Die kenmerke van die ware Christen

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-02-05
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 29
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 29b

Ds C Kleyn - Sondag 5 Februarie 2006

Lees: Romeine 6:1-4, 17-19; Romeine 7:18-25;
1 Johannes 1:8-2:2; Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 29b.
Sing: Ps 27:1,2; Ps 31:1-3; Ps 105:5; Ps 31:15,17,19;
Pa 27:4,6; Ps 28:6-8.

Tema: Die kenmerke van die ware Christen

  1. Jy glo in jou verlosser Jesus Christus
  2. Jy wys jou geloof in jou werke
  3. Jy is nie volmaak nie, maar jy bly vlug na Christus toe

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Volgende week hoop ons weer die Heilige Nagmaal te vier. Die
Nagmaal is bestem vir ware gelowiges. Maar hoe weet jy dat jy
’n ware gelowige is? Hoe weet jy dat jy werklik geregtig is
om die Nagmaal te vier? Ons belydenis bied ’n pragtige
beskrywing van ’n ware gelowige. In die art oor die kenmerke
van die ware en die valse kerk word ook die kenmerke van die
Christene genoem. Vanoggend wil ons daarop let sodat ons onsself
oor daaraan kan toets. Ek verkondig vir julle:

Die kenmerke van die ware Christen

  1. Jy glo in jou verlosser Jesus Christus
  2. Jy wys jou geloof in jou werke
  3. Jy is nie volmaak nie, maar jy bly vlug na Christus toe

Gemeente, in die artikels oor die kerk word met klem bely dat
jy jou by die ware kerk moet aansluit. Die kerk is mos ’n
versameling van verlostes. Daar wil God sy heil – vir tyd en
ewigheid – uitdeel. Daar vergader, beskerm en onderhoud
Christus sy skape. Laat elkeen dan na die roepstem van Christus
luister. Maar waar vind ek die ware kerk? Dit word in art 29
uitgewys wanneer die kenmerke van die ware kerk genoem word.
Daaraan kan jy die ware kerk herken. Volgende week hoop ek
daaraan aandag te gee.

Gestel dat jy die kenmerke van die ware kerk in jou gemeente
herken. Jy is heeltemal tevrede met die bediening van die Woord,
die sakramente en die tug. Jy is oortuig dat dit Skriftuurlik is.
Jy is dus lid van die ware kerk. Jy behoort by die versameling
van verlostes. Jy is dus verlos. Ho, ho, Is dit so? Kan ’n
mens dit so sê? Kan jy sê: Ek is ’n lidmaat van die ware
kerk, dus is ek verlos? Ek hoop inderdaad dat elkeen van julle
met oortuiging kan sê dat julle verlos is. Maar let op die
woordjie ‘dus’ in die vorige uitspraak: ek is ’n
lidmaat van die ware kerk, dus is ek verlos. Is die
“dus” wel op sy plek. Word jy gered omdat jy in die
goeie kerk sit? Dit klink ’n bietjie soos die valse
gerustheid van die Ou Testamentiese volk van God wat in hoogmoed
uitgeroep het: “die Here se tempel, die Here se tempel, die
Here se tempel is dit” (Jer 7:4). Dit klink ’n bietjie
soos die Jode in Jesus se dae wat hulle daarin beroem het dat
hulle nageslag van Abraham was. Hulle het dus by die regte volk
behoort. Maar wat sê Christus vir hulle: “As julle die
kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen,
maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan
julle die waarheid vertel het, wat ek van God gehoor het. ...
Julle het die duiwel tot vader, en die begeertes van julle vader
wil julle doen” (Joh 8:39-44). Gestel dat Christus dit vir
jou sou sê. Jy is oortuig dat jy by die goeie kerk behoort, dat
jy gered is, en dan hoor jy: jy behoort by die duiwel. Sou jy nie
skrik nie? Die mat word onder jou voete weggeruk.

Wel, broers en susters, mede om julle vir valse gerustheid te
bewaar, noem ons art die kenmerke van die Christene. Jy moet jou
nie in die kerk gaan beroem nie. Jy moet nie dink dat as jy maar
lid van ’n ware kerk is, alles in orde is nie. As jy nie
deur die evangelie, wat daar bedien word, gegryp word nie, dan is
alles tevergeefs. As jy jou nie deur die evangelie laat vernuwe
nie, dan is dit tevergeefs. Dan ontstaan die gevaarlike situasie
soos dit in die kerk van Efese was (Openb 2:1-7). Dit was in die
gemeente goed met die prediking en die handhawing van die tug.
Maar Christus wys daarop dat hulle hul “eerste liefde
verlaat het” en dat hulle sal verlore gaan as hulle hul nie
bekeer nie.

Om uiterlik lid van die kerk te wees is nie voldoende nie. Jy
kan wel met oortuiging bely dat jy ’n lidmaat van die ware
kerk is en dat jou kerk ’n getroue kerk van Christus is.
Maar jy moet besef dat die kerk altyd ’n gemengde geselskap
is, waarin kaf tussen die koring vermeng is. Ek moet ’n
lewende lidmaat van die kerk wees, die kenmerke van die Christen
vertoon. Die kerk maak nie salig nie. Net Christus maak salig.
Die doop van Iwan het ons daaraan herinner. Waar fokus die doop
op? Nie op die kerk nie, ook is die doop ’n teken van die
inlywing in die Christelike kerk. Die doop fokus op Christus. Op
die afwassing van sondes deur Christus se bloed en Gees. Christus
red.

Daarom moet jy nie net daar wees waar Christus jou roep nie,
maar Hom ook as jou Redder aanvaar. Dit doen ongelukkig nie
elkeen wat in die kerk kom nie. In die ware kerk is daar ook
huigelaars, meelopers. Mense wat net uit gewoonte of bygeloof
daar hul plek inneem. Dan kan jy nie sommerso sê dat jy verlos
is nie. Sonder geloof in Jesus Christus is daar geen redding nie.
Daarom roep Paulus elkeen op om homself te beproef.
“Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself
op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus
Christus in julle is nie” (2 Kor 13:5). Ondersoek jouself.
Leef jy werklik in die geloof? Weet jy wel seker dat Christus in
jou is en jy in Christus? Hoe is dit sigbaar dat Christus in jou
is? Bepaal Christus werklik jou houding en gedrag? Ondersoek
jouself om te sien of jy in die geloof is, Toets jouself aan die
Woord van God. Glo jy werklik dit wat God in sy woord belowe het?
Glo jy werklik dit wat God by die doop verseël het: God se
vaderlike sorg, die vergewing van sondes en die vernuwing van jou
lewe deur God drie-enig? En wys jy dit in jou lewe?

Hierdie selfbeproewing is belangrik voor elke viering van die
Nagmaal. Die Nagmaal is immers net vir gelowiges bestem. Maar dit
is ook belangrik voor elke erediens, ja elke dag weer. Dis
’n aanhoudende roeping: ondersoek jouself of jy in die
geloof is.

Ware Christene word gekenmerk deur hul geloof in Christus. Die
groot oproep van die evangelie is: glo in die Here Jesus Christus
en jy sal gered word. Dis wat Paulus vir die tronkbewaarder van
Filippi gesê het en nog steeds vir ons sê. “Glo in die
Here Jesus Christus en jy sal gered word.” Neem Jesus
Christus aan as jou enigste Verlosser. Dis nie genoeg om in Jesus
Christus as die groot voorbeeld te glo nie. Nee, Hy is veral die
groot Verlosser. So moet Hy aangeneem word, anders is daar geen
verlossing nie. Dink aan die baie bekende vers uit Joh 3:
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy
eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie
verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hoe het
God sy liefde vir die verlore mensheid bewys? Deur sy eniggebore
Seun vir ons oor te gee. As ’n versoening van ons sondes.
Soos ons lees in 1 Joh 4:10: “Hierin is die liefde: nie dat
ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy
Seun gestuur het as ’n versoening van ons sondes.”
Daarom is dit so ’n ernstige saak om Christus se
versoeningswerk, deur sy dood aan die kruis, te ontken. Daarmee
beledig jy God in sy liefde en sit jy jou verlossing op die spel.
Wie word mos gered? Hulle wat in die eniggebore Seun van God as
Verlosser glo.

Daarom noem ons belydenis tereg as eerste en beheersende
kenmerk van die Christene: hulle geloof dat hulle die enigste
Verlosser Jesus Christus aangeneem het. Herken jy dit in jouself?
Glo jy werklik in jou Verlosser Jesus Christus?

Gemeente, hierdie ware geloof bly nie verborge nie. Dit sal
tot openbaring kom, in jou werke. So kom ons by die tweede
gedagte: jy wys jou geloof in jou werke.

Wanneer ek Christus as my verlosser aanneem, dan erken ek my
eie sonde en verlorenheid. Ek het so ’n Verlosser nodig.
Sonder Hom is ek verlore in my sonde en skuld. As ek dan weet wat
Hy gedoen het om my van my sondes te verlos, dan kan ek nie
anders as om die sonde te haat en daarvan wegvlug nie. Paulus
skryf in Rom 6:1,2: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die
sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons
wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?”

Die ware Christen ontvlug die sonde. As ’n kwaai hond op
jou afstorm, dan vlug jy nie op ’n drentelpas nie. Om te
ontvlug beteken om weg te jaag. Dis ’n desperate poging om
van die dreigende gevaar weg te kom. Dis die Christen se reaksie
teenoor die sonde. Jy draal nie wanneer jy die sonde in die oë
kyk nie. Jy gryp in. Jy tref drastiese maatreëls. Jy ken jou eie
kwesbaarheid. Daarom roep jy tot God: Lei ons nie in versoeking
nie, maar verlos ons van die bose. Ons is in onsself so swak dat
ons nie een oomblik staande kan bly nie. Wil U ons tog deur die
krag van u Heilige Gees staande hou en versterk. Jy hou die sonde
op ’n afstand.

As Christen ontvlug jy nie net die sonde nie, maar jaag jy ook
positief die geregtigheid na. Jy jaag daarna om God se wil te
doen. Ja, jy jaag daarna. Dis geen halfslagtige besigheid nie.
Dis iets wat jy met oorgawe en toewyding doen. Om iets na te jaag
dui op die inspanning van alle kragte, jy doen alles in jou
vermoë om die doel te bereik. Jy wil ten alle koste God se wil
doen.

Die wil van die Here word saamgevat in die woorde: “Jy
moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele
siel en met jou hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos
jouself.” Daarom vervolg ons belydenis dat die Christene
“die ware God en hulle naaste liefhet.” Hierdie liefde
is die vervulling van die wet. ’n Mens kan maklik sê dat hy
God en die naaste liefhet. Maar dit sal gewys moet word. Het jy
werklik alles vir God oor en soek jy werklik die beste vir jou
naaste, ook vir die naaste wat nie so vriendelik en aangenaam is
nie?

Gemeente, van die Christene word verder gesê dat hulle nie na
regs of links afwyk nie. Dis baie maklik om na regs of links af
te wys. Dis dikwels aantreklik. Dis baie moeiliker om die smal
pad van die lewe te bly volg. ’n Mens wil ook wel iets
daarbuite. Ook iets van die wêreld proe. So word baie maklik
’n kompromis met die sonde gesluit. Jy leef mos in die
wêreld. En om te lewe kan jy tog nie te streng wees nie. dan
moet jy tog ook bereid wees om by tye sekere beginsels prys te
gee. Maar die Here het die pad van die lewe helder en duidelik
uitgestippel. Moenie jouself bedrieg nie deur te maak asof die
pad van die Here onduidelik sou wees. Is dit dikwels nie eerder
dat ons liewer na regs of links afwyk nie? ’n Christen sien
die pad voor hom en wil dit konsekwent volg. Daarom kruisig jy
jou sondige natuur met sy werke. Dis die volgende wat die
belydenis noem.

Om jou sondige natuur met sy werke te kruisig is geen
kleinigheid nie. Dis ’n radikale optrede. Jy loop so te sê
met jou sondige natuur en sy werke na die kruis toe om dit daar
aan die kruis te spyker. Dit wys op die radikale afwysing van die
sondige lewe. Jy staan daar meedoënloos teenoor. Jy het geen
simpatie vir jou sondige natuur met sy werke nie. Jy haat dit so
sterk dat jy geen beter bestemming daarvoor het as die kruis nie.
Jou afwysing van die sondige natuur is ook ’n pynlike saak.
Dood via kruisiging is ’n pynlike en uitgerekte dood. Wie
ervaar nie die pyn van die afwysing van die sonde nie? Hierdie
afwysing van die sonde is egter ook beslissend. Hoewel dood deur
kruisiging ’n slepende dood is, lei dit onherroeplik tot die
dood. Jy kruisig nie iemand om hom te laat voortlewe nie. Vir my
as ’n Christen loop die kruisiging van my sondige natuur nie
onmiddellik uit op die dood nie, maar geleidelik. Dit geluk my
nie om tydens hierdie lewe die sondige vlees heeltemal te
vernietig nie. Maar ek het dit aan die kruis gespyker en ek is
vasbeslote om dit daar te laat totdat dit heeltemal vernietig is.

Gemeente, ons het tot nou toe ’n pragtige omskrywing van
die kenmerke van die Christene gehad, naamlik hulle geloof dat
hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat
hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware
God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en
hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Herken julle dit by
julleself? Dan mag julle met volle vrymoedigheid volgende week
jul bevrydingsfees aan die tafel van die Here vier.

Maar is dit eintlik wel ’n realistiese tekening van die
Christen? Lyk dit nie daarop dat jy eers volmaak moet wees om
jouself ’n Christen te noem nie? Sterke woorde is gebruik?
Jesus Christus aangeneem, die sonde ontvlug, die geregtigheid
najaag, die ware God en jou naaste liefhet, nie na regs of links
afwyk nie en jou sondige natuur met sy werke kruisig. Durf jy dit
van jouself te sê?

Ons kom nou by die derde gedagte van die preek: jy is nie
volmaak nie, maar jy bly vlug na Christus toe.

Die meeste wederdopers het geëis dat die kerk volmaak moet
wees, sonder vlek of rimpel. Huigelaars en sondaars mag nie
daarin vermeng wees nie. (Asof huigelaars geken kan word en ons
alle harte kan ken!) Net volmaakte mense mag daarin ’n plek
hê. Anders is dit geen kerk van Christus nie. Hierdie leer het
tot die mees verskriklike versplintering van die kerk gelei. Die
een doperse kerk het die ander vervloek omdat daaraan nog iets
sou ontbreek. Hierdie verabsolutering van jouself en jou gedagtes
lei as vanself tot die verskeuring van Christus se kerk. As jy
dink dat jy volmaak is, dan sal jy ander mense na jouself meet.
Mense moet dan soos jy wees en kerke moet dink soos jy dink
anders is hulle valse kerke. Hierdie doperse drywery is nog nie
uit die wêreld uit nie. Sekere ervarings of gedagtes word ook
vandag soms so sterk benadruk dat ware Christene en ware kerke
wat die kenmerke van art 29 wys, sommer afgeskryf word. As jy
byvoorbeeld nie kan getuig van ’n Damaskus ervaring nie of
as jy nie van die besondere gawes van die Gees soos
gebedsgenesing en die spreek in tale kan getuig nie, dan word jy
in sekere kringe afgeskryf. Laat ons oppas dat ons onsself en ons
gedagtes nie tot norm verhef nie. Drywery van eie gedagtes is
ongeoorloof. Ons is feilbare en sondige mensekinders. Gelukkig
dat God en sy onfeilbare woord die norm is.

Broers en susters, ons belydenis benadruk teenoor die doperse
drywery dat die ware Christene tydens hierdie lewe nog nie
volmaak is nie. Selfs die allerheiligste het nog maar ’n
klein begin van die nuwe gehoorsaamheid. Jare gelede was daar
’n man wat vol trots vir sy predikant gesê het dat hy vir 2
maande nie gesondig het nie. Die predikant het die waarheid
daarvan toe wil toets. Daarvoor het hy skielik op die tone van
die man gestamp. Onmiddellik het die mans se trotse rekord van
sogenaamde sondeloosheid tot ’n skandelike einde gekom.
Moenie jouself vergis nie. Selfs jou beste werke is met sonde
bevlek. So praat God daaroor en Hy kan dit beter weet as
enigiemand anders. Joh benadruk in die gedeelte wat ons gelees
het (1 Joh 1): “As ons sê dat ons geen sonde het nie,
mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons sê
dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom (God) tot ’n
leuenaar en sy woord is nie in ons nie.”

Dis waar, in beginsel is ek in Christus ’n nuwe skepsel.
Die Heilige Gees het in my kom woon. Ek is nie meer slaaf van die
sonde nie. My posisie in Christus is dit van ’n verloste,
wat die sonde afgesterf het. Hierdie nuwe posisie moet egter in
die daaglikse lewe steeds meer werklikheid word, in dade omgesit
word. Daarom is daar die stryd juis in die gelowige tussen die
Gees en die vlees. Dis die stryd waarvan die bekeerde Paulus ook
skryf in Rom 7. As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my
aanwesig. Hoe dikwels ontdek ons nie die swakheid van ons geloof,
die vervaging van ons hoop en die verkoeling van ons liefde nie?
Ons het pragtige voornemens, maar voordat ons dit besef sondig
ons weer in ons gedagtes, woorde en werke.

Maar wat is dan die onderskeid tussen die gelowiges en die
ongelowiges? Albei is sondaars. Maar die gelowiges is ’n
spesiale soort sondaars. Hulle is sondaars wat hul sondes erken
en daarmee na Christus vlug. Hulle is sondaars wat vertrou dat
hul sondes om Christus ontwil vergewe is. Hulle is sondaars wat
begeer om hul lewe te verbeter. Van hierdie Christene getuig ons
belydenis: “Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot
swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Heilige Gees stry
hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd
weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en
gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die
geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.” Herken julle
dit by julleself? Dan mag julle volgende week met vrymoedigheid
die Nagmaal vier. As verlostes in Christus. Daar aan die tafel
van die Here wys jy mos dat jy jou toevlug neem tot die bloed,
die dood, die lyding en gehoorsaamheid van Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)