Elkeen behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-02-12
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 29
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 29a
& c

Ds C Kleyn - Sondag 12 Februarie 2006

Lees: Matthéüs 7:15-23; Johannes 10:1-16;
Judas 1:3,4,17-25.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 116:1,4;
Ps 116:7,10; SB 43:1-3; SB 43:4-6; Ps 80:1,10.

Tema: Elkeen behoort te onderskei watter kerk die ware
kerk is

  1. die werklikheid van waar en vals
  2. die kenmerke van die ware kerk
  3. die kenmerke van die valse kerk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons bely pragtige dinge oor die kerk. Ons glo en bely ’n
enige katolieke of algemene kerk, ’n heilige vergadering van
almal wat waarlik in Christus glo. Hierdie kerk was daar van die
begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees. Jy hoef
nooit bang te wees dat die kerk daar nie meer sal wees nie, want
Christus is ’n ewige koning. Verder is hierdie kerk oor die
hele wêreld versprei en verstrooi, maar nogtans met hart en wil
en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees
saamgevoeg en verenig. Die Kerk is God se wonderwerk in hierdie
wêreld. Die vervulling van sy belofte aan Abraham. In Abraham se
nageslag het God al die nasies van die aarde geseën. Ken julle
nog die verwondering oor daardie kerk? Prys jy God nog vir sy
kerk? Hieroor gaan dit in art 27 van ons NGB. Daarmee moet jy
begin wanneer jy ook die kerk praat. Dit moet jy in gedagte bly
hou wanneer jy die volgende artikels oor die kerk lees.

In aansluiting daarop bely ons in art 28 dat elke gelowige
geroep word om hom by hierdie heilige vergadering aan te sluit.
Die kerk is immers ’n versameling van verlostes en daar wil
Christus sy heil uitdeel. Dan wil jy daarby wees. Terwille van
Christus en jou heil. Om die eenheid van die kerk beter te bewaar
is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om
hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en
hulle by die vergadering aan te sluit, waar God dit ook al
gevestig het. In die tyd van die Reformasie was dit ’n
dringend saak. Mense is deur die kerklike situasie van daardie
tyd gedwing om ’n keuse te maak.

Die brandende vraag is nou: hoe moet ek dit waarmaak? Waar
vind ek dan die kerk? Art 29 wil hierby hulp bied. Dit wil jou
help om die roeping van art 28 waar te maak. Om jou so by die
katolieke kerk van art 27 te bring (of te bewaar).

In art 29 word immers gelowiges aangespreek, wat in hul lewe
opnuut moet kies. Die keuse moet te midde van verwarring en stryd
gemaak word. Die Roomse kerk dreig mos met gevangenskap en
doodslag, terwyl allerlei doperse stromings tot die stryd oproep
met hul radikale leuse. In die situasie wil art 29 vanuit die
Bybel hulp bied. Deur die kenmerke van die ware kerk aan te wys.
Daaraan kan jy die kerk waarby jy jou plaaslik moet aansluit
herken.

Die belang van die kenmerke is in ons 21ste eeu nie minder
groot nie. Ook in ons tyd is daar baie gemeenskappe wat hulle ten
onregte die naam kerk toe-eien. Hoewel die art duidelik bepaal is
deur die stryd van daardie tyd en hom implisiet rig teen die
Roomse kerk en die doperse groepe, is dit opvallend dat ons
artikel hulle nie uitdruklik noem nie. Die belydenis wil meer as
net ’n historiese dokument uit ’n sekere tyd wees. Die
belydenis wil ’n Skriftuurlike dokument wees wat die rigting
aanwys vir alle tye.

Die kerklike situasie vandag is anders as toe. Maar die
situasie het nie eenvoudiger geword nie. Inteendeel. Daar is meer
kerke en kerkverbande as destyds wat langs mekaar bestaan en
geskeie lewe. Art 29 wil ook in die situasie hulp bied om getrou
die roeping van art 28 na te kom om ons te voeg of te bewaar by
die katolieke kerk van art 27.

Ek vat die boodskap van ons belydenis as volg saam: elkeen
behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is.

  1. die werklikheid van waar en vals
  2. die kenmerke van die ware kerk
  3. die kenmerke van die valse kerk

Kan ons vandag nog wel kom met die onderskeid tussen waar en
vals? Durf jy dit nog wel in hierdie tyd? Om te sê dat jy jou by
die ware kerk moet voeg, word vandag as arrogant beskou.
Hoogmoedig. Wie is jy om te bepaal wat waar of vals is? Natuurlik
kan hierdie onderskeiding in ’n gees van hoogmoed en
selfversekerdheid gemaak word. Jy is dan versekerd van jou eie
goeie keuse. Jy is lid van die ware kerk. Vervolgens gebruik jy
art 29 om ander gelowiges of groeperings te diskwalifiseer. Hulle
is nie een met jou nie, dus moet hulle wel vals wees. Asof die
etikette waar en vals sommer in elke situasie gebruik kan word,
om die saak oorsigtelike te hou. So eenvoudig is dit nie. Dan
haal jy die onderskeid waar en vals uit sy konteks en gebruik jy
dit net om jouself te bevestig. Maar dit kan nooit die bedoeling
van ons belydenis wees nie. Omdat dit nie die bedoeling van die
woord is nie. In die Skrif kom dit daarop aan dat jy die dinge
geestelik beoordeel. Die dinge van die Gees van God (en daarby
behoort ook die kerk en sy kenmerke) moet geestelik beoordeel
word (1 Kor 2:14).

Die Bybel spreek voortdurend van die stryd tussen waar en vals,
eg en oneg. Hierdie stryd gaan terug na die stryd tussen Kain en
Abel. In die Ou Testament staan Jerusalem teenoor Bethel, die
profete van die Here teenoor die valse profete. Luther het
’n sterk verwantskap met die profeet Jeremia gevoel. Jeremia
het immers alleen gestaan teenoor al die ander profete en
priesters en hulle het net soos hy gesê: so sê die Here (23:16,17,21).
So het die ware profete altyd te doen gehad met die skyn profete
wat die naam van God gebruik het. In Mt 7:15 waarsku Christus vir
valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne
roofsugtige wolwe is. Paulus praat van bedrieglike arbeiders wat
hulleself voorstel as apostels van Christus. Daarvan sê Paulus
verder: “En geen wonder nie! Want die Satan self verander
hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders
wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van
geregtigheid nie” (2 Kor 11:13-15).

Christus waarsku sy volgelinge in Joh 16:1,2: “Hierdie
dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie.
Hulle sal julle uit die sinagoges verban. Ja, daar kom ’n
uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy
’n diens aan God bewys.” Let op die laaste woorde.
Valse profete is nie noodwendig oneerlik of onopreg nie. Hulle
kan oortuig wees dat hulle ’n diens aan God bewys. Soos
Paulus dit voor sy bekering was. Maar hulle is nie werklik wat
hulle voorgee dat hulle is nie. Hulle is nie werklik God se
profete nie.

Jy moet jou ook nie laat mislei deur indrukwekkende dade in
Christus se naam nie. Wees gewaarsku deur wat Christus in Mt 7
gesê het: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here,
het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe
en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê:
Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die
ongeregtigheid werk.” Jesus Christus noem homself in Joh 10
die goeie Herder. Hy is die egte, die ware herder. Die valse
herder is die huurling wat die skape op die kritieke oomblik aan
hul lot oorlaat. Die Herder is waar of vals, goed of sleg. Jy het
niks aan ’n herder wat ’n bietjie betroubaar is nie.
Dit kan jou as skaap jou lewe kos. In die briewe aan die sewe
gemeentes van Azië praat Christus van godsdienstige Jode wat sê
dat hulle Jode is, maar ’n sinagoge van die Satan is. Daarom
reeds die oproep van Petrus in sy Pinksterpreek: laat julle red
van hierdie verkeerde geslag. Gemeente, dit is hierdie soort taal
uit die Bybel wat ons in ons belydenis op die kerk toepas wanneer
ons die onderskeid tussen waar of vals, betroubaar of
onbetroubaar maak.

Dis opvallend dat ons belydenis die ware kerk nie net van die
valse kerk onderskei nie, maar juis van alle sektes. Die artikel
begin daar juis mee: “Ons glo dat ons ... behoort te
onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes
wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam
kerk toe-eien. ’n Bietjie verder word opnuut van die sektes
gepraat wanneer gesê word dat ’n mens die liggaam en
gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat
beweer dat hulle die kerk is. Eers aan die einde van die art word
skielik die valse kerk genoem.

Word met die sektes en die valse kerk dieselfde bedoel?
Historiese gesien lyk daar wel ’n onderskeid tussen die twee
te wees. Die sektes wys in daardie tyd veral na die doperse
splintergroepe terwyl die valse kerk duidelik na die Roomse kerk
verwys. Die naam sekte wys dan op volgelinge van hulle wat op een
of ander punt die Skriftuurlike leer vervals het en ’n
afsonderlike groep gevorm het, binne of buite die kerk. Soos die
Bybel ook praat van die party van die Sadduseërs of van die
party van die Fariseërs.

Die naam sektes is ’n ruimer begrip as die naam valse
kerk. Dit wys op ’n breë spektrum van vervalsing, veel meer
as die kenmerke van die valse kerk laat sien. Die mate van
dwaling en vervalsing is nie altyd dieselfde nie. Tog het elke
sekte dit gemeenskaplik: deur ’n sekere vervalsing van die
Skriftuurlike leer verbeur hulle die reg op die naam kerk. Wat
doen dan ons belydenis? Dit help ons eers om te midde van die
veelkleurige vervalsing die ware kerk te vind. Daarom word die
kerk en haar lede geteken. Vervolgens wys die belydenis ook op
’n toegespitste vorm van vervalsing naamlik die valse kerk.
Alle vervalsing toon nie dieselfde kenmerke nie, maar daartussen
is daar wat duidelik die kenmerke van die valse kerk vertoon. Om
dit in die woorde van art 29 te sê: alle sektes is nog geen
valse kerk nie; die valse kerk is wel ’n sekte.

Hierdie reliëf in art 29 bewaar ons vir die onvrugbare
dilemma van waar of vals. As skema lei dit tot die eenvoudige
konklusie: Waar die kenmerke van die ware kerk nie onmiddellik
herken word nie, moet die kerk wel valse kerk wees. Anders klop
die skema nie. Maar elke gemeenskap buite die ware kerk lyk nie
outomaties soos die valse kerk nie. Of omgekeerd: wat nie
onmiddellik die kenmerke van die valse kerk vertoon nie, moet wel
ware kerk wees. Maar as ’n kerk byvoorbeeld bly weier om die
eenheid in Christus met ander kerke te soek en knus op sy eie wil
bly, kan jy so ’n gemeenskap wel met reg die algemene
Christelike kerk van art 27noem? Die waar en vals skema kan nie
sommer op elke situasie toegepas word nie. Ons artikel is nie
bedoel om by voorbaat alle moontlike en onmoontlike kerklike
situasies te kwalifiseer nie. Die belangrike vraag bly: waar vind
ek in ’n wêreld vol van vervalsing die ware kerk? Is die
kerk waarvan ek lid is ’n egte kerk? Daar wil die belydenis
jou juis by help.

Kom ons kyk nou na die kenmerke van die ware kerk. Die tweede
gedagte van die preek.

Die eerste en belangrikste kenmerk van die ware kerk is, dat
“die kerk die evangelie suiwer preek”. In die prediking
moet jy as gemeente die vertroude stem van Christus, jou Herder,
herken. Soos jy die stem uit die evangelie ken. Dan gebeur daar
wat Jesus sê: “en die skape volg hom, omdat hulle sy stem
ken. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom
wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie”
(Joh 10:4,5). Wanneer daar egter vanaf die kansel gefantaseer
word, byvoorbeeld dat Jesus nie na die aarde gekom het, om met Sy
bloed vir ons skulde te betaal nie, maar slegs om ‘n goeie
voorbeeld te gee, dan is dit die stem van ‘n vreemde. Dit is
normaal as die skape dan “wegloop”.

Die doel van die prediking is ook om die geloof te voed. As
daardie voedsel bedorwe is, word die skape vergiftig. Die
moontlikheid bestaan ook nog, dat die preke geen pertinente
onwaarhede bevat nie, maar wel aanhoudend sekere sentrale
waarhede weglaat. Dan word die skape ondervoed, en die uiteinde
daarvan is ook dodelik. Daarom is die eerste kenmerk, dat die
suiwere en volle evangelie verkondig word. Daaraan herken die
skape die stem van die goeie Herder.

Die tweede kenmerk is die suiwere bediening van die sakramente.
Hierdie kenmerk kan nie van die eerste losgemaak word nie. Die
sakramente is immers tekens en seëls van die Woord. Daarom as
die Woord verdraai word, sal dit ook sy uitwerking in die
sakramente hê. Byvoorbeeld, as jy die leer van die versoening
ontken, kan jy die Nagmaal nie meer ervaar as ’n maaltyd
waarby jy glo dat die liggaam van Christus gebreek is, en Sy
kosbare bloed vergiet is, tot ’n volkome versoening van al
ons sondes nie. Vir die sakramente kan ons verwys na Mt 28:19;
Hand 2:38,39 en 1 Kor 11:20-29 waar doop en Nagmaal afsonderlik
beskryf word.

Die derde kenmerk is, dat “die kerklike tug gebruik (word)
om die sondes te straf”. Die oefening van die tug moet deur
die liefde gekenmerk word. Ons lees in die Bybel van broers wat
sondig en herhaaldelik bestraf moet word (Mt 18). Ons lees:
verwyder tog die slegte mens onder julle uit (1 Kor 5:13). Selfs
dan is daar sprake van oorlewering aan die Satan sodat sy gees
gered kan word (vers 5). Die tug moet gerig wees op die
bestraffing van die sondes en die redding van die sondaar.

Nadat ons belydenis die drie kenmerke van die ware kerk noem,
vat dit kort saam waaroor dit gaan: “Kortom, wanneer almal
hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat
daarmee in stryd is verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof
erken.” Dit is die Reformatoriese kenmerk van die kerk. Die
kerk is daar waar Christus regeer deurdat sy Woord alle
seggenskap het. So word die Woord van God ook die eerste en
vernaamste kenmerk genoem. Die kerk is gebou op die fondament van
die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen
is (Ef 2:20). By alle drie kenmerke gaan dit oor die Woord. By
die eerste gaan dit oor die hoorbare Woord, by die tweede oor die
sigbare Woord en by die derde oor die voelbare Woord.

Hierdie kenmerke beskryf drie aktiwiteite. Die kerk moet die
evangelie preek, die sakramente bedien en die kerklike tug
gebruik. Die kenmerke gee bepaald geen staties beeld van die kerk
nie. Daarby gaan dit ook baie duidelik om die suiwerheid. Die
aktiwiteite moet ooreenkomstig God se Woord plaasvind. Nie net
insidenteel nie, so nou en dan nie. Nee, dit moet gewoonlik so in
die kerk toegaan. Dit moet die gemeenskap van die kerk tipeer.
Dan herken jy ook die werk van die Gees. Die aktiwiteite van die
kerk is dan die instrumente van die Heilige Gees. Dis dan middele
waardeur die Heilige Gees die genade skenk, ons in die genade
versterk en ons by die genade bewaar. Dit is kort gesê die sin
van die kenmerke van die kerk. Ons sien daarin hoe Christus sy
gemeente deur sy Gees en Woord vergader, beskerm en onderhou.

Ten slotte kyk ons na die kenmerke van die valse kerk.

Om ‘n kerk vals te noem is nie sommer ’n geringe
oordeel nie. Ons sou dit ook nie durf as Christus self nie eers
van valse profete en van ’n sinagoge van satan gepraat het
nie. Dit moet egter vir elkeen duidelik wees dat wanneer ons so
’n oordeel uitspreek ons daarmee nie alle mense in die kerk
veroordeel nie. Net soos by die ware kerk, moet ons onderskei
tussen die kerk as organisasie én die lidmate. Die oordeel
“valse kerk” verwys heel eerste na die kerk as
organisasie, en nie na die ménse nie. En soos ‘n liggaam
siek genoem kan word, terwyl tog nie al die organe aangetas is
nie, so kan ‘n kerk vals genoem word, terwyl daar tog nog
gelowiges in daardie kerk is. In so ‘n kerk kan selfs
predikante wees wat Skriftuurlik preek en waarsku, om sodoende
die siekte te help genees. Hierdie gelowiges is daar “in
stryd met die bevel van God” (art. 28). Maar waar dit nou
oor gaan is: net soos die gesonde liggaamsdele nie die pasiënt
op die been kan hou nie, en die pasiënt tog siek verklaar word,
só kan hierdie gelowiges nie voorkóm dat hulle kerk as
organisasie vals genoem moet word nie. Want die valse kerk laat
gewoonlik nie die stem van die goeie Herder hoor nie (1), en dit
mors met die sakramente (2), en dit vervolg die gelowiges wat
openhartig die waarheid vertel (3). Dit gaan egter té ver om te
sê, dat die uitdrukking “valse kerk” beteken, dat ál
die lidmate van daardie kerk beskou word as “onegte
gelowiges”. Net so min as wat daar van die “ware
kerk” se lidmate gesê kan word, dat hulle almal “ware
gelowiges” is nie.

By die kenmerke van die valse kerk gaan dit nie oor die vraag
of in die kerk sonde en gebreke voorkom en of daar dwaling
bestaan nie. ’n Mens kan nie anders verwag van ’n
gemeenskap van sondaars nie. Die ware kerk is ook nie volmaak nie.
Dit gaan egter oor die vraag: wie het daar gesag? Kan Christus sy
gesag ongehinderd deur sy Gees en Woord uitoefen? Of word Hy
daarin deur die liggaam van die kerk teengestaan? Wie sit daar op
die troon: Christus of die mens? Die punt waaroor dit by die
valse kerk eintlik gaan is dus: “dit skryf aan homself en sy
besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God;”

Ons artikel sê, dat dit maklik is om die ware en valse kerk
van mekaar te onderskei. Daarby mag ons egter nie vergeet dat die
begin van die art noem dat ons sorgvuldig en met groot
oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter
kerk die ware kerk is. Sorgvuldig en met groot oplettendheid. Of
dit ook moeilik kan wees. Die vervalsing is velerlei. Vinnig en
oppervlakkige gevolgtrekking dien niemand nie. Dis nie maklik om
al die gemeenskappe in hierdie land en wêreld reg te beoordeel
nie. Dis ook nie nodig nie. Ons moet dig by huis begin, plaaslik,
waar God sy kerk ook al gevestig het. En dan mag ons bely dat die
ware en die valse kerk maklik uitgeken en van mekaar onderskei
kan word. Dis omdat God die kerk herkenbaar maak, deur sy Woord.
As jy bereid is om te buig voor die oordeel van die Bybel, dan
hoef jy nie onseker te bly oor waar die stem van die goeie Herder
gehoor word nie. Want Hy verseker ons self dat die skape die stem
van die Herder sal uitken uit duisende (Joh.10:4,5).

Is dit hoogmoedig om te praat van ware en valse kerk? Dit hang
daarvan af hoe jy dit doen. As jy die dinge van die Gees maar
geestelik beoordeel en nie vleeslik nie. As jy jouself maar
ootmoedig bly onderwerp aan Christus en sy Woord. Dan mag dit
’n feestelike saak wees om die ware kerk van Christus te
herken en daarvan lid te wees. Dan verrig jy ook diens aan ander
wat volgelinge van Christus wil wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)