hulle is. Dit blyk nou duidelik waar dit hulle om gaan. Nee,
hulle word nie gedryf deur die begeerte om God se woord te laat
hoor en om die volk op die weë van die Here te lei nie. Wat
hulle dryf is puur selfsug. Hulle is bang dat daardie gehate
Jesus nog meer aanhang sal kry. En daarmee word hul eie posisie
bedreig.

So ’n beweging kan baie invloed hê en baie stukkend maak.
Die ongeletterde volk sou Hom tot koning kan uitroep. En die
Romeine sou hierdie geleentheid kan aangryp om hardhandig in te
gryp en om die laaste bietjie selfstandigheid wat Israel nog het,
weg te neem. Dan sou die kerklike leiers wel van hulle invloed en
mag kan vergeet. Hulle sal die slagoffer daarvan wees. Dit is,
gemeente, vir hulle die ergste: hul belange kom daarmee in gevaar.
Letterlik staan daar in ons teks: en dan sal die Romeine kom en
van ons afneem sowel hierdie plek as hierdie nasie. Ons staan met
nadruk voorop. Die lot van die volk is vir hulle nie die
belangrikste nie, maar hulle eie lot, hul plek, hul posisie, hul
eer. En dit wil hulle nooit prysgee nie.

Gemeente, by hul oorwegings staan dus sentraal die handhawing
van hul eie leiers posisie. Hulle eie posisie moet voor alles
veilig gestel word. Ja, daarop was hiërargie in die kerk altyd
nog gerig. Ampsdraers wat hul goddelike amp het tot ’n
menslike funksie verlaag, sien nie anders as menslike eer en mag
nie. En daarvoor wil hulle stry. Maar die doel van die amp word
nie meer gesien nie. Die kudde van God word in die steek gelaat.

Wat in hierdie verband ook opval is dat die Sanhedrin oor die
volk as nasie en nie as verbondsvolk praat nie. Hulle het nie
meer oog vir Israel as volk van God nie, maar hulle sien net die
dreigende gevaar dat die Romeine aan Israel se nasionale bestaan
’n einde sal maak, waarby hulle dan hul posisie sal verloor.
Die ampsdraers van die kerk het hul amp tot ’n burgerlike
funksie verlaag en het die sig op die kerk verloor.

Gemeente, die Sanhedrin besef dat iets moet gebeur. Hulle kan
nie afsydig bly nie. Maar wat weet hulle nie. Hulle kom daar nie
uit nie. Hulle is nie in staat om ’n besluit te neem nie.
Hul posisie word bedreig, maar hulle kan niks bedink wat tegelyk
ongevaarlik en afdoende is nie. Dis dan die hoëpriester wat die
saak moet red. As voorsitter gryp hy in. Heftig vaar hy uit teen
sy kollegas vanweë hul weifelende, slap houding. Julle weet niks
nie, sê hy. Julle dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is
dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.

Joh voeg daaraan toe dat hy dit nie uit homself gesê het nie.
Het Kajafas daardie woorde dan nie uit eie beweging en met
’n eie bedoeling gesê nie? Seker, die toevoeging van die
evangelis sluit die eie opset en bedoeling van Kajafas nie uit
nie. Hy praat hier ook sy eie woord. Ons beluister daarin nie net
die taal van die hemel nie, maar ook die taal van die hel. Sowel
die hemel as die hel is hier aan die woord.

Ons hoor die taal van die hel reeds in die eerste woorde: dit
is vir ons voordelig. Woorde vol selfsug. Hier is die eie belang
wat koning kraai. Hulle eie belange bepaal wat reg is. Reg is dit
wat vir ons nuttig is. Hier ontbreek elke beligting vanuit die
Woord van God. Hier word nie gepraat oor die eise van God se reg
en waarheid nie. Wat vir ons nuttig is, dis deurslaggewend.
Kajafas die hoëpriester formuleer met sy nuttigheidsbeginsel die
wet van selfbehoud. Dis tipies die taal van die hel, van die
sonde. Nie wat voor God reg is, is beslissend nie. Nie wat God
wil en wat daarom vir die mense goed is, is die uitgangspunt van
die oordeel nie. Maar wat ons pas. Julle hoor voortdurend hierdie
soort gepraat in ’n samelewing wat van God vervreemd is. Dit
vorm die beheersende motief van alle strewe en stryd wat nie voor
God wil buig nie. Wat my dien, dit is goed. Wat ek kan gebruik,
dit doen ek. Dis, gemeente, feitelik rewolusie. Die reg word aan
die mag ondergeskik gemaak en geregtigheid aan eie belang. Hier
word die reg in eie hande geneem.

Dit beteken konkreet vir die Sanhedrin dat hulle nie aarsel om
die een man Jesus op te offer terwille van hul eie behoud, ook al
praat hulle van die belang van die volk. Dit is vir ons voordelig
dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.
By sulke belangepolitiek is dit logies dat mense daaraan
opgeoffer moet word. Hulle skrik nie daarvoor terug om mense wat
as hindernisse beskou word, te elimineer nie. Eie eer en mag is
’n politieke moord werd.

Die hoëpriester Kajafas is dus uit homself allermins ’n
bode van God. Hy vertolk in sy woorde die mag van die duisternis,
wat vir niks terugdeins nie, en die een vir almal laat sterwe om
oor die almal eie mag en eer te behou. Die hele nasie mag nie
verlore gaan nie, sê Kajafas, daarom moet die een man maar sterf.
Ons wil ons plek nie verloor nie, daarom moet die een wat ons in
die pad staan uit die weg geruim word. Gemeente, uit die mond van
Israel se laaste wettige hoëpriester hoor ons dieselfde taal as
die van tiranne wat deur moorde hul eie posisie probeer verwerf
of behou. In beginsel staan hy op een lyn met Hitler en Stalin,
Saddam Hoessein en Mugabe.

Maar doen ons Kajafas geen onreg aan wanneer ons sê dat hy
net uit eie belang handel nie? Praat hy nie van ’n sterwe
vir die volk sodat nie die hele nasie omkom nie? Word hy dan tog
nie deur die belange van die nasie gedryf nie?

Seker hy het die heil van die volk op die oog. Dis egter geen
onbaatsugtige liefde vir die volk nie. Hy sê nie: dit is vir die
volk voordelig nie, maar dit is vir ons voordelig. Dis in ons eie
belang dat die volk in stand gehou moet word. Net so kan ons ons
eie eer en posisie behou. As die volk ophou om te bestaan dan is
dit ook met ons gedaan. Wat Kajafas dus oor die volk sê, word
werklik deur eie belang beheers. So praat Kajafas uit homself.

Maar, broers en susters, hy is hier baie meer as net ’n
instrument van die hel. Hy tree hier ook op as ’n dienskneg
van God, as hoëpriester van die jaar. God laat hom amptelik
profeteer. Dit sien ons as ons let op die derde punt: die
goddelike verklaring van die profesie.

Of Kajafas wil of nie, of hy daarvan bewus is of nie, God se
Gees dwing hom tot sy hoogste en laaste priesterlike werk.

Ondanks homself spreek Kajafas die waarheid omtrent Christus.
Hy verkondig amptelik God se raad en wil. Hy profeteer die
plaasbekledende offer van die Here. Net soos Bileam in die Ou
Testament Israel wou vloek, maar moes seën, so wil Kajafas vloek
maar moet hy seën. God wil dat hy die waarheid oor Christus sê.
Hy moet dit sê. God dwing hom daartoe. God neem eenvoudig die
mond van hierdie hoëpriester in beslag om te verkondig die
plaasbekledende sterwe van die Here, as lam vir die sonde van sy
volk.

Dis broers en susters, ware priesterlike profesie. Hoe sou
’n priester ook anders kan praat? Een vir die volk, daarvan
praat tog voortdurend die diens wat hy in die tempel moet verrig.
Een vir die volk, daarvan praat die daaglikse offers. Dit was die
evangelie van die paaslam, dit was die evangelie van die groot
versoendag. Een vir die volk, was geskrywe bo die altaar en bo
die bloed wat in die heiligdom gevloei het. So het God sy volk
die pad van die verlossing gewys. Dit was vir die Hoépriester
dus geen vreemde taal nie, ook al het hy daar nie so oor nagedink
nie. Dit was tipies priesterlike taal.

So onthul die hoëpriester ondanks homself die geheim van
julle verlossing. Dit het hy nie uit homself gesê nie, maar
omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat
Jesus vir die volk sou sterwe. Dit was die jaar waarin die
beslissing moes val: die geweldig ingrypende jaar waarin die hele
Ou Testamentiese offerdiens sy hoogtepunt en vervulling sou vind
in die offer van die lam van God, Jesus Christus. Kajafas het die
lam aangewys. En nie net dit nie. Hy het ook daarvoor gesorg dat
die lam op die altaar sou teregkom. Onder sy leiding neem die
Sanhedrin nou definitief die besluit om Jesus om die lewe te
bring. Die teerling is gewerp. Oor die lot van Jesus is besluit.
Die Joodse raad het ’n uitspraak gedoen. Jesus moet sterwe.
Die offer sal gebring word. So sal die hoëpriester self daarvoor
sorg dat die laaste en definitiewe offer gebring word.

Gemeente, dis wel heel anders as wat Kajafas self bedoel het.
Hy het gedink dat die heil, die lewe daar juis sou wees sonder
hierdie Jesus. As hy maar uit die weg geruim is. Maar God laat
weet dat die heil net deur die een is. Buite hom, sonder hom is
daar geen lewe nie. Wie sy lewe probeer te behou, sal dit verloor.
Alle pogings tot selfbehoud – ook van die kerklike leiers
– loop uit op ’n mislukking. Selfhandhawing beteken dat
jy ewig verlore sal gaan. Net uit die plaasbekledende lyding en
dood van Christus bloei dit lewe, die ewige lewe op. Omdat Hy vir
ons sterf, kan ons lewe pleks om verlore te gaan. Hy is die goeie
herder wat sy lewe vir sy skape aflê.

En gemeente die skape kom nie net uit Israel, die ou
verbondsvolk, nie. Christus sterf nie net vir die volk nie, maar
ook om die verstrooide kinders van God tot ’n eenheid saam
te voeg, lees ons. Hier hoor julle Nuwe Testamentiese klanke. Die
grense van die Ou Verbond val weg. Die gemeente van die lewende
God word uit alle volke van die aarde vergader. Christus vergader
alle kinders van God wat verstrooi is, almal wat deur eie sonde
en die duiwel uiteengejaag is, soos die skape van ’n kudde
uiteengedryf word deur die dief of die wolf.

Geliefdes, Joh sien hulle reeds as kinders van God, ook al
moet hulle nog gebore word en al moet hulle nog deur die
evangelie geroep word. In die lig van God se verkiesing is hulle
reeds kinders. Kinders omdat hulle tevore daartoe bestem is om as
seuns en dogters van Hom aangeneem te word. Almal wat toegebring
word, is reeds kinders, want God het hulle verkies en aan die
Jesus Christus gegee.

Sekere kinders is egter nou nog buite Vader se huis. Hulle
dwaal nog rond. Hulle is soos skape wat verstrooid is. Hulle moet
nog bevry word. Daarvoor sterf die een, die lam van God wat die
sonde van die wêreld wegneem. En Hy sal hulle tot ’n
eenheid saamvoeg, tot die eenheid van die kudde van die goeie
Herder: een kudde, een herder. Dis ’n pragtige bemoediging
by al ons strewe na kerklike eenheid. Ons kan die eenheid nie tot
stand bring nie. Dit is Christus se werk. En Hy sal dit voltooi.
Hy sal almal tot ’n eenheid saamvoeg. Geen van God se
kinders uit alle volke en tale sal ontbreek nie. Dit sal werklik
wees: een kudde, een Herder.

Broers en susters, nou julle hier as gemeente vergader is,
sien julle Christus konkreet besig met die vervulling van hierdie
profesie. Hy voeg julle tot ’n eenheid saam, julle wat
oorspronklik in julle voorgeslag nie sy volk was nie. God het
julle die geheim van Christus se dood bekend gemaak, die geheim
van julle verlossing: een vir almal. Die hemelse liefdesformule:
Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar vir ons almal oorgegee.

En nou word julle opnuut geplaas voor die beslissende
lewenskeuse: of Christus aanneem en dan jouself verloën of
jouself handhaaf en dan Christus verloën en hom feitelik opnuut
kruisig. Jesus Christus of jouself en eie kortsigtige belange.
Jesus Christus of jou eie mag en eer. Die Sanhedrin het vir die
laaste gekies, hulle het hul eie lewe wil behou om dit juis te
verloor. En jy, wat kies jy? Laat ons Christus as Lam van God
aanbid, as die een vir almal, wat vir ons gesterf het, sodat ons
mag lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)