In Christus is ons nuwe skepsels

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-02-12
Text: 
II Korinthiërs 5
Preek Inhoud: 

2 Korinthiërs 5:17

Ds C Kleyn - Sondag 12 Februarie 2006
Nagmaal

Lees: 2 Korinthiërs 5:11-21; Galasiërs 2:15-21
(by 1ste tafel); Galasiërs 3:10-14 (by 2de tafel); Galasiërs 4:1-7
(by 3de tafel).
Sing: Ps 92:1; Ps 92:2,3; SB 14; Ps 85:3; Ps 107:1;
Ps 107:10; Ps 107:20,21; Ps 106:20.

Tema: In Christus is ons nuwe skepsels

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Paulus sê pragtige dinge oor hulle wat in Christus is. As
iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. In Christus
wees, geld dit vir u, vir jou? Indien jy waarlik in Christus glo,
dan is jy in Christus. Dan is jy deur die geloof in Christus
ingelyf. Dan het jy ’n persoonlike relasie met Christus. Dan
leef jy in sy gemeenskap.

As jy in Christus is, dan is jy ’n nuwe skepsel, sê
Paulus. Dan het ’n groot wonder plaasgevind. Vergelykbaar
met die skepping of die opwekking uit die dood. Jy het dan
werklik ’n ander mens geword. Herskep. Wedergebore.

Maar wat is dan die nuwe van jou lewe in Christus? Ons dink al
gou aan wat jy nou anders gaan doen. En aan die ander houding wat
jy nou aanneem. En inderdaad hy/sy wat ’n nuwe skepsel is,
gaan voortaan anders leef. Sien vers 15, waar staan dat Christus
vir almal gesterwe het sodat die wat lewe, nie meer vir hulleself
moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek
is. Maar Paulus praat in ons teks nie in die eerste plek oor wat
jy doen nie, maar oor wat jy is.

Wat is jy dan? Jy bly in sekere sin dieselfde persoon. Soos jy
gebore is. Na jou wedergeboorte ewe herkenbaar as daarvoor.
Dieselfde karaktertrekke, dieselfde vermoëns. Wat is dan nuut?

In die eerste plek dit: dat jy nou in ’n goeie verhouding
tot God staan. Jy is versoen. Christus het vir jou gesterwe. Ja,
jy het in Christus vir die sonde gesterwe. Jy is regtens vry van
die sonde. Jy het dit in beginsel oorwin. In Christus. Jy is
verlos.

Gemeente, wanneer Paulus sê dat jy ’n nuwe skepsel is,
dan beteken dit veral dat jy voor God ’n ander mens geword
het. ’n Mens wat sy skuld nie meer self hoef te dra nie.
’n Mens wat nie vir God se oordeel bang hoef te wees nie.
’n Mens wat deur God die Vader verwelkom word, soos die
verlore seun van die gelykenis. Die seun het ’n tyd net vir
homself geleef, weg van Vader. Totdat hy tot inkeer gekom het.
Toe het hy weer by sy vader tuisgekom. En daarmee het hy ’n
ander mens, ’n nuwe skepsel geword. Sy vader sê ook van hom:
“Hierdie seun van my was dood en het weer lewendig
geword” (Lk 15:24). Om ’n nuwe skepsel te wees beteken
dat jy vry is van die vloek en slawerny van die sonde en dat jy
by Vader tuis mag wees, as een van sy verloste seuns en dogters.

Die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Die ou dinge, dis die lewe van die verlore seun, voordat hy
tuisgekom het. Dis jou ou gewoontes, jou ou denkwyse en gedrag,
jou ou sondes waarin jy dalk ’n lange tyd vasgevang was. Die
ou dinge is ’n lewe sonder genade. ’n Lewe waarby die
toorn van God as ’n donker wolk oor jou lewe hang. Dis verby
as jy in Christus is. Kyk, dit het alles nuut geword, sê Paulus.
Jy is ’n begenadigde mens. En jy mag na elke sonde en berou
daaroor ’n nuwe begin maak.

Watter mens is ek voor God? Ek bly dieselfde mens, maar ek
staan wel in die lig van sy vriendelike aangesig. En in die lig
lyk alles nuut. Ook wanneer ek weer gefaal het en in sonde geval
het. Dan skaam ek my diep oor my sondes. Maar Vader sê vir my:
jy is voor My nie die seun of dogter, die man of vrou wat deur
die sondes getipeer word nie. Maar jy is vir my ’n kind wat
ek in my arms omsluit.

Jy is dan so ’n mens voor God. Maar watter mens is jy dan
voor jou medegelowiges? Hoe sien ons mekaar? Hoe sien ek die
broer of suster wat saam met my in die kerk sit en saam met my
die Nagmaal vier? Die verband waarin die tekswoorde staan gee
aanleiding tot sulke vrae. In die vers daarvoor lees ons:
“Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie.”
In die gemeente van Korinte was daar lidmate wat vinnig hul
oordeel oor ander uitgespreek het. Lidmate het Paulus menslike
motiewe toegedig. Hy sou selfsugtig wees. Terwyl dit Paulus juis
om Christus gegaan het. Sien vers 14: Want die liefde van
Christus dring ons.

Hoe beoordeel ons mekaar? Waar let ek op as ek na my broer of
suster kyk? Watter maatstawwe hanteer ek? Kyk ek na wat die
persoon vir my beteken, hoe die persoon teenoor my gesind is, of
die persoon soos ek dink of handel? Beoordeel ek volgens iemand
se maatskaplike posisie, opleiding, rykdom, nasionaliteit of ras?

Paulus gee die goeie voorbeeld. Vers 16: “Ons ken dus van
nou af niemand meer na die vlees nie.” Hy beoordeel niemand
meer volgens menslike maatstawwe nie. Aanvanklik het hy Christus
wel na menslike maatstawwe beoordeel. Hy het Christus as ’n
slegte mens gesien en hy het sy uiterste bes gedoen om sy
volgelinge uit te roei. Maar dit is verby. Jesus Christus het vir
hom ’n ander mens geword. Hy het hom leer sien as die Redder
van die wêreld. En dan gaan jy mense wat by Christus behoort,
ook anders beoordeel. Jy sien jou medegelowiges nie meer op hul
eie nie. Jy sien die lig van God oor hulle skyn. En dan lyk die
skepsel wat jou broer of suster is, skielik anders. Hy/sy lyk
soos ’n nuwe skepping.

Hoe ken ons mekaar? Die vraag is nie allereers wat weet ons
van mekaar nie. Ons weet miskien baie van mekaar. Elkeen van ons
het sy eie agtergrond en verlede. Ons weet iets daarvan en
beoordeel ander maklik volgens die informasie. Maar dan sê die
Here: hoe kyk jy na die broer of suster? As ’n groot sondaar?
As ’n slappeling? As ’n drifkop? As ’n vitter? As
’n domkop? Ek ken daardie gelowige as ’n nuwe skepsel.
Jy ook? Ek het daardie persoon lief. Jy ook? Al die gelowiges
staan en sit daar langs mekaar in my lig, die geskeide man of
vrou, die seun wat homself nog nie goed kan uitsorteer nie, die
dogter wat nie in die groep inpas nie. Almal nuwe skepsels. Maar
dan moet jy ophou om mekaar te etiketteer. Dan moet jy in die
geloof na mekaar kyk. As verloste sondaars vir wie baie genade
gegee is.

As jy dit doen dan bly jy die broer of suster nie sy/haar
sondes en gebreke toereken nie. Dit doen God ook nie. Hy
beoordeel my nie na die dinge wat ek in die verlede fout gedoen
het nie. Wat tel is die hede. ’n Sondaar wat sy heil buite
homself in Jesus Christus soek. ’n Sondaar wat vergewing
ontvang het. ’n Sondaar wat die Gees besig is om te vernuwe.

Ons moet leer om met die oë van God na mekaar te kyk. Dis bes
moeilik. Ons laat ons so maklik lei deur ons simpatie of
antipatie. En deur wat ons van iemand weet of dink dat ons weet.

Maar as ek besef hoe God na my kyk, wat sou hy nie verskriklik
baie teen my kon hou nie. Maar Hy sien in my ’n nuwe skepsel
wat Hy self nuut gemaak het. ’n Kind om in sy arms te
omsluit. Sou ons dan nie so na ons broers en susters wil kyk nie?
Ons wat glo mag mekaar in die ligkring van die Here sien staan.
As verloste sondaars. As nuwe skepsels. Dis tog hoe ons Nagmaal
toegaan? En saam die Nagmaal hoop te vier?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)